fbpx

brexit1Brexit, oftewel die Britte se besluit om uit die Europese Unie te tree, is die afgelope twee weke deur kommentators, politici en selfs bekende akteurs en sangers gebruik en ook misbruik om argumente wat bitter min met Brexit en die gevolge daarvan te make het, op die voorgrond te skuif. Brexit is verbind aan anti-Europese gevoelens, rassisme en selfs ou haat onder Britte jeens Duitsland.

Soos wat die stof gaan lê en ons egter deur al die geraas en propaganda kyk en werklik ondersoek instel na die redes waarom 52% van Britte ten gunste van Brexit gestem het, is dit duidelik dat hierdie mense nie fasciste of rassiste is nie, maar eerder grotendeels ’n meerderheid van Britte verteenwoordig wat die opmars van sentralisasie en politieke en ekonomiese globalisme wou stuit.

Die Britte wat teen die Europese Unie gestem het, het nie teen Europa gestem nie. Om die waarheid te sê daar is genoeg ondersoeke en peilings wat wys dat die meerderheid van hierdie mense met Europa assosieer en Brittanje as deel van Europa beskou. Europa as ’n kontinent van verskillende volkere en die Europese Unie as ’n burokratiese, ondemokratiese mag wat politieke en ekonomiese mag in Brussel sentraliseer, is twee verskillende dinge.

Sedert die verkiesingsuitslag is daar ook sprake van ’n sogenaamde Nexit in Nederland en ook in andere lande in Europa kan soortgelyke referendums volg.

Aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan bou die frustrasie met sentralisme ook op. In die VSA staan Texit vir die deelstaat Texas se moontlike poging om die federasie te verlaat en in die relatief libertariese staat, New Hampshire is ’n sterk beweging teen sentralisme die afgelope tyd van stapel gestuur. Hoewel dit moontlik is vir ’n Amerikaanse deelstaat om van die federasie af te skei, is dit besonder moeilik en eintlik hoogs onwaarskynlik omdat dit deur die kongres goedgekeur sal moet word.

Die opmars van sentralisme word oor die korttermyn gesien as ’n soort oplossing vir Europa en Amerika se interne konflikte. Die persepsie word dus geskep dat indien mag gesentraliseer word en gedeelde politieke en ekonomiese belange ontstaan, verskillende volkere en lande minder rede sal hê om in konflik met mekaar te tree.

Sentralisasie is egter reeds vir die afgelope 600 jaar in Europa in opmars. Dit het begin by Koning Henry die Sewende van Brittanje en Koning Ferdinand van Spanje en is oor die eeue voortgesit deur mense soos Napoleon, Koning Louis van Frankryk en uiteindelik Hitler in Duitsland.

Ook in die VSA het dit reeds na die einde van die Burgeroorlog in 1865 sterker geraak. Hoewel die Burgeroorlog tot ‘’n mate oor slawerny gegaan het, kan Lincoln se hardkoppige onwilligheid om die Unie te sien skeur, ook nie ontken word nie.

Die geskiedenis het bewys dat volkere en lande wat in ’n gesonde magsverhouding met mekaar saamleef nie in konflik met mekaar hoef te tree nie. Sentralisasie is nie die oplossing nie en ’n breë, internasionale grondvlakbeweging ten gunste van desentralisasie kan oor die volgende paar jaar ’n realiteit word.