fbpx

Afrika

Ethiopië: protes by Olimpiese Spele teen onderdrukking van Omoros. By die Olimpiese Spele het die Ethiopiese atleet Feyisa Lelisa sy arms gekruis terwyl hy oor die wenstreep gehardloop het met die marathon-wedloop. Hy het die gebaar ook weer gedoen tydens die toekenning van die silwermedalje. Lelisa protesteer daarmee teen die regering van Ethiopië wat sy volk, die Omoros, onderdruk. Onlangs is by proteste van Omoros wat oor die onteiening van grond gaan talle mense doodgeskiet (‘n menseregteorganisasie praat van 400 mense wat doodgeskiet is, maar dit word deur die regering bevraagteken en blyk oordrewe te wees).

Politieke stellings en protes, selfs in die vorm van gebare, is taboe tydens die Olimpiese Spele en daar kan teen Lelisa opgetree word en hy kan selfs sy medalje kwyt wees. ’n Bekende geval van ‘n politieke stelling deur middel van ‘n handgebaar was die van die twee swart Amerikaners wat in 1968 die sfreedom mapwartmag-groet (gebalde vuis) gemaak het terwyl hulle op die trappie vir die medaljetoekenning was. Hulle medaljes is as ’n straf van hulle ontneem, maar hulle gebaar het hulle meer bekend gemaak as meeste ander atlete. Lelisa het gesê dat hy nou nie meer kan terugkeer Ethiopië toe nie, want hy is nou as vyand van die bewind bekend en kan tronkstraf of selfs doodstraf in die gesig staar. Intussen het ‘n fondsinsameling op sosiale media reeds 40 000 pond ingesamel sodat hy aansoek kan doen vir asiel.

Ethiopië het al vir omtrent 25 jaar ‘n stabile maar quasi diktatoriale bewind, eers vir meer as 20 jaar onder Meles Zenawi  en sedert 2012 onder sy opvolger Hailemariam Desalegn. Ekonomies ontwikkel dinge goed en die land is ‘n bondgenoot van die Weste en een van die min polities stabile lande in ’n streek van uiterste onstabiliteit. Daar vind wel verkiesings plaas, maar daar bestaan geen opposisie in die parlement nie en Ethiopië is ‘n quasi eenpartystaat onder die Ethiopian Peoples Revolutionary and Democratic Front (EPRDF). Die Omoro Federalist Congress, die Omoros se belangeparty, se leiers is in die tronk en daar is geen vreedsame kanale om griewe te lug nie. Onlangs het egter op verskeie plekke proteste uitgebreek wat ‘n etniese agtergrond het, maar nie verwant is nie. In die streek waar die Omoros woon het proteste uitgebreek oor grond wat die regering wil hertoedeel. Reeds verlede jaar was daar proteste teen die verskuiwing van die grense van die stad Addis Abeba, wat die Omoro-provinsie kleiner sou maak. Die plan is toe laat vaar, maar meer onlangs het weer proteste oor grondhertoedelings uitgebreek wat hardhandig onderdruk is. In die Amhara-streek het onafhanklik daarvan mense geprotesteer teen die verandering van provinsiale grense wat ‘n deel van die Amhara onder die beheer van die Tigray sou plaas. Die proteste in beide streke gaan egter ook oor algemene frustrasie met onopgeloste vraagstukke soos korrupsie en ekonomiese marginalisering.

Die Omoro is die grootste volk in Ethiopië met sowat 33 miljoen mense, ‘n derde van Ethiopië se bevolking van bykans 100 miljoen, en hulle woon in die sentrale en suidelike dele en rondom die hoofstad Addis Abeba, maar polities is hulle nog altyd gemarginaliseer. Die tradisionele staatsvolk, waaruit die koningshuis en die elite voortgekom het, asook sy kommunistiese opvolger Mengistu, is die Amhara, sowat 27% van die bevolking en hulle woon in die dele noord van Addis Abeba, maar die klein Tigrayvolk (6%) in die noorde is die volk wat op die voorpunt was  van die rebellie teen Mengistu en is in ‘n sekere sin die nuwe elite. In totaal is daar 80 volke, maar slegs die Omoros, Amhara en met ‘n groot afstand die Tigray en Somali het noemenswaardige getalle.

Ethiopië het na die omverwerping van die Mengistu-diktatorskap ‘n hoopvolle pad bewandel deur sterk federale strukture te vestig en die etniese verskeidenheid te erken. Die probleem is egter dat die EPRDF ‘n monopolie op die mag het en ook talle van die deelstate regeer deur middel van alliansievennote. Die huidige vlaag proteste kan die federale eenheid in gevaar stel. Alhoewel volgens die grondwet die deelstate ‘n reg tot afskeiding het wat in die sterk federale gees van die 1991 oorwinning ingeskryf is, is dit onwaarskynlik dat die huidige regering, wat gewoond is aan absolute mag, enige afskeiding sal toelaat.

 

Afrika algemeen: het die golf van demokratisering tot ‘n stilstand gekom?

Daar is ‘n hele paar aanduidings dat Afrika se transformasie na demokrasie besig is om tot ‘’n stilstand te kom. Die vasteland was na die hoopvolle kort tydperk onmiddellik na dekolonisasie ’n treurige voorbeeld van onderdrukking, diktatorskappe en korrupsie. Feitlik alle state was eenpartystate met skynverkiesings of sommer direkte een man diktatorskappe. In die 1990’s het dinge belowend gelyk en heelwat demokratisering het plaasgevind, maar volgens ‘’n opname van Freedom House het die aantal vrye state weer begin afneem. Slegs 8 state in Afrika (o.a. Suid-Afrika, Namibië en Botswana) word as vry geklassifiseer en uit eie ondervinding weet ons dat die beskrywing ook gekwalifiseer moet word. ‘n Hele paar lande het weer teruggeval in die ou gewoonte van outokrasie, of was nooit ernstig om te demokratiseer, veral in Sentraal- en Oos-Afrika. Maar ook lande wat eens bakens van hoop was, soos Zambië, Tanzanië en Mosambiek, beweeg weer terug na minder demokrasie.

Om billik te wees kan Afrika met sy multiëtniese, kunsmatige state nie volgens Westerse standaarde gemeet word nie. In die konteks van die derde wêreld vaar Afrika beter as die Arabiese wêreld, waar nog feitlik geen demokratiese regeringsverandering plaasgevind het nie en vergelyk min of meer met Asië, met sy mengsel van kwasi-demokrasieë en outokrasieë, maar Afrika vaar swakker as Latyns-Amerika wat grootliks demokraties en polities vry is. Die dinge lyk

Die rede dat die golf van demokratisering tot ’n stilstand gekom het en selfs omgekeer is, het ook met die internasionale toneel te doen. Afrika was nog altyd ‘n speelbal van groot moondhede, eers van Europese koloniale moondhede en later van die twee supermoondhede van die Koue Oorlog, wat Afrika-maghebbers teen mekaar kon afspeel om aan bewind te bly. Na 1990 het die steun van die Sowjet-Unie egter weggeval en die Weste was nie meer bang om Afrikaleiers te antagoniseer nie en sanksies teen ondemokratiese regerings is toegepas en verkiesings afgedwing. In talle lande het verkiesings en selfs demokratiese regeringsveranderings plaasgevind, by name in Zambië, Benin, Nigerië, Kenia, Malawi, Ghana en Mali. Die hernude terugkeer van outokrasie of skyndemokrasie het ook te doen met ’n Weste wat weer, soos tydens die Koue Oorlog, bondgenote soek in die stryd teen Islam-terrorisme, waarvan Afrika een van die slagvelde is. Realpolitiek maak sy terugkeer ten nadeel van idealisme. Verder het Sjina in die afgelope dekade tot Afrika toegetree en het geen pyne met menseregte nie en sal enige leier ondersteun solank dit hulle baat. Die Sjinese is die super-Machiavelliste en ewe gewetenloos as die Sowjet-Unie.

Analiste reken dat daar nogtans tendense is wat demokrasie uiteindelik laat seëvier in Afrika, naamlik verstedeliking, die opkoms van ‘n polities bewuste en ingeligte middelklas en die toenemende gebruik van elektroniese kommunikasie, wat manipulasie en intimidasie al hoe moeiliker maak.