Die nihilisme, as heersende leegheid binne die grys van die liberalisme en polities-korrekte era, laat die individu vandag verdwaald en verward. Ons is nie onaangeraak hierdeur nie, ons as Afrikaner. ’n Goeie vriend van my pendel elke dag; Pretoria- Midrand-Sandton-Midrand-Pretoria. Vyfuur die oggend in die motor om agtuur op kantoor te arriveer, om agt ure op kantoor te spandeer, om agtuur die aand weer by die huis te kom. Die huis is ommuur, omhein en die ganse tuin met alarmstrale bewapen. Sluit, slaap, sluit, ry, werk, ry, sluit, slaap. Dit is nie hoe ek sy lewe beskryf nie, hy is gelukkig getroud en het pragtige troeteldiere en ’n mooi huis. Dit is hoe hy self sy lewe beskryf. Hy sê aan my dat alles maar alles wat hy doen, nutteloos en tevergeefs; ’n gejaag na wind voel. Hoekom doen hy dit elke dag aan homself? Vra hy. Wat is die sin? Hy vertel hy staan nou die dag voor die spieël en vra homself af: “Wie is jy?” Hy antwoord: “’n prokureur.”
Wie is jy? Ek plaas hierdie vraag en soeke vierkantig voor die deur van die liberalisme. Julle maak dat mense onseker is oor wie hulle is, want wie hulle is maak hulle anders as die volgende een en dit is ongeregtigheid, dit mag nie. Jy mag nie anders wees nie! Die liberales roep in die strate, vryheid, vryheid en fluister dan konformeer, konformeer tot daar niks oorbly om in die vryheid te vier nie. Kom ons vier die leegheid deur in die spieël na onsself te staar.
Die gryse leegheid van die nihilisme: want niemand mag meer iemand wees nie, geen volk mag meer bestaan nie, geen taal wat anders is, mag gepraat word nie, niemand mag meer presteer nie, niemand mag meer druip nie, ons almal huppel-huppel saam die afgrond van die leegheid in; tot by die spieël waar jy jouself nie meer herken nie.
Ek blaai saam met my vriend deur ’n Familiebybel, sy Familiebybel, ’n majestieus-gebinde boek in Hoognederlands. Geslagte en geslagte van naamgenote het geteken, sy naam staan amper onder op die derde bladsy.
Wie is jy? Vra ek hom soos ons blaai. Hy antwoord met ’n knop in sy keel: Jacobus Johannes Kruger!