bigstock-Map-Of-Japan-And-Japanese-Flag-1191275-500x375Met vanjaar se Olimpiese Spele in Brasilië nou agter die rug, verskuif die fokus na Japan waar die volgende spele oor vier jaar sal plaasvind. Hoewel ‘n Olimpiese Spele ’n vertoning van internasionale sporttalent is, plaas dit ook die kollig op die land waar die spele aangebied word.

Oor die afgelope paar maande het die wêreld gefokus op Brasilië se politieke, misdaad en ekonomiese probleme. Brasilië se rol in die die wêreld is ontleed en bespreek.

Oor die volgende vier jaar sal Japannese, maar ook die res van die wêreld opnuut na Japan kyk. In ’n snelveranderende wêreld sal die uitdagings wat Japan vandag in die gesig staar bespreek en ontleed word. Japan het vandag die derde grootste ekonomie in die wêreld en die per capita-inkomste van Japannese tel onder die top 30 in die wêreld. Tog het Japan geopolitieke uitdagings met veral sy verhouding met China wat versleg. Die land se bevolkingsaanwas is so laag dat ’n verouderende bevolking katastrofiese gevolge vir die land se ekonomie kan inhou. Die vraag is waardeur gaan die Japan van die toekoms gekenmerk word?

Die Japannese skrywer Ryuichi Narita skryf dat Japan deur die eeue nog altyd deur een van drie modelle gekenmerk is: Voortreflikheid, universalisme en vergrype het deur die eeue Japan se hoogte- en laagtepunte gekenmerk. Gedurende die laat negentiende en vroeë twintigste eeu het Japan besluit om die modernisme in Westerse lande na te volg. Dit het tot ekonomiese groei en ongekende ontwikkeling gelei. Ook in hierdie tyd het Japan militêre sukses bepaal in oorloë teen onder andere China en Rusland. Die Japannese Ryk het uitgebrei en Japan het ’n belangrike wêreldmoondheid geword. Universalisme het ’n hoogbloei in Japan beleef en dit gekoppel met die modernisme het Japannese laat glo dat hulle nou in die wêreld gerespekteer word.

Met die aanbreek van die Groot Depressie in 1929 het Japan egter teruggeval in sy outoritêre verlede wat die land vir 200 jaar voor die modernisme van die laat twintigste eeu, gekenmerk het. Modernisme is verwerp en Japannese het slegs hul ou kultuur van voortreflikheid gehad op om te bly staatmaak. Met oorlog in die lug het die land egter verval in ’n situasie waar hy sy rol in die wêreld eerder as ’n voortreflike militêre aggressor beskou het. In die komende jare tot en met die einde van die Tweede Wêreldoorlog sou dit tot die verlies van baie lewens en die verwoesting van groot dele van Japan lei.

Na ’n tydperk van selfondersoek en besinning is Japan sedert die 1950’s heropgebou as ’n land wat al sy sterkpunte in een kragtige meganisme kon organiseer. Die universalisme, ou tradisie van voortreflikheid, benutting van hernude modernisering in die Weste en ou bekende nasionale waardes het bymekaargekom om weer eens van Japan ’n supermoondheid te maak.

Die afgelope tyd is daar weer ’n benoudheid in Japan. Veiligheidsvrese, ekonomiese stagnasie en demografiese verval skep uitdagings wat toenemend tot politieke onstabiliteit lei. Sal die ou bekende Japannese voortreflikheid weer ’n antwoord hierop kan bied of kan ook Japan, soos in die verlede, ’n donker periode binnegaan?

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel