fbpx

New_cold_war620Toe die Sowjet Unie op 25 Desember 1991 tot ’n einde gekom het, het die wêreld ook geglo dat die Koue Oorlog verby was. Tog sien ons vandag dat die Westerse lande onder die vaandel van die Noord Atlantiese Verdragsorganisasie voortdurend besig is om strategieë te bedink om die opmars van Rusland te probeer stuit.

Vyf en twintig jaar na die val van die Sowjet Unie het Amerika 35 000 soldate wat permanent in Europa en veral die oosgrens naby aan Rusland, gestasioneer is. Die VSA beplan om binnekort tussen 4000 en 5000 ekstra soldate na Oos-Europa te stuur ten einde die bedreiging van Rusland teen te staan.

Sedert die einde van die Koue Oorlog handhaaf die VSA ’n aktiewe militêre teenwoordigheid in Europa. Onder die presidentskap van George W. Bush is ’n komplekse missielafweerstelsel deur die Amerikaners in Pole ontwikkel.

Hoewel die internasionale gemeenskap vermoed het dat Barack Obama die VSA se militêre betrokkenheid in Europa sou afskaal, het die teenoorgestelde eintlik gebeur. In 2014 het Obama die sogenaamde “Europese Gerusstellingsinisiatief” aangekondig. Dié inisiatief is daarop gefokus om Rusland te verhoed om Europese lande, veral die Baltiese State, binne te val. Met die bekendstelling van die inisiatief het Obama 1 miljard dollar vir die inisiatief beskikbaar gestel. Teen volgende jaar sal dit tot 3,4 miljard dollar verhoog.

Waarom is die VSA en Wes-Europese state so bekommerd oor ’n moontlike aggressiewe strategie van Rusland? Eerstens moet ’n mens erken dat Rusland nie onskuldig is nie. Die Russe het reeds in 2008 Georgië binnegeval en beset vandag steeds Suid-Ossetia en Abkhazia, twee van dié land se noordelike provinsies.

Gedurende Maart 2014 het Russiese seperatiste in die Krimgebied, ’n skiereiland aan die noordkus van die Swartsee, met die hulp van die Russiese regering en weermag die gebied as onafhanklik van die Oekraïne verklaar.

Rusland is dus bekend vir ’n aggressiewe benadering aan sy westelike en suidelike grens. Die redes hiervoor is egter duidelik. Die gebiede waar Rusland betrokke geraak het, is almal gebiede met groot Russiese bevolkings wat eerder deel van Rusland wil wees. Tweedens het Rusland betrokke geraak in gebiede waar sy eie weermag bedreig kan word sou hy nie die grondgebied daarom beheer nie. Rusland het ’n belangrike vlootbasis op die Krimskiereiland.

Beide redes vir Rusland se aggressie word gedryf deur lande soos Georgië en die Oekraïne se besluit om minder met Rusland te assosieer en eerder pro-Westerse regerings te verkies. Terwyl hierdie lande wes begin kyk het, het Rusland gevrees dat sy belange daar bedreig kan word.

Die Weste en veral die VSA oorskat die Russiese bedreiging. Rusland het min rede om ander Oos-Europese lande soos Pole en die Baltiese lande binne te val. Rusland se militêre vermoë word ook oorskat. Terwyl die VSA en NAVO egter hul vermoë in Oos-Europa uitbrei, sal Rusland geen ander keuse hê as om dieselfde te doen nie.

Die toenemende of hernude Koue Oorlog tussen die Weste en Rusland is eerder ’n oorsaak van Westerse oordrewe militêre teenwoordigheid as ’n wesenlike bedreiging van Rusland. Indien die Weste te vêr gaan kan dinge binnekort lelik raak in Oos-Europa.