fbpx

Dit mag vreemd voorkom om die Nasionale Party en die ANC met mekaar te wil vergelyk en parallelle tussen hulle te wil trek, want daar is baie wat die partye van mekaar onderskei en hulle onderskeie ideologieë is aan weerskante van die politieke spektrum. Wat hulle wel gemeenskaplik het, is dat hulle regimes eerder as regerings was oftewel is. ʼn Regering word vir ʼn termyn gekies en sy taak is die goeie administrasie van die land, in lyn met sy beleid. Regerings dink gewoonlik nie verder as een termyn nie. ʼn Regime het ʼn roeping om die land en samelewing blywend te omvorm en het gewoonlik strukture in plek wat verseker dat hulle lank aan bewind bly. In hulle eie hubris regeer hulle vir altyd en beskou opposisie as lastig en ondermynend van hulle missie. Uit die opkoms, hoogbloei en afgaan van die NP is daar dalk belangrike lesse vir die ANC ook. Al is die ANC vir seker nog lank met ons, sal die party nie vir ewig regeer nie. Die onlangse verliese in die munisipale verkiesing is nog lank nie die begin van die einde nie, maar waarskynlik het die ANC sy hoogtepunt oorskry. Die Nasionale Party het meer as 40 jaar regeer en na sy hoogtepunt in steun en institusionele mag in die middel 1970’s het dit nog steeds om en by 20 jaar geneem voor die party die mag oorgegee het, en nog 10 jaar voor die party ontbind het. Laat ons na enkele aspekte van die twee partye kyk.

Stigtingsmite: ʼn Party is gewoonlik ʼn voertuig om ʼn sekere ideologie, maar meer dikwels sekere belange te bevorder. Sowel die Nasionale party asook die ANC het ʼn sterk geroepenheid om geregtigheid te laat geskied aan onderskeidelik die Afrikanervolk en die swartmense van Suid-Afrika. Al twee is dus ten diepste nasionalisties en staan vir ʼn duidelik omlynde groep. Die stigtingsmite, wel edel, was vir die NP om die vernederde Afrikanervolk teenoor die Engelstaliges tot sy reg te laat kom en om die volk as geheel te laat opstaan en sy selfrespek te herwin. By die ANC het dit weer daaroor gegaan om die swart meerderheid te bevry en die vernederende apartheidmaatreëls af te skaf, ʼn strewe wat op die stadium algemeen aanvaar is en wat aan die ANC die beeld van edele stryders teen onreg besorg het waarop die party nog steeds teer.

ʼn Stigtingsmite het egter ook ʼn vervaldatum. Soos wat Afrikaners suksesvol gemoderniseer het en toenemend welvarend geword het, het opheffing en opstaan as volk toenemend in ʼn beskerming en bevordering van eie belange deur middel van staatsinstellings verander. Moreel was die NP in die 1980’s bankrot. Die ANC het intussen eweneens mag so gesentraliseer en die staat so sterk volgens hulle eie ideale getransformeer dat hulle kwalik nog kan aanspraak maak om die pleitbesorger van die armes en verontregtes te wees wat moet aanhou stry teen onreg van die verlede. Dat die ANC ten spyte van feitlik totale beheer oor die staatsinstellings, anders as die NP, nie sy mense op groot skaal kan of wil ophef nie, laat die stigtingsmite sy krag verder verloor.

Netwerk van steungroepe: Die NP kon nie so sterk word en Suid-Afrika volgens sy idees omvorm sonder takke in elke dorp en sonder ʼn netwerk van stutgroepe op bykans elke terrein nie. Die Afrikaner Broederbond as geheime organisasie het aanvanklik gehelp om die gemarginaliseerde Afrikaners te help, maar het later ontaard in ʼn bevoordelingsmasjien vir NP-lede, ten koste van ander Afrikaners. Dan was daar ook nog talle ander organisasies op bykans elke terrein, soos die ATKV, die ASB, Rapportryers, die AHI en in praktyk ook die NG kerk, noem maar op. Ook die ANC kon nie die magtige organisasie word sonder die massasteun van Cosatu en die intellektuele en organisatoriese steun van die SAKP nie. Ook organisasies soos die ANC- Vroueliga en Jeugliga en verskeie ANC-gesinde besigheids- en professionele verenigings is belangrik as stutorganisasies.

Al twee organisasies se monolitiese posisie het verswak soos wat alternatiewe strukture buite die NP en die ANC onderskeidelik gestig is. Die KP en behoudende Afrikaners het parallelle kultuurorganisasies gestig of help uitbou, vakbonde soos die destydse Mynwerkersunie was toenemend in opposisie tot die NP-regering en die Afrikaner was teen die 1980’s nie meer een blok nie, maar twee of meer, alhoewel die NP nog steeds die meerderheid verteenwoordig het. Sou die NP-regering in die 1960’s of 1970’s, op die toppunt van konsolidasie van mag, onderhandelinge met die ANC en ander swart organisasies oorweeg het? Vir seker nie. Ook die ANC se houvas op die mag het verswak deur vakbonde buite die Cosatu-stal wat opgang maak, deur afsplitsings soos die UDM en Cope en meer onlangs en meer ingrypend die EFF. Sal ʼn verswakkende ANC meer toegeeflik en meer nederig wees, of sal dit meer diktatoriaal neig om sy mag ten alle koste te behou? Die NP het vriend en vyand verras met hulle gemaklike oorgawe van die mag, maar in die swart politiek gebeur die oorgawe van mag ongelukkig selde sonder geweldpleging.

Leierskap: Die NP kon nie opgang gemaak het sonder goeie leierskap nie. Die houvas van die partyleier op die party het met verloop van tyd toegeneem, van Malan oor Strijdom tot Verwoerd. Wat ook al ʼn mens se opinie van dr. Verwoerd mag wees, was hy sonder twyfel ʼn uitstekende en bekwame leier wat die volk agter hom gehad het. Sy opvolger John Vorster was nie van dieselfde stoffasie nie, maar het vir ʼn tyd nog voortgegaan op die stoom wat onder sy voorganger opgebou is. Onder Botha het die NP toenemend uit idees uit geraak en legitimiteit verloor en onder de Klerk het die NP sy radikale omswaai gemaak wat wel internasionaal verwelkom is, maar intern meer en meer Afrikaners van die party vervreem het. De Klerk het ook geen ondervinding as opposisieleier gehad nie en was niks sonder die mag van die staat agter hom nie. Sy swak leierskap het verder duidelik geword deur sy swak keuse vir sy opvolger, Marthinus van Schalkwyk, wat die NP vernietig het. Van die berg Verwoerd tot die molshoop van Schalkwyk in net 40 jaar.

NP ANC.jpgBy die ANC was daar heelwat goeie leierskap terwyl hulle ondergrond was, soos Albert Luthuli en Oliver Tambo (al verskil ʼn mens met die ideologie), en Nelson Mandela as president was die regte man op die regte tyd en het die regte gebalanseerde beleid gehad vir die oorgangstydperk, al was hy eerder die verkoopsman en gesig van die party as die werklike leier wat die werk gedoen het. President Mbeki was op sy manier suksesvol, ten spye van sy gebrek aan charisma, en het ook nog voortgestoom op sy voorganger se beeld en steun. Sy politieke beleid was egter reeds in vele opsigte ʼn ramp en die ANC het onder hom reeds begin verval, selfs al het die party sy hoogtepunt wat steun betref in 2004 bereik. In ʼn sekere sin was hy die John Vorster van die ANC, wat geteer het op sy voorganger se roem maar nie sy skoene kon volstaan nie. Die hoogtepunt van die NP se steun was ook onder Vorster, nie onder Verwoerd nie, maar die krake was reeds besig om te wys. Kgalema Motlanthe was te kort aan bewind en net bedoel as plekhouer om regtig ʼn oordeel oor hom te kan vel. President Zuma het weer die charisma en aanvoeling vir die grondvlak terug gebring wat Mbeki ontbreek het, maar is ʼn swak bestuurder en, soos intussen bo alle twyfel bewys is, uiters korrup. Zuma het ook die ANC laat skeur, eers met Cope, toe die EFF, en onder sy bewind het die party vir die eerste keer steun verloor.