fbpx

TribeSebastian Junger, ‘n bekende Amerikaanse outeur, oorlogverslaggewer en vervaardiger van dokumentêre films se onlangse boek (in Mei vanjaar verskyn) “Tribe. Of homecoming and belonging.” werp ‘n interessante lig op die belangrikheid van die groep (in die sin van stam of volk) vir die geestesgesondheid van die mens. Hy kies doelbewus die woord tribe (stam) en nie community (gemeenskap) nie omdat die term gemeenskap volgens hom te vaag, vloeibaar en te sag is. Elke groepering en belangegroep word deesdae ‘n gemeenskap genoem, maar ‘n stam is iets wat ‘n sterk, amper mitiese en blywende verbintenis tussen mense aandui. As ek in die teks van gemeenskap praat, dan is dit egter in die nouer sin van ‘n gegroeide, etniese gemeenskap met gedeelde afkoms, plek en waardes.

Volgens Junger het die mens het van sy vroegste bestaan af die groep gehad en daarbinne sy bestemming en sy vrede gevind. Eers in die laaste paar dekades word die mens losgemaak van die stam- of gemeenskapsverband en kan dit sielkundig nie verwerk nie. Terwyl die Westerse samelewing as amper perfek voorgehou word en volgens sekere aanduidings al hoe meer perfek word in die sin dat alles voorspelbaar en veilig word en vir almal gesorg word, neem selfmoord en depressie met groeiende welvaart en modernisering toe. Samelewings wat materieël feitlik alles het en wat voorspelbaar, veilig en gereguleerd is, het nogtans dikwels die mees ongelukkige mense, terwyl mense in “primitiewe”, pre-moderne samelewings dikwels gelukkig is, ongeag die materiële gebreke.

Die mens het blykbaar uitdagings in groepsverband nodig (en jeugbendes van ontstamde Westerlinge, ‘n soort karikatuur van die stam, bevestig juis dit). Junger het vasgestel dat mense selfs troumatiese gebeure soos oorlog of natuurrrampe sielkundig positief beleef wanneer die gemeenskap saamstaan en mekaar help in sulke tye van nood. Soldate beleef dit besonder intens. In die oorlog is hulle in gevare op mekaar aangewese en daar bestaan ‘n sterk groepsgevoel en lotsverbondenheid. As hulle dan terugkeer na die hoogs geindividualisieerde en versplinterde samelewing, is daar geen gemeenskap wat vir hulle omgee nie en hulle voel uit plek uit en ly aan depressie. Die gemeenskap kon nog altyd oorlogstrouma genees deur soldate weer deel van die groep te maak, maar sielkundiges kry dit selde reg. Meer nog, terwyl soldate vroeër as helde terug verwelkom is, word hulle vandag in die Weste skeef aamgekyk en uitgekryt as “moordenaars” en “onderdrukkers”, juis in hulle eie lande.

Ouer mense in Wes-Europa en die VSA kyk met nostalgie terug na die tyd onmiddelik na die verwoesting en onbering van die Tweede Wêreldoorlog, waar die mense vir die laaste keer in die Weste ‘n werklike gemeenskap was omdat hulle saam die skade van die oorlog herstel en mekaar gehelp het. Met toenemende voorspoed wat daarna gevolg het vanaf die middel 1950’s, het ook individualisering, materialisme en nihilisme ingetree. Ook die films van die era beeld dit uit. Verglyk byvoorbeeld die sterk gesins- en gemeenskapsbande van “The Green Promise” van 1949 met die konflik en ontbindingstendense van “Rebell without a cause” van 1955, wat ‘n nuwe era ingelui het, skaars 5 jaar later.

Die mens se verlange na die noue bande van ‘n stam of gemeenskap sit volgens Junger ook agter die Amerikaanse setlaars se drang na die ongerepte lande van die Weste. Hier was hulle deel van ‘n hegte gemeenskap, wat saamgestaan het teen Indiane, wilde diere en ‘n ‘n vyandige natuur. Ander weer het juis by die Indiane aangesluit op soek na ‘n stamverband. Ook vandag is daar derduisende Westerlinge wat die doellose en individualistiese Weste wil ontsnap en poog om by meer oorspronklike en tradisionele volke in Asië of Afrika aan te sluit (dikwels tot hulle ontnugtering en sonder om werklik aanvaar te word).

Alhoewel talle van Junger se bevindinge en afleidings aanvegbaar is en die primitiewe stamme alles behalwe ideale en vreedsame samelewings was, is die behoefte om te “behoort” onlosmaaklik deel van die mens en belangrik vir sy ontwikkeling en sy menswees. Die individualisering van die mens verteenwoordig nie die toppunt van evolusie nie, maar eerder ‘n doodloopstraat. Danie Goosen het in sy gesaghebbende boek “Oor Gemeenskap en Plek” die kwessie in diepte bespreek en die belangrikheid van gemeenskap vir die mens en vir die kultuur uitgelig.

Te dikwels word die strewe van Orania en ander Afrikaner-organsisasies wat vir die etniese gemeenskap staan afgemaak as verouderd en ondermynend. Talle meningsvormers probeer Afirkaners oortuig dat die fokus op groepe nasionale eenheid ondermyn en ook Afrikaners terughou en verstik en dat die aankoms in ‘n multi-etniese land hulle as t’ ware bevry het. Min woorde is so deurspek van huigelaary as die “oop, multi-kulturele samelewing” wat Suid-Afrika nou sou wees, of besig is om te word namate die verlede agtergelaat word. Selfs diegene wat die dogma verkondig, leef nie daarvolgens nie. Kyk maar waar woon die sogenaamde meningsvormers: gewoonlik in veiligheidsbuurte vir die hoër middelklas, dalk met ‘n paar swart middelklasgesinne tussenin, maar alles behalwe verteenwoordigend van Suid-Afrika se bevolking.

Dit is tyd dat die skynheiligheid agtergelaat word en erken word dat mense basiese behoeftes het: behalwe om te eet en om voort plant ook om hulle plek en doel in die wêreld te vind en om deel van ‘n gemeenskap (stam, volk, groep) te wees. Diegene wat verkies om as vryswewende, ongebonde en swerwende individue in ‘n gewaande “global village” te leef is welkom om dit te doen, maar hulle moet nie hulle wil op die groot res afdwing nie.