Gedurende die vroeë dertiende eeu het ’n klein groepie afstammelinge van Osman, die stigter van die Ottomaanse vorstehuis, uit Sentraal-Asië met vierhonderd tente aan die buitewyke van die Romeinse provinsie Bithynië, gevestig.
Die Ottomane was op daardie tydstip nie die grootste of vernaamste Turkse groep wat uit Sentraal Asië weswaarts migreer het nie. Die Seldjoeke was heelwat sterker en van groter aansien as die Ottomane. Die Seldjoeke het teen die dertiende eeu reeds heelwat grondgebied van die Bisantynse Ryk afgeneem.
Die Ottomane het egter munt geslaan uit die politieke onstabiliteit in Anatolië. Teen die Dertiende Eeu het die Bisantynse Ryk, net soos die Wes Romeinse Ryk vroeër, toenemend sy vermoë om oor ‘n enorme grondgebied te regeer, begin verloor.
Met die val van Konstantinopel in 1453 het die Christendom sy oostelike sentrum verloor en was Oos-Europa weerloos vir die toe reeds magtige weermag van die Ottomane.
Teen 1529 het die Ottomaanse Ryk die grootste deel van Oos-Europa, Noord-Afrika en Wes-Asië beheer. Met Konstantinopel het die Ottomane hul voet in die Europese deur gekry en tot en met 1529 het hul met veldslag na veldslag hul opmars na Wes-Europa voortgesit. Die Ottomane is egter in 1529 verhoed om die groot Westerse prys, Wenen, oor te neem en moes 154 jaar wag voordat hulle in 1683 weer met ‘n groot aanslag sou probeer om Wenen oor te neem. Ook die poging in 1683 het misluk en daarmee het die 300-jaarlange stryd tussen die Wes-Romeine en die Ottomane grotendeels tot ‘n einde gekom en is groot dele van Hongarye weer deur die Oostenrykse Huis van Habsburg oorgeneem.
Wat daarop sou volg is meer as twee eeue van voortdurende agteruitgang in die Ottomaanse Ryk. Met die val van die sultanaat in 1922 en die opkoms van die jong republikeine, het Turke hul rug op hul Ottomaanse verlede gedraai. Die Islamitiese Ottomaanse Ryk is deur ‘n sekulêr-nasionalistiese Turkye vervang en die Ottomaanse geskiedenis is in geskiedenisboeke afgewater. Jong Turke moes na die toekoms kyk, eerder as na die donker Ottomaanse verlede.
Na die vestiging van ‘n veelpartystelsel in Turkye in die 1940’s het verskeie individue en groepe weer toenemend na die glorieryke vyftiende en sestiende eeu begin verwys as teenvoeter vir die links-sekulêre rigting waarin die land beweeg het. In 1999 is die 700-jarige herdenking van die stigting van die Ottomaanse vorstehuis regoor Turkye herdenk.
Toe Reccep Erdogan in Januarie 2009 in Turkye tuiskom na ‘n warm debat by die Wêreld Ekonomiese Forum met Shimon Peres van Israel oor die Gaza-strook, is hy deur duisende Turke met die slagspreek: “Die laaste Ottomaanse sultan” verwelkom. Tagtig jaar gelede sou dit ‘n belediging genoem kon word, maar die Turke was reg om die Ottomaanse glorie van die vyftiende en sestiende eeue weer hul eie te maak.
Die afgelope weke se gebeure in Turkye is die voltrekking hiervan. In ‘n era van nostalgie en die laaste stuiptrekkings van twintigeeuse wêreldmagte, wil meer en meer Turke nie meer Europeërs wees nie, maar eerder Islamitiese Ottomane. Die Ottomane se kort flirtasie met demokrasie gedurende die twintigste eeu is vir eers verby.