Europa en die bewering van neo-fascisme

anti-eu2Die stof wil maar net nie gaan lê oor die groot toename in steun vir regse, konserwatiewe, nasionalistiese en Euroskeptiese partye tydens die onlangse Europese verkiesing nie. Koerante in Duitsland, Engeland, Frankryk en selfs die VSA vra nou al vir twee weke: Is daar ‘n opkoms van fascisme in Europa?Die Amerikaanse, paleo-konserwatiewe skrywer, Paul Gottfried, skryf in reaksie hierop dat dit belangrik is om te verstaan dat die gom wat die moderne liberale demokrasie in Europa aanmekaar hou juis die anti-fascistiese beweging is. Na die Tweede Wêreldoorlog het ‘n anti-fascistiese golf oor Europa gespoel en het ‘n nuwe liberale politieke elite die mag in meeste lande van Wes-Europa bekom en behou deur enigiemand wat anders as hulle dink as neo-fascisties af te maak.Gewone Europeërs het uit vrees vir ‘n herhaling van die fascisme van Hitler se Duitsland en die gevolglike oorlog by die politieke elite bly staan en hierdie nuwe liberale politieke mag bly versterk tot ‘n punt waar die liberalisme die politiek in Europa totaal begin oorheers het.

Enige individu of party wat die hegemoniese oortuigings van die liberale Europese politieke elite durf aanvat, word as neo-fascisties afgemaak. Die afgelope dekade of twee was daar ‘n grootskaalse aftakeling van tradisionele Europese waardes. Die regte van vroue, homoseksuele mense, asielsoekers, onwettige immigrante en selfs veroordeelde misdadigers is in sommige lande sover oordryf dat party gewone mense deesdae minderwaardig voel as jy nie tot een van hierdie spesiale groepe behoort nie.

Enige party wat egter nog ooit sou durf om hierdie grootskaalse kulturele revolusie aan te vat is tot die perifirie van die politieke landskap verskuif en soms op totaal ondemokratiese wyse geïsoleer en onder ‘n soort politieke kwarantyn geplaas. Op hierdie wyse is politieke partye soos Vlaams Belang in België byna vernietig en is Jean-Marie Le Pen in Frankryk tot ‘n nuwe soort Hitler veroordeel. Pim Fortuyn en Theo van Gogh moes in Nederland met hul lewens betaal weens hul kritiek op die heersende politieke ordes.

Dit is dus geen wonder dat die prestasie van Front National in Frankryk, die United Kingdom Independence Party in Brittanje en die Deense Volspartij in Denemarke ‘n groot skok vir die sisteem van die liberale politieke elite van Europa was nie. Al drie hierdie partye het tydens die Europese Verkiesing in hul lande eerste geëindig. Al drie partye is regs, maar belangriker al drie partye wyk sterk af van die heersende politieke ideologie in Europa.

Al drie partye staan vir ‘n soort nasionalisme, maar ook ‘n soort tradisionele denke wat lankal deur moderniste en post-moderniste in Europa afgeskryf is. Saam met hierdie drie partye het ander soortgelyke politieke partye ook in Hongarye, Nederland, België en selfs Duitsland opgang gemaak.

Vir lank het die politieke elite Europeërs se denke oorheers deur hulle te laat dink dat steun vir sulke partye ‘n teken van onverdraagsaamheid, bekrompenheid en slegte vooroordele is. Daardie tyd is nou verby. Hoewel die regerende liberale klas steeds sterk in die saal is in Europa is die uitslag van die Europese verkiesing juis nie ‘n teken van neo-fascisme nie, maar eerder ‘n teken van ‘n nuwe generasie wat vir hulself wil en kan dink eerder as om deur ‘n politieke elite voorgeskryf te word.

‘n Europese stem vir die nasiestaat

2011-04-19171613_^_u-flagDie afgelope dekade of twee is daar ‘n volskaalse aanslag op die soewereine nasiestaat in Europa. Na die Tweede Wêreldoorlog het daar ‘n dominante denkrigting in Europa onstaan dat enige vorm van nasionalisme verwerplik is en tot diskriminasie, haat en uiteindelik bloedvergieting aanleiding gee. Enige vorm van nasionalisme moes dus ondergrawe word.

Die grootste voorstanders van eenheid binne Europa ondersteun eerder ‘n soort losse Europese identiteit as die realiteit van ‘n Europa wat uit uiters diverse volkere bestaan. ‘n Nasionale of volksidentiteit wat in ‘n nasiestaat setel moet dus met ‘n nuwe bedeling wat klem op ooreenkomste eerder as verskille plaas, vervang word.

Die bedeling wat voorgestel word is een waar landsgrense, kultuurverskille en soewereine regerings stelselmatig afgebreek moet word ten einde plek te maak vir sentrale beheer vanuit die Europese regeringsetel in Brussel.

Tydens die onlangse Europese verkiesing het hierdie strategie egter ‘n terugslag gekry met Euroskeptiese, nasionalistiese en sogenaamde regse partye wat groot opgang gemaak het. Die verbetering in steun vir partye soos Front National in Frankryk en die United Kingdom Independence Party in die Verenigde Koninkryk beteken nie noodwendig dat kiesers in hierdie lande na regs beweeg het nie. Kiesers in talle lande in Noord- en Wes-Europa stem egter nie saam met die manier waarop hul lande se soewereiniteit stelselmatig afgebreek word nie.

Die verbrokkeling van sterk nasiestate in Europa lei tot ‘n skerp toename in immigrasie uit Derde Wêreldlande en die gevolglike uitdagings van ‘n multikulturele samelewing met ‘n invloei van mense met swak opvoedingsvlakke en ‘n gewoonte tot misdaad. Die ekonomiese gevolge van hierdie invloei van Derde Wêreldse probleemgevalle en rugryers wat van regeringsondersteuning afhanklik is, skep saam met die ongelyke mededinging tussen Europese lande en die onlangse finansiële krisis in Europa ‘n breuk tussen politici en die gewone, hardwerkende Europeër.

Dit is juis hierdie mense wat graag beter immigrasiebeheer, strenger optrede teen misdadigers, minder genade vir en finansiële ondersteuning aan asielsoekers en onwettige immigrante, minder finansiële ondersteuning aan Derde Wêreldlande en ‘n terugkeur na eie nasionale geldeenhede, wil sien gebeur. Daarteenoor staan die politieke elite in Europa vir oper grense, groter verdraagsaamheid en ‘n verdere verbrokkeling van die nasiestaat.

Die feit dat byna 20% van die setels in die Europese parlement tydens die onlangse verkiesing deur partye wat ernstige probleme met die rigting van die Europese Unie het, gewen is, is ‘n goeie teken. Dit gaan nie vandag of môre die skielike herstel van die nasiestaat en die terugkeur na die Nederlandse Gulden en die Duitse Mark beteken nie, maar die verkiesingsuitslag is ‘n sterk boodskap aan die politieke elite dat kiesers nie ‘n verdere wegkalwing van die soeweriteit van Europa se diverse nasiestate sal duld nie. Die erkenning van en behoud van Europa se diverse kulture, tale en tradisies is ook noodsaaklik ander volkere wat ‘n stryd voer om hul identiteit te beskerm. Afrikaners kan dus die verwikkelinge in Europa fyn dophou.

Toename in steun vir Euroskeptiese partye verwag

Later hierdie week sal Europeërs in 28 lande na die stembus gaan om hul verteenwoordigers vir die Europese parlement te verkies. In ‘n peiling laat verlede jaar het meer as 40% van Europa se inwoners aangedui dat hulle skepties oor die rol van die Europese regering is. Dit volg na die Europese finansiële krisis die afgelope paar jaar.

Inwoners van Suid-Euopese lande soos Griekeland en Spanje voel dat noordelike lande soos Duitsland ‘n onbillike handelsvoordeel deur die monetêre vereniging van lidlande verkry het. In Griekeland wil baie Grieke hê dat Griekeland weer sy eie geldeenheid moet kry. Heelwat Grieke is selfs ten gunste daarvan dat die land heeltemal uit die Europese Unie onttrek.

Inwoners van noordelike lidlande soos Nederland, Frankryk en die Verenigde Koninkryk is ook gefrustreerd met die Europese Unie. Aan die een kant gaan hul ongelukkigheid oor die feit dat hul lande baie geld moes bydra om lande soos Griekeland en Spanje uit die moeilikheid uit te help. Aan die ander kant is daar ook ‘n groot frustrasie met die wyse waarop lande in Europa toenemend hul outonomiteit moet inboet soos wat die Europese regering in Brussel sekere funksies en mag sentraliseer.

‘n Groot bron van frustrasie in Wes- en Noord-Europa is die immigrasie van mense uit Noord-Afrika, die Midde-Ooste en Oos-Europa. Aangesien mense vrylik binne Europa kan beweeg beteken die swak vermoë van suidelike lande soos Italië en Spanje om onwettige immigrasie te bekamp en hul grense te beveilig dat baie onwettige immigrante ook in Nederland, België, Frankryk en Duitsland ‘n heenkome vind.

Die Europese Unie is nog altyd aan die wêreld voorgehou as dié voorbeeld van samewerking tussen lande wat voorheen aardsvyande was. Deur die Europese Unie probeer Europeërs bewys hoe ‘n herhaling uit die geskiedenis voorkom kan word deur groter samewerking en inbinding op ekonomiese, politieke en ander terreine.

Die probleem hiermee is egter dat juis die verskille tussen die volkere van Europa misken word. Daar word by diversiteit verbygekyk om uiteindelik te kan sê: Ons is een Europa!

Die miskenning van Europa se diversiteit en in besonder hoe groot die verskille tussen Europese volkere wel is, kan waarskynlik as die hoofoorsaak van sogename ‘Euroskeptisisme’ beskryf word. Waarom word Britte of Nederlanders kwaad as hul belastinggeld gebruik word om die ekonomie van Griekeland te probeer stabiliseer? Die burokrate in Brussel sal vir jou sê dat Europeërs soos broers is wat mekaar die heeltyd moet ondersteun. Vir die gemiddelde Fransman of Nederlander is ‘n Griek egter ‘n vreemdeling met snaakse gewoontes wat allesbehalwe as ‘n broer beskou kan word.

Die finansiële krisis van die afgelope paar jaar het ook al die krake in die Europese-model duidelik na vore laat kom, want ja, broederskap is makliker wanneer dit goed gaan as wanneer dit sleg gaan. ‘n Toename in steun vir Euroskeptiese partye hierdie week sal goed wees. Want dit sal bevestig dat diversiteit nie sommer net uitgevee kan word nie en dat elke volk ‘n reg op ‘n outonome voortbestaan het.

Ware bedreigings en ware oplossings

Tydens die pasafgelope nasionale verkiesing het Afrikaners weer gewys wie hulle as hul grootste bedreiging beskou. Dit is natuurlik die ANC. Dié groot magtige party moet net gestop word is die antwoord wat jy by ‘n groot meerderheid Afrikaners sal kry as jy vir hulle vra wat die kriteria is wat hulle in politieke besluitneming gebruik.

Die idee om die ANC te stop is tekenend van die Afrikaner se oubekende praktiese manier van probleemoplossing. Om reeds vir meer as 350 jaar in Afrika te kon oorleef moes Afrikaners leer om baie pragmaties met hul probleme om te gaan. Die geskiedenis wys vir ons beide die positiewe en negatiewe resultate hiervan. Piet Retief se pragmatisme het hom lelik in die voet geskiet. Daarteenoor was die Boere se pragmatiese hantering van groot probleeme en uitdagings tydens die Tweede Vryheidsoorlog baie keer juis hul redding.

Die huidige uitdagings wat Afrikaners in die gesigstaar herinner ons aan soveel kere vantevore toe ons hier in Afrika met die rug teen die muur gestaan het. In die verlede het ons elke keer ‘n manier gevind om oor hierdie muur of noem dit dan maar ‘n bestaansversperring te kom. Elke keer nog het ons daarin geslaag om anderkant uit te kom en weer ‘n nuwe begin te maak. So was die Groot Trek tydens die negentiende eeu ‘n praktiese oplossing vir die probleme van die Boere aan die Oosgrens. Na die Tweede Vryheidsoorlog was ons mense in sak en as, maar verstedeliking en nasionalisme het onder die verskeie praktiese antwoorde getel wat gebruik is om weer bo uit te kom.

Afrikaners is vandag weer weerloos. Daar is regoor die wêreld waarskynlik minder as 3 miljoen blanke, Afrikaanssprekende mense oor. Van hierdie groep assosieer ‘n toenemende deel hulself nie meer met die Afrikanerkultuur en tradisies en selfs die Afrikaanse taal en Christelike geloof nie. Soveel as 20% van ons mense het reeds die land verlaat en is grotendeels vir die behoud van ons volk verlore. Ons getalle krimp vinnig. Plaaslik word ons mense aan vervreeemding en diskriminasie onderwerp. Ons kinders word in baie staatskole geïndoktrineer en selfs die Afrikaanse media speel saam met die afbreek van ons beeld en die skep van ‘n persepsie dat Afrikanerskap verouderd, agterlik en iets van die verlede is.

Om ons probleme op te los moet ons egter begin by probleemidentifisering. Is die ANC regtig die Afrikaner se grootste bedreiging? Kan ons werklikwaar alles wat met ons verkeerd gaan voor hulle deur gaan lê? Kan ons deur net eenvoudig teen die ANC in ‘n verkiesing te stem ons probleme oplos? Waarskynlik juis nie en dit is dan ook waarom die antwoorde wat ons tans probeer skep so verkeerd is. Die Afrikaner se werklike probleme is eerstens die feit dat ons regoor Suid-Afrika verspreid woon, tweedens dat ons ‘n bevoorregte minderheid is wat as ‘n voormalige verdrukker beskou word en derdens die lawwe idee wat baie Afrikaners in hul ronddra dat indien ons, ons alles vir Suid-Afrika gee, daar groot begrip vir ons voortbestaan sal wees. Die oplossing vir ons mense lê in konsentrasie, samewerking ten spyte van ons verskille en ‘n verlaging van Suid-Afrika en ‘n verhoging van die Afrikaner op ons prioriteitslys. Dan mag daar dalk net hoop vir oorlewing wees.

Die morele risiko’s van die vryemark

Michael J. Sandel skryf in sy boek What Money Can’t Buy oor die morele beperkinge wat die absolute vryemark inhou.

Die boek is besonder relevant in ’n tyd waar Christene die absolute vryemark toenemend omhels. Hierdie tendens wat veral sy oorsprong onder Christene in Amerika tydens die Koue Oorlog gehad het, vind vandag beslag in talle Westerse lande. Die absolute vryemark word voorgehou as die antwoord op absolute ideologieë. Maar is die absolute vryemark nie ook ‘n absolute ideologie nie?

Beide die kommunisme en sosialisme is gedurende die twintigste eeu as onwerkbaar bewys. Die bewyse daarvan lê in die miljoene sterftes wat deur hongersnood en geweld weens sentrale beheer van ekonomieë in lande soos China en Rusland veroorsaak is. Die enigste werkbare alternatief tot dusver was die kapitalisme en die vryemark.

Michael Novak in sy artikel, How Christianity Created Capitalism, verduidelik die verband tussen die Christelike geloof en die opkoms van kapitalisme. Gedurende die Hoë Middeleeue het belangrike meganiese ontwikkelings soos beter wawiele, revolusionêre nuwe ratte vir windmeulens, en natuurlik die uitgebreide gebruik van metale plaasgevind. Hierdie ontwikkelinge sou egter nie oor Europa versprei het as dit nie was vir die Katolieke Kerk wat op daardie tydstip soveel as een derde van alle grond in Europa besit het nie. Die Kerk moes maniere vind om nuwe ontwikkelings aan te wend en ‘n vorm van vryhandel het hieruit ontstaan.

Volskaalse kapitalisme het egter eers vanaf die Verligting posgevat. Dit kan selfs gesê word dat vryhandel ’n bydrae tot die Verligting gelewer het. Die Christendom in Europa het dus ‘n belangrike bydrae deur middel van die Katolieke Kerk gemaak om vryhandel te bevorder. Dit was egter ook dié vryhandel wat tot die Verligting bygedra en daardeur weer tot die verbrokkeling van die Christelike kerk aanleiding gegee het.

Die kapitalisme en vryhandel is vandag ‘n gegewe en is die beste, mees werkbare ekonomiese stelsel waarmee die wêreld nog vorendag kon kom. Die gevaar bestaan egter dat dit as ‘n soort absolute ideologie ernstige negatiewe gevolge kan inhou.

Dit is juis hierna wat Michael Sandel verwys. Hy onderskei tussen dinge wat nie deur geld gekoop kan word nie soos vriendskap, geluk en sukses, en dinge wat nie deur geld gekoop behoort te word nie. Laasgenoemde word toenemend wel verhandel en sluit sake soos gemeenskapsdiens, burgerlike pligte en verantwoordelikheid in.

Ongelukkig sien ons in vandag se wêreld dit toenemend soos wat mense die vrye mark verabsoluteer dat hulle ook pogings aanwend om juis hierdie dinge wat nie in ’n morele samelewing verhandel behoort te word nie, wel verhandel.

Sandel verwys na die eenvoudige praktyk van die verkoop van verjaarsdagwense, huwelikswense en ander uiters persoonlike boodskappe op die internet. Die boodskappe word op aanvraag spesiaal vir jou geskryf en jy betaal vir ’n unieke boodskap. Hoe koop jy ‘n boodskap vir jou man, vrou of vriend op die internet en maak asof jy dit self geskryf het? Sou die vryemark dus hierdie funksies begin vervul en mense toenemend probeer om liefde, vriendskap en selfs sukses (kyk maar na die universiteitsgrade wat deesdae op die internet gekoop kan word) te koop sou die vryemark dus ‘n bydrae lewer tot die morele verval van die samelewing.

Die ander punt waarna hy verwys – spesifiek dié dinge wat gekoop kan word, maar nie gekoop behoort te word nie – handel net so sterk met die morele vraagstuk. Wie van ons het nog nooit by ’n kermis gewerk om geld vir ons kerk in te samel of plastiese wasgoedpennetjies of blombolle verkoop om geld vir ons kinders se skool in te samel nie? Deesdae word baie van hierdie funksies egter uitgekontrakteer. Gemeentes het nie meer tyd om kermisse te reël nie, maar kry eerder ’n funksieorganiseerder wat teen ’n fooi ‘n musiekkonsert reël om geld vir die kerk in te samel. Kinders kry by baie skole deesdae kommissie op fondse wat hulle vir die skool insamel. Die rede agter dit alles is die vermoede dat die mark oor die vermoë beskik om hierdie funksies meer effektief uit te voer.

Sandel bewys egter die teendeel in sy boek met verskeie verwysings na studies wat hieroor gedoen is. Een voorbeeld is ’n studie onder mense wat vir ‘n goeie saak fondse moes werf. Die mense is in drie groepe ingedeel en sonder dat hulle geweet het, het die drie groepe met verskillende reëls gewerk. Die eerste groep het geen vergoeding ontvang vir die fondse wat hulle moes werf nie en het suiwer op die ‘goeie saak’ gefokus. Die tweede groep het 1% kommissie ontvang en die tweede groep 10% kommissie. Die groep wat slegs een oortuiging, die goeie saak, gehad het, het die grootste sukses behaal.

In ’n tyd van morele verval is daar en moet daar steeds ruimte wees vir goeie morele dade. Dinge wat uit die hart uit kom. Goeie dinge wat ons doen omdat ons dit wil en kan doen en nie omdat ons dit moet doen nie. Terwyl die vryemark baie voordele vir ons teweeg gebring het, mag ons nooit toelaat dat dit tot die vernietiging van ons morele basis aanleiding gee nie.

 

*Hierdie artikel het aanvanklik op die webblad van die Afrikaanse Protestantse Kerk verskyn. www.apk.co.za

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel