fbpx

brexitDie groot nuus, wat vandag begin ontvou, is dat Brittanje teen alle verwagting in vir die “Brexit” gestem het, die Britse uittrede uit die Europese Unie. Dit was ‘n naby uitslag, 52% teenoor 48%. In Engeland en Wallis, veral in die platteland, was die stem oorweldigend vir die Brexit, maar in Skotland en in mindere mate Noord-Ierland, asook in die multi-kulturele metropool Londen was die steun veral vir die verblyf in die EU. Die Britse premier, David Cameron, het kort na die uitslag sy bedanking aangekondig en aandelemarkte het skerp teruggesak.

Vir Brittanje beteken dit dat die meerderheid van sy bevolking (en veral die Engelse “staatsvolk”) gestem het vir die terugkeer tot nasionale souvereiniteit en selfbeskikking van sy bevolking en teen die inmeging van ‘n nie-verkose links-liberale elite en hulle oorbordende burokrasie vanuit Brussels. Eintlik behoort die keuse eenvoudig te wees, maar as ‘n mens in ag neem dat dit geveg van Dawid teen Goliat was, met meeste politieke partye en huidige en voormalige leiers, feitlik die hele elite uit media, kultuur, vermaak, sport, die finansiële en ekonomiese sektor, die EU leierskap en meeste regerings met wie Brittanje sterk bande het soos die VSA sterk teen die Brexit gekant is, is dit verbasend dat die “Uit”-veldtog gewen het. Meningspeilings en wedburos het almal ‘n oorwinning vir “Bly” voorspel.

Wat het dit met ons te doen? Vir meeste Afrikaners is Brittanje waarskynlik nie hulle gunsteling land nie en die kulturele aangetrokkenheid en bewondering lê gewoonlik eerder by die stamlande soos Nederland, Duitsland en België, sterk EU-voorstaanders. Die direkte gevolge is waarskynlik vir ons eers eerder negatief omdat handelsverdrae tussen Brittanje en Suid-Afrika nuut onderhandel moet word en die verswakking van die Britse aandelebeurs ons ook raak. Brittanje is ‘n groot handelsvennoot van Suid-Afrika en ‘n ekonomiese afswaai is ook slegte nuus vir ons.

Veel belangriker as kortstondige markskommelings (wat eintlik net weer die noodsaak van ekonomiese selfstandigheid en die plaaslike eknomie bevestig) is egter die groter implikasies van die oorwinning vir die “Brexit”:

  • Die “underdog” kan wen en die elite is nie almagtig nie: Hierdie stemming was ‘n beduidende neerlaag vir die magtiges en die elite en ‘n oorwinning vir ‘n grondvlakbeweging. Volgens die neerbuigende kommentare van die meningsvormers voor die referendum was dit eintlik ‘n uitgemaakte saak dat die burgers vir rasionele argumente stem, veral as hulle eie premier David Cameron, die ekonomiese leiers en meeste analiste dit vir hulle voorsê, terwyl slegs eksentrieke en twyfelagtige leiers soos Nigel Farage van Ukip en Boris Johnson aan die kant van die “Uit” veldtog was, aldus meeste komentators. In meeste referendums stem die burgery uiteindelik soos wat die meningsvormers en die magtiges dit wil hê (byvoorbeeld die 1992 en 1984 referendums in Suid-Afrika, of die eerste Britse referendum oor EU-lidmaatskap in 1975). Nogtans het die “underdog” met ‘n goeie grondvlak veldtog gewen, want die mense kon sien wie hulle taal praat en wie werklik vir hulle omgee. Hierdie uitslag gee ‘n mens ook hoop vir die Amerikaanse presidentsverkiesing, waar ‘n “underdog” teen ‘n elite-kandidaat staan.
  • Jy kan wen met ‘n positiewe boodskap eerder as met vrees. Die “Uit”-veldtog het ‘n beter, meer demokratiese Brittanje as ideaal geskets en mense aangemoedig om weer hulle eie toekoms in hulle hande te neem en dit nie aan ‘n vreemde en verwyderde elite oor te laat nie, terwyl die “Bly” veldtog veral vrese van ekonomiese nadele en politieke isolasie en selfs van ‘n terugkeer na die era voor 1945 voorgehou het. Hierdie is vir ons belangrik. Orania verkondig nie ‘n ondergangsenario en probeer mense met vrees hierna toe lok nie, maar met die positiewe boodskap dat jy as deel van ‘n volk of gemeenskap jou eie toekoms op grondvlak en juis sonder ‘n verwyderde staat of superstruktuur agter jou kan skep. Ook Solidariteit Beweging en Vryheidsfront Plus verkondig die boodskap. Meeste politieke partye en organisasies in Suid-Afrika en ook die media verkondig egter ‘n boodskap van vrees en vasklou aan die bekende en wil mense oortuig dat die huidige gemors darem beter is as ‘n gewaande “afsondering”. Die stem vir die Brexit is geensins ‘n stem vir isolasie nie, maar eerder ‘n stem teen die verkeerde rigting wat die EU ingeslaan het. Brittanje is nie ‘n voorstander van isolasie nie, maar van handel en goeie betrekkinge tussen gelykes. Die oorspronklike Europese Ekonomiese Gemeenskap, die voorloper van die EU, was juis dit en het vrede en samewerking tussen lande en volke bevorder. Eers die idee van die superstaat waar ‘n elite hulle linkse sienings op almal afdwing en mense gelyk wil maak het mense van die EU en sy leiers vervreem. Ook vir Orania is ‘n gemenebes van selfstandige gemeenskappe wat mekaar en met mekaar handel dryf sonder om mekaar te wil oorheers ‘n langtermyn ideaal en staan lynreg teenoor die regering se beleid van sentralisasie en beheer oor elke aspek.
  • Die eie en die “gewone mense” het nie verdwyn ten gunste van die globalistiese en identiteitslose massa en hulle selfaangestelde leiers nie: Die globale elite skets graag ‘n prentjie dat die transformasie van “eng nasionalisme” en “selfsugtige eie belang” heen na ‘n nuwe wêreldorde waar almal eenders word wenslik, goed en boonop onkeerbaar is, en dat diegene wat daarteen veg, soos ons in Orania, besig is om windmeulens te bestorm of om teen die donderstorm te skreeu. Daardie kamstig “uitgediende sentimente” is egter hoogs lewendig en wyd verteenwoordig en ervaar selfs ‘n herlewing. Die kloof tussen ‘n selfaangestelde, meesal stedelike en anti-nasionale elite en mense wat gewortel is in hulle kultuur en tradisie en dit verdedig, word al hoe groter. Al verkondig die elites dat ekonomiese voorspoed en kulturele gelykmaking (as gevolg van die maksimum vermenging) al is wat saak maak, en die liefde vir die eie verouderde sentimente is, is dit vir meer as die helfte van Britte van groot belang. Die uitslag het duidelik gewys dat mense wat hulle as wêreldburgers sien vir die behoud van die EU-lidmaatskap gestem het, en diegene wat in die eerste plek ‘n nasionale of plaaslike identiteit het, vir die Brexit.
  • Die “uit” veldtog is deel van ‘n groter, wêreldwye beweging vir identiteit, selfbeskikking en terugkeer na die tradisie: Daar is tans ‘n sterk sentiment teen sowel die nasionale asook die internasionale elite, en die voorverkiesings in die VSA is ‘n sterk anduiding daarvan. Ook in ander lande, juis in die EU, is daar ‘n geveg tussen ‘n groeiende grondvlakbeweging vir nasionale en streeksidentiteit en dit wat vir mense kosbaar is en wat as tradisie beskryf kan word, en regerings en ‘n media- en kultuurelite wat hulle eie bevolkings verag en van hulle verwyder is. Dit is vir ons van belang om deel te wees van ‘n groter beweging. As ons gesien word as ‘n groep wat teen die stroom probeer swem en wat besig is met ‘n verlore en uitgediende saak, sal ons geen steun kry nie. Nou wil dit voorkom asof ons op die voorpunt van ‘n ontluikende beweging is wat ten spyte van terugslae voortgaan en toenemend veld wen.