Wat beteken die Brexit vir ons?

brexitDie groot nuus, wat vandag begin ontvou, is dat Brittanje teen alle verwagting in vir die “Brexit” gestem het, die Britse uittrede uit die Europese Unie. Dit was ‘n naby uitslag, 52% teenoor 48%. In Engeland en Wallis, veral in die platteland, was die stem oorweldigend vir die Brexit, maar in Skotland en in mindere mate Noord-Ierland, asook in die multi-kulturele metropool Londen was die steun veral vir die verblyf in die EU. Die Britse premier, David Cameron, het kort na die uitslag sy bedanking aangekondig en aandelemarkte het skerp teruggesak.

Vir Brittanje beteken dit dat die meerderheid van sy bevolking (en veral die Engelse “staatsvolk”) gestem het vir die terugkeer tot nasionale souvereiniteit en selfbeskikking van sy bevolking en teen die inmeging van ‘n nie-verkose links-liberale elite en hulle oorbordende burokrasie vanuit Brussels. Eintlik behoort die keuse eenvoudig te wees, maar as ‘n mens in ag neem dat dit geveg van Dawid teen Goliat was, met meeste politieke partye en huidige en voormalige leiers, feitlik die hele elite uit media, kultuur, vermaak, sport, die finansiële en ekonomiese sektor, die EU leierskap en meeste regerings met wie Brittanje sterk bande het soos die VSA sterk teen die Brexit gekant is, is dit verbasend dat die “Uit”-veldtog gewen het. Meningspeilings en wedburos het almal ‘n oorwinning vir “Bly” voorspel.

Wat het dit met ons te doen? Vir meeste Afrikaners is Brittanje waarskynlik nie hulle gunsteling land nie en die kulturele aangetrokkenheid en bewondering lê gewoonlik eerder by die stamlande soos Nederland, Duitsland en België, sterk EU-voorstaanders. Die direkte gevolge is waarskynlik vir ons eers eerder negatief omdat handelsverdrae tussen Brittanje en Suid-Afrika nuut onderhandel moet word en die verswakking van die Britse aandelebeurs ons ook raak. Brittanje is ‘n groot handelsvennoot van Suid-Afrika en ‘n ekonomiese afswaai is ook slegte nuus vir ons.

Veel belangriker as kortstondige markskommelings (wat eintlik net weer die noodsaak van ekonomiese selfstandigheid en die plaaslike eknomie bevestig) is egter die groter implikasies van die oorwinning vir die “Brexit”:

  • Die “underdog” kan wen en die elite is nie almagtig nie: Hierdie stemming was ‘n beduidende neerlaag vir die magtiges en die elite en ‘n oorwinning vir ‘n grondvlakbeweging. Volgens die neerbuigende kommentare van die meningsvormers voor die referendum was dit eintlik ‘n uitgemaakte saak dat die burgers vir rasionele argumente stem, veral as hulle eie premier David Cameron, die ekonomiese leiers en meeste analiste dit vir hulle voorsê, terwyl slegs eksentrieke en twyfelagtige leiers soos Nigel Farage van Ukip en Boris Johnson aan die kant van die “Uit” veldtog was, aldus meeste komentators. In meeste referendums stem die burgery uiteindelik soos wat die meningsvormers en die magtiges dit wil hê (byvoorbeeld die 1992 en 1984 referendums in Suid-Afrika, of die eerste Britse referendum oor EU-lidmaatskap in 1975). Nogtans het die “underdog” met ‘n goeie grondvlak veldtog gewen, want die mense kon sien wie hulle taal praat en wie werklik vir hulle omgee. Hierdie uitslag gee ‘n mens ook hoop vir die Amerikaanse presidentsverkiesing, waar ‘n “underdog” teen ‘n elite-kandidaat staan.
  • Jy kan wen met ‘n positiewe boodskap eerder as met vrees. Die “Uit”-veldtog het ‘n beter, meer demokratiese Brittanje as ideaal geskets en mense aangemoedig om weer hulle eie toekoms in hulle hande te neem en dit nie aan ‘n vreemde en verwyderde elite oor te laat nie, terwyl die “Bly” veldtog veral vrese van ekonomiese nadele en politieke isolasie en selfs van ‘n terugkeer na die era voor 1945 voorgehou het. Hierdie is vir ons belangrik. Orania verkondig nie ‘n ondergangsenario en probeer mense met vrees hierna toe lok nie, maar met die positiewe boodskap dat jy as deel van ‘n volk of gemeenskap jou eie toekoms op grondvlak en juis sonder ‘n verwyderde staat of superstruktuur agter jou kan skep. Ook Solidariteit Beweging en Vryheidsfront Plus verkondig die boodskap. Meeste politieke partye en organisasies in Suid-Afrika en ook die media verkondig egter ‘n boodskap van vrees en vasklou aan die bekende en wil mense oortuig dat die huidige gemors darem beter is as ‘n gewaande “afsondering”. Die stem vir die Brexit is geensins ‘n stem vir isolasie nie, maar eerder ‘n stem teen die verkeerde rigting wat die EU ingeslaan het. Brittanje is nie ‘n voorstander van isolasie nie, maar van handel en goeie betrekkinge tussen gelykes. Die oorspronklike Europese Ekonomiese Gemeenskap, die voorloper van die EU, was juis dit en het vrede en samewerking tussen lande en volke bevorder. Eers die idee van die superstaat waar ‘n elite hulle linkse sienings op almal afdwing en mense gelyk wil maak het mense van die EU en sy leiers vervreem. Ook vir Orania is ‘n gemenebes van selfstandige gemeenskappe wat mekaar en met mekaar handel dryf sonder om mekaar te wil oorheers ‘n langtermyn ideaal en staan lynreg teenoor die regering se beleid van sentralisasie en beheer oor elke aspek.
  • Die eie en die “gewone mense” het nie verdwyn ten gunste van die globalistiese en identiteitslose massa en hulle selfaangestelde leiers nie: Die globale elite skets graag ‘n prentjie dat die transformasie van “eng nasionalisme” en “selfsugtige eie belang” heen na ‘n nuwe wêreldorde waar almal eenders word wenslik, goed en boonop onkeerbaar is, en dat diegene wat daarteen veg, soos ons in Orania, besig is om windmeulens te bestorm of om teen die donderstorm te skreeu. Daardie kamstig “uitgediende sentimente” is egter hoogs lewendig en wyd verteenwoordig en ervaar selfs ‘n herlewing. Die kloof tussen ‘n selfaangestelde, meesal stedelike en anti-nasionale elite en mense wat gewortel is in hulle kultuur en tradisie en dit verdedig, word al hoe groter. Al verkondig die elites dat ekonomiese voorspoed en kulturele gelykmaking (as gevolg van die maksimum vermenging) al is wat saak maak, en die liefde vir die eie verouderde sentimente is, is dit vir meer as die helfte van Britte van groot belang. Die uitslag het duidelik gewys dat mense wat hulle as wêreldburgers sien vir die behoud van die EU-lidmaatskap gestem het, en diegene wat in die eerste plek ‘n nasionale of plaaslike identiteit het, vir die Brexit.
  • Die “uit” veldtog is deel van ‘n groter, wêreldwye beweging vir identiteit, selfbeskikking en terugkeer na die tradisie: Daar is tans ‘n sterk sentiment teen sowel die nasionale asook die internasionale elite, en die voorverkiesings in die VSA is ‘n sterk anduiding daarvan. Ook in ander lande, juis in die EU, is daar ‘n geveg tussen ‘n groeiende grondvlakbeweging vir nasionale en streeksidentiteit en dit wat vir mense kosbaar is en wat as tradisie beskryf kan word, en regerings en ‘n media- en kultuurelite wat hulle eie bevolkings verag en van hulle verwyder is. Dit is vir ons van belang om deel te wees van ‘n groter beweging. As ons gesien word as ‘n groep wat teen die stroom probeer swem en wat besig is met ‘n verlore en uitgediende saak, sal ons geen steun kry nie. Nou wil dit voorkom asof ons op die voorpunt van ‘n ontluikende beweging is wat ten spyte van terugslae voortgaan en toenemend veld wen.

Verkiesingsgeweld en die hart en siel van Amerika

ChLy1hyUUAE3zVR.jpg largeOrals in dorpe en stede in die Verenigde State van Amerika is die temperatuur besig om gevaarlik vinnig toe te neem. Ja, dit word somer, maar dit is nie net daardie temperature wat toeneem nie, maar ook die politieke temperatuur wat besig is om in ’n kookpot te ontwikkel.

Onlangs by die optrede van Donald Trump in San José in die deelstaat Kalifornië het betogers uiters geweldadig begin raak. Anti-Trumpbetogers het Trump-ondersteuners aangeval. Mense moes letterlik vlug voor ’n woedende skare met Mexikaanse vlae wat hulle leed wou aandoen. Talle Trump-ondersteuners is beseer. Amerikaanse vlae is verbrand en pro-Mexico-slagspreuke is geskree.

Kort voor die voorval in San José moes die polisie in Albuquerque in die deelstaat New-Mexico honderde betogers met pepergas verwilder terwyl hulle ook ’n byeenkoms probeer ontwrig en Trump-ondersteuners probeer aanval het. Regoor Amerika vrees Trump-ondersteuners vir hul eie veiligheid sou hulle ’n groot verkiesingsbyeenkoms bywoon of net hul steun vir die kandidaat toon.

Die vraagstuk hier het min te doen met die presidentskap van Donald Trump. Sommige mense hou van hom, ander haat hom. Wat egter kommerwekkend is, is dat goed gevestigde politieke prosesse in ’n Eerste Wêreldland soos Amerika tot op hierdie vlak kan daal.

Donald Trump is immers die presidentskandidaat van een van die land se twee groot politieke partye. Oor baie dekades kom Amerikaners elke vier jaar ’n felle stryd in verkiesingstye voer, terwyl dit nooit nodig was om byeenkomste te ontwrig, mense fisies aan te val en vrees te saai nie.

Die rol van die hoofstroommedia is hier ook kommerwekkend. Dit is ’n bekende feit dat al die groot koerante in die VSA sterk teen Trump se kandidatuur gekant is. Hierdie koerante het die afgelope tyd met talle rubrieke en artikels probeer redes uitdink waarom die optrede van die gewelddadige betogers geregverdig kan word. Wat hulle egter glad nie doen nie is om die uitdaging wat hierdie betogings op langgevestigde praktyke van vryheid van spraak en vryheid van assosiasie, inhou.

Die warm politieke temperatuur in die VSA gaan oor die hard en siel van die VSA en dit wat die land in die toekoms sal verteenwoordig. Amerika as Engelssprekende, Eerste Wêreldse en Westerse land is onder beleg van massa-immigrasie. Die mense wat Amerika binnestroom, het nie die groot Amerikaanse droom wat die Europese immigrante wat Amerika in die negentiende eeu binnegestroom het, gehad het nie.

Hedendaagse immigrante het geen behoefte om Amerikaners te word nie, maar hulle reis wel na Amerika om deel te hê aan die ekonomiese voordele van die land. Intussen beleef die krimpende ouer Amerikaanse bevolking, wat meestal blankes, maar ook talle swart Amerikaners insluit, hoe ou-Amerika verdwyn en ’n land waarmee hulle nie gemaklik is nie, gevestig word.

Oor die volgende vyf maande tot en met die verkiesing op 8 November sal hierdie stryd om die hart en siel van Amerika toeneem. Geweld deur veral immigrante sal ’n algemene eienskap van vanjaar se verkiesing word en kan vêrreikende gevolge vir die ou gevestigde vryhede wat Amerikaners geniet, hê.

Ook in Suid-Afrika sien ons ‘n toename van geweld deur mense wat nie hul frustrasies op ander maniere kan of wil uitdruk nie. Die uitdagings vir Afrikaners, in ‘n tyd waar ons eie vryhede toenemend ingeperk word en waar haatspraak en geweld toeneem, is baie groot. Terwyl Amerikaners soos talle ander Westerse volkere nie ‘n duidelike toekomsvisie het nie, sal die Afrikaner dringend moet verenig om ‘n visie van ‘n trek na die eie, die bou van nuwe dinge en ‘n parate, tog versigtige, ingesteldheid tot die ingewikkelde vraagstukke van Suid-Afrika. Soos wat die hart en siel van Amerika toenemend by die stembus en op straat bepaal word, sal die hart en siel van die Afrikaner deur ons vermoë om beheer oor ons eie toekoms te neem, bepaal moet word.

Weste moet ophou om in die hand van terroristegroep te speel

AQMI_Flag_asymmetric.svgDie onlangse skietvoorval in Orlando, Florida waarin 49 mense deur ’n ondersteuner van die terroristegroep, die Islamitiese Staat van Irak en Sirië (ISIS), vermoor is, plaas die doelwit van dié organisasie netjies in konteks. In die dae na die aanval is die volledige politieke gesprek in Amerika deur die aanval oorheers. ISIS skep vrees vir die Weste, veroorsaak reaksionêre politieke optrede en wys vir verarmde Moslems regoor die wêreld dat die bose onderdrukker, die Weste, kwesbaar is.

Die Islamitiese Staat verteenwoordig ’n ekstremistiese stroming binne Moslemgeledere waarvolgens die Midde-Ooste van Westerse invloede gesuiwer moet word, die antieke Levant herstel moet word en suiwer Islam op die res van die wêreld afgeforseer moet word.

Die dinge wat vandag hierdie groep dryf is dieselfde dinge wat die Ottomane eeue gelede gedryf het om groot dele van Europa binne te val en oor te neem. ISIS se eerste doel is om alles wat nie aan hulle suiwer Islamitiese oortuigings voldoen nie uit die sogenaamde Levant-streek te dryf. Daarom is die meeste Christene die afgelope paar jaar uit die Midde-Ooste verdryf, is antieke geboue in Sirië en Irak verwoes en word regerings, instellings en persone wat bande met die Weste het, aangeval.

In talle Moslemlande is daar min ondersteuning vir ISIS. In slegs vyf lande: Sirië, Tunisië, Maleisië, Nigerië en Senegal steun meer as 10% van die bevolking ISIS. In die Persiese Golflande soos die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrein, Katar, Saoedi-Arabië en Koeweit is daar byna geen steun vir ISIS nie. In Iran, wat gereeld as ’n soort bedreiging vir die Weste beskou word, is daar van alle Moslemlande in die wêreld die heel minste steun vir ISIS.

Die persepsie dat ISIS dus wye steun in Moslemlande geniet, is verkeerd. Dit is egter belangrik om te weet dat ISIS geensins van populêre steun afhanklik is nie. Hul sienswyse van die perfekte Islamitiese wêreld is een sonder demokrasie of demokratiese besluite.

Die mense wat ISIS ondersteun bestaan uit geloofsekstremiste en jongmense wat weens ekonomiese druk en uitsigloosheid na ISIS gelok word. Wat ISIS en ander terroristegroepe die afgelope paar jaar aan ons bewys het, is dat terrorisme die wêreld. ISIS beskik nie oor die vermoë om enige Westerse land met ’n konvensionele weermag aan te val en te oorwin nie. Deur terroriste-aanvalle in New York, Orlando, Londen, Parys, Brussel, Madrid en andere, waarin eintlik redelik min mense vergelykend met ’n oorlog dood is, het terroristegroepe daarin geslag om die die wêreld te verander.

Al Qaeda het daarin geslaag om Amerika in oorloë in die Midde-Ooste in te trek wat hierdie lande sodanig gedestabiliseer het, dat dit ’n teelaarde vir ekstremisme geskep het. Deur terrorisme en massa-immigrasie sal terroriste-organisasies oor die volgende paar jaar probeer om beheer oor onstabiele streke in die Midde-Ooste te bekom en om stukkie vir stukkie die res van die wêreld te Islamiseer. Reaksionêre optrede deur die Weste sal in die hand van ISIS speel. Slim pro-aktiewe optrede is nou nodig.

Die Verenigde Koninkryk voor ’n keerpunt

shutterstock_380274874-weboptimised-1024x922Gedurende 1919, kort na Brittanje se groot oorwinning in die Eerste Wêreldoorlog het ’n opstand in die magtige Koninkryk begin wat op 21 Julie 1921 sou lei tot die onafhanklikheid van 26 Ierse distrikte. In die uur van glorie toe die Britse ryk sy na-oorlogse greep op wêreldstreke soos die Midde-Ooste versterk het, het die Iere, ’n verarmde volk besluit om die groot Ryk te verlaat en oor hul eie toekoms te beskik.

Byna 100 jaar later sien ons dat die drang van selfstandigheid steeds wakker is op plekke soos Skotland, Wallis en Noord-Ierland. Dit is egter nie net volkere in die Verenigde Koninkryk wat intern vir groter vryheid streef nie, maar ook die geheel wat toenemend besef hoe ’n burokratiese mag in die Europese hoofstad, Brussel, hul lewens wil beheer.

Eerskomende Donderdag op 23 Junie sal burgers in die Verenigde Koninkryk die geleentheid kry om ’n sterk standpunt vir selfstandigheid en teen globalistiese gelykmaking in te neem. Beleid oor immigrasie, die ekonomie, omgewing, vervoer en internasionale betrekking word vir Britte vanuit die Europese Unie voorgeskryf.

’n Terroris wat deur die Islamitiese Staat in Libië opgelei is, kan met ’n bootjie vermom as ’n asielsoeker in Italië land en binne dae Duitsland, Nederland, Frankryk, België of selfs Brittanje bereik om daar sy groot daad van terrorisme te beplan en uit te voer. Die volkere van hierdie lande is magteloos omdat immigrasiebeleid in Brussel voorskryf dat hulle hierdie mense moet ontvang.

Die voorsitter van die Britse Laerhuis, Chris Grayling, vra onlangs in die Amerikaanse koerant, die Washington Post of Amerikaners bereid sal weens om deel te neem aan ’n eenheidsregering van alle Noord-Amerikaanse en Suid-Amerikaanse lande met ’n burokratiese regering in Panama wat vir Amerikaners kan voorskryf hoe hulle ekonomiese-, immigrasie- en ander beleid daarna moet uitsien. Natuurlik sal ’n groot meerderheid van Amerikaners teen so ’n regering gekant wees. Grayling vra dan waarom Britte aan so ’n regering in Brussel oorgelewer moet word? Grayling, ’n sterk ondersteuner van die veldtog om Brittanje op 23 Junie uit die Europese Unie te laat tree, lewer ’n sterk pleidooi vir die vryheid van volkere in Europa.

Die Amerikaanse skrywer Pat Buchanan som die stryd in Brittanje op as ’n stryd tussen die hart en die beursie en ’n stryd tussen vryheid en sekuriteit. Mense wat hul eie identiteit wil behou beskou vryheid as ’n hartsaak. Mense wat na die materiële waarde vir vandag kyk, beskou die veiligheid van EU-lidmaatskap as die beste opsie.

As Britte Donderdag besluit om die Europese Unie te verlaat sal dit ’n oorwinning vir die voortbestaan van die veelheid van volkere in Europa wees. Skotland sal dan weer poog om die Verenigde Koninkryk te verlaat en referendums oor EU-lidmaatskap kan in talle ander Europese lande volg. Sou die Britte egter in die EU bly kan die pad voorberei word vir die finale verval van volksidentiteite in Europa en sal die golf van immigrasie en globalisme onstuitbaar word. Op 23 Junie sal mense in die Verenigde Koninkryk vir of teen vryheid stem. Hul stem kan en sal Europa vir altyd verander.

Gedagtes oor globalisering en toerisme na aanleiding van ‘n onlangse besoek aan die Verre Ooste

BuddhatempelEk en my vrou het die voorreg gehad om vir 4 weke deur Thailand en Laos te reis, van die toeristemekka Phuket en Phi Phi oor die uitdagende maar tog bekorende Bangkok na die arm en landelike noorde, na die nog grootliks oorspronklike Mekong-valei, die lieflike Luang Prabang en die eerder onaansienlike Vientiane in Laos. Snorkel en markstalletjies was net so deel van die program soos tempelbesoeke, museums en paleise, natuur en diere. Thailand is nie verniet een van die gewildste toeristebestemmings op aarde nie, die land bied eenvoudig iets van alles, is boonop (vir Europeërs en Amerikaners) redelik goedkoop en veilig en het reeds ‘n gevestigde toerismebedryf van rugsakhostels tot uiterste luukse verblyf. Thailand se kos is ook beroemd en waar jy kom sal jy iets te ete vind.

Nogtans het die land en sy mense nie regtig tot my gespreek in ‘n kulturele sin nie. Die oorheersende Boeddhisme met sy talle beelde, nie net van Boeddha in sy vele verskynings nie, maar ook van slange en reuse en ander fabelwesens, bly vir my vreemd. Die taal is so vreemd vir ons, met heeltemal ander skrif en met geen enkele woord wat enige verwandstkap met ‘n Europese taal toon, dat kommunikasie en ‘n deurdring na die mense moeilik is, al is hulle gewoonlik vriendelik en hulpvaardig. Ten spyte van die kulturele vreemdheid het die toerisme egter ‘n vernis van gloabilsering oor die land geverf sodat jy die bekende globalistiese instellings en maatskappye dikwels kry. Dit trek my egter nog minder aan. Laos is nog meer oorspronklik, maar word ook vinnig deur toerisme aan die een kant, en veral Sjinese ontwikkeling aan die ander kant onherkenbaar gemoderniseer. Op ‘n twee dae lange bootrit op die Mekong, deur reenwoud en verby gehuggies met vissers kon ons nog veel van die oorpspronklike Laos sien, maar die afkap van die reenwoud en beplande groot damme bedreig dit. Met hartseer moes ek besef dat ek hierdie oor ‘n paar jaar verby sou wees.

Toerisme bevorder globalisering, en andersom. Toerisme lei ook tot vermenging. Thailand was die eerste land in die streek van Suid-Oos Asië wat vir massatoerisme ontsluit is, as gevolg van die Vietnam-oorlog waar die VSA Thailand as hulle basis gebruik het en daarmee saam terduisende soldate die land ingevaar en die sedes beduiwel het. Sekstoerisme het blykbaar daar sy oorsprong gehad, en ook die sterk drang van Westerse, meesal ouer mans na jong Thai vroue. Onder Westerse mans is die Thai vrou of minaaress pleks van die Westerse vrou eerder die reël as die uitsondering. Andersom kom dit min voor. As jy die dekadente Westerlinge sien, vol tatoeërmerke, swak geklee en met swak gedrag, is dit moeilik om nie sinies te raak oor die verval van die Weste en om nog te glo aan ‘n kulturele herlewing. Die Franse skrywer Michel Houellebec het die toedrag van sake heerlik ironies en sarkasties in sy toerismeroman Platform, wat juis in Thailand afspeel, beskryf. Afgesien van die meesal ouer mans met hulle Thai bruide wat al vir jare in Thailand as expats woon, is daar veral jong rugsakreisigers wat jy orals kry en wat vir maande of selfs jare aaneen deur die streek of selfs die wêreld swerf en wat almal eenders lyk, verslons, dikwels met tatoeërmerke en rasta-hare en hippieagtige-klere. Talle van hulle is ateiste maar voel aangetrokke tot Boeddhisme, sonder om dit werklik te verstaan of konsekwent uit te leef. Dis nogal ironies dat die rugsakreisigers so gou moontlik met batik-hemde en wye pofbroeke met olifantmotiewe probeer om soos Oosterlinge te lyk, terwyl die inheemse mense self veral op die globalistiese manier aantrek, skinny jeans en T-hemd met Engelse opskrif. Meeste van die rugsakreisigers het een of ander ideaal om diere, bedreigde volke of die omgewing te wil beskerm, maar hulle bly toeriste en bevorder globalisering wat juis dit bedreig wat hulle kamstig bemin en bewonder. Uitstappies na “Tribal villages” word orals geadverteer en die dorpe word verander in menslike dieretuine. Juis omdat ek die oorspronklike waardeer en wil behou het ek afgesien van so ‘n uitstappie.

Nogtans sou dit ‘n fout wees om Thaiand slegs as speelplek vir dekadente Westerlinge te sien. Aan die een kant is daar die globalisering, toerisme en die verbruikerskultuur, aan die ander kant is die land wel nog konserwatief en tradisioneel. Boeddhisme speel ‘n baie grooter rol in die daaglikse lewe, mense het ‘n aangebore hoflikheid en vriendelikheid en buite die toeristeplekke is die lewe nog redelik oorspronklik en eenvoudig. Die koningshuis ervaar die grootste verering denkbaar. Die koning, Bhumibol Adulyadei en sy vrou koningin Sikirit se fotos word werklik orals gesien en belediging van die koningshuis word swaar gestraf. Die koning het ‘n amper mitiese posisie en is ook die langs regerende monarg ter wêreld, met 70 jaar op die troon. Op treinstasies word met die aankoms van ‘n trein die nasionale lied gespeel en mense staan dan op aandag. Die land het tans ook ‘n outoritêre regering wat na ‘n staatsgreep aan bewind gekom het.

Met ons as Afrikaners is daar min paralelle en daar was ook nie iets wat ons kan leer nie, of groepe waarmee ons kan bande bou nie. Maar miskien was die reis na Thailand en Laos juis nodig om ‘n slag ‘n totale kontras tot die bekende te ervaar en om met die terugkoms die eie opnuut te waardeer. Dit wat die rugsakreisigers in eksotiese lande soek, die egte en oorpspronklike, het ons in Orania. Laat ons dit koester en uitleef, sonder om “dieretuine” vir toeriste en joernaliste te word.

Hoe groot is jou laer?

Tap01_DieUittogEk lees vanoggend ’n gedeelte uit Sagaria 2:

“En ek het my oë opgehef en gekyk—daar was ’n man met ‘n meetsnoer in sy hand.Toe sê ek: Waar gaan u heen? En hy antwoord my: Om Jerusalem te meet, om te sien wat sy breedte en wat sy lengte is.”

’n Aangrypende beskrywing volg soos wat die visioen ontplooi. Die engele meet die volk van God, om te bepaal wie hulle is, om hulle as’t ware te tel. Daar is die oproep vir almal in die Noordland om te vlug, terug na hul plek toe, al die Israeliete wat versprei is oor die aarde heen.

Na Israel en Juda se ballingskappe was die volk verspreid (Jerusalem val in 587/6 v.C.) en Sagaria sien sy visioen binne hierdie agtergrond. Die eerste gebeure is om te bepaal wie nog sy mense is.

Wie is jou mense?

Ek wonder vandag as so ’n engel met ’n meetsnoer die Afrikaner sou meet, wie almal Afrikaner sal wees. Ons is immers ook ’n volk met wie God ’n besondere pad stap. Jare gelede, toe die debat oor Boer of Afrikaner meer vurig as vandag was, vertel een van my professore ons, tydens ’n  Ou-Testament Eksegese lesing, dat hy die vorige naweek op Loftus was. Soos die Bulle en die Vrystaat mekaar pak kyk hy om hom, hy sien die blou en wit en oranje, hy sien die biltong en droëwors en gedokterde lemoene; hy hoor die mense lag en juig en sing en hy besef, hierdie is ons volk, dit is ons mense, dit is die Afrikaner.

Dit mag dalk vir meeste van ons te simplisties klink, meeste van ons wil die definisie verfyn, skerper maak. Ek beleef vandag te veel hoe ek my eie definisie van Afrikaner soos ’n vlymskerp skalpel aanwend om mense uit te sny en weg te gooi. Kerkverband, kerk enigsins, politieke verbintenisse, geheime organisasie lidmaatskap, ja of nee stem, haarlengte, baardlengte, kennis van geskiedenis voor 1910, kennis van geskiedenis na 1910, hoeveel strofes van die Transvaalse Volkslied jy ken, waar jou oupa in die oorloë was, KP, NP, HNP, NKP, VF, DA, NAT, SAP, OB, Solidariteit, AfriForum, Front Nasionaal, VVK, Verkenners, FAK, Orania Beweging, Hartland Stigting…

Hoe groot is jou laer? Hoeveel baniere kan saam in jou laer wapper? Daar was ’n stadium in my lewe dat ek gedink het “eendrag maak mag” was satiries bedoel, vandag dink ek dit was in ’n sekere sin profeties. Hoe bitter nodig het ons nie mekaar nie?

Soos die engel vandag oor die wêreld gaan met die meetsnoer vir die Afrikaner, wonder ek of my skalpel en sy meetsnoer dieselfde resultaat sal oplewer.

Ek sien ’n laer, saamgetrek uit al die windrigtings, in hierdie laer hang vele vlae en baniere, maar hierdie laer sing in die oggend Sarie Marais, saans Kaplyn en De la Rey en Sondae Psalm 100.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel