fbpx

bigstock-Map-Of-Japan-And-Japanese-Flag-1191275-500x375Met vanjaar se Olimpiese Spele in Brasilië nou agter die rug, verskuif die fokus na Japan waar die volgende spele oor vier jaar sal plaasvind. Hoewel ‘n Olimpiese Spele ’n vertoning van internasionale sporttalent is, plaas dit ook die kollig op die land waar die spele aangebied word.

Oor die afgelope paar maande het die wêreld gefokus op Brasilië se politieke, misdaad en ekonomiese probleme. Brasilië se rol in die die wêreld is ontleed en bespreek.

Oor die volgende vier jaar sal Japannese, maar ook die res van die wêreld opnuut na Japan kyk. In ’n snelveranderende wêreld sal die uitdagings wat Japan vandag in die gesig staar bespreek en ontleed word. Japan het vandag die derde grootste ekonomie in die wêreld en die per capita-inkomste van Japannese tel onder die top 30 in die wêreld. Tog het Japan geopolitieke uitdagings met veral sy verhouding met China wat versleg. Die land se bevolkingsaanwas is so laag dat ’n verouderende bevolking katastrofiese gevolge vir die land se ekonomie kan inhou. Die vraag is waardeur gaan die Japan van die toekoms gekenmerk word?

Die Japannese skrywer Ryuichi Narita skryf dat Japan deur die eeue nog altyd deur een van drie modelle gekenmerk is: Voortreflikheid, universalisme en vergrype het deur die eeue Japan se hoogte- en laagtepunte gekenmerk. Gedurende die laat negentiende en vroeë twintigste eeu het Japan besluit om die modernisme in Westerse lande na te volg. Dit het tot ekonomiese groei en ongekende ontwikkeling gelei. Ook in hierdie tyd het Japan militêre sukses bepaal in oorloë teen onder andere China en Rusland. Die Japannese Ryk het uitgebrei en Japan het ’n belangrike wêreldmoondheid geword. Universalisme het ’n hoogbloei in Japan beleef en dit gekoppel met die modernisme het Japannese laat glo dat hulle nou in die wêreld gerespekteer word.

Met die aanbreek van die Groot Depressie in 1929 het Japan egter teruggeval in sy outoritêre verlede wat die land vir 200 jaar voor die modernisme van die laat twintigste eeu, gekenmerk het. Modernisme is verwerp en Japannese het slegs hul ou kultuur van voortreflikheid gehad op om te bly staatmaak. Met oorlog in die lug het die land egter verval in ’n situasie waar hy sy rol in die wêreld eerder as ’n voortreflike militêre aggressor beskou het. In die komende jare tot en met die einde van die Tweede Wêreldoorlog sou dit tot die verlies van baie lewens en die verwoesting van groot dele van Japan lei.

Na ’n tydperk van selfondersoek en besinning is Japan sedert die 1950’s heropgebou as ’n land wat al sy sterkpunte in een kragtige meganisme kon organiseer. Die universalisme, ou tradisie van voortreflikheid, benutting van hernude modernisering in die Weste en ou bekende nasionale waardes het bymekaargekom om weer eens van Japan ’n supermoondheid te maak.

Die afgelope tyd is daar weer ’n benoudheid in Japan. Veiligheidsvrese, ekonomiese stagnasie en demografiese verval skep uitdagings wat toenemend tot politieke onstabiliteit lei. Sal die ou bekende Japannese voortreflikheid weer ’n antwoord hierop kan bied of kan ook Japan, soos in die verlede, ’n donker periode binnegaan?

7 Comments

  1. Roelof

    Japan is een van die Asiatiese lande wat vir my fassinerend is. Ek het altyd respek gehad vir hulle ekonomiese resep, om die weste na te volg maar tog getrou te bly aan hulle kultuur en taal. Hulle “soft power” deur animasie films en stories het gemaak dat baie mense regoor die aardbol, Japan in ‘n positiewe lig te sien. Tog wonder ek of hulle strewe na modernisme, nie ook sielkundige gevolge bygedrae het nie. Japan is een van die lande met die meeste selfmoord syfers in die wereld en wat die jonger geslag betref, is net een derde in verhoudings , die res glo nie in die soektog na liefde nie en lewe net in oppervlakkige , verbeeldingryke liefde.

    Reply
  2. Sebastiaan

    Ek ken nie Japan uit eie aanskouing nie, maar ek het ook nie ‘n begeerte om soontoe te reis nie. Daar is wel ‘n paar dinge wat ‘n mens by Japan kan leer oor bestuur, doeltreffendheid en die daarstel van stelsels, maar andersins lyk dit te veel na ‘n post-alles samelewing, waar die lewe geen doel meer het nie en waar mense materieel alles het maar hoër strewes en ideale soos nasionalisme en godsdiens afgelê het. Dit is asof Japan net soos Duitsland na die Tweede Wêreldoorlog as t’ ware ontman is en in ruil vir die opgee van hulle oormatige en vernietigende nasionalisme hulle soos kinders allerhande speelgoed en lekker dinge gekry het. Selfs die heropbou van die ekonomie, wat al twee lande vir omtrent 20 tot 30 jaar besig gehou het, is lankal afgehandel en nou word die gebrek aan doel en strewe gevul met infantile afleidings goed soos rekenaarspeletjies, comicboeke, flieks, pretparke ens. (Niks teen al die goed, ons almal geniet dit op sy tyd, maar dit kan nie jou lewe sin en betekenis gee nie).

    Reply
    • Joop Swanepoel

      Wat Sebastiaan sê is vir my insiggewend want ek voel dis dalk tipies van meeste Westerse lande (en eindelik die hele wêreld). Dus moet ons daarteen stry!

      Reply
  3. Willem Fourie

    Geagte leser,

    Ons wil dalk nie vergeet dat dit die Amerikaners was wat die oorlog teen Japan veroorsaak het deur blokkades om hulle toegang tot grondstowwe te ontneem.

    Mooi loop

    Reply
    • Pieter van Niekerk

      Willem, jy is 100% korrek as jy sê dat die VSA in 1939 begin het om Japan se toegang tot grondstowwe en ook olie te beperk. Hierdie beperking het by 1941 gevorder tot ‘n volskaalse embargo wat direk gelei het tot Japan se toetrede tot die tweede wereldoorlog.

      Ons moet egter nie uit die oog verloor dat dit Japan se eie toedoen was nie, naamlik sy militere aggressie teenoor Manchuria, Jehol, en Mongolië. Japan was twee keuses gegee: (a) Onttrek uit China; of (b) Verbeur die nodige grondstowwe wat hulle nodig gehad het om hul stryd teen China voort te sit. Nie een van die twee opsies was vir Japan aanvaarbaar nie. Hulle het oorlog verkies. Eerste minister Hideki Tojo se beroemde laaste woorde, “ We have nothing to fear in fighting the U.S. and Britain.”

      Baie groete

      Reply
  4. Pieter van Niekerk

    Jaco. Dankie vir ‘n uitstekende artikel.
    Ek het einde Julie vir 12 dae Taiwan besoek en wat ek daar beleef het, was insiggewend. Ek het al heelwat lande in my omswerwinge besoek, maar het nog nooit so veilig gevoel as in Taiwan nie. Die mense is vriendelik en gasvry, maar wat my veral opgeval het, is die werketiek. Taiwanese werk oor die algemeen hard en lang ure. Daar is ‘n kultuur van werksywer en werkstrots.

    Dis is dus nie verbasend nie dat die klein landjie sonder enige natuurlike hulpbronne en met ‘n bevolking van 23.5 miljoen, ‘n BBP (PPP) van US$ 48 703 (Suid-Afrika: US$ 13 165) het. Ek het net weer onder die indruk gekom van hoe treurig toestande in Suid-Afrika is; die kultuur van so min doen vir so groot moontlike salaris.

    Ek glo dat Suid-Afrika se redding o.m. daarin lê dat ‘n gesonde werksetiek deel van ons kultuur word. Orania kan hier ‘n voorbeeld aan die res van Suid-Afrika stel.

    Reply
  5. Daniel Dames

    n Uitstekende en insiggewende artikel Jaco. Volgens die 2016 Ekonomiese Vryheids indeks is Japan 22ste op die wereld ranglys en beklee hulle die 6de plek in die “Äsian-Pacific Region”

    Met n bevolking van meer as 127 miljoen, n BBP van $4.8 triljoen, n per kapita inkomste van $37,390, n werkloosheids syfer van slegs 3.7% en n inflasiekoers van 2.7% teenoor n groeikoers van -0.1% wil dit voorkom asof Japan se ekonomie, veral vergelykende met lande in die G7, redelik gesond lyk. Ongelukkig is die bevolkingsaanwas deurentyd baie laag en sal Japan sukkel met n verouderde arbeidsmag en boonop is hul enorme skuldlas steeds n bekommernis ten spyte van hul monetere beleid wat daarop fokus om rentekoerse laag te hou.

    Dalk tog n donker periode wat vir hulle voorle….

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

19 + 6 =