fbpx

foto-2016-10-14-7-52-18-vm-2Reis en lees gaan vir my hand aan hand en tydens ons huidige Europese skakeltoer is dit nie anders nie. Twee redes daarvoor is dat mens, ten spyte van hoe ’n vol program, tog van sekere huislike sleur vrygestel is en boonop dikwels van openbare vervoer gebruik maak. As mens daarby die gewoonte het om nie jou tv-stel in die hotelkamers aan te skakel nie, kry ek selfs meer kans om te lees as in my gewone lewe tuis.

Tydens ons huidige reis het ’n kollega my toe aangemoedig om meer moeite te doen om wat ek lees te deel met mense wat ook in die onderwerpe mag belangstel, maar dalk nooit by dieselfde boeke sal uitkom nie. Dit is die wenk waarop ek hieronder reageer, streng met die kwalifikasie dat dit nie ’n formele resensie is nie, maar bloot ’n optekening van gedagtes wat met en na die lees by my opgekom het.

By voltooiing van Van Tongeren se Dankbaar het ek ook weer besef waarom ek nie voorheen al aan die voor-die-handliggende gedagte om na die lees van elke boek aantekeninge te maak, uitvoer gegee het nie. Dikwels is dit maar ’n kwessie van laksheid, want in die “stilte na die boek”, soos Etienne van Heerden dit noem, sou dit die natuurlikste ding wees om jou gedagtes vas te lê en later sou dit meestal baie nuttig wees om daarna terug te kan verwys.

Aan die ander kant kry ek nogal ’n gevoel van afhandeling wanneer ek ’n boek neersit en wag daar altyd alreeds ander boeke om gelees te word. Om die waarheid te sê, aan die einde van die meeste boeke het ek al haastig begin raak om aan te beweeg. In Dankbaar se geval het ’n ander faktor, wat dikwels ’n rol speel, egter ook ingetree. Dit is dat ek in die loop van die argument meer opgewonde daaroor was as by die gevolgtrekking waartoe dit gevoer word.

Nie dat die gevolgtrekking onverwags was nie, die subtitel is immers duidelik: dit gaan oor danbaarheid sonder om dit in godsdienstig terme te verstaan. Dié uitgangspunt het my nie daarvan weerhou om in die boek belang te stel nie, want buiten dat daar baie dinge in die wêreld is wat ons gewoonlik nie godsdienstig bejeën nie, is die “dood van God” ’n kultuur-historiese verskynsel waarmee ook gelowige mense rekening moet hou. Daarby verwys ek na die omvattende sekularisering wat kenmerkend geword het van die moderne Weste, ook en veral in die oorgrote deel van Nederland waar ons ons toer begin het.

Die boek is ’n uitbreiding van Van Tongeren se afskeidslesing aan die Radboud Universiteit in Nijmegen waar hy jare lank dosent in die filosofie was. Dit getuig dan ook van ryp denke en ’n ruim verwysingsraamwerk wat hom in staat stel om gemaklik met moeilike konsepte om te gaan en dit op elegante wyse vir minder ingeligte lesers toeganklik te maak. Hy knoop ook op ’n vanselfsprekende manier by alledaagse waarnemings en gebeure aan en laat mens voel dat iets soos dankbaarheid nie ten spyte van nie, maar danksy sy behandeling daarvan steeds tot ons daagslikse leefwêreld behoort en nie deur die filosofie gekaap word nie.

Hy begin deur die algemene en wyd bekritiseerde gedagte van transaksionele dankbaarheid aan die orde te stel. Dit het dus betrekking op die tipies interpersoonlike verhouding wat tot stand kom tussen gewer en ontvanger waar die gewer die ontvanger as’t ware in die skuld dompel, in ’n ekonomie van geskenke wat die plig van ’n teengeskenk, al is dit maar in die vorm van ’n woord, oproep. Hy verruim egter die verhouding deur dit by die moderne pligsetiek verby te voer en in die konteks van ’n tradisionele deugde-etiek tereg te laat kom, ’n konteks wat van die wederkerig aard van geskenk en dank nie ’n filosofiese probleem nie, maar ’n alledaagse en positiewe verskynsel – solank die verhouding nie instrumenteel uitgebuit word nie.

Die groter probleem is egter nie om op gepaste wyse vir ’n bos blomme dankie te sê nie, maar om dankbaarheid te betoon vir dinge wat mens nie van ’n ander presoon ontvang nie, dinge soos goeie gesondheid, ’n mooi dag of ’n kind. Dit is tipies die dinge waarvoor ’n gelowige mens God dank, maar wat die ongelowige Westerling vandag in die verleëntheid stel. Nou kan ’n mens vra waarom hy dan nie die opsie van geloof oorweeg nie, ’n vraag waarop daar twee antwoorde is. Die een is dat dit onvanpas sou wees om God in ’n gewone transaksionele verhouding van gawe en dank te betrek en die ander is dat hy erns maak met Friedrich Nietzche se ontleding van die menslike toestand aan die hand van die nihilisme.

Van Tongeren gee, en dit is deel van die verdienste van die boek, ’n eenvoudige oorsig van Nietzche se nihilistiese beeld van die wêreld, die geskiedenis en die mens, en plaas die dikwels misbruikte “dood van God” aan die hand daarvan in perspektief. Om dit verder te vereenvoudig kan kwalik nog enige reg aan hierdie denke gee en ek som dit met huiwering verder op. Nietzche begin met ’n waardering vir die voor-filosofiese era van die Griekse tragedies waarin chaos, doelloosheid en sinloosheid nie ontken word nie, maar esteties bevestig word. Dit is vir hom die eerste fase van nihilisme, ’n soort verwysingspunt.

In die tweede fase word deur filosofie en godsdiens gepoog om die absurditeit van ons bestaan weg te werk deur die voorhande ervaring daarvan deur idees en ideale te hervertolk en as’t ware van buite orde, doel en sin aan die werklikheid op te lê. Hoewel dit die teendeel in die oog het, is dit nogeens nihilisties omdat dit die ervaringswerklikheid misken en met ’n ideële werklikheid probeer vervang. Namate die mens hom mettertyd agter hierdie keermure van geloof, wetenskap en moraal veilig voel, word dit egter deur oormoedigheid ondermyn.

“God”, die metafoor vir die transendente orde, doel en sin, word ondermyn omdat mense nie meer besef dat hulle orde, doel en sin daarvan afhanklik is nie. Hulle glo nie meer aan God nie, maar weet ook nie wat dit beteken dat God nou dood is nie want hulle bly veronderstel dat daar orde, doel en sin is. Om die waarheid te sê, elke poging om die maskers van geloof en idee van die werklikheid af te ruk, berus weer op ’n volgende idee wat self die brute werklikheid maskeer. Dit is dan ook op hierdie onafgehandelde en onafhandelbare punt waar Van Tongeren ten aansien van die nihilisme vir Nietzche wil agterlaat om na die vraag van dankbaarheid terug te keer.

Hier is egter van ’n dubbelsinnigheid sprake, want hy laat Nietzche net in een sin agter, naamlik om na ’n volgende punt in sy argument te beweeg. Wat hy intussen wel gedoen het, is om Nietzche en die nihilistiese wêreldbeeld wat hy verteenwoordig tot norm en verwysingspunt vir ’n nuwe beeld van dankbaarheid te verhef. Met al die moontlikhede wat sy daaropvolgende behandeling van, vir my, nuwe gedagtes inhou, bring hy dit in der mate binne die kader van Nietzche en die nihilisme tuis, dat dit as’t ware ’n plafon daarop plaas.

Van Tongeren laat volg inderdaad ’n boeiende hervertolking van dankbaarheid sonder ’n geadresseerde, dus sonder God, vir al daardie dinge wat ons nie van iemand ontvang nie. Dankbaarheid word teen die agtergrond van tradisionele deugde-etiek eerder as moderne pligsetiek geprojekteer en aan die drie bevallighede (gratiën), naamlik luister of skoonheid, vreugde of vrolikheid en geluk of bloei verbind. Daarmee word ’n drieledige verhouding aan die orde gestel in plaas van die tweerigting gee-en-neem van gawe en dank. Die drie figure, in die mitologie die dogters van Zeus en Eurynome, word tradiosioneel uitgebeeld as verbonde aan mekaar, besig om byvoorbeeld ’n goue appel van die een na die ander aan te gee: dus nie ’n heen-en-weerbeweging nie, maar ’n sirkel wat in die oneindige kan voortgaan.

Volgens hierdie vertolking word gawe en dank dus deur ontvangs ontsluit, die middelterm wat dankbaarheid van haar transaksionele karakter kan verlos. Daarmee het Van Tongeren na sy eie beeld van sake daarin geslaag om dankbaarheid in ’n era ná die dood van God, moontlik te maak. Selfs dankbaarheid vir ongewenste dinge, vir lyding en ongeluk, word moontlik deur dit in ontvangs te neem en nie te probeer ontwyk of ignoreer nie.

Dat Nietzche in die proses eerder normatief ingetrek as agtergelaat word, is verder nie die enigste onderliggende dubbelsinnigheid waarmee ons in Dankbaar te make het nie. Die ander dubbelsinnigheid het met dank aan mense, wat tipies transaksioneel verstaan kan word, en dank aan God, wat na die dood van God eintlik glad nie verstaan kan word nie, te make. Van Tongeren se pragtige beroep op die drie bevallighede open na my mening juis die moontlikheid om dank nie as twee dinge nie, maar as een ding te verstaan en om die grondslag en model van dié een ding nie ten diepste in die intermenslike dimensie te vind nie, maar juis in die bo-menslike, in die transendente bewussyn wat ons wat ons alleen tot ons nadeel en verarming, as vrug van die Verligting, agter gelaat het.

Danie Goosen het my aandag onder andere daarop gevestig dat daar in die moderniteit ’n trajek te bespeur is vanaf ’n samehangende belewenis van dank as ’n in geloof gewortelde ervaring, na ’n tweedeling tussen die immanente en transendente vertolkings daarvan. Daarvolgens word die immanente dank transaksioneel beskou, met die gevolg dat dit eintlik geen dank meer is nie, terwyl die transendente dank as onmoontlik beskou word omdat daar geen onderliggende geloof meer is nie. Dit bring mee dat daar in werklikheid ’n nuwe, samehangende en enkele belewenis van dank – of eintik ondank – aan die orde kom. Juis dit is die ondank waarvan Van Tongeren ons wil red, maar deur die voorwaardes daarvoor te bevestig eerder as om dit uit te daag, kon ek nie tot die oortuiging kom dat sy projek slaag nie.

Tree die omgekeerde skema, dié van die tradisie nie onbedoeld en opnuut na vore nie? Is elke klein dankbetuiging, as dit werklik dank is, nie eerder in die geloof gewortel as dat die dank wat bo die veronderstelde en korrupterende transaksie uitstyg, sy voete in die afwesigheid van geloof kan vind nie? Dit verteenwoordig die teendeel van Van Tongeren se argument, maar dit is waarvan sy denkweg in dié verband my oortuig het.

Uiteindelik, is ek bevrees, het ek die boek met afnemende entoesiasme gelees. Hoewel ek verstaan dat die skrywer ’n waardevolle geestelike konsep in beskerming wil neem in ’n omgewing wat hy nie gemaak het nie, naamlik ’n ongelowige Europa, en hoewel mens vandag nie oor ons geestelike erfenis kan praat sonder om Nietzche se behandeling van die nihilistiese afgrond waarvoor ons bestaan huiwer in ag te neem nie, het hy na my mening nie daarin geslaag om “geen Nietzcheaan te worden” nie. Inteendeel, die siening dat Nietzche se nihilistiese veroordeling van twee en ’n half duisend jaar se metafisika ons van God bevry, stel mens voor die volgende vraag: Waarom Nietzche eerder as die Tradisie? Veral ten aansien van die dankbaarheid.

My eie voorkeur vir die behoud en herontdekking van die geloof en van ons Christelik Westerse erfenis (die heilige, algemene Christelike kerk) spreek sekerlik daarin mee dat, kort gestel, die poging om dankbaarheid ten alle koste in die immanente tuis te maak en elke teken van ’n transendente bewussyn te vermy, eenvoudig nie oortuig nie. Om die oorvloedige werklikheid uit Gods hand te ontvang en in die lig daarvan ’n grondhouding van dankbaarheid eerder as eiegeregtigheid te openbaar, is nie dieselfde as om die denkbeeld “God” in ’n transaksie te betrek of daarin betrek te word nie.

Selfs al is die Algemene Christelike Geloof in die Weste nie meer dominant nie, en selfs al sou Van Tongerens aanvoer dat hy oor dankbaarheid met ’n gegewe werklikheid handel, naamlik dat moderne Westerlinge met die dood van God moet handel, getuig sy argument uiteindelik nie van bevryding nie, maar van ’n selfopgelegte kluistering onder ’n lae Nietzcheaanse plafon. Dit sou vandag dapperder en meer belowend wees om ons Chritelike oorsprong en tradisie te herontdek, toe te eien en te koester. Niks sal die Europa van vandag méér toekomsgereed maak as juis dit nie.