fbpx

1436542010046-cachedOor die afgelope 18 maande moes meer as 3 miljoene mense in Yemen in die Midde-Ooste uit hul huise vlug. Volgens die Verenigde Nasies het minstens die helfte van die land se bevolking van 28 miljoen mense nie genoeg kos nie en is hongersnood reeds deel van die lewe in Yemen. Sedert die uitbreek van die burgeroorlog in Yemen het duisende mense reeds hul lewens verloor.

Ten spyte van die duidelike katastrofe wat in Yemen afspeel, is dit asof die wêreld ignoreer wat daar gebeur. Die oorlog in Sirië en die situasie in Irak en tot ’n mindere mate Afganistan domineer die nuus. Waarom word die haglike omstandighede in Yemen geïgnoreer?

Die burgeroorlog in Yemen is ’n stryd tussen die Soenni-meerderheid en die Houthi-rebelle. Hoewel die burgeroorlog in Yemen in 2015 uitgebreek het, woed die stryd tussen die Soenni-beheerde regering en die Houthi’s reeds sedert 2004.

Die rede vir die uitbreek van ’n volskaalse burgeroorlog in Yemen is die toetrede van Saoedi-Arabië tot die konflik. Saoedi-Arabië speel toenemend die rol van Soenni-sterkman in die Midde-Ooste en probeer homself vestig as die magtigste land in die Midde-Ooste. Net soos die oorloë in Sirië en Irak is daar ’n dieper onderliggende konflik tussen die Soenniete en Sjiiete. Met Saoedi-Arabië as Soenni-land aan die een kant en Iran as Sjiiete-land aan die ander kant word ’n magstryd om beheer van die Midde-Ooste gevoer. Lande met gemengde bevolkings soos Sirië, Irak en Yemen word die slagveld van hierdie konflik.

Die Houthi-rebelle in Yemen is Sjiiete Moslems en daar is bewerings dat hulle met wapens en ammunisie deur Iran ondersteun word. Die werklike agressor in Yemen is egter Saoedi-Arabië wat sedert Maart 2015 ’n bloedige stryd met die Houthi-rebelle voer. Die weermag van Saoedi-Arabië het oor die afgelope 18 maande met grootskaalse geweld die Houthi’s probeer verslaan en sodoende ’n enorme humanitêre krisis in Yemen geskep. Verskeie aanvalle op burgerlikes en woonbuurte is geloods en met die blokkade van hawes en lughawens is die lewenslyn van miljoene mense in Yemen op wrede wyse afgesny.

Saoedi-Arabië staan eger nie alleen nie. Die land word deur ander Soenni-lande in die golfstreek, sowel as Westerse lande, in besonder die Verenigde State, ondersteun. Die Amerikaners beskou Saoedi-Arabië steeds as hul belangrikste bondgenoot in die Midde-Ooste en het dus oor die afgelope 18 maande die Saoedi’s se bitter stryd in Yemen volledig onderskryf. Saoedi-Arabië koop natuurlik heelwat van sy wapens by Amerika aan.

Terwyl die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, homself byna voltyds beywer vir die onderhandeling van ’n skikking in Sirië bly die Amerikaanse regering stil oor wat in Yemen gebeur. Die Amerikaners en voeg ook daarby Europa, is net te bang om hul bondgenoot, Saoedi-Arabië, kwaad te maak.

Die burgeroorlog in Yemen bewys weer eens dat groot moonthede se deelname aan, en reaksie op konflik in die wêreld meer oor hul eie belange as oor ’n werklike omgee vir die mense wat deur die konflik geraak word, gaan.