fbpx

Dit is ʼn geykte stelling deur menslike hulpbronnebestuurders “dat mense hulle maatskappy of organisasie se grootste bate is”. Mense op sigself is egter nopleiding2og nie ʼn bate nie, trouens, ekonomies gesien kan mense ook ʼn las wees. Elke land met ʼn groot bevolking, soos Suid-Afrika, word geloof vir sy “groot potensiaal”, maar die potensiaal word nie ontsluit sonder opleiding en opvoeding nie. Die regering besweer met lippetaal die waarde van opleiding en kundigheid en vernietig in dieselfde asem eens uitstekende opleidings- en opvoedingsinstellings.

Terwyl tans al die aandag op die universiteite is en ons met hartseer en woede moet aanskou hoe instellings met ʼn goeie naam en ʼn lang tradisie van uitnemendheid voor ons oë deur opgesweepte studente en meelopers vernietig word, word vergeet dat die krisis van opvoeding en opleiding al ʼn baie lang pad kom. Ook die laaste Afrikaner besef nou dat daar geen langtermyn toekoms vir Afrikaanse gehalte-opleiding by ʼn staatsuniversiteit is nie, al kan hofsake die verval vir ʼn ruk stuit. Nou word geëis dat Orania die leemte wat by universiteite gelaat is, moet vul en vinnig ʼn private, Afrikaanse universiteit op die been moet bring. Terwyl Afrikaanse universiteite egter nou in die spervuur is, word vergeet dat die meerderheid van die bevolking, ook van die Afrikanervolk, nie ʼn behoefte het aan ʼn universiteit nie, maar eerder aan praktiese, beroepsgerigte opleiding. Trouens, minder as 10% van die bevolking kry ʼn universiteitsgraad (en nie elke graad beteken iets nie). Alhoewel tans feitlik almal daarna streef om universiteit toe te gaan, is ʼn universiteit bedoel as ʼn akademiese instelling vir enkeles, nie vir die meerderheid nie. Daar sal eendag wel ʼn universiteit in Orania wees, maar eers moet Orania ʼn stad wees en ook die behoefte aan akademies opgeleide mense hê. ʼn Dorp kan gewoonlik net vir ʼn handjievol akademici en intellektueles werk voorsien. Tans is daar ʼn veel groter behoefte aan goeie vakmanne. Orania betree nou ʼn fase waar die ongeskoolde arbeid van die begin, die harde pionierswerk wat nodig was en nog steeds is, minder belangrik raak en gekwalifiseerde, tegniese werk al hoe meer belangrik raak.

Suid-Afrika het ongelukkig nooit ʼn baie sterk tradisie van trotse ambagte gehad nie, en dit wat daar was, het nog meer verval. Meeste geskoolde ambagsmanne is al anderkant 40, omdat die beroepsopleiding platgeval het. Die regering het, seker goed bedoel, maar swak geïmplementeer, opleiding van die maatskappye weggevat en na sektorale opleidingsinstansies (Setas) oorgedra. Min Setas is in plek en funksioneer na behore. Min Afrikaners oorweeg ʼn tegniese loopbaan, en onder swart mense is dit nog minder. Universiteit is alles, of jy ou daarvoor aangelê is of nie.

Wat ons benodig is ʼn kultuur van trotse ambagsmanne, wat ʼn kwalifikasie agter hulle naam het en wat hulle werk met trots en kundigheid doen. Die verdienstemoontlikhede as gekwalifiseerde ambagsman is dikwels groter as in akademiese beroepe, veral vir Afrikaners wat nie meer welkom is in staatsinstellings nie. Ambagsmanne het in die laat Middeleeue gildes gevorm en was ʼn welvarende, invloedryke en gerekende groep. Die pragtige gildehuise in Europa getuig nog steeds daarvan. Intussen het daar egter ook in Europa ʼn nuwe klas ontstaan wat hulle neus optrek vir ambagswerk en word universiteite oorstroom met mense wat nie werklik daar hoort nie.

Daar is egter tans groter geleenthede in tegniese opleiding en die leemte het Orania, in samewerking met Sol-Tech, reeds gevul. Ons kan met blydskap en trots aankondig dat die Bo-Karoo opleidingsentrum op Vrydag, 28 Oktober geopen is. Orania CVO het daarby die inisiatief geneem en nog projekte vir naskoolse opleiding is in die pyplyn. Terwyl iets sterf in Suid-Afrika, is daar nuwe lewe en hoop in Orania.