by Jaco Kleynhans | Aug 3, 2014 | Nuus |
Die liberale Amerikaanse skrywer Jonathan Haidt, skryf in sy boek, The Righteous Mind, dat die morele geheue van liberale mense op twee beginsels geskoei word. Eerstens kyk liberaliste na benadeling en tweedens na regverdigheid. Alle benadeling in die wêreld soos armoede, inkomste-ongelykhede en onderdrukking moet reggestel word en ‘n bedeling geskoei op absolute regverdigheid moet geskep word.
Vir liberaliste lê die oplossing vir benadeling in aktiewe planne om ongelykhede uit te wis en om te verseker dat nuwe ongelykhede nie geskep kan word nie. Sulke aktiewe planne vereis meestal ‘n effektiewe regering wat deur regulasie, belasting en die penalisering van individue of instellings wat ongelykhede veroorsaak, die speelveld voortdurend gelyk maak. Liberaliste is meestal skepties oor privaat en gemeenskapsinisiatiewe wat streef om ongelykhede reg te stel en voel dat slegs ‘n regering wie met ‘n spesifieke mandaat om ongelykhede reg te tel verkies word, wel daarin kan slaag.
Volgens Haidt is die beginsels van benadeling en regverdigheid ook belangrik vir konserwatiewe mense, maar hulle voeg egter nog drie verdere morele beginsels by, naamlik lojaliteit, gesag en suiwerheid. Konserwatiewe mense baseer hul morele beginsels baie meer op geloof en die rol van die kerk en gemeenskapsinstellings in hul lewens. Probleme van benadeling en die skep van ‘n regverdige bedeling word deur konserwatiewe mense vanuit die oogpunt van naasteliefde en gemeenskapsdiens beskou.
Vir liberale mense is dit moeilik om te dink dat ‘n beter wêreld vanuit die gemeenskap geskep kan word, terwyl konserwatiewe mense juis dink dat ‘n beter wêreld slegs moontlik is wanneer die kerk, skool, kultuurvereniging maatskaplike inisiatiewe en ander gemeenskapsinstellings verantwoordelikheid vir die hantering van ongelykhede in die gemeenskap neem.
Een goeie voorbeeld waar hierdie konflik afspeel is in die onderwys. Konserwatiewe ouers voel dat dit juis die ouergemeenskap moet wees wat moet bepaal op watter beginsels hul kinders se skool bedryf moet word. Ouers, die kerk en kultuurorganisasies moet saamwerk met privaat individue en ondernemings om ‘n suksesvolle skool daar te stel. Liberaliste daarteenoor voel sterk oor universele beginsels en sentrale beheer. Die betrokkenheid van die kerk en kultuurorganisasies in onderwys word verwerp.
Die gevolgtrekking kan gemaak word dat liberale mense die wêreld uiters eenvoudig beskou en so ook die skep van oplossings vir benadeling as ‘n eenvoudige proses sien. Tog het hierdie eenvoudige uitkyk op probleme van benadeling homself keer op keer in die wêreld verkeerd bewys. Min mense het waardering vir oplossings wat nie uit hulself en die instellings waarmee hulle assosieer kom nie. So het min mense waardering vir die oplossings van ‘n regering en word hierdie oplossings meestal as te min te laat beskou. Hoeveel mense wat welsynsgeld kry voel dit is voldoende? Hoeveel ouers in staatskole voel dat die regering genoeg befondsing vir onderwys bied?
Oplossings wat vanuit eie inisiatief kom word egter sterk gewaardeer en is veel meer volhoubaar omdat mense besef watter insette nodig was om hierdie inisiatiewe te laat slaag. Die toenemende liberale neiging in Suid-Afrika om die hantering van benadeling as ‘n eksterne proses te sien, is onvolhoubaar. Konserwatiewe beginsels soos gesag, lojaliteit en suiwer Bybelse waardes is dalk net wat nodig is om ‘n beter, volhoubare bedeling te skep.
by Jaco Kleynhans | Jul 16, 2014 | Nuus |

“ ‘n Mens hoef nie te hoop om te onderneem, of te slaag om te bly volhard nie.” Dit is die wyse woorde van een van die grootste leiers uit ons verlede, Willem van Oranje. Op 10 Julie vanjaar was dit presies 430 jaar na die lafhartige moord op die Vader des Vaderlands, soos wat Willem van Oranje onder sy mense bekend gestaan het. Willem van Oranje was ‘n groot leier vir Protenstantse Nederlanders. Hy het ‘n belangrike rol gespeel in die Nederlanders se sukses tydens die tagtigjarige-oorlog. Koning Philips II van die Spaanse ryk het met ‘n ystergreep oor die Nederlande regeer en die Katolieke geloof is op burgers afgedwing. Die Nederlanders moes hoë belasting aan die koning betaal terwyl hul weinig daarvoor inruil ontvang het. Die Nederlanders het gedurende die sestiende eeu grootskaalse sukses deur handel behaal wat hul belastinglas voortdurend verhoog het.
Die Spaanse Ryk was tot en met die jaar 1700 deel van die Habsburg Monargie. Die Habsburg Monargie was daarop uit om die hele wêreld te regeer deur die Katolieke geloof op oorwonne volkere af te dwing. Die Nederlande is in 1543 deur die Spaanse Ryk verower. In 1568 breek die tagtigjarige oorlog uit. Hoewel Koning Philips aanvanklik sukses bepaal gee die noordelike Nederlande, wat intussen toenemend Protestants geraak het, nie moed op nie en hou aan veg. In 1581 behaal hulle sukses en word die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande geskep.
Die tagtigjarige oorlog kom eers in 1648 tot ‘n algehele einde. Drie jaar na die totstandkoming van die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande word Willem van Oranje op 10 Julie 1584 deur ‘n Fransman in sy woning in Delft doodgeskiet. Wat is die relevansie hiervan vir die Afrikaner? Willem van Oranje was en is vandag nog dié sentrale figuur in die Nederlanders se stryd om selfbeskikking. Die tagtigjarige oorlog het gegaan oor die vryheid van ‘n volk om oor homself te regeer.
Die oorlog het egter ook oor godsdiensvryheid gegaan. Die onderdrukking van Protestante in Wes-Europa gedurende die sestiende en sewentiende eeu is welbekend. Baie van hierdie Protestante het na die vestiging van ‘n handelspos en uiteindelik ‘n volwaardige kolonie deur die Nederlanders, in die Kaap kom vestig. Baie van die einste Protestante wat aan die Kaap kom vestig het en dus ons as Afrikaners se voorsate is, was op hul beurt nasate van die Nederlanders wat saam met Willem van Oranje om vryheid vir die Nederlande geveg het. Ons het dus ‘n direkte band met Willem van Oranje en die stryd om vryheid wat hy meer as 400 jaar gelede gelei het.
Willem van Oranje is nie net vir Nederlanders nie, maar ook vir Afrikaners ‘n groot historiese leier wat onthou en herdenk moet word. Willem van Oranje se leuse was altyd: “Ek sal handhaaf!” Hy het ons daaraan herinner dat selfs wanneer daar geen hoop om sukses is nie, ons steeds moet volhou en volhard. Afrikaners kan gerus Willem van Oranje as volksheld herontdek en leer uit sy voorbeeld, deursettingsvermoë, nederigheid en bowenal sy diep geloof en vertroue in God. Dan sal vryheid ‘n werklikheid kan word.
by Jaco Kleynhans | Jul 10, 2014 | Nuus |
Die wêreld herdenk vandeesmaand die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog 100 jaar gelede. Meer as nege miljoen mense het, in wat as een van die bloedigste oorloë tot nog toe beskou kan word, hul lewens verloor. Die Eerste Wêreldoorlog behoort onthou te word, nie vir die kortstondige vrede wat na die Verdrag van Versailles gevolg het nie, maar eerder vir die mate waartoe die afloop van die oorlog en sy verskeie vredesverdrae tot langtermyn onstabiliteit, veral in Oos-Europa en die Midde-Ooste gelei het en hoe dit die weg gebaan het vir die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Dit is juis die groot verlies aan grondgebied en die totale vernedering van onder andere die Duitsers en Russe wat aanleiding gegee het tot nasionalisme, fascisme, haat en uiteindelik revolusie. Sou die oorwinnaars eerder vredemakers as oorwinnaars wou wees, sou die Tweede Wêreldoorlog verhoed kon word.
Behalwe hiervoor het die uitkoms van die Eerste Wêreldoorlog meegebring dat talle minderhede skielik onder die beheer van vreemde regerings geval het. Miljoene Hongare was skielik ‘n minderheid in Roemenië, Joego-Slawië en Tsjeggo-Slowakye. Honderde duisende Tirolers moes skielik Italianers word. Ook in die Midde-Ooste is volkere wat nie bymekaar hoort nie in een land saamgeflans omdat dit die oorwinnaars se imperialistiese motiewe gepas het. Die val van die Ottomaanse Ryk het tot grootskaalse konflik in die Midde-Ooste gelei. Vir lank het die Ottomaanse Ryk daarin geslaag om redelike stabiliteit in die Midde-Ooste te verseker. Na die Eerste Wêreldoorlog het ‘n magsvakuum in die Midde-Ooste ontstaan.
Dit was veral die Britte onderleiding van hul minister van kolonies, Winston Churchill wat na die oorlog verantwoordelik was vir die opstel van nuwe landsgrense in die Midde-Ooste. Churchill se fokus was nie die bevordering van demokrasie, die regte van minderheidsvolkere of selfs net die bevordering van vrede en stabiliteit nie, maar eerder die versekering dat nuwe landsgrense vir die Britte maklik bestuurbaar was sodat hulle beheer oor oliebronne kon neem. Was die uitkomste van die Eerste Wêreld-Oorlog dus werklik ‘n strewe na ‘n meer stabiele en vreedsame samelewing? Sonder twyfel nie. Die uitkoms van die Eerste Wêreldoorlog was eerder ‘n vernedering van eens trotste volkere soos die Hongare, Duitsers en Russe. Dit was die teken van landsgrense wat oorwinnaars gepas het, maar vir dekades daarna nog tot onderdrukking, revolusies en politieke konflik sou lei. En helaas was die belangrikste uitkoms van die Eerste Wêreldoorlog dat die fondament vir die bloedigste konflik wat die wêreld nog gesien het, naamlik die Tweede Wêreldoorlog, gelê is.
Die les hieruit is dat oorlog altyd vermy moet word en dat dit meestal vermy kan word. Die Eerste Wêreldoorlog, net soos die Tweede Wêreldoorlog was onnodig. In beide oorloë het onder andere Brittanje en die VSA betrokke geraak in oorloë waarvan hulle eintlik nie deel moes wees nie. Sou hierdie magtige lande in 1914 hulself eerder vir vrede as konflik beywer het, sou die twintigste eeu dalk meer vreedsaam kon wees en sou ons vandag ‘n meer stabiele Midde-Ooste en meer sinvolle landsgrense daar en in Oos-Europa gesien het. Ongelukkig is die negatiewe nalatenskap van die Eerste Wêreldoorlog vandag nog op verskeie plekke sigbaar.
by Jaco Kleynhans | Jul 1, 2014 | Nuus |
Die Sokkerwêreldbeker wat tans in Brasilië plaasvind, wys op interessante wyses uit hoe Suid-Afrikaners volgens identiteit internasionaal identifiseer. Suid-Afrika se swak sokkerspan het nie eers vir dié toernooi gekwalifiseer nie en gevolglik behoort Suid-Afrikaners nie juis vreeslik direk in die Wêreldbeker belang te stel nie. Tog is ‘n daar baie Suid-Afrikaners wat vasgenael voor die kassie sit om sekere wedstryde dop te hou. Swart Suid-Afrikaners ondersteun enige Afrikaland, terwyl Afrikaners bankvas agter die Nederlandse span staan.
Die Nederlandse sokkerspan presteer vanjaar weer goed. Daarteenoor doen Afrikaspanne betreklik sleg. Sou jy die sosiale media hieroor gaan bestudeer, sien jy hoe verskeie Afrikaners elke Nederlandse oorwinning hul eie maak. Die Nederlandse span word ook elke Afrikaner se volksbesit. Netso assosieer swart Suid-Afrikaners sterk met die Afrikaspanne en selfs net met swart spelers in Westerse lande se spanne. Afrikaners beskou hulself lankal nie meer as vreeslik “Nederlands” nie en formele verhoudinge tussen die Afrikaner en Nederland is uiters beperk. Die Afrikaner se kultuur is ook in ‘n groot mate deur sy ervaringe in Afrika en deur Britse kolonialisme beïnvloed wat beteken dat daar vandag kulturele verskille tussen Afrikaners en Nederlanders is.
Tog assosieer Afrikaners met Nederland. Hierdie assosiasie beteken nie dat Afrikaners terughunker na Nederland of selfs net smag om meer “Nederlands” te wees nie. Nee die assosiasie met Nederland het veel meer te doen met die Afrikaner se totale vervreemding binne ‘n Suid-Afrika wat by die dag meer Afrikaniseer. Afrikaners voel ontuis in ‘n samelewing wat ver verwyderd is van dit waaraan hulle gewoond is. Regeringskorrupsie, nepotisme, kaderontplooiing, wrede misdadigheid en selfs net klein kultuurverskille soos “Afrikatyd” waaroor ons soms kan spot is alles deel van die vreemde Afrikabestel waarbinne ons moet funksioneer.
Die Afrikaner is ‘n Westerse volk wat soos ‘n klein boodjie op die Afrika-see ronddobber. Hy staan uit of hy nou wil of nie. Na elke oorwinning van die Nederlandse sokkerspan is daar swartmense wat op plekke soos Twitter en Facebook sarkasties sê dat Afrikaners seker nou feesvier. Politieskorrekte Afrikaners sal probeer om daarvan weg te skram. Dit is verkeerd. Afrikaners moet met trots met ander Westerse volke assosieer. Ons moet juis meer en nie minder nie ander Westerse volke ondersteun en vriendskapsbande mee smee.
Die Afrikaner se voortbestaan aan die suidpunt van Afrika is in die verlede nog elke keer verseker nie deur te Afrikaniseer nie, maar juis deur by ons sterk Westerse beginsels en kultuur te bly staan en dan waar nodig aan te pas om die uitdagings van Afrika te bowe te kom. Wanneer die Nederlandse sokkerspan of selfs die Belgiese of Duitse span speel mag en moet ons hulle ondersteun. Dit kan onder jonger generasies Afrikaners weer ‘n trots op hul Westerse kultuur en agtergrond wakker maak.
Soos wat swart Suid-Afrikaners solidariteit met ander Afrikane toon moet ons solidariteit met ander Westerlinge toon. Watter beter plek om daarmee te begin kan daar nou wees as op sagter nie politieke terreine soos sport?
by Jaco Kleynhans | Jun 24, 2014 | Nuus |
As jy aan Irak dink, dink jy noodgedwonge aan geweld en oorlog. Die VSA se agt-jaarlange oorlog in Irak wat vanaf 2003 tot 2010 geduur het en volgens ‘n nuwe studie van die Brown Universiteit se ‘Koste van oorloë-projek’ Amerika tussen 3.2 en 4 triljoen dollar gekos het, is steeds vars in die geheue. Byna 4500 Amerikaanse soldate het hul lewens tydens die oorlog verloor. ‘n Paar honderdduisend Irakese het op direkte of indirekte wyse weens die oorlog gesterf. Elke sent en elke lewe wat vir dié oorlog opgeoffer is, kan vandag as ‘n vermorsing beskou word.
Die totale mislukking van George W. Bush se droom van Westerse demokrasie in die Midde-Ooste speel vandag duidelik in Irak af. Die VSA se model van demokrasie is sterk gebou op ‘n homogene samelewing binne ‘n territoriale staat of minstens ‘n welvarende samelewing waar daar met groot gemak na die belange van minderhede omgesien kan word. Sowat 65% van Irak se bevolking is Shia-Moslems. Sedert die oorlog beheer die Shia-meerderheid die land se regering. Dit het tot ‘n opvlamming van hernude sektariese geweld gelei.
Sektariese geweld tussen die Shia-meerderheid en Sunni-minderheid is niks nuuts nie. Irak is vir die grootste deel van die twintigste eeu gekenmerk deur geweld, staatsgrepe, wrede diktatorskappe en die ysterhand van outoritêre heersers. Saddam Hoesein sal onthou word vir sy oorlog met Iran, die inval in Kuwait en sy gebruik van geweld en selfs chemiese wapens teen opstandiges. Nog ‘n minderheidsgroe, die Koerde maak tussen 17 en 23% van Irak se bevolking uit en is hoofsaaklik gesetel in die Noord-Ooste van die land. Hulle streef reeds vir lank na selfbeskikking en beheer die grootste deel van die Noord-Ooste van Irak.
Dit is egter die Sunni-minderheid wat gesorg het dat Irak weer die afgelope paar weke in die nuus is. Die sogenaame terroriste-organisasie “Die Islamitiese Staat van Irak en Sirië” het die afgelope tyd met geweld groot dele van die Noorde van Irak oorgeneem. Die ISIS soos wat die groep bekend staat is ‘n Sunni-groep met sterk bande in Sirië en Saudi-Arabië, twee lande met ‘n meerderheid Sunni-bevolking. Die ISIS streef na ‘n onafhanklike Sunni Islamitiese Staat.
Die volgehoue onafhanklikheidstrewe van Sunni’s en Koerde is net nog ‘n bewys dat die eenheidstaatgedagte en die mooi ideaal van Westerse demokrasie in Irak misluk het. Irak het eintlik met sy huidige landsgrense geen bestaansreg oor nie. Kan dieselfde nie ook gesê word oor Libië wat op die rand van ‘n burgeroorlog staan en Sirië wat reeds deur ‘n burgeroorlog verwoes is nie? Verskeie Afrikalande insluitende Nigerië en die Demokratiese Republiek van die Kongo ervaar voortslepende geweld weens die feit dat etniese groepe wat min met mekaar in gemeen het in een territoriale staat saamgegooi is.
Ten spyte van al die mooi woordjies oor minderheidsgroepe se reg op selfbeskikking hou die Verenigde Nasies en die Weste hulself egter steeds besig met pogings om mislukte territoriale state te laat slaag in plaas daarvan om hul vir ‘n herbedink van landsgrense te beywer. Irak se probleme sal eers ophou wanneer Irak nie meer bestaan nie en wanneer sy volkere elkeen hul reg op onafhanklikheid gekry het. Dit geld ook vir talle ander saamgeflansde lande.