Vervulling van kiesers se materiële behoeftes: Die NP sou nie vir meer as 40 jaar kon regeer nie as hy nie aan sy kiesers se verwagtings en materiële behoeftes voldoen het nie. Die emosionele appel tot Afrikaner-eenheid sou nie so lank kon gehou het nie as daar nie ook beduidende materiële voordele vir die NP se ondersteuners gerealiseer het nie. Die NP regering het die Afrikaner ekonomies bemagtig en ʼn breë middelklas gevorm wat aan die party lojaal gebly het, al was hulle sentimente nie meer dieselfde as in die 1940’s nie.
Die ANC het benewens die bevrydingstema ook materiële voordele vir sy kiesers belowe. ʼn Deel daarvan is vervul, soos die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP) waarmee derduisende huise en gratis basiese dienste voorsien is, asook basiese medies en toelaes vir die armes. Deur swart ekonomiese bemagtiging en sogenaamde regstellende aksie is ʼn nuwe swart elite gevestig maar anders as die NP regering het die ANC te veel klem gelê op instandhouding van strukturele armoede deur toelaes en te min op die uitlig van die mense uit armoede deur middel van werksgeleenthede en opgang na die middelklas. Die NP het nie steun verloor omdat die Afrikaners verarm het nie, maar eerder omdat hulle nie meer vertrou is met die langtermyn politieke oorlewing van die Afrikaners nie. Soos wat hulle in die 1940’s en 1950’s veral deur Afrikaners uit die werkersklas vertrou is om hulle teen swart kompetisie te beskerm, so het die werkers hulle in die 1980’s nie meer vertrou nie, soos wat swartmense toenemend toegelaat is tot middel posvlakke. Die Afrikaner-elite en middelklas het lojaal gebly omdat hulle posisies beveilig was en daar was ook geen party wat hulle beter kon verteenwoordig as die NP nie. Die NP het egter geen strategie as opposisieparty gehad nie en het na die uittrede uit die regering van nasionale eenheid vinnig weggekwyn en was niks meer vir niemand nie. Die ANC verloor steun sowel uit die middelklas na die DA toe, asook van die heel armes na die EFF toe, maar die armes, veral op die platteland, bly die ANC se steunbasis. Die ANC is nie gewoond aan opposisie nie en dit wil voorkom asof hulle plekke wat hulle eers verloor het, soos die Wes-Kaap, nie weer kan herower nie omdat hulle geen nuwe idees het nie en die mag en beheer oor die staat nodig het om aan hulle kiesers se verwagtings te voldoen.
Internasionale en historiese konteks: Sowel die NP asook die ANC is “laatbloeier”, wat hulle hoogtepunt bereik het op ʼn stadium waar die ideologie waarvoor hulle gestaan het al internasionaal ongewild geraak het. Die NP as uitgesproke nasionalistiese en behoudende party het juis opgang gemaak in ʼn tyd waar elders linkse idees steun gekry het. Ons praat nie net van die kommunistiese segetog in veral die nie-Westerse wêreld nie, maar ook van die oorwinning van gematig linkse en Sosiaal-demokratiese partye in die Weste. Suid-Afrika het vir lank teen die stroom geswem en die internasionale druk het al hoe meer toegeneem. Die isolasie van Suid-Afrika het wel meegebring dat internasionale tendense nie ʼn direkte impak op die land gehad het nie. Danksy die Koue Oorlog kon Suid-Afrika as quasi-bondgenoot van die Weste (wat op ʼn afstand gehou is) nog tot in die 1980’s aanhou met sy minderheidsbewind, maar met die val van kommunisme, die einde van die Koue Oorlog en die oorwinning van demokrasie in voormalige diktatorskappe was die posisie van ʼn blanke minderheidsbewind onhoudbaar. Die NP het hervorm en apartheid afgeskaf, maar dit was te laat en in die oë van die wêreld eerder ʼn verandering van strategie as van gesindheid, en die party kon nie ʼn geloofwaardige alternatief bied nie.
Die ANC was met sy kommunistiese verbintenis in die 1960’s en 1970’s verseker van internasionale steun vanuit die Oos-blok en die Derde Wêreld en met sy swart bevrydingsideologie op die voorpunt van ʼn golf wat oor die wêreld gespoel het en saamgegaan het met Westerse selfhaat en Derde Wêreld selfvertroue. Maar die gety het gedraai en in die laat 1980’s en vroeë 1990’s was kommunisme ʼn ideologie wat elders verwerp is en is bevryding eerder met Westerse demokrasie en vrye mark geassosieer as met die outydse, linkse weergawe. Die ANC moes heelwat ideologiese bagasie soos nasionalisering en sy kommunistiese retoriek oorboord gooi en die deuntjie van “vryheid en ʼn beter lewe vir almal” sing. Alhoewel dit ook ʼn strategiese skuif eerder as ʼn diepgrondige hartsverandering was, het die wêreld dit gekoop, veral omdat dit deur die charismatiese Nelson Mandela bemark is. Intussen het die ANC egter weer in ʼn groot mate terug geval in sy ou spore van staatsbeheer oor die ekonomie, en stel nuwe diskriminasie in en vereenselwig met onderdrukkende regimes en begin sy glans internasionaal verdof. Suid-Afrika is vandag minder geisoleerde as onder die NP-bewind, en minder ekonomies selfstandig en dus ook meer afhanklik van internasionale tendense. Soos RW Johnson vasgestel het word Suid-Afrika se lot deur internasionale gebeure bepaal, al dink die land se leiers dat Suid-Afrika ʼn planeet op sy eie is.
Al dink die ANC dat hulle nooit die mag kan verloor en nooit hulle glans as die “oorwinnaars oor apartheid” sal verloor, wat nog om eendag as party verdwyn, wel, die NP het in die 1970’s ook gedink hulle is onstuitbaar. Die res is geskiedenis.