Die term ritueel het ʼn negatiewe klank gekry: iets wat vervelig is, wat geen betekenis meer het nie, wat herhalend is, nie meer relevant is nie, ʼn tydmors ensovoorts. Iets word eers ʼn ritueel en dan word dit gelos. In vandag se tyd moet ʼn mens uit alles “iets uitkry”. Daarom dat die “ritueel” van die Sondagerediens verval en mense dit as verskoning gebruik om nie kerk toe te gaan nie, want dit is herhalend en gee hulle nie meer iets nie. Die moderne mens soek die hele tyd iets nuuts, ʼn nuwe “kick”, ook wat godsdiens betref. Daarom ook die opgang van die charismatiese “event” kerke, alhoewel ook die soort kerke hulle eie rituele en herhalings het. Die inkopies op Sondae het intussen die ritueel geword wat die erediens in talle gevalle vervang het, maar ek wil beweer dat jy minder daaruit kry as uit ʼn erediens wat ʼn gewoonte geword het.
Die oorspronklike betekenis van ritueel is ʼn opeenvolging van handelinge op ʼn spesifieke plek en gewoonlik met ʼn godsdienstige agtergrond. Net so belangrik, ʼn ritueel is ʼn produk van ʼn kultuur.
Om dus deel te neem aan ʼn ritueel bevestig jou kultuur- en volksverband. Daarsonder is jy ʼn ongebonde individu, uitruilbaar, vervangbaar, sonder ʼn merk wat jy maak.
Geloftedag is ʼn jaarlikse ritueel van die Afrikanervolk, oftewel die deel wat hulle nog gebonde voel as deel van ʼn volk wat ʼn gelofte aan God gemaak het en dit nou al vir 180 jaar in stand hou. Ook 22 jaar na die aanbreek van die “nuwe Suid-Afrika” woon nog steeds groot getalle Afrikaners Geloftefeeste by. Dit is net ʼn breukdeel van die Afrikanervolk, maar daar is aanduidings dat die bywoning toeneem. Dit wys ook dat die volk nog nie dood is nie, ten spyte van alle individualisering.
Die Geloftefees is ʼn jaarlikse instelling in Orania, wat elke jaar volgens dieselfde patroon afloop, en wat die jaarlikse feesdag is wat deur die meeste Oraniërs en talle besoekers bygewoon word. Daar is sowel ʼn erediens, omdat die Voortrekkers belowe het om Geloftedag jaarliks soos ʼn Sondag te herdenk, asook ʼn toespraak wat die geskiedkundige gebeure vertel en in perspektief plaas. Party mense trek tradisionele drag aan vir die geleentheid, wat altyd ʼn mooi gesig is. Na die tyd word gesellig verkeer in familieverband of as vriendekringe, met Afrikaner-lekkernye soos gemmerbier en koek, en natuurlik braaivleisvure, en die res van die dag is ʼn rusdag, die winkels is gesluit.
Natuurlik kan Geloftedag nie die enigste ritueel wees wat die volk uitmaak nie. Op ʼn meer informele manier is Saterdag se braai, saamkuier en rugby kyk ʼn naweekritueel, en in talle gevalle ook nog die Sondag-erediens. Godsdiens moet meer as net ʼn ritueel wees, maar uit die ritueel en die gewoonte wat in kulturele verband beoefen word, groei ‘n dieper bewuswording. Rituele is nie al wat ʼn volk uitmaak nie, daar moet ook ʼn gemeenskaplike taal, geskiedenis, godsdiens ensovoorts wees.
Rituele is egter deel van ʼn kultuur, en ʼn kultuur maak ʼn volk uit. ʼn Volk met sy eie kultuur kan aanspraak maak op selfbeskikking. Rasse, klasse of mense met gedeelde oortuigings kan nie.
Koester dus jou rituele wat jou as Afrikaner uniek maak. Ek hoop groot getalle Afrikaners woon more Geloftedagvieringe oor die hele land by, sodat ons vir die land en die wêreld kan wys: Ons is ʼn volk, ons is nog hier, en ons is hier om te bly.
Die voortrekkermonument was stampvol op 16 Des.
Dit is bemoedigende nuus. Daar is inderdaad tekens van ‘n Afrikaner-herlewing.