Ek lees vanoggend ’n gedeelte uit Sagaria 2:
“En ek het my oë opgehef en gekyk—daar was ’n man met ‘n meetsnoer in sy hand.Toe sê ek: Waar gaan u heen? En hy antwoord my: Om Jerusalem te meet, om te sien wat sy breedte en wat sy lengte is.”
’n Aangrypende beskrywing volg soos wat die visioen ontplooi. Die engele meet die volk van God, om te bepaal wie hulle is, om hulle as’t ware te tel. Daar is die oproep vir almal in die Noordland om te vlug, terug na hul plek toe, al die Israeliete wat versprei is oor die aarde heen.
Na Israel en Juda se ballingskappe was die volk verspreid (Jerusalem val in 587/6 v.C.) en Sagaria sien sy visioen binne hierdie agtergrond. Die eerste gebeure is om te bepaal wie nog sy mense is.
Wie is jou mense?
Ek wonder vandag as so ’n engel met ’n meetsnoer die Afrikaner sou meet, wie almal Afrikaner sal wees. Ons is immers ook ’n volk met wie God ’n besondere pad stap. Jare gelede, toe die debat oor Boer of Afrikaner meer vurig as vandag was, vertel een van my professore ons, tydens ’n Ou-Testament Eksegese lesing, dat hy die vorige naweek op Loftus was. Soos die Bulle en die Vrystaat mekaar pak kyk hy om hom, hy sien die blou en wit en oranje, hy sien die biltong en droëwors en gedokterde lemoene; hy hoor die mense lag en juig en sing en hy besef, hierdie is ons volk, dit is ons mense, dit is die Afrikaner.
Dit mag dalk vir meeste van ons te simplisties klink, meeste van ons wil die definisie verfyn, skerper maak. Ek beleef vandag te veel hoe ek my eie definisie van Afrikaner soos ’n vlymskerp skalpel aanwend om mense uit te sny en weg te gooi. Kerkverband, kerk enigsins, politieke verbintenisse, geheime organisasie lidmaatskap, ja of nee stem, haarlengte, baardlengte, kennis van geskiedenis voor 1910, kennis van geskiedenis na 1910, hoeveel strofes van die Transvaalse Volkslied jy ken, waar jou oupa in die oorloë was, KP, NP, HNP, NKP, VF, DA, NAT, SAP, OB, Solidariteit, AfriForum, Front Nasionaal, VVK, Verkenners, FAK, Orania Beweging, Hartland Stigting…
Hoe groot is jou laer? Hoeveel baniere kan saam in jou laer wapper? Daar was ’n stadium in my lewe dat ek gedink het “eendrag maak mag” was satiries bedoel, vandag dink ek dit was in ’n sekere sin profeties. Hoe bitter nodig het ons nie mekaar nie?
Soos die engel vandag oor die wêreld gaan met die meetsnoer vir die Afrikaner, wonder ek of my skalpel en sy meetsnoer dieselfde resultaat sal oplewer.
Ek sien ’n laer, saamgetrek uit al die windrigtings, in hierdie laer hang vele vlae en baniere, maar hierdie laer sing in die oggend Sarie Marais, saans Kaplyn en De la Rey en Sondae Psalm 100.