EFF se politieke uitbuitery van arm blankes in Hermanstad

inlPicsCopy of PN EFF5521Ek kon nie help om die berig op Maroela Media oor die EFF se politieke werwing in Hermanstad met skeptisisme en teleurstelling te lees nie. Skepties is ek oor die hoop wat die gemeenskap het dat daar heil by die EFF te wagte is. Vermoedelik word die EFF gesteun omdat hulle beloftes bied oor grond en behuising. Moontlik uit vrees. Opportunisties gebruik die EFF die geleentheid om te wys dat hulle as party ook wit steun kan kry.

Aan die ander kant is ek teleurgesteld in die sogenaamde vryheid wat die nuwe demokratiese bedeling in Suid-Afrika klaarblyklik bied, maar dat dit in realiteit op marginalisering van minderhede uitloop. Nie net is ek teleurgesteld in die bedeling waarmee ons te doen het nie, maar ook in die wyse waarop daar binne die Afrikaanse gemeenskap ʼn reuse kloof tussen ryk en arm ontstaan het. Terwyl die rykes dit kan regkry om hulself teen die demografiese verskuiwings te verskans, is arm blankes oorgelewer aan ʼn onbarmhartige lot.

Uit my eie ervaring kan ek net ʼn paar probleme noem waarmee arm blankes op ʼn daaglikse basis te doen kry. Meeste van hul kan nie medies bekostig nie en moet van staatshospitale gebruik maak. Taxi’s moet gebruik word vir vervoer. Dwelms en drank is probleme wat gesinne verwoes. Hul moet ook blyplek vind in minder gegoede gebiede, waar misdaadsyfers gewoonlik hoër is. Hul word slagoffers van geweld, diefstal, gesinsverbrokkeling en verwaarlosing deur hul eie mense. Jong kinders loop op straat rond, sonder dat hul ouers iewers opgemerk word. In baie gevalle maak oupa en ouma die kleinkinders groot. Dit is maar net wat ek van binne die veiligheid van my eie motor al opgemerk het.

Vanweë die skeiding tussen arm blankes en ryk blankes ten opsigte van die onderskeie woongebiede, het ons in die reël al hoe minder bewus geword van die nood van mede-Afrikaners. Hoewel daar verskeie organisasie soos Helpende Hand is wat dankbaar hiermee, help is die mees fundamentele probleem dat ryk en arm Afrikaners vandag in verskillende wêrelde leef en byna van mekaar vergeet het.

Die arm blanke vraagstuk gaan nooit volkome opgelos word nie. Die Bybel leer ons dat daar altyd rykes en armes sal wees. Tog meen ek dat ons ʼn verantwoordelikheid het om beter om te sien na mede-Afrikaners wat in armoede verkeer. Hiermee sê ek nie dat ons net ʼn verantwoordelikheid het om na arm Afrikaners om te sien nie, maar wel dat die verantwoordelikheid die swaarste weeg en prioriteit behoort te geniet.

Om behoorlik na mekaar om te sien, is dit nodig om mekaar meer te sien. Dit is nodig dat ryk en arm nie in aparte wêrelde leef nie maar tussen mekaar, sodat die wat meer ontvang die kan help in nood. ʼn Gemeenskaplike grondgebied kan dus ʼn groot stap vorentoe wees. Sou ons nader aan mekaar woon, sal ons ook meer bewus word van mekaar se lyding en ook beter weet hoe om hand by te sit. Hoewel die demokratiese bedeling waarin ons leef vir verskeie individue geweldige voorspoed gebring het, blyk dit nie die geval vir die Afrikanergemeenskap as ʼn geheel te wees nie. Die armblankes in Hermanstad wat die EFF steun is maar net ʼn simptoom hiervan.

Brexit, “die Volkstaat” en dié se vreeslike bagasie

Dat ’n meerderheid Britte die dapper stap geneem het om ’n nuwe verhouding met Europa aan te knoop, het natuurlik ’n hele kettingreaksie van Euroskeptisisme tot gevolg gehad. Hoewel dit akkurater sou wees om na Europese Unie-skeptisisme te verwys, want die meeste van dié kritici ondersteun steeds die gedagte van ’n Europese identiteit naas hulle nasionale en plaaslike identiteite. Egter nie ’n Europese superstaat nie, maar dit daar gelaat.

Selfs in Suid-Afrika het die Brexit veldtog mense opnuut oor ons “superstaat” laat wonder. Nie juis superdoeltreffend nie, maar “super” in die sin van ’n staat wat ’n groot getal volke, tale, streke, selfs koninkryke insluit en tot ’n nasionale eenheid wat sentraal geregeer word, probeer saamsmee. En seker nie té verrassend nie dat dit (nog) nie in die Zulu-koninkryk was nie, maar in die Wes-Kaap dat daar stemme vir ’n “afskeid en vertrek” van Suid-Afrika opgegaan het. En darem, hoewel tong in die kies, in Orania.

Ek kon natuurlik nie help om terug te dink aan die vormingsjare van die nuwe Suid-Afrika, sê maar 1991 tot 1996, toe ’n die voorwaardes vir ’n “Afrikaner exit” neergelê kon word, maar nie is nie. Onder daardie vloeibare omstandighede het die volkstaat-gedagte ’n hoogbloei beleef, maar gou uitgeblom om twee eenvoudige redes: die meeste aanhangers daarvan wou dit hê waar hulle reeds is en min van hulle het kans of rede gesien om na ’n kultuur van eie arbeid oor te skakel.

Die Volkstaat se verspeelde lente, kan mens dit noem – met die hoofletter “V-” nie per ongeluk nie. Mense het die woord soos ’n eienaam gebruik, orators het dit van verhoë af gebulder en plakkate is teen pale opgesit waar hoogstens een uit elke tien of twintig of honderd verbygangers volksgenote was, plakkate met “HIERDIE IS ONS VOLKSTAAT”. Agter die gebruik van die abstrakte term eerder as die naam van ’n werklike streek het die afwesigheid van ’n konkrete aanspraakmaker op selfbeskikking skuil gegaan.

En dit is natuurlik waar die woord se vreeslike bagasie vandaan kom. Nie dat ’n volkstaat vir Afrikaners onwenslik sou wees nie, maar dat die meeste Afrikaners dit nie eers amper begin oorweeg het om aan die voorwaardes daarvoor te voldoen nie, het die gedagte gekelder. Hoe warmer die retoriek, hoe onrealistieser die aansprake destyds; wat ook verklaar hoekom soveel gewone, regdenkende Afrikaners eerder teruggestaan het as om hulle gewig daarby in te gooi. Die gedagte moes as’t ware eers gelouter en getoets word, en die beste toets is tyd. Maar daarmee het ‘n goue geleentheid verbygegaan.

Nou tref die werklikheid talle “Volkstaters” tussen die oë: Afrikaners se verbintenis tot die Suid-Afrikaanse staat het vir ’n sterk sin vir selfstandigheid plek gemaak, maar daar is nog geen lewensvatbare exit-strategie nie. Dit is denkbaar dat die Wes-Kaap sy eie weg kan inslaan, hulle is immers ’n erkende staatkundige eenheid wat oor die meeste van die instellings en strukture beskik wat daarvoor nodig is. Dit is selfs denkbaar dat Orania mettertyd kan ontwikkel tot ’n staatkundige eenheid wat sy eie weg kan inslaan, maar vir nóú het ons nie wat nodig is nie.

Wat my by ’n onlangse verwysing in Rapport oor die woord “volkstaat” se “vreeslike bagasie” bring. Nie “vieslike” nie, dit was op die beste verkeerd gehoor, maar die verskil is ook nie so groot dat dit ’n polemiek regverdig nie. Die punt is dat die woord herwin sal moet word om weer in die omgang van veel waarde te wees, dat die onrealistiese en anachronistiese verwagtings wat daaraan verbind is, agtergelaat moet word as dit weer deel van ’n betekenisvolle gesprek oor ons staatkundige toekoms moet word.

Oor die wenslikheid al dan nie van so ‘n herwinningspoging verskil selfs lojale en vryheidsgesinde Afrikaners; vir sommige is dit geen voorwaarde vir uiteindelike vryheid nie. Self beywer ek my al jare vir ’n eenvoudige en onopgeblase gebruik van die woord; nie as ’n mantra wat alle moeilikhede sal laat verdwyn nie, maar as ’n woord met ’n ryk en geskakeerde betekenis wat kan help rigting gee as die bagasie van misbruik in die verlede agtergelaat kan word. En al is ek nie met die woord getroud nie, is te veel van die mense wat baie sterk daaroor voel, vir my te belangrik om dit as’t ware goedsmoeds weg te gooi.

Daarom dat ek nie graag wil hê dat Rapport se verwysing onder ons mense verwarring moet bring nie. Ek wil enigeen wat onthuts was oor dié verwysing aanraai om my boek “Verder as vryheid” te lees, want in ’n sin is dít waaroor die hele storie gaan. En mag daar ’n dag kom dat ons as Afrikaners weer behoorlike inspraak in ons staatkundige toekoms opneem, toegerus met die instellings, strukture en hulpbronne wat daarvoor nodig is. Juis dit is waaraan ons elke dag in Orania werk.

Die Britte het goeie rede gehad om die EU te verlaat

brexit-leave-celebration-7Vroeg verlede Vrydagoggend het die trane oor die wange van Christine Amanpour, die bekende CNN-joernalis, geloop. Amanpour, deel van die ou orde op nuustelevisie, kon tydens ’n regstreekse uitsending vanuit Londen haar skok en teleurstelling met die uitslag van die referendum oor die Verenigde Koninkryk se lidmaatskap van die Europese Unie, nie keer nie.

Amanpour was nie alleen nie. Sou jy vroeg Vrydagoggend tussen televisiekanale skakel sou jy van die een skokbeeld na die ander gaan. Die pyn was sigbaar op die gesigte van joernaliste en kommentators wat almal geglo het dat die gewone mense in Brittanje nie sovêr sou gaan om op te staan en te sê: Genoeg is genoeg nie.

Die groepering van politici, sakelui, akademici en skyn elitistiese denkers wat oortuig was dat ’n meerderheid van kiesers sou stem om in die EU te bly, kon Vrydagoggend nie hul skok en teleurstelling keer nie. Daar was werklik tussen hierdie mense die oortuiging dat die meerderheid van Britte soos getroue stemvee hul sogenaamde goeie raad sou volg.

Toe die Europese Unie na die Tweede Wêreldoorlog tot stand gekom het, was die bedoelings suiwer. Europeërs moes nooit weer die wapen teen mekaar opneem nie. Deur die skep van ’n organisasie met gedeelde belange sou samewerking en vertroue geskep word, wat sou verhoed dat Europa se verlede van bloedige oorloë herhaal sou word.

Wat het sedertdien gebeur? Soos wat die EU in Brussel, België gevestig geword het, het die burokrate die een plan na die ander beraam om politieke en ekonomiese funksies en uiteindelik mag na hulself op te wentel. In 1952 is ’n Europese hof in Luxemburg ingestel en sedertdien moes talle Europese lande sien hoe beslissings van hul eie howe sekondêr tot beslissings van die Hof van Justisie van die Europese Unie gestel is.

In 2002 is die Europese geldeenheid, die Euro, ingestel en monetêre eenheid in Europa is as ’n belangrike prioriteit geïdentifiseer. Sedertdien het talle lande in Europa berou ontwikkel oor hul besluit om hul eie geldeenheid vir die Euro te verruil. In 2014 het die Europese Sentrale Bank sy nuwe hoofkantoor in Frankfurt, Duitsland betrek. Die gebou wat aanvanklik 500 miljoen Euro moes kos het teen sy voltooiing ’n allemintige 1,2 miljard Euro gekos.

Vandag werk byna 200 000 mense vir die Europese Unie en al sy burokratiese filiale en afdelings. Die Europese Unie se jaarlikse begroting is byna 150 miljard Euro wat deur die 28 lidlande betaal moet word. Die sowat 350 miljoen Pond per week wat deur die Britte aan die EU betaal is, sal binnekort deur ander lidlande opgemaak moet word.

Vandag sien ons in talle Europese lande hoe begrotings op bejaardesorg, onderwys en veiligheid besnoei word, hoe onwettige immigrante oor grense stroom en hoe besluite oor die lot van Europese volkere deur burokrate in Brussel geneem word. Sewentien miljoen Britte het verlede week besluit dat hulle genoeg hiervan gehad het. Die skynelite van verontwaardigdes sal vinnig moet besef dat hierdie net die begin van die herstrukturering van verhoudinge in Europa is.

Geskiedenis: Die Illusie van die werklikheid

Boeke-logo1‘n Groep kolonialiste van Europa het meer as 3000 van ons mense bloeddorstig vermoor soos ons ons grondgebied wou beskerm. “Dit was grusaam,  ons mense het by die duisende dood in die rivier gelê, hul bloed het die rivier rooi gekleur. Ons was in ‘n konflik teen ‘n mag met veel beter wapentuig en ‘n vreemde bonatuurlike krag het die wit duiwels gehelp. Ons was magteloos. Soos ons weg gehardloop het,  het hulle ons agtervolg op hul perde,  ons het nêrens gehad om heen te vlug nie.”

Op 16 Desember 1838 lê ds. Cilliers ‘n gelofte af soos die Zulu magte dreigend nader kom.  God gee aan die 470 Voortrekkers die wonderbaarlike oorwinning. Deur sy genade word hierdie klompie gelowiges bewaar van uitwissing.  Tussen 14000 en 21000 Zoeloes storm in die veldslag op die laer af waartydens slegs 3 boere gewond is en 3000 Zoeloes sterf.

Ek stel  myself 1838 se koerantberigte soos bogenoemde voor.  Die een artikel in die liberale vryepers blad Die Vrye Nuusblad,  die andere in iets soos die konserwatiewe Volkskoerant.

Verskoon my oordrewe voorbeeld; ware objektiewe weergawes van gebeure is uiters moeilik om te verkry omdat geen mens,  geen joernalis,  geen geskiedskrywer bloot die feite weergee nie. Ons kleur dit altyd ietwat in om ons bepaalde wêreldbeskouing te dien.  

Dit geld ook in biografiese materiaal oor bepaalde bekende figure. Geen skrywer sal bloot net ‘n lys van historiese gebeure noem,  dit word altyd aangebied met ‘n bepaalde boodskap in gedagte. Geskiedskrywing is juis ‘n tipe prosa wat ‘n bepaalde historiese gebeurtenis of persoon binne ‘n bepaalde konteks wil aanbied en verskeie faktore bepaal die “inkleur” van die feite.  

Eerstens sal ek die outeur se wêreldbeskouing aanbied. As voorbeeld sal ‘n Calvinis anders oor die konflik in die Midde-Ooste berig as ‘n ortodokse Jood, albei anders as die Moslem se weergawe. So ook sal ‘n Jood anders berig oor Auschwitz as wat ‘n Duitse Nasionalis dit sal doen.

Ons vind soortgelyke voorbeelde in die Bybel ook waar daar in die boek Konings (wat meer rojalisties was)  oor iemand berig word as wanneer die Kronis van Kronieke dit doen.  Die Konings boeke skrywers het klem op die Dawidiese verbond geplaas en die Kronis op die Abrahamitiese.  Die een groep was pro-Dawidiese-koningshuis die ander anti.

As verdere voorbeeld sal ek as Oraniër anders oor Verwoerd skryf as ‘n EFF of DA of UDF geskiedskrywer.

Ek gaan die stelling waag dat die Media die middel is waardeur propaganda teenoor volwassenes gepleeg word, en geskiedskrywing begin alreeds by die kind se opvoeding. Propaganda.

Die punt wat ek vandag,  baie onsamehangend, probeer maak is dat elke storie (verhaal, weergawe,  artikel) ‘n boodskap ten doel het en hierdie doel word bewustelik of onbewustelik deur die outeur bepaal,  meer as die feite of inhoud.

Om hierdie rede is dit my betoog dat ons na enige skrywes eksegeties sal kyk,  dat ons dit binne die konteks eksegeties sal beoordeel.  Geskiedskrywing en joernalistiek ontstaan nie binne ‘n vakuum nie,  maar binne die skrywer se konkrete en werklike Sitz im Leben.  Ons verstaan en kennis van die outeur se leefwêreld en wêreldbeskouing openbaar veel meer as bloot net die teks, dit is as’t ware die sleutel tot die verstaan van die teks. As ons deur die koerant blaai,  of die tydskrif lees is ‘n kort toer na Googleland met die skrywer se naam  ‘n goeie vertrekpunt om die verstaan oop te sluit, ook die datum van publikasie.

Met my openings paragraaf in gedagte vertel ons weergawes van 16 Desember 1838 vir my iets moois van wie ons is: Diep gelowig, trots, moedig en dapper. Ek lees in geen van ons weergawes ‘n poging om ons as martlelare of geviktimiseerd aan te bied nie. Dit maak my trots en warm. Net soos wat ons weergawes van die slag van Quito Carnival in Angola my trots en warm laat. Hou tog altyd een ding in gedagte: Die geskiedskrywing is altyd meer as die blote weergee van feite. Ongeag hoe eerbaar en hoe opreg die outeur ook al was of is,  hy het ‘n bepaalde boodskap wat hy wil weergee. Hierdie feit maak dit nie sodanig verkeerd nie,  mens moet dit egter in rekening bring.

Tweedens wil ek graag die leser se lewens-en-wêreldbeskouing aanbied.  Ons as lesers se bril beïnvloed ook ons verstaan van die boodskap van die outeur.  Om te lees,  kennis in te win,  na te vors,  nuus te kry is as’t ware ‘n dialoog. Dit is die moment wat my Sitz im Leben dié van die outeur ontmoet. Dit het gewoonlik een van drie moontlike uitwerkings op my as leser: Ek stem saam,  ek is neutraal of ek stem nie saam nie.

Derdens die feite van die gebeure.  Ek oordeel egter dat die feite slegs as kapstop dien waaraan die outeur sy eie boodskap kan hang. Daar is min resepte van outeur en feite en leser wat nie ‘n knippie sout aanbeveel nie.

Een van my proffessore het eenkeer gesê: Lees en lees en lees en die wêreld sal vir jou oopgaan. ‘n Ander proffessor van my het aangebied: Daar is geen groter gif as die geskrewe woord. Ek wonder vandag of hy bedoel het gif as gawe of gif as middel om te vergiftig. Soos ek vandag oor geskiedskrywing dink, reken ek albei. Die groot kuns is sekerlik om te bepaal of die teks waarmee jy besig, wat met jou besig is, vir jou ‘n gawe is, of die potensiaal het om jou te vergiftig.  

Propaganda,  goed en sleg,  is ‘n realiteit.

Lekker lees.

Om te Bou teen die Raka

Pretoria brandDr. Danie Langner open so paar weke gelede ons Stadskonferensie met verwysing na Raka. Raka, dwaas, leegheid, niksheid.
Binne vandag se konteks ly vele Suid-Afrikaners aan hierdie toestand; leegheid, sinneloosheid. Dit is asof die woord Raka vandag se Nihilisme perfek beskryf. Die vraag is nie meer: Wat is die sin nie, maar ’n amper passiewe aanvaarding van die chaos en sinneloosheid; selfs meer as bloot aanvaarding, maar die aktiewe bydrae tot die niksheid.
Vanoggend lees ek weereens die begin verhaal in Genesis en die gedeelte in 1:28 val my ook by. Die Kultuuropdrag, die opdrag om die aarde te bewoon en te bewerk. Die reaksie op die leegheid, die woes en leeg van voor die Skepping, die Nihilisme, die Raka is juis dit: Om te Bou.
Raka word nie gestop deur Pretoria te brand nie, inteendeel, Raka wil dit juis hê. In die Bybel vind ons telkemale die dualisme van Chaos teen Orde, Lig teenoor Duisternis, Goed teenoor Kwaad. Raka teenoor Bou.
God kom met die Skepping en skep Orde teen die Chaos, Sin teen die Leegheid, Bou teen die Raka. In hierdie lewe groepeer mens jouself doodeenvoudig by een van die twee groeperinge. Binne die dualisme is jy òf Chaos òf Orde.
God kom vervolmaak sy ordeplan in die volmaakte offer van sy Seun. Hierdeur word die grootste chaos magte, die sonde en die dood, immers geneutraliseer en ons deel aan hierdie neutralisering deur ons geloof in Hom, maar ook in die aktiewe Bou teen die Chaos.
Daar is vandag instansies, organisasie, volkere wat Bou teen die Niksheid. Solidariteit se veldtog #OnsBou is hiervan ’n sprekende voorbeeld. AfriForum, Helpende Hand ook. Ek kyk na ons calvinistiese ingesteldheid op Orania, selfwerksaamheid, eie instellings, eie grond dit alles Bou teen die Raka.
Ek wil vandag sin aanbied, antwoord op die chaos, antwoord op die leegheid en niksheid en Raka: Bou! Ek sien Helpsaamfonds se #mySTAD projek juis in die lig van die Bybelse Kultuuropdrag, bewoon en bewerk die aarde. Ek antwoord Raka vandag: Kyk, ons Bou. Ek antwoord God se roepstem en opdrag met ’n gehoorsame: Bewoon en bewerk! Ja, Here ons Bou saam, ons skep saam met U; gehoorsaam teen die Raka, werk teen die Raka, arbeid teen die Raka, mySTAD teen die Raka.

Vergewe en vergeet

deuAfrikaans mustfaalr Totius

Daar het ‘n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.

En eendag kom daarlangs
‘n ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.

“Jy het mos doringstruikie
my anderdag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap.”

Die ossewa verdwyn weer
agter ‘n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.

Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.

Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.

Ook het die loop van jare
die wonde weggewis –
net een plek bly ‘n teken
wat onuitwisbaar is.

Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel