fbpx

ChLy1hyUUAE3zVR.jpg largeOrals in dorpe en stede in die Verenigde State van Amerika is die temperatuur besig om gevaarlik vinnig toe te neem. Ja, dit word somer, maar dit is nie net daardie temperature wat toeneem nie, maar ook die politieke temperatuur wat besig is om in ’n kookpot te ontwikkel.

Onlangs by die optrede van Donald Trump in San José in die deelstaat Kalifornië het betogers uiters geweldadig begin raak. Anti-Trumpbetogers het Trump-ondersteuners aangeval. Mense moes letterlik vlug voor ’n woedende skare met Mexikaanse vlae wat hulle leed wou aandoen. Talle Trump-ondersteuners is beseer. Amerikaanse vlae is verbrand en pro-Mexico-slagspreuke is geskree.

Kort voor die voorval in San José moes die polisie in Albuquerque in die deelstaat New-Mexico honderde betogers met pepergas verwilder terwyl hulle ook ’n byeenkoms probeer ontwrig en Trump-ondersteuners probeer aanval het. Regoor Amerika vrees Trump-ondersteuners vir hul eie veiligheid sou hulle ’n groot verkiesingsbyeenkoms bywoon of net hul steun vir die kandidaat toon.

Die vraagstuk hier het min te doen met die presidentskap van Donald Trump. Sommige mense hou van hom, ander haat hom. Wat egter kommerwekkend is, is dat goed gevestigde politieke prosesse in ’n Eerste Wêreldland soos Amerika tot op hierdie vlak kan daal.

Donald Trump is immers die presidentskandidaat van een van die land se twee groot politieke partye. Oor baie dekades kom Amerikaners elke vier jaar ’n felle stryd in verkiesingstye voer, terwyl dit nooit nodig was om byeenkomste te ontwrig, mense fisies aan te val en vrees te saai nie.

Die rol van die hoofstroommedia is hier ook kommerwekkend. Dit is ’n bekende feit dat al die groot koerante in die VSA sterk teen Trump se kandidatuur gekant is. Hierdie koerante het die afgelope tyd met talle rubrieke en artikels probeer redes uitdink waarom die optrede van die gewelddadige betogers geregverdig kan word. Wat hulle egter glad nie doen nie is om die uitdaging wat hierdie betogings op langgevestigde praktyke van vryheid van spraak en vryheid van assosiasie, inhou.

Die warm politieke temperatuur in die VSA gaan oor die hard en siel van die VSA en dit wat die land in die toekoms sal verteenwoordig. Amerika as Engelssprekende, Eerste Wêreldse en Westerse land is onder beleg van massa-immigrasie. Die mense wat Amerika binnestroom, het nie die groot Amerikaanse droom wat die Europese immigrante wat Amerika in die negentiende eeu binnegestroom het, gehad het nie.

Hedendaagse immigrante het geen behoefte om Amerikaners te word nie, maar hulle reis wel na Amerika om deel te hê aan die ekonomiese voordele van die land. Intussen beleef die krimpende ouer Amerikaanse bevolking, wat meestal blankes, maar ook talle swart Amerikaners insluit, hoe ou-Amerika verdwyn en ’n land waarmee hulle nie gemaklik is nie, gevestig word.

Oor die volgende vyf maande tot en met die verkiesing op 8 November sal hierdie stryd om die hart en siel van Amerika toeneem. Geweld deur veral immigrante sal ’n algemene eienskap van vanjaar se verkiesing word en kan vêrreikende gevolge vir die ou gevestigde vryhede wat Amerikaners geniet, hê.

Ook in Suid-Afrika sien ons ‘n toename van geweld deur mense wat nie hul frustrasies op ander maniere kan of wil uitdruk nie. Die uitdagings vir Afrikaners, in ‘n tyd waar ons eie vryhede toenemend ingeperk word en waar haatspraak en geweld toeneem, is baie groot. Terwyl Amerikaners soos talle ander Westerse volkere nie ‘n duidelike toekomsvisie het nie, sal die Afrikaner dringend moet verenig om ‘n visie van ‘n trek na die eie, die bou van nuwe dinge en ‘n parate, tog versigtige, ingesteldheid tot die ingewikkelde vraagstukke van Suid-Afrika. Soos wat die hart en siel van Amerika toenemend by die stembus en op straat bepaal word, sal die hart en siel van die Afrikaner deur ons vermoë om beheer oor ons eie toekoms te neem, bepaal moet word.