by Jaco Kleynhans | Sep 3, 2014 | Nuus |
Die bekende Afrikaanse filosoof, skrywer en akademikus prof Danie Goosen lewer onlangs in ‘n toespraak ‘n pleidooi vir Afrikaners om meer land-gerig te wees. Land-gerig word in dié konteks as ‘n metafoor vir begrensing gebruik, terwyl see-gerig as metafoor vir onbegrensdheid dien. Mense wat land-gerig is wil die begrensing waaroor hul beskik in beskerming neem. Volgens Goosen is grense vir landkulture ‘n redding. Grense maak ‘n woning, ‘n egte tuiste, moontlik.
Grense bring sekerheid en geborgenheid, terwyl grensloosheid onsekerheid en tuisteloosheid meebring. Volgens Goosen is mense wat seegerig is, gefokus daarop om vry VAN iets te wees terwyl landgerigte mense daarop gefokus is om VIR iets vry te wees.
In die Westerse wêreld, en ook onder Afrikaners, is daar toenemend ‘n seegerigtheid eerder as ‘n landsgerigtheid. Mense wil bevry word van dinge wat beperkinge op hul plaas, maar hulle streef nie regtig daarna om vry vir iets te wees nie. Dit bring mee dat mense vry voel sonder om werklik ‘n sterk fondament te hê waarop hulle hul strewes kan bou.
Goosen noem vier dinge waarvoor mense vry kan en moet wees. Eerstens moet jy vry wees om grense om jou te trek en jou veiligheid daarbinne na te jaag. Tweedens moet jy vry wees om binne daardie grense gemeenskap te stig. Derdens moet jy vry wees om geregtigheid na te jaag en te sorg dat almal toekom wat hulle verdien en laastens moet jy vry kan wees om die hoogste na te streef.
Hierdie landgerigte ingesteldheid word gereeld in die Westerse wêreld as verstok en verouderd beskou. Dit word verbind met nasionalisme en in sommige gevalle selfs fascisme en liberale denkers doen groot werk om mense te oortuig om eerder ‘n see-gerigte ingesteldheid te volg en uit die begrensing van identiteit los te breek.
Tog het elke mens ‘n ingeboude sin vir plek. Die praktyk wys vir ons dat ‘n suiwer see-gerigte ingesteldheid nie volhoubaar is nie. Mense sonder grense is ook mense wat nêrens het om in ontstuimige tye na terug te keer nie. Jy word vrygestel van die gesag van jou kultuur, volk, gemeenskap en die tradisionele gesin. Wat is jy dan as jy aan niks behoort nie?
Die seegerigte mens raak toenemend weerloos as individu. Die landgerigte mens daarteenoor weet wie hy is, waarheen hy oppad is en het ‘n sterk ondersteuningsnetwerk van mense en instellings wat vir hom intree, hom onderskraag en hom help betekenis aan die lewe gee.
Volgens Goosen is nog ‘n onderskeid tussen die seegerigte en landgerigte mens die onderskeid tussen ruimte en plek. Die moderne wêreld word geregeer deur die gedagte van ruimte. Tog moet ruimte beheer word en indien die individue en sy verbintenisse dit nie beheer nie dan doen ‘n sterkerwordende staat dit. Vir die landgerigte mens kom beheer vanuit die orde van gesin, gemeenskap en volk.
Die Skotte se huidige strewe na onafhanklikheid is ‘n voorbeeld van landgerigtheid. So ook die strewe van die meeste minderheidsgroepe na selfbeskikking. Ook Afrikaners kan gerus meer landgerig wees en dus gefokus daarop om vry te wees vir onsself eerder as van onsself.
by Jaco Kleynhans | Aug 26, 2014 | Nuus |
Gedurende September vanjaar sal die “Toekoms Simfonie-instituut” in Baltimore in the VSA gestig word. Volgens Andrew Balio stigter van die instituut is die doel van die instituut om ‘n Renaissance van die simfonie-orkes mee te bring. Balio sien vandag ‘n moderne wêreld wat toenemend arm aan hoër kultuurfunksies is. In die Westerse wêreld is daar vandag ‘n totale verval van hoërkultuur. Musiek, kuns en literatuur vervlak voortdurend en mense se vermoë om hul eie taal keurig aan te wend bestaan in baie gevalle nie meer nie.
Vir die Afrikaner is die dae van NP van Wyk Louw, Miemie Coertse, Totius en ons verskeie simfonie-orkeste en kore bykans iets van die verlede. Ons musiek, literatuur en kuns het begin vervlak.
Balio vergelyk hierdie kulturele verval in die Weste in ‘n onlangse artikel met die vader van die veertiende-eeuse Italiaanse Renaissance, Francesco Petrarca, se belewenis van Rome in 1341. Petrarca ervaar die kulturele verval in Rome intens en is diep bekommerd oor die kulturele tradisie wat voor sy oë verdwyn. Hy skryf: “Hierdie tyd van ons het gevolglik bietjie vir bietjie van die rykste en soetste vrugte wat die boom van die kennis opgelewer het, laat wegval. Dit het die resultate van die arbeid van die mees roemryke manne, werke groter en beter as byna enigiets anders in die wêreld, weggegooi.” Petrarca is stomgeslaan oor die wyse waarop mense hul rug op hul ryk kultuurskatte gedraai het.
Hy beskou hierdie laagtepunt egter nie as finaal nie, maar eerder as ‘n geleentheid om ‘n nuwe visie te ontwikkel. Patrarca beskryf sy visie vir iets nuut en groot terwyl hy aanskou hoe Rome verval en hoe oorlog, hongersnood, burgerlike opstande, epidemies en ekonomiese agteruitgang die eens magtige ryk laat wegkrummel.
Hy skryf oor sy visie vir ‘n Italiaanse Renaissance: “Iemand kan sê: “Wat is dit alles, my vriend? Het jy besluit om ‘n gewoonte wat met inherente probleme oorlaai is en wat lankal in onbruik geraak het, te laat herleef en dit in die gesig van ‘n vyandige en weerspannige lotsbestemming? Waar sien jy die tekens van vertroue dat jy die Romeinse hoofstad met ‘n nuwe en ongewone lourierkrans sal wil versier? “Ja, ek sien, o my liewe menere; Ek sien inderdaad dit, o Romeinse burgers. Die intensiteit van my verlange is so groot dat dit my voldoende in staat stel om al die uitdagings van my taak te oorkom.”
Die vraag wat Balio vra is of ons vandag moet aanvaar dat ons konsertsale in die toekoms leeg en vervalle sal wees. Sal ons digbundels op die brandstapels beland? Sal ons kuns in kelders stof vergaar? Of sal ons vanuit hierdie kulturele laagtepunt die inspirasie kry om ‘n Renaissance te bewerkstellig? Francesco Petrarca het ‘n groot gees in die Italiaanse geskiedenis geword omdat hy kultuurherlewing kon bedink en inspireer.
Ons moet almal hoop dat Balia en sy “Toekoms Simfonie-Instituut” ‘n herlewing van die simfonie sal bewerkstellig. Ook as Afrikaners moet ons bly smag na ‘n herlewing van ons kultuur en tradisies.
by Jaco Kleynhans | Aug 19, 2014 | Nuus |
Die verval van die tradisionele media, veral koerante, in Suid-Afrika is welbekend. Rapport verkoop deesdae minder as 200 000 koerante terwyl die koerant nog ‘n paar jaar gelede met verkope bo 300 000 kon spog. Op ‘n Saterdag koop minder as 60 000 mense Beeld. Nie lank gelede nie was dit meer as 100 000.
Die afgelope paar jaar moes die tradisionele gedrukte media heelwat personeel aflê, bylaes is gestaak en verspreiding is selfs in sommige gebiede opgeskort. Die kapasiteit om gespesialiseerde nuus en veral indiepte-ondersoeke te publiseer het begin kwyn.
Voorheen het koerante sukses behaal omdat hulle ‘n uiters geloofwaardige bron van nuus was. Die publiek het groot waardering gehad vir die wyse waarop koerante misdade kon oopvlek. Waar die nuus op radio en televisie oor slegs die heel belangrikste sake kon berig het koerante ‘n wye reeks temas gedek en so die leser ‘n wye hoek op die nuusgebeure gegee. Koerante het egter hul geloofwaardigheid verloor.
Sensasie was nog altyd deel van die media, maar dit was nie die dryfveer agter sirkulasie nie. Koerante het goeie verkope gehad omdat hulle aan mense se behoefte om nuus oor ‘n wye reeks kwessies te kry, voldoen het. Die meeste spesialisjoernaliste het die afgelope paar jaar koerante verlaat. Nuuskantore word toenemend beset onervare jong joernaliste wat pas uit die universiteit of kollege kom en wat meestal met bitter min spesialiskennis oor spesialisonderwerke moet berig.
Byna alle koerante in Suid-Afrika toon dalende sirkulasiesyfers en die mense aan die stuur van hierdie koerante beskik nie almal oor die vermoë om dit te keer nie. Dit is waar sensasionele beriggewing inkom. Sensasie het die waslap geword waarmee die onervare redakteurs en joernaliste die gat in die lekkende bad probeer toestop. Vanjaar het ons die sensasionele beriggewing deur Beeld oor die kamstige Nazi-kultuur by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes Universiteit gesien. Nadat die stof gaan lê het weet ons almal dat daar geen Nazi-kultuur by die PUK is nie. Beeld het egter groot gegaan met ‘n storie deur ‘n onervare joernalis sonder om gefokuste indiepte-navorsing te doen. ‘n Sensasionele voorbladberig moes die sirkulasieverlies tydelik probeer stuit.
Meer onlangs het Beeld ‘n kontroversie probeer skep nadat Steve Hofmeyr by die Innibosfees Die Stem gesing het. Steve sing egter lankal by geleenthede Die Stem. Ander Afrikaanse kunstenaars soos Pieter Smith doen dit al vir jare. Die feit dat Steve Die Stem gesing het, was definitief nie voorbladnuus nie, maar Beeld het deur sensasionele beriggewing weer ‘n tydelike oplossing vir dalende sirkulasiesyfers probeer skep.
Verlede Sondag doen Rapport dieselfde deur ‘n opebrief waarin Dirk Hermann van Solidariteit oor sy stryd teen regstellende aksie aangevat word, te publiseer. Die opebrief beweer dat daar nie iets soos blanke werkloosheid in Suid-Afrika bestaan nie. Die opebrief lewer geen bydrae tot gesaghebbende nuusberiggewing nie en is op vermoedens eerder as ordentlike navorsing gebaseer. Tog word dit met lokflitse op die voorblad geadverteer. Alles in die hoop dat die duisende Solidariteit-lede wat lankal nie meer Rapport koop nie, dit weer eenmaal sal doen. Nog ‘n desperate poging om die gat in die bad toe te stop. Die gat in die bad sal net toebly wanneer koerante hul sensasionele berriggewing bietjie los en weer op geloofwaardige verslaggewing fokus.
by Jaco Kleynhans | Aug 7, 2014 | Nuus |
“At the present time we are suspended, so to speak, between two worlds of allegiance and association. On the one hand, and partly behind us, is the historic world in which loyalties to family, church, profession, local community, and interest association exert, however ineffectively, persuasion and guidance. On the other is the world of values identical with the absolute political community – the community in which all symbolism, allegiance, responsibility, and sense of purpose have become indistinguishable from the operation of centralized political power.” – Robert Nisbet, The Quest for Community
Nisbet se beskrywing van ‘n tyd wat so te sê by ons verby is, verwys natuurlik na die grootskaalse verskuiwing in magsverhoudings en politieke stelsels wat met die Era van Verligting na vore getree het en veral na die Tweede Wêreldoorlog in ‘n versnelde tempo in Westerse lande ‘n houvas gekry het. Die tradisie van hegte gemeenskapsverbintenisse, samewerking en assosiasie is vervang met ‘n fokus op individuele regte, die moderne regstaat en die verligting. Wat die liberale Westerse individu van die negentiende eeu egter nie besef het nie, is dat individuele regte die rol van tusseninstellings wat ‘n belangrike rol in die verhouding tussen burger en staat behoort te speel, verswak het. Die regstaat plaas dalk die klem op regte, maar vereis ook inmenging in mense se lewens deur regulasie en sentralisering van nie net mag nie, maar ook beginsels en praktiese reëls wat voorheen onderling deur assosiasie bepaal is.
In Westerse lande sien ons vandag die massa magtelose burgers wat in ‘n afstandelike verhouding met die politieke elite staan. Die verhouding is hoofsaaklik gebou op die persoonlike vryheid wat met die verligting saamgekom het en wat in samehang met die materialisme en persoonlike drang na meer van alles, lande bestaande uit goed georganiseerde gemeenskappe in ‘n massa individue omskep het. Die Westerling van voor die verligting het vervulling gekry uit omgang met sy medemens in ‘n gemeenskapsverband en gereël binne tusseninstellings soos kerke, skole, markte, koöperasies, sport- en kultuurverenigings. Vandag se Westerling vind vervulling uit die veronderstelde absolute vryheid wat die moderne individualisme moontlik gemaak het en die voortdurende verkryging van materiële dinge wat korttermyngeluk moontlik maak.
Die probleem hiermee is egter dat materiële middele nooit langtermyngeluk kan bring nie. Die mens streef altyd na iets meer as net materiële geluk. Die oormatige wyse waarop die Westerse wêreld die individualisme omhels het, het tot ‘n verswakking en in baie gevalle vernietiging van die middelinstellings aanleiding gegee. Die individu staan vandag in baie gevalle in ‘n afstandige verhouding met ‘n sentrale mag wat in ‘n poging om individuele regte te onderhou juis die individu die reg tot talle persoonlike vryhede ontneem. Want soos die ou gesegde lui: My vryheid begin baie keer waar joune ophou.
In die VSA en Europa is daar ‘n groot breuk tussen die burgery en regerings, oftewel die politieke elite. Wie ookal regeer, staan op ‘n afstand van die burgery. In Europa word meer en meer wette deur ‘n Europese regering wat nog nooit verkies is nie, maar wat aangewys word, gemaak. Geen Europese burger beskik oor die vermoë om hierdie besluite te beïnvloed nie. Die politieke elite wil ‘n orde in stand hou en doen dit deur die regulering van individue wat soos marionette rondgelei word. In Suid-Afrika het die ANC op ‘n baie slim manier sedert 1994 daarin geslaag om ‘n meerderheid van die land se bevolking totaal afhanklik van die sentrale staat te maak. Gemeenskappe en tusseninstellings is doelbewus verswak en gewone burgers staan magteloos in verhouding tot die magtige sentrale regering. So magteloos soos wat Afrikaners toenemend voel, so magteloos voel meer en meer swart mense regoor Suid-Afrika. Die regering bied oorlewing, maar nie geluk nie.
Orania kan nie anders as om saam met ander gemeenskappe en volkere van regoor die wêreld teen hierdie tendens in te gaan nie. Orania moet vir die volgende staan:
1. ‘n Gesonde verhouding tussen die gemeenskap en die individu
Orania is nie ‘n kibboets nie en die Afrikaner nie ‘n nomadiese volk nie. Afrikaners hang ook verskeie individuele regte aan, maar dit beteken nie dat ons nie ‘n volk met ‘n sterk gemeenskapsbesef is en moet wees nie. In Orania handhaaf ons ‘n gesonde balans tussen die regte van die individu en die beginsels van die gemeenskap. Dit lei eerder tot die versterking as die verswakking van gemeenskapsinstellings.
2. Desentralisering eerder as sentralisering
In Orania word magte eerder afgewentel as opgewentel. Die vraag is dus nie wat kan die regering vir my doen nie, maar wat kan ek vir die regering doen. Elke burger het ‘n groter plig eerder as ‘n regering wat baie belangrik voel.
3. ‘n Veelheid van leierskap eerder as ‘n klem op sentrale figure
Orania het nie een groot leier nie. Ons het ‘n voorsitter van die Dorpsraad, voorsitter van die Orania Verteenwoordigende Raad, ‘n president van die Orania Beweging, voorsitter van die Orania Sakekamer en verskeie ander leiers wat almal verskillende persone is en almal leiersfigure eerder as heersers is. Hoe meer leiers hoe beter.
4. ‘n Regering moet doen wat hy moet doen en nie wat hy kan doen nie
Dit is in die mens se wese om van ‘n regering te verwag om oplossings te bied. Moet die Orania Dorpsraad personeel aanstel om rommel op te tel? Wat van permanente veiligheidwagte wat saans patrollies kan doen? Moet ons nie ‘n verkeerdsbeampte kry nie? In hierdie gevalle en talle ander is die antwoord: Nee. Die gemeenskap sorg self dat die dorp skoon is, doen self patrollies in die aand en spreek mekaar aan oor verkeersoortredings. Die regering hoef nie vir elke probleem die een te wees wat die antwoord moet bied nie.
5. Konsultasie skep eensgesindheid eerder as verdeeldheid
Regerings is meestal bang vir die burgery en vermy graag konsultasie. In Orania word burgers in die meeste belangrike besluite geken en dit skep eerder samewerking en eensgesindheid as in verdeeldheid en negatiewe reaksies.
6. Volhoubaarheid moet ‘n leefwyse wees
‘n Gonswoord deesdae is volhoubaarheid. Min mense leef egter op volhoubare maniere. In Orania wil ons volhoubaarheid ‘n leefwyse maak. Volhoubaarheid lê nie net op die terreine van omgewingsbewaring en energiebesparing nie, maar ook in ons vermoë om sterk instellings te skep wat ‘n gemeenskap daarstel wat vir volgende generasies ‘n tuiste kan wees.
7. Daar is niks fout daarmee om trots op jou kultuur te wees nie
Afrikaners leef daagliks in vrees dat ‘n openbare trots vir hul kultuur tot benadeling aanleiding kan gee. In Orania word ‘n trots op jou eie kultuur en ‘n volwaardige uitlewing daarvan as ‘n goeie karaktereienskap beskou wat vir jou groot voordele kan inhou.
8. Regulering hoort by verskillende instellings eerder as een sentrale mag
In Orania het ons sterk instellings soos die Orania Dorpsraad, Orania Beweging, skole en kerke. Daar is egter nie net een instelling wat die mag het om regulasies toe te pas nie. Elke instelling het sy rol. Die Dorpsraad as ‘n soort regering reguleer nie waardes nie. Dit hoort by die kerke. Kinders leer van dissipline in die gesinsverband, die skool en die kerk. So het elke instelling sy gedesentraliseerde rol in gemeenskapsregulering.
9. Lewensgehalte is belangriker as lewenstyl
Regoor Suid-Afrika leef Afrikaners in luukse huise, ry in duur motors en verdien groot salarisse terwyl hulle uiters ongelukkig is. Nie alle welgestelde mense is ongelukkig nie, maar net ‘n hoë lewenstyl kan nie geluk bring nie. ‘n Goeie lewensgehalte word verkry deur toegang tot die nodig lewensmiddele, ‘n goeie selfbeeld, ‘n kultuurtrots, ‘n sterk gemeenskapsband en inskakeling by instellings. In Orania woon baie mense wat op lewenstyl moes inboet, maar wie se lewensgehalte hier toegeneem het.
10. Samewerking eerder as konflik
Partykeer lyk dit asof Afrikaners meer baklei hoe slegter dit gaan. In Orania glo ons in samewerking eerder as om op ons verskille te fokus. Ons werk saam met verskeie organisasies en individue, sommiges naby aan ons, andere meer verwyderd. Die doelwit is altyd die bevordering van Afrikanervryheid in ‘n eie grondgebied. Ons glo in groeiende selfbeskikking en glo dit kan net vermag word deur ons mense saam met ons te vat as om meer en meer van ons te vervreem.
Mag ons toenemend die Orania-model as ‘n werklike oplossing vir ons mense aanbied en mag ons daarin slaag om saam met ander gemeenskappe en volkere die gemeenskapsidee, waar ons self oor ons eie waardes, verhoudinge, verantwoordelikhede en behoud beheer kan neem en suksesvol op ‘n groter skaal implementeer.
by Jaco Kleynhans | Aug 5, 2014 | Nuus |
Min swartmense wil boer. In elk geval min swartmense wil kommersiële boere wees. Ry jy vandag deur die ou tuislande en veral deur die Transkei en Ciskei in die Oos-Kaap kry jy bevestiging daarvan dat die meeste swartmense in Suid-Afrika nie wil boer nie. Orals in hierdie gebiede lê ryk landbougrond onbenut. Huise staan leeg. Die mense is Kaapstad of Johannesburg toe en daar woon hulle eerder in ‘n plakkershut in die hoop op ‘n werk en ‘n lewe in die stad.
Die vorige grondeiseproses het hierdie argument ook bewys. Toe het 93% van grondeiesers verkies dat die waarde van die grond wat hulle geëis het aan hulle uitbetaal word, eerder as wat die grond aan hulle teruggegee word. Verskeie studies het ook al bewys dat swartmense eerder in die stede wil woon as om landbouers op die platteland te wees. Die wyse waarop talle suksesvolle kommersiële plase wat weens grondeise aan swartmense oorgedra is, van hul bates gestroop is ten einde kontant vir die eienaars wat verkies om in dorps- en stadsgebiede te woon, beskikbaar te stel, is nog ‘n bewys.
Tog slaag die ANC en EFF meesterlik daarin om die persepsie te skep dat miljoene swartmense na landbougrond smag en dat grondhervorming een van die belangrikste prioriteite in Suid-Afrika moet wees. Die onlangse heropening van grondeise is volgens die ANC juis ‘n stap om hierdie kamma-regverdige drang na landbougrond te beantwoord.
Tog vertel gewone, arm swartmense ‘n ander storie. Hulle behoeftes is dié van goeie skole, beter behuising, effektiewe munisipale en mediese dienste, naskoolse opleidingsgeleenthede en ekonomiese groei wat volhoubare werksgeleenthede in stede en dorpe, waar hulle graag wil woon, kan bied.
Die ANC slaag klaaglik in letterlik elkeen van hierdie behoeftes. Onderwys in swart gebiede is vandag in baie gevalle swakker as voor 1994. Baie van die huisies wat deur die staat gebou word verkrummel en lewer byna geen bydrae tot ‘n menswaardige bestaan. Munisipale dienslewering regoor Suid-Afrika is so swak dat swartmense voortdurend in dorpe en stede opruk om hul misnoeë daarmee te toon. Staatshospitale het ‘n tekort aan dokters, verpleegsters, medisyne en selfs elektrisiteit. Die groot aantal swart babas wat gedurig in staatshospitale sterf is ‘n aanduiding van hoe sleg dit in staatshospitale gaan. Wat die ekonomie aanbetref bly werkloosheid styg en groei die Suid-Afrikaanse ekonomie so stadig dat dit nie eers voorsiening maak vir die gewone bevolkingsgroei nie. Die kans vir ‘n jong swart persoon om ‘n werk te kry is baie skraal.
Tog is al hierdie klaaglike mislukkings van die ANC die afgelope tyd oorheers deur die groot gronddebat. Die persepsie word deur die ANC en EFF, net soos deur Mugabe 14 jaar gelede, geskep dat die antwoord op al die probleme wat swartmense beleef in die herverdeling van grond lê. Ons weet dat dit nie die geval is nie, maar sê ons dit genoeg? Die uitdaging vir die landbousektor en Afrikanerorganisasies is om beter en meer gekoördineerd ‘n teenveldtog te loods sodat swartmense op grondvlak hul slegte omstandighede aan ‘n swak regering eerder as die feit dat die meeste landbougrond aan witmense behoort, kan toeskryf.