fbpx

Geen verkiesing in die wêreld trek soveel internasionale aandag en maak mense so passievol soos die Amerikaanse presidentsverkiesing nie. Meeste Afrikaners, en beslis meeste Oraniërs, het waarskynlik gehoop vir ʼn oorwinning vir Donald Trump en die Republikeine, wie se konserwatiewe en grondvlakdominos-falling2-gerigte beleid vir ons nader voel as die globalistiese “een-wêreld” en sosiaal-liberale beleid van Hillary Clinton en die Demokrate. Donald Trump het talle mense se verbeelding aangegryp omdat hy ʼn uitgesproke anti-establishment kandidaat was (ongeag die feit dat hyself uit die ryk establishment kom en sy leefwyse alles behalwe ʼn voorbeeld van die smal weg is).

Die vraag wat vir ons veral interessanter behoort te wees, is wat Trump se verkiesingsoorwinning vir ons beteken.

Amerika het nog altyd die internasionale toneel oorheers en die rigting voorgegee, veral vir die Weste. Ook die kultuur van die Weste word grootliks deur Amerika bepaal. Barak Obama se verkiesing in 2008 was die slotsteen en voorlopige hoogtepunt van die Weste se golf van selfverloëning, wat al in die 1960’s begin het. “Die eerste swart president” is veral deur witmense binne en buite Amerika so opgehemel omdat daarmee die ewige skuld van onderdrukking en diskriminasie, waarmee elke Westerling gevoed word, simbolies betaal is. Obama kon immers nie president word sonder die steun van groot getalle wit Amerikaners en van die media nie. Daardie gety van ʼn links-liberale elite in die media, die kunste en die akademie wat die politieke keuses voorskryf en wat die “gewone mense” met minagting behandel en wat alle tradisionele waardes op sy kop keer en diegene wat daarteen is in die sterkste taal veroordeel, is egter besig om uit te loop.  ʼn Nuwe gety, of teengolf, is aan die opbou. Dit is al geruime tyd in Europa sigbaar, waar partye wat staan vir identiteit en die behoud van die eie ten spyte van die totale afkeur deur die meningsvormers al hoe beter doen en in sekere lande, soos Pole en Hongarye, uitgesproke Christelike nasionaliste regeer.

Vir die saak van die Afrikaner is dit van betekenis dat die media se groot mag besig is om te taan. Ons saak is nog altyd deur die media afgekraak en verdag gemaak. Een negatiewe artikel oor Orania in ʼn landswye, Afrikaanse nuusmedium, en voornemende besoekers kanselleer hulle besprekings of voornemende inwoners besluit anders, of so was dit in die verlede. Intussen steur al hoe minder mense hulle aan die amptelike, hoofstroom-media en gebruik die sosiale media. Dat iemand soos Trump, wat bykans geen amptelike ondersteuning van prominente nuusmediums gekry het nie, trouens wie se skandes wyd en syd verkondig is terwyl mev. Clinton sʼn onder die mat ingevee is, kon wen, wys hoe sterk die media se mag al uitgekalwe is. Dié toedrag van sake, wat in ʼn mindere mate ook in Suid-Afrika aanwesig is, baat ons saak geweldig.

Verder het Trump ook die houvas van politieke korrektheid gebreek. Die spektrum van dit wat aanvaarbaar is en wat gesê mag word, het al hoe kleiner geword en talle woorde en onderwerpe wat niemand in die onlangse verlede gepla het nie, is nou verbode terrein. Daar is al hoe minder verskille in opinie in openbare debatte, omdat allerhande dinge wat nie inpas by die links-liberale paradigma nie, nie meer gesê mag word nie. Dat rassistiese skelwoorde uit is, is seker vanselfsprekend, maar dat om bloot na verskillende volke, geslagte, waardes en mentaliteite te verwys al rassisme, seksisme ensovoorts en dus verbode is, maak enige debat onmoontlik en laat almal uit vrees vir viktimisasie dieselfde niksseggende en huigelende gebrabbel uiter. Trump is iemand wat sê wat hy glo, al is dit hoogs polities-onkorrek, en al die aanvalle van die wagters oor politieke korrektheid het hom nie geskeel nie, en nog belangriker, sy ondersteuners nie gepla nie. Sy ondersteuners is die gewone Amerikaanse hoofstroom, anders kon hy nie verkies word nie. Dit is allermins net “rassistiese, seksistiese ou gefrustreerde mans”, soos die media ons wil laat glo. Die kloof tussen die elite in hulle ivoortoring en die “gewone mense” was nog altyd groot, maar anders as in die verlede het die gewone mense ook nou danksy die sosiale media ʼn spreekbuis en kan opinies nie meer so maklik gefilter word nie.

Laastens is die Trump-oorwinning ʼn sterk boodskap dat die eie weer belangrik is. Trump het van die begin af as nasionalis opgetree. Die belange van die VSA en sy mense kom eerste, nie die van multinasionale maatskappye en van buitelandse magte soos Sjina nie. Ons saak van selfbeskikking en sorg vir ons mense en behoud van ons kultuur het tot baie onlangs ʼn uiters moeilike stand gehad, omdat dit so lynreg ingedruis het teen die logika van globalisme en die “Een Wêreld Beweging”. Om te sê dat jy in jou gemeenskap vir jou eie mense werk gee en jou eie produkte koop is as “xenofobies” en “rassisties” en veral as heeltemal uit tred met die tyd beskou. Vermenging en die grootste moontlike getal vreemdes in jou midde is as verryking en as wenslik gesien. As die internasionale klimaat nou verander en volke begin besef dat globalisme hulle meesal benadeel en net ʼn klein, identiteitslose elite bevoordeel, is ons saak van selfstandigheid en behoud van die eie baie makliker verkondigbaar.