fbpx

Gewaardeerde mede-Afrikaners,

meneer die voorsitter,

Ons Afrikaners het besondere stof tot dankbaarheid om vandag, op 16 Desember 2016, 178 na die Slag van Bloedrivier te vergader. Die blote feit dat ons hierdie sin kan uiter, naamlik dat ons dankbaar kan wees om op hierdie dag byeen te wees, is uiters veelseggend, want dit getuig daarvan dat ons nie slegs die bestaanskrisis van 1838 oorleef het nie. Dit getuig daarvan dat ons al die ander krisisse sedert daardie datum oorkom het en dat ons vandag steeds as kultuurgemeenskap leef. Dit getuig van ruim Goddelike genade wat deurlopend oor ons is en bevestig daarom, dat dit inderdaad paslik is dat hierdie dag soortgelyk aan ʼn Sabbat gedenk kan word.

Maar Afrikaners het nie slegs oorleef nie. Ons het gedy.

–          Die klompie duisende wat ons toe was, het uitgebrei tot etlike miljoene;

–          Ons het ons armoedigheid agtegelaat en ons is vandag grootliks ʼn welvarende gemeenskap;

–          Ons het toe nouliks ʼn taal gehad. Nou het ons ʼn moderne taal wat alle funksies net onderskeiding kan vervul;

–          Ons is nou ʼn gemeenskap wat bestaan uit mense met bekwaamhede en vaardighede wat die totale spektrum van menslike aktiwiteit dek. Ons is geleerd en vaardig;

–          Ons kan vandag terugkyk op ʼn geskiedenis wat net soos die van enige ander gemeenskap gekenmerk word deur dwaasheid, maar net soos die van enige ander suksesvolle gemeenskap gekenmerk word deur wysheid, vindingrykheid, prestasie, energie en heldedom.

Wanneer ons oor ons huidige tydsgewrig rekenskap gee, moet ons tereg verklaar dat ons opnuut in ʼn krisis verkeer, maar wanneer ons, ons geskiedenis sedert 1838 oorweeg en kyk waar ons nou in teenstelling met toe staan, het ons nie net rede tot diepe dankbaarheid nie maar inderdaad oortuigende rede vir selfvertoue en hoop op die toekoms.

ʼn Volk bestaan danksy baie dinge. Een van die belangrikste daarvan is dat ʼn volk van homself bewus moet wees. Hy moet ʼn kollektiewe intelligensie hê. Die lede van ʼn volk moet die wete hê dat hulle tot ʼn volk behoort. Hulle moet weet dat hulle ʼn besondere geskiedenis het wat hulle van ander mense onderskei. Hulle moet weet dat hulle oor besondere eienskappe beskik.

Sonder sodanige intelligensie – ʼn selfbewussyn – is ʼn volk oplaas onbestaanbaar, want sonder daardie selfbewussyn kan hy nie sy situasie na waarde skat nie. Hy kan daarsonder nie weet of dit met hom goed of sleg gaan nie. Hy kan daarsonder nie aandag aan homself gee nie. Hy kan nie sy eie swakhede, prestasies en bedreigings insien nie. Hy kan homself nie beskut nie. Hy kan nie skaam kry oor sy foute en dit probeer regstel nie. Hy kan nie trots wees op homself vanweë sy prestasie nie. Hy kan nie verantwoordelikheid vir homself aanvaar, eie instellings skep om homself te bestendig nie en hy kan in die afwesigheid van ʼn eie intelligensie ook nie vyande en vriende erken en verhoudings met ander gemeenskappe aanknoop nie.

Dit is gevolglik ter sake om te vra hoe dit met Afrikaners se kollektiewe intelligensie – se selfbewussyn – gesteld was en nou is omdat daar soos aangedui daarsonder geen Afrikanervolk kan wees nie.

Afrikaner-selfbewussyn allermins ʼn vanselfsprekende gegewe. Dit was vir lang tye beswaarlik aanwesig met die gevolg dat iets soos ʼn Afrikanervolk nouliks bestaan het. Daar is verskeie sodanige tydperke. Veral twee, met die klem op die tweede een word hier vermeld.

Die eerste het betrekking op die tweede helfte van die negentiende eeu. Betreklik kort na die aflegging van die Gelofte van 1838 en die Slag van Bloedrivier het die bewussyn van ʼn eie volk en die behoort tot ʼn eie volk beduidend vervaag, in so mate dat dit ʼn ope vraag was of iets soos ʼn Afrikanervolk hoegenaamd bestaan het. Dit het, onder andere, daarin tot uitdrukking gekom dat die Gelofte grootliks vergete geraak het. Inwoners ten noorde van die Vaalrivier, wat as die Transvaalse Republiek en later die Zuid-Afrikaansche Republiek bekend gestaan het, was in die tydperk van die 1850’s tot laat in die 1870’s in ʼn mindere of meerdere mate in ʼn toestand van anargie. Bedreigings kon moeilik die hoof gebied word onder andere vanweë die feit dat vir sover daar hoegenaamd ʼn georganiseerde publieke gemeenskap van die aard van ʼn staat bestaan het, die staatskas basies leeg was en burgers dikwels erg traag was om kommandodiens te lewer. Van kulturele bedrywighede en formele onderwys wat die voorwaarde vir ʼn volk se selfbewussyn is, was daar in die destydse Transvaal eintlik bykans geen sprake nie. Die risiko van, en trouens die daadwerklike verskynsel van veragtering was deurlopend teenwoordig.

In die Vrystaat het dit ietwat beter gegaan. Ten minste was daar ʼn beter georganiseerde gemeenskap – in die vorm van ʼn meer daadwerklike republiek. Nogtans was daar nouliks ʼn Afrikanerbewussyn. Vanweë die Basotho-oorlog van die 1860’s was daar wel ʼn soort Vrystaatse nasionale bewussyn. Van ʼn Afrikanerbewussyn, soos ons dit later tot uitdrukking gekom het, was daar nouliks sprake. Per slot van sake was daar nog nie eers iets soos ʼn Afrikaanse skryftaal waarmee ʼn gemeenskap objektiewe uitdrukking aan homself kon gee nie. Bowendien was die Engelse taal- en kulturele invloed in die Vrystaat besonder sterk en was ʼn dorp soos Bloemfontein – die belangrikste kultuursentrum ten noorde van die Oranjerivier – meer ʼn Engelse dorp as wat dit ʼn Afrikanerdorp was. Die Vrystaat was ook polities sterk koloniaal- eerder as republikeinsgesind. Dienooreenkomstig was daar ’n sterk beweging om polities met die Britsbeheerde Kaapkolonie eerder met Transvaal te vereenselwig.

Die Kaapse Afrikaners het tot met die opkoms van die Genootskap van Regte Afrikaners en die Afrikanerbond in die laat 1870’s en vroeë 1880’s nouliks enige selfbewussyn as Afrikaners gehad. Verengelsing het hoogty gevier. Selfs in die Nederlandse skole van daardie tyd is die meeste van die vakke in Engels aangebied. In die Weskaap was dit hoogmode om te verengels. Selfs by sosiale geleenthede onder jongmense was die keuse om eerder Engels te praat. Onder die enkeles wat wel ʼn taalbewussyn gehad het, was die vooruitsig vir die voorbestaan van die destydse Nederlands (en proto-Afrikaans) om goeie rede baie swartgallig. Van ʼn strewe na politieke vryheid was daar geen sprake nie.

Natal verteenwoordig ʼn ironie. Natal was die speerpunt van die Groot Trek. Hier is die grootste opofferings wat betref lewensverlies en vermoënsskade, gemaak. Hier is die Gelofte afgelê en hier is die Slag van Bloedrivier gelewer. Dog, etlike jare hierna was die Republiek van Natalia daarmee heen en het die vooruitsig vir Afrikanervryheid in hierdie geweste permanent verdwyn. Hier kon daar nouliks van Afrikanerselfbewussyn sprake wees, aangesien die Afrikaners grootliks uit Natal onttrek het.

Vir baie lank gedurende die tweede helfte van die negentiende eeu was daar dus nêrens in Suid-Afrika enige noemenswaardige Afrikaner-selfbewussyn nie en het die Afrikanervolk wesenlik sy eie bestaan opgeskort. Dit was eers met die suksesvolle Transvaalse opstand in 1880-81 wat ons vandag as die Eerste Vryheidsoorlog ken, toe ʼn bykans  nie bestaande Afrikanervolk as’t ware die opskorting van sy bestaan oorkom en sy lewe as ʼn volk voortgesit het. Die oorlog en veral die Slag van Majuba gepaard met die groei van die Genootskap van regte Afrikaners, het ʼn Afrikaner-selfbewussyn dwarsoor Suid-Afrika gaande gemaak en gevolglik die Afrikaner as’t ware in aanskyn geroep.

Dit is hierdie Afrikanervolk wat oor die lengte en breedte van wat later Suid-Afrika geword het, vanaf 1899 tot 1902 die stryd teen Brittanje aangeknoop het, toe Afrikaners van sowel die Republieke as die Britse kolonies in stryd met Brittanje getree het. Dit was juis danksy die feit dat Afrikaners waar hulle ook al was, ʼn kollektiewe intelligensie gehad het, dat hulle hierdie stryd – ʼn egte volkstryd kon aanknoop, wat tot vandag – en vandag trouens meer as enkele dekades gelede – die hoofbron van Afrikanerheldedom is.

Gedurende die verloop van die twintigste eeu het die Afrikanervolk na ʼn ongekende ekonomiese geswoeg en ʼn energieke kultuurpolitiek ongekende prestasies behaal. Afrikaans het naas enkele ander tale wat dit in hierdie eeu kon vermag ʼn taal van hoogkultuur en letterkunde geword, wat die segsvermoë ontwikkel het om op elke lewensterrein doeltreffend aangewend te word. Afrikaners het in Afrikaans, meer bepaald by wyse van skoolopleding, voortgesette tegniese opleiding en universitêre opvoeding in Afrikaans gemoderniseer, op elke lewensterrein gepresteer en welvarend geword. Die verskynsel van Afrikaner-minderwaardigheid teenoor die gewaande inherent meer verhewe Engelse kultuur het juis vanweë hierdie Afrikanerprestasies verdwyn. Daar was werklik geen gronde meer vir enige vorm van minderwaardigheid nie. Die Afrikanervolk hoef nie in die Britse-Engelse wêreld geassimileer te word ten einde deel van die universele mensdom te wees nie. Inteendeel, die Afrikanervolk, het soos met alle volke behoort te wees, sy deelagtigheid aan die universele mensdom aan die hand van sy eie eiesoortigheid – sy eie taal en kultuur – verwerf.

Afrikaners het ook polities, administratief en militêr presteer. In die huidige tydsgewrig word dit dikwels as onaanvaarbaar beskou om hierop te wys. Onaanvaarbaarheid kan egter nie die daadwerklike waarheid troef nie. Die feit is dat Afrikaners fenomenale staatsbouers was. Die Suid-Afrikaanse staat onder die Nasionale Party met die hoogtepunt onder Verwoerd was ʼn uiters doeltreffende glad geadministreerde staat, wat oral – plaaslik en in die buiteland – enorme vertroue ontlok het. Sy ekonomiese groeikoers gedurende die Verwoerd-tydperk, onder andere, deur buitelandse beleggings gestimuleer, was tekenend hiervan. Net so tekenend was die grootskaalse Europese immigrasie na Suid-Afrika gedurende hierdie tydperk. Die regspleging was uitstekend. Die staatsdiens doeltreffend. Die polisie betroubaar en die weermag toenemend gedug. Die huidige Zuma-staat steek inderdaad sleg af teen die destydse Verwoerd-staat.

Die suksesvolle Afrikanerstaat wat vanaf 1948 onder die Nasionale Party ontwikkel is en in die 1960’s en die 1970’s sy hoogtepunt bereik het, het egter ʼn ironies nadelige uitwerking op Afrikaners gehad. Wat dit gedoen het, was juis om Afrikanerselfbewussyn beduidend te laat vervaag. Trouens, die benadeling het verder as vervaging van selfbewussyn as Afrikaners gegaan aangesien baie Afrikaners stilweg ʼn identiteitsverwisseling ondergaan het. Hulle het hulle Afrikanerskap agtergelaat en in toenemende mate Suid-Afrikaners geword. Die Suid-Afrikaners in plaas van Afrikaners, wat baie Afrikaners geword het, het in twee variasies voorgekom.

Die eerste was dat Afrikaners hulle met hul suksesvolle staat vereenselwig het. Dienooreenkomstig het baie Afrikaners hulle primêre selfbelewenis as Afrikaners laat vaar om eerder burgers van Suid-Afrika te word. Hulle het primêr Suid-Afrikaners, dit wil sê deel van ʼn kultureel grootliks ongedefinieerde Suid-Afrikaanse nasie geword. Dit het in ʼn sekere mate onopgemerk gebeur, want Afrikanerinstellings was per slot van sake op hulle sterkste en Afrikaanstalige instellings soos enkelmediumskole, tegniese kolleges en universiteite op hulle hoogtepunt. Dog, al hierdie instellings het stilweg ʼn grondige verandering ondergaan, naamlik om in hul selfbelewenis al hoe meer Suid-Afrikaans te word in plaas van die as draers van ʼn kultuur-gedefinieerde Afrikanerskap. Van buite gesien was dit verstaanbaar dat dit gebeur het aangesien Afrikaners wat die hoofouteurs van die Suid-Afrikaanse staat was, ’n groot sukses van dié staatbouprojek gemaak het, en ten slotte baie trots daarop was. Presies as gevolg hiervan het Afrikaners hulself egter in toenemende mate begin ophef ten einde in ʼn meer omvattende groter Suid-Afrikaanse staatsgemeenskap geassimileer te word. Hoe suksesvoller die Suid-Afrikaanse staat onder Afrikanerbeheer, des te trotser het Afrikaners op hulle Suid-Afrikaanse staat geword en het hulle, hul identiteit laat vaar ten einde in die Suid-Afrikaanse nasie op te gaan.

Suid-Afrika het dus sy tol toenemend geëis deurdat Afrikaners onder die einste Nasionale Party, wat veronderstel was om Afrikaner-selfbewussyn te bevestig, juis toenemend al hoe meer Suid-Afrikaans geword. Onder die vaandel van Afrikanerskap het Afrikaners, primêr met Suid-Afrika vereenselwig en toenemend Suid-Afrikaans geword. Anders gestel: onder die vaandel ban Afrikaner-nasionalisme – die NAT-vaandel – het Afrikaners toenemend Suid-Afrikaans – SAP – geword. Aangedryf deur ons eie projek van Suid-Afrikanistiese nasiebou in ons eie suksesvolle Suid-Afrikaanse staat was ons besig om onsself ongedaan te maak. Hierdie denk- en handelswyse is veral met die Nasionale Party sedert die 1970’s vereenselwig.

Die tweede variasie van Suid-Afrikanerskap voor die aanvang van die grondwetlike oorgang waarin Afrikaners in die toenmalige Afrikaner-beheerde Suid-Afrikaanse staat opgegaan het, was in Blank Suid-Afrika. Toenemend vereenselwig met anderstalige blankes, meer bepaald Engelssprekende Suid-Afrikaners, het Afrikaners hulself algaande meer as deel van ʼn groter “Blankedom” beleef. Afrikaners het in die Blanke Volk van Suid-Afrika opgegaan. Net soos die eerste variasie, was dit ook ʼn Suid-Afrikanisme. Dit het ook voortgespruit in die primêre vereenselwiging met die staat eerder as met die volk. Anders as die eerste variasie het dié een, die Suid-Afrikaanse nasie meer uitdruklik in rasseterme – ʼn Blanke Volk – beskryf. Hier het ons dus ook met ʼn Suid-Afrikanisme te doen. Hierdie SAP-denkwyse anders as die eerste was egter wit. Sy wortels gaan ver terug. Gedurende die laaste twee dekades voor die grondwetlike oorgang van 1994, het hierdie denk- en handelswyse die sterkste in die eertydse regse partye tot uitdrukking gekom.

Die slotsom is dat Afrikaners in die laaste twee tot drie dekades voor 1994 toenemend ʼn verlies van selfbewussyn beleef het. Afrikaners was al hoe minder Afrikaners en al hoe meer Suid-Afrikaners, of dit nou South Africans in die algemeen of white South Africans was. Afrikanerskap was onder die invloed van ons destydse politieke beheer oor Suid-Afrika, toenemend die slagoffer van ons eie Suid-Afrikanistiese nasiebou-projek.