fbpx

hope-despair-earth-grass-figureEk beleef meer en meer die moedeloosheid, die byna opgee-mentaliteit van ons mense. Binne die sielkunde praat hulle van die verskynsel van aangeleerde hulpeloosheid. Die voorbeeld wat soms gebruik word, is die van ’n persoon wat sy werk verloor het wat dan ’n eskalerende effek beleef; soos die persoon paar keer die verwerping van mislukte werksaansoeke beleef, hou hy op met die soek proses; of iemand wat sy rug beseer tydens ’n oefenprogram en die rug dan weer en weer beseer, hou op met oefen. Hulle noem dit dan aangeleerde hulpeloosheid wat mens laat ophou probeer, as’t ware opgee. Die Afrikaner ly vandag aan aangeleerde hulpeloosheid. Ons het keer op keer, persoonlik, gemeenskaplik, polities en selfs kerklik teleurstelling beleef, negatiwiteit beleef, teenkanting beleef, dermate ons ophou probeer. As ek na die 2016 Afrikaner kyk, dan sien ek ’n volk met aangeleerde hulpeloosheid. Dit is opmerkbaar dat hierdie hulpeloosheid geensins ’n weerspieëling van vermoëns of potensiaal is nie, maar bloot die selfpersepsie van die subjek. Hulpeloosheid, hopeloosheid is ’n aangeleerde toestand en dit kan en mag en moet verbreek word, afgeleer word omrede so ’n toestand mens lamlê en alle positiewe potensiaal neutraliseer. Interessant genoeg dat so ’n aangeleerde hulpeloosheid altyd ’n oorsaak vind; die dader van die misdaad teenoor my gepleeg is die maatskappy, die baas, die politiek, die regering, my vrou…ens. Dit plaas mens dan in die eerste plek in ’n situasie waar jy emosionele energie vermors omdat jy blaam plaas en selfs haat- en wraakgedagtes koesters teenoor iets of iemand aan wie jy nie werklik veel kan vermag nie, die tweede probleem is en hierdie is die groot een, is die feit dat jy nie verantwoordelikheid neem van jouself nie, jy plaas as’t ware jou lot in die hande van ander, maar meer as dit, in ander wat nie noodwendig die vermoëns of wil het om iets te verander nie. Jy is dus ten diepste, magteloos. Dit bring my by 2017 en die woordjie hoop.

Hoop, ons gebruik die woord maar effens buite sy betekenis: “Ek hoop ek sal dit maak,” “Ek hoop nie dit is te groot nie,” “Ek hoop jy het reggekom,” “Ek hoop dit sal reën,” en iets van die negatiwiteit van aangeleerde hulpeloosheid word weerspieël.

Binne die Afrikaanse gebruik van die woord, het dit meestal ’n tipe van ’n wens geword. “Ek wens ek sal dit maak…” ensovoorts. ’n Wens wat meermale ’n element van ernstige twyfel uitspreek: “ Ek hoop jy het mooi oor die saak gedink…” “Ek hoop jy besef hoe hoog dit is…” Die Hebreeuse vorm van die woord, yâchı̂yl, soos byvoorbeeld in Psalm 39: “En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U,” bevat nie so ’n element van vertwyfeling nie, maar een van geloof, van ’n vaste vertroue, verwagting.

Die Griekse woord elpis soos in Hd: 24 “…en ‘n hoop op God het, ‘n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar ‘n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges,”  bevat hierdie selfde element van die Hebreeus, verwagting, ’n vaste verwagting.

As ek dus 2017 hoopvol binnestorm, dan is dit nie met die Afrikaanse volksmond aanwending nie, maar met ’n diep teologiese-filosofiese belaaide bedoeling. Ek hoop 2017 sal ’n goeie jaar wees. Die woord hoop word gekoppel aan die dunamis of die krag van die een op wie daar gehoop word. Dit is sekerlik te verstane dat mens nie jou hoop moet plaas op iets of iemand wat nie wil, of kan help nie, dit is waansin. Om te hoop, om jou hoop sinvol te belê, moet mens na die innerlike krag van die objek van jou hoop en verwagtinge kyk. Mens moet egter ook na die wil kyk, wil so ’n persoon jou help, wil jy iets bereik, wil jy iets doen, raw-tsone,   sê die Hebreeus, die intensie of die wil. Ek wil tweeledig my hoop vir 2017 aanbied:

Eerstens op ons Almagtige God en Vader wat deur sy Seun vir ons die ewige hoop kom bied. Maar hierdie hoop gaan nie bloot oor die eendag nie, maar ook oor die hier en nou, die ewigheid breek immers vandag alreeds aan, met sy onderskeie fasette. My hoop is dan op ’n God wat mense so lief gehad het dat Hy sy eie Seun in hul plek laat kom betaal het. God het dus die wil om te help en is dus alreeds hoopwaardig. Hy is ook ’n God wat die son ’n dag lank kon laat stilstaan, ’n see oop kon skeer, die berg laat bewe het, Lasarus uit die dood geroep het; Hy is die God wat alles geskape het, dus het Hy baie duidelik ook die krag, of dunamis om te help. Hy is inderdaad hoopwaardig.

Ek wil egter my hoop in 2017 op ons Afrikaner ook plaas, miskien omrede ek verby ons as volk se aangeleerde hulpeloosheid kyk en die dunamis raaksien. Die Afrikaner is ’n formidabele volk, wat ten spyte van, miskien as gevolg van, ontsaglike groot uitdagings en onderdrukking, gegroei het tot een van die sterkste volkere op aarde. Ons is begenadig om met ’n intellek, ’n logika, ’n werksetiek en diepe geloof om enige probleem te oorkom, maar meer as net oorkom, om ook daaruit ’n positiewe uitkoms te bewerk.  Die Afrikaner is ’n volk met dunamis, met ’n inherente krag. Die een element wat kort vir ’n hoopvolle 2017 is dan ook die rawtsone of die wil. Wil ons werklikwaar? Of is ons oorgelewer aan ons aangeleerde hulpeloosheid. Wil die Afrikaner homself help? Dit is die vraag wat ons daagliks op Orania moet antwoord en hier sien ek die dunamis en die rawstone van ’n volk bymekaarkom om vir elke inwoner hoop te gee. Ek verwag dat 2017 ’n uitstekende jaar gaan wees, omdat ek na hierdie elemente van hoop kyk en ek sien hoe perfek die dinge in plek val en dit is hoop wat die potensiële energie van ’n mens, ’n instelling en ’n volk laat oorgaan in die dinamiese tasbaarheid van kinetiese energie. Hoop begin ’n beweging en ek sien in 2017 die Afrikaner beweeg.

Ek bid aan u elkeen ’n hoopvolle 2017 toe.