Neerhalende, selfs hatige artikels oor Orania is so oud soos Orania self. In meeste gevalle sê dit meer van die skrywers se blindheid as van die toestand van Orania. Alhoewel Orania geweldig gevorder en verander het oor die afgelope jare, is die artikels oor Orania van destyds en van nou, veral in die buitelandse nuusbronne, feitlik identies. Omtrent almal se opskrif is ʼn variasie op die “wit dorp/laaste uithoek van apartheid/armsalige, armlastige woestyndorp” tema, wat ʼn anachronisme in die wonderlike reënboognasie is. Fotos wat gebruik word, word gewoonlik van die internet afgetrek en wys ʼn Orania van 10 of selfs 20 jaar gelede, die foto van die Verwoerdbeeld wat oor die dorp uitkyk (en al meer as 10 jaar nie meer daar staan nie) is altyd deel daarvan. Ons kan aanhou om te verduidelik dat selfbeskikking ʼn reg is, dat die Afrikaner ʼn kultuurgemeenskap is, dat ons na onsself moet omsien omdat daar teen ons gediskrimineer word ens., die effek op die joernaliste se vooropgestelde opinie is feitlik nul. Onlangs was daar weer ʼn artikel op CNN (Artikel) wat ʼn handboekvoorbeeld was van die soort beriggewing oor Orania spesifiek en die Afrikaner in die algemeen. Skeefgetrekte statistieke word aangehaal wat moet bewys dat ons nie rede het om te kla nie en dat dit met ons veel beter gaan as met die meerderheid swart mense in Suid-Afrika wat misdaad en werkloosheid betref.
Ten spyte van wat ek geskryf het, hoef ons nie moedeloos te raak oor die media nie. Die media is magtig en het hulle agenda, maar hulle mag is besig om te krimp. Die internet en sosiale media het die houvas wat die sogenaamde hoofstroommedia op mense se denke gehad het, verbreek. Selfs die CNN-artikel gee toe dat Orania deel is van ʼn nuwe en kragtige golf, al word dit deur die skrywer as ʼn negatiewe een beskou: ”The splintering of a portion of South Africa’s Afrikaner community is only a microcosm within a much larger trend. In the wake of Brexit, the rise in nationalist movements in Europe and arguably the United States, directly or indirectly through president-elect Donald Trump, isolation has become a hot topic.” Om hierdie sin in Afrikaans te dekodeer: Orania en dit waarvoor dit staan is nog steeds verfoeilik (vir CNN en ander linkse meningsvormers), maar is deel van ʼn nuwe tendens. Selfs ʼn negatiewe artikel in ʼn internasionale medium soos CNN maak ʼn hele paar potensiële ondersteuners van Orania, wat tussen die lyne kan lees, bewus van ons strewe. Ook ek het die eerste keer oor Orania gelees in ʼn negatiewe, neerhalende artikel maar kon nog steeds my eie afleidings maak. Daagliks vat ons tientalle besoekers op toere en werklik almal gaan met ʼn beter opinie oor Orania hier weg, of is selfs so beïndruk dat hulle by die Orania Beweging aansluit, ander mense aanmoedig om ons te besoek en besluit selfs om later hier te kom bly.
My dank aan almal wat op die een of ander manier gehelp het om Orania se boodskap oor te dra, synde deur ʼn brief in die koerant, deur met vriende te praat, deur ons DVD en pamflette te versprei, deur hier tyd te spandeer. Na harde werk begin die boom vrugte afwerp. Ons boom is nog klein, maar lewenskragtig en groeiend. Die magtige links-liberale media se groot en ou boom is hol. Die winde van verandering sal dit in die toekoms omwaai, die takke breek nou reeds af. CNN moes sy eie magteloosheid beleef toe hulle met die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing moes besef, soos die uitslae ingekom het, dat hulle voorspellings, beïnvloeding van die kiesers en wensdenkery oor mev. Clinton se oorwinning totaal verkeerd was. Daar is niks so sterk soos ʼn idee waarvoor die tyd ryp geword het nie (met erekenning aan prof. Carel Boshoff). Die tyd is besig om te kom. Of, om die woorde van Mohandas Gandhi te gebruik: “First they ignore you. Then they ridicule you. Then they fight you. Then you win.”
Net so! Al wat my regtig verbaas het van die CNN artikel is die feit dat hulle ons so verpes dat hulle die ongekende moord en misdaad teen blankes oor die algemeen, en blanke boere in besonder, afmaak asof ons net paranoïes is en nie eintlik ‘n probleem daarmee behoort te he nie. Hulle glo dis regtig nie so erg nie… Ek dink dis siek. Geen mens, wit of swart, verdien om so gemartel en vermoor te word nie. Hul onkunde maak my naar. Maar ja, soos jy se Sebastiaan – ons moet net aanhou doen wat ons doen want dit werk.
Dankie Sebastiaan.ek wil ook net graag noem dat julle gerus die volgende glad besoek oor Orania wat sleggesê word. Die blad se naam is Orania Ontbloot en word bedryf deur Liebenberg van Vanderkloof.
Ek het die resensie van Kajsa Norman se boek in Politicsweb heel goed gevind.
Dit het gelyk of Norman deur persoonlike kontak, ‘n in-diepte kennis van die Afrikaner opgebou het.
Daarenteen is die CNN artikel nie gegrond op eerstehandse kennis nie maar selektiewe aanhalings uit Norman se boek en ander tweedehandse bronne.B6Z4
http://www.politicsweb.co.za/opinion/the-afrikaners-fight-for-survival?utm_source=Politicsweb+Daily+Headlines&utm_campaign=0bb6b7ff58-EMAIL_CAMPAIGN_2016_12_18&utm_medium=email&utm_term=0_a86f25db99-0bb6b7ff58-140207981
Ek was nog self nie in Orania.Maar ek dink dit gebeur oral in die land waar mense kies waar hulle wil woon. Orania is niks verskillend van die beginsel.
ń Lieflike gedagte om mee die ou jaar af te sluit.
Dankie Sebastiaan.
Onbekend maak onbemind.
Ons het my swaer en skoonsuster verlede week aan Orania bekend gestel en onder meer Geloftefees bygewoon. Hulle het iets heel ander aangetref as wat hulle verwag het en dra reeds geesdriftig die boodskap van “Julle MOET Orania besoek!” uit.
Hulle was werklik beïndruk en die Geloftefees was ‘n algehele hoogtepunt.
Baie goeie artikel. Ek sê nog altyd dit help nie om die hoofstroom media te paai nie. As hulle nie fout vind nie lieg hulle eenvoudig of hulle publiseer liewer niks. Daar is nie n manier wat Orania n voordelige artikel sal sien in n hoofstroom media koerant nie. Ek sou nie media toelaat nie of minstens ignoreer het. Niks goed kan daarvan kom nie. Sosiale media en blogs soos hierdie is al wat julle nodig het.
Ek verskil. Die boodskap van Orania en Afrikanerskap moet juis uitgedra word. Verder is ek nie daarvan bewus dat die “hoofstroom media” doelbewus lieg oor Orania nie. Ja, onkundige joernaliste mag dalk onbewustelik halwe waarhede publiseer. Daarom is dit juis so belangrik dat die sogenaamde hoofstroom media kennis neem van waarvoor Orania staan en die waardevolle werk wat in Orania gedoen word.
Ek sê weer: Onbekend maak onbemind!
John Vorster het by geleentheid gesê dat mens nie skoor moet soek met iemand wat sy drukkersink in dromme koop nie. Dit was baie waar gewees. Toe het die hoofstroom media ‘n monopolie op die versameling, ontleding en verspreiding van nuus gehad. En in die laaste paar dekades het hulle hierdie monopolie aggresief gebruik om hulle eie sosio-politieke utopie te propageer en te verkoop. In stede van ‘n bron van inligting te wees, het hulle eerder in bronne van indoktrinasie ontaard. Maar tegnologie het met die tyd hierdie monopolie vernietig. Deesdae het jy nie meer ink nodig nie, maar bandwydte – en dit het goedkoop geword – elkeen kan dromme-vol daarvan bekostig. Brexit en Trump het net hierdie grondverskuiwing bloot gelê. Die massa media is nie meer die enigste bron van inligting nie. So wat CNN (Clinton News Network!!) ookal sê, hulle is gelukkig nie meer die enigste bron van inligting oor Orania nie.