fbpx

BuddhatempelEk en my vrou het die voorreg gehad om vir 4 weke deur Thailand en Laos te reis, van die toeristemekka Phuket en Phi Phi oor die uitdagende maar tog bekorende Bangkok na die arm en landelike noorde, na die nog grootliks oorspronklike Mekong-valei, die lieflike Luang Prabang en die eerder onaansienlike Vientiane in Laos. Snorkel en markstalletjies was net so deel van die program soos tempelbesoeke, museums en paleise, natuur en diere. Thailand is nie verniet een van die gewildste toeristebestemmings op aarde nie, die land bied eenvoudig iets van alles, is boonop (vir Europeërs en Amerikaners) redelik goedkoop en veilig en het reeds ‘n gevestigde toerismebedryf van rugsakhostels tot uiterste luukse verblyf. Thailand se kos is ook beroemd en waar jy kom sal jy iets te ete vind.

Nogtans het die land en sy mense nie regtig tot my gespreek in ‘n kulturele sin nie. Die oorheersende Boeddhisme met sy talle beelde, nie net van Boeddha in sy vele verskynings nie, maar ook van slange en reuse en ander fabelwesens, bly vir my vreemd. Die taal is so vreemd vir ons, met heeltemal ander skrif en met geen enkele woord wat enige verwandstkap met ‘n Europese taal toon, dat kommunikasie en ‘n deurdring na die mense moeilik is, al is hulle gewoonlik vriendelik en hulpvaardig. Ten spyte van die kulturele vreemdheid het die toerisme egter ‘n vernis van gloabilsering oor die land geverf sodat jy die bekende globalistiese instellings en maatskappye dikwels kry. Dit trek my egter nog minder aan. Laos is nog meer oorspronklik, maar word ook vinnig deur toerisme aan die een kant, en veral Sjinese ontwikkeling aan die ander kant onherkenbaar gemoderniseer. Op ‘n twee dae lange bootrit op die Mekong, deur reenwoud en verby gehuggies met vissers kon ons nog veel van die oorpspronklike Laos sien, maar die afkap van die reenwoud en beplande groot damme bedreig dit. Met hartseer moes ek besef dat ek hierdie oor ‘n paar jaar verby sou wees.

Toerisme bevorder globalisering, en andersom. Toerisme lei ook tot vermenging. Thailand was die eerste land in die streek van Suid-Oos Asië wat vir massatoerisme ontsluit is, as gevolg van die Vietnam-oorlog waar die VSA Thailand as hulle basis gebruik het en daarmee saam terduisende soldate die land ingevaar en die sedes beduiwel het. Sekstoerisme het blykbaar daar sy oorsprong gehad, en ook die sterk drang van Westerse, meesal ouer mans na jong Thai vroue. Onder Westerse mans is die Thai vrou of minaaress pleks van die Westerse vrou eerder die reël as die uitsondering. Andersom kom dit min voor. As jy die dekadente Westerlinge sien, vol tatoeërmerke, swak geklee en met swak gedrag, is dit moeilik om nie sinies te raak oor die verval van die Weste en om nog te glo aan ‘n kulturele herlewing. Die Franse skrywer Michel Houellebec het die toedrag van sake heerlik ironies en sarkasties in sy toerismeroman Platform, wat juis in Thailand afspeel, beskryf. Afgesien van die meesal ouer mans met hulle Thai bruide wat al vir jare in Thailand as expats woon, is daar veral jong rugsakreisigers wat jy orals kry en wat vir maande of selfs jare aaneen deur die streek of selfs die wêreld swerf en wat almal eenders lyk, verslons, dikwels met tatoeërmerke en rasta-hare en hippieagtige-klere. Talle van hulle is ateiste maar voel aangetrokke tot Boeddhisme, sonder om dit werklik te verstaan of konsekwent uit te leef. Dis nogal ironies dat die rugsakreisigers so gou moontlik met batik-hemde en wye pofbroeke met olifantmotiewe probeer om soos Oosterlinge te lyk, terwyl die inheemse mense self veral op die globalistiese manier aantrek, skinny jeans en T-hemd met Engelse opskrif. Meeste van die rugsakreisigers het een of ander ideaal om diere, bedreigde volke of die omgewing te wil beskerm, maar hulle bly toeriste en bevorder globalisering wat juis dit bedreig wat hulle kamstig bemin en bewonder. Uitstappies na “Tribal villages” word orals geadverteer en die dorpe word verander in menslike dieretuine. Juis omdat ek die oorspronklike waardeer en wil behou het ek afgesien van so ‘n uitstappie.

Nogtans sou dit ‘n fout wees om Thaiand slegs as speelplek vir dekadente Westerlinge te sien. Aan die een kant is daar die globalisering, toerisme en die verbruikerskultuur, aan die ander kant is die land wel nog konserwatief en tradisioneel. Boeddhisme speel ‘n baie grooter rol in die daaglikse lewe, mense het ‘n aangebore hoflikheid en vriendelikheid en buite die toeristeplekke is die lewe nog redelik oorspronklik en eenvoudig. Die koningshuis ervaar die grootste verering denkbaar. Die koning, Bhumibol Adulyadei en sy vrou koningin Sikirit se fotos word werklik orals gesien en belediging van die koningshuis word swaar gestraf. Die koning het ‘n amper mitiese posisie en is ook die langs regerende monarg ter wêreld, met 70 jaar op die troon. Op treinstasies word met die aankoms van ‘n trein die nasionale lied gespeel en mense staan dan op aandag. Die land het tans ook ‘n outoritêre regering wat na ‘n staatsgreep aan bewind gekom het.

Met ons as Afrikaners is daar min paralelle en daar was ook nie iets wat ons kan leer nie, of groepe waarmee ons kan bande bou nie. Maar miskien was die reis na Thailand en Laos juis nodig om ‘n slag ‘n totale kontras tot die bekende te ervaar en om met die terugkoms die eie opnuut te waardeer. Dit wat die rugsakreisigers in eksotiese lande soek, die egte en oorpspronklike, het ons in Orania. Laat ons dit koester en uitleef, sonder om “dieretuine” vir toeriste en joernaliste te word.