Wat bepaal waarde? Ek wandel hierdie Kerstyd so deur die digitalemarkspleine en tussen die winskope en aanbiedinge en opspring-flikker-advertensies en winkeltrollies vol wenslyste blaai ek tussen die aanlynwinkels en kyk na goed. Goed is seker die beste beskrywing. Ek kyk na handgekerfde kitare, massa-vervaardigde juwele, sweetwinkel speelgoed en egte Italiaanse mode uit China. Ek kry so ’n boodskappie op my foon dat ek die kans staan om al my skuld gedelg te kry as ek my finansies so sal bestuur dat die aftrekorders einde Januarie sal deurgaan. Mooi, dink ek, spandeer net wat jy kan bekostig. Ek kyk na twee van hierdie goed in my trollie en daar is dan so ’n handige “vergelyk produkte” skakel. Met hierdie skisma van tegniese besonderhede oopgekloof voor my op die skerm, probeer ek hond haaraf maak. Hoe weet mens watter een is nou die beste. Ek besluit uiteindelik om die duurder een te kies, ek weet nou nog nie hoekom nie, die ander een was mooier, maar duurder is beter, goedkoop koop is duurkoop. Wat bepaal goed se waarde? Is dit die inherente eienskappe wat ’n objek waardevol maak, die bruikbaarheid?…is dit die prys etiket?…is dit die estetika? Moontlik is al die bogenoemde rolspelers, miskien ten diepste die waarde wat dit vir my inhou, hoe ek as die nuwe eienaar daaroor voel.
Ek sal so naïef wees deur tog te glo dat daar in die volmaakte kommersiële vryemark tog ook ’n element van vervaardigingskoste in die prysetiket weerspieël word en iets wat meer gekos het om te maak, moet mos sekerlik beter wees?
Wat bepaal waarde? Ek is verward hier waar ek op hierdie gedagtevlug gaan. Dit neem my verskeie Bybelse gedagtes, na ’n kruis by ’n koppie buite Jerusalem waar ‘n Seun met sy lewe betaal, boet; na ’n pottebakker wat ’n erdekruik stukkend gooi, na so ’n erdekruik waar ’n skat binne gebêre word.
Kerstyd voel veel mense juis hierdie worsteling met selfwaarde. Wat is ek werd, ek voel alleen, moeg hartseer, vernederd. Wat bepaal ’n mens se waarde? Is dit jou inherente bruikbaarheid? Vir sommige ander mense glo ek dit is die geval, jy is bruikbaar en waardevol in so verre ek jou kan benut. Is dit die jou estetika, hoe mooi jy is?
Ek staar na die inkopietrollie vol mense, ek kyk na al die vergelykende eienskappe, ek kyk na die estetika, ek kyk na die prysetiket, ek kyk na die vervaardiger se handelsmerk…ek begin ’n prentjie te vorm. Wat is mense werd?
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Ek kyk weer na al die mense in my lewestrollie en ek kyk na die prys wat vir hulle betaal is. Miskien is goedkoop koop, duur koop. Ek dink aan die prys wat vir my betaal is en hierdie prys gaan nie oor my estetika of bruikbaarheid of inherente vermoëns nie, nee hierdie prys is gans te duur as mens hierdie kenmerke as waardebepalend gaan ag. Hierdie is ’n emosionele koop, ’n liefdeskoop. God betaal die prys van sy eie Seun en dit bepaal jou waarde. Ek gaan hierdie Kersfees so ’n bietjie anders na mense kyk, want soos ek hier sit en dink besef ek: mense is verskriklik baie werd.