fbpx

Die Amerikaanse presidensiële verkiesingsveldtog van die afgelope jaar was ’n duidelike veldtog tussen populisme en anti-populisme. Donald Trump het die populisme verteenwoordig en Hillary Clinton die anti-populisme.

Die probleem met Trump se populisme is egter dat dit ’n vorm van nasionalistiese populisme is, wat by baie mense die verkeerde beeld oor populisme geskets het. Trump se populisme is verteenwoordigend van ’n reaksionêre politiek wat op slegs die verwerping van beleid eerder as die omarming van die positiewe, geskoei is. Hierdie vorm van populisme lei gereeld tot vingerwysery en ’n onvermoë om werkbare oplossings vir knellende probleme daar te stel.

Een voorbeeld is die benarde situasie vir talle bloukraagwerkers in die ou industriële midweste van Amerika. Baie van hierdie mense is met reg kwaad vir die afgelope drie regerings onder Bill Clinton, George Bush en Barack Obama waartydens honderde groot fabrieke weens onbillike vryhandelsooreenkomste en die storting van lae gehalte produkte uit lande soos China, Indië en Meksiko gesluit het. Die vraag is egter of woede alleen die probleem gaan oplos?

Die oplossing vir hierdie mense se benarde situasie lê dalk juis eerder in ’n soort lokale, eerder as nasionale populisme. Wat behels ’n lokale populisme? Die Amerikaanse historikus Richard Hofstadter het in 1955 geskryf dat populisme die eenvoudige denke van ’n groepie ondeurdagte skurke of die melodramatiese optrede van landelike, eenvoudige mense is. Hofstadter se arrogante neersien op gewone mense en die redes waarom hulle hulself tot populisme dryf, was die afgelope tyd ook weer duidelik toe Hillary Clinton na hierdie mense as ‘betreurenswaardig’ verwys het.

Die woede onder dié Amerikaners wat hul die afgelope tyd tot die populisme gewend het, is heeltemal verstaanbaar. Die regerende klas sien graag neer op hierdie mense – die landelikes insluitende boere, inwoners van klein dorpe en kleinsake-eienaars, sowel as die sukkelaars wat baie keer bloukraagwerkers is wie deur die stelsel vergete agtergelaat is.

Die Amerikaanse skrywer Bill Kauffman, skryf dat hierdie mense juis eerder ’n soort lokale populisme moet begin aanhang. Die oplossings vir hul probleme lê juis nie in nasionale wetgewing en in die federale regering opgesluit nie, maar eerder op ’n plaaslike vlak. Volgens Kauffman is ’n plek-gebaseerde populisme dié wat gebaseer is op ’n liefde vir die eie en wat die gemeenskap wil beskerm teen kragtige negatiewe magte van buite. Hierdie soort populisme is nie net regs of links op die politieke spektrum nie, maar is eerder gebaseer op die eenvoudige vraag oor wat tans die beste vir die gemeenskap is en hoe die gemeenskap kan saamwerk om dit te verseker.

Mense wat hulle tot populisme wend is baie keer mense wat onder politieke, ekonomiese of ander druk verkeer. Die oplossing vir hul probleme lê nie in ’n nasionale regering wat dinge reg reguleer nie, maar eerder in hul vermoë om self te organiseer en uit hul eie inisiatief oplossings daar te stel.