by Jaco Kleynhans | Okt 14, 2014 | Nuus |
Die agteruitgang van die Westerse beskawing word toenemend duidelik. Massa-immigrasie van mense uit Derde Wêreldlande skep multikulturele samelewings regoor Europa wat tot kultuur-, taal- en intergeloofkonflik aanleiding gee.
Die bevolkingsaanwas in Wes-Europa is reeds vir ‘n geruime tyd onder die vervangingskoers. Wanneer jy vir Europeërs vra waarom hulle so min kinders kry, is die antwoord baie keer anders as wat ‘n mens sou verwag. Ja vroue wat professionele loopbane volg en hoë lewenskostes speel beide ‘n rol, maar die antwoord is toenemend eerder ‘n vrees oor die toekoms.
Die finansiële krisis wat reeds sedert 2007 in die VSA en Europa woed maak dinge nie juis makliker nie. Die meeste Westerse lande het enorme staatskuld met geen vooruitsig om dit vinnig af te betaal nie. Massa-immigrasie uit die Derde Wêreld plaas groot druk op staatsbegrotings en veral welsynsdienste. Die Nederlandse minister van Buitelandse Sake, Frans Timmermans, het ook onlangs beklemtoon dat Westerse lande in die toekoms weer meer geld aan verdediging sal moet spandeer wat verdere druk op begrotings sal plaas.
Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het byna die hele wêreld, maar in besonder die Weste daarin geslaag om ‘n omgewing van vrede en sekerheid vir burgers te verseker. Dit het aanleiding gegee tot hoë vlakke van ontwikkeling en ekonomiese groei in Europa, die VSA en Australasië gedurende die tweede helfde van die twintigste eeu.
Die wêreldgeskiedenis word breedweg gekenmerk deur tye van vrede en voorspoed en tye van onrus, agteruitgang en verval. Stabiliteit in sekere wêrelddele is gekenmerk deur die bestaan van sterk ryke en in baie gevalle sterk leiers. Alexander die Grote is ‘n goeie voorbeeld van ‘n leier wat ‘n sterk, stabiele ryk gebou het. Na sy dood het die ryk in duie gestort en het chaos en oorlog ontstaan. Die Romeinse Ryk en later die Britse Ryk verteenwoordig ook tye van stabiliteit en vooruitgang.
Die afgelope ses dekades was die Westerse Wêreld onder leiding van veral die VSA ‘n bron van stabiliteit. Dit het tot ‘n tydperk van redelike vrede in meeste wêrelddele aanleiding gegee. Ekonomieë het ontwikkel en miljarde mense is uit absolute armoede geneem.
Vandag lyk dit egter of die tydperk van vrede en voorspoed besig is om tot ‘n einde te kom. Die oorlog in Oekraïne vererger eerder as dat ‘n oplossing gevind word. Daarmee saam kom die verhoogde spanning tussen die VSA en Europa aan die eenkant en Rusland aan die anderkant. In die Ooste is spanning tussen China en Japan aan die opbou. Die Midde-Ooste verval toenemend in chaos en selfs Turkye, vir dekades reeds bekend as ‘n stabiele pro-Westerse Moslemland, word toenemend in die oorloë in Sirië en Irak betrek.
Die verval van Westerse mag is onvermydelik. Magsverhoudinge tussen state sal noodgedwonge binne die volgende paar jaar drasties moet verander. Die vraag is of nuwe wêreldmagte sal ontwikkel. Rusland het duidelik aspirasies. So ook China. Dit bied groot bedreigings vir Westerse volkere, maar ook geleenthede. As Afrikaners hulself goed organiseer en die regte vriende maak kan ons die geo-politieke spanning en verandering wat op pad is dalk net tot ons voordeel aanwend.
by Jaco Kleynhans | Okt 2, 2014 | Nuus |
Die bekroonde Turkse skrywer, Orhan Pamuk, beskryf in een van sy boeke die verhaal van ‘n Turkse man in Istanbul wat mannekyne vervaardig het. Sy hele kelder was later vol mannekyne. Dié meesterlik vervaardigde winkelpoppe het egter geen aftrek by die winkeleienaars van Istanbul gekry nie. Die rede is dat hulle ‘n Turkse voorkoms gehad het. Winkeleienaars in Istanbul het aangevoer dat kliënte eerder winkelpoppe met ‘n Europese voorkoms verkies. Veral die jonger generasie Turke streef na ‘n Westerse voorkoms.
Stap jy in die strate van Leiden, Rotterdam of Amsterdam sien jy dat die winkelpoppe van Nederland deesdae dieselfde tendens volg. Met ‘dieselfde’ word bedoel dat winkelpoppe in Nederland ook toenemend anders lyk as die inheemse bevolking. Afrika- en Midde-Oosterse voorkomste is hier toenemend gewild.
Die voorkoms van winkelpoppe in Turkye en Nederland mag dalk vir ons na nuttelose inligting lyk, maar hierdie tendense is belangrik as ons identiteitspolitiek in vandag se globale wêreld probeer verstaan.
Identiteitsverlies vind regoor die wêreld plaas. In die Derde Wêreld styg mense uit armoede uit op en sien hulle ‘n Westerse identiteit as ‘n soort sleutel tot ‘n beter selfbeeld en uiteindelik ‘n beter plek in die samelewing. In die Weste word nasionale- en volksidentiteite vervang deur multikulturele samelewings waar ‘n diepe identiteitsbewussyn as ‘n struikelblok beskou word.
Identiteit is veronderstel om ‘n dieper interne besef van wie jy is, te wees. Ons identiteit behoort bepaal te word deur ons geloof, taal, kulturele assosiasies en tradisies. Tog sien ons vandag toenemend gemanipuleerde identiteite wat aan die hand van uiterlike voorkoms vergestalt word.
Turkye is tog ‘n land met ‘n diep gewortelde identiteit wat voortspruit uit die Ottomaanse erfenis. Kan ‘n jong Turk wat soos ‘n Amerikaner aantrek, Amerikaanse musiek luister en by Burger King eet, ‘n ander identeit as sy Turkse identiteit opneem?
Dieselfde vraag geld vir Westerse lande wat ‘n beeld van multi-kulturalisme en verdraagsaamheid probeer voorstaan. Doen Nederland afstand van haar ou gevestigde identiteit deur die gebruik van persone met verskillende identiteite in televisie-advertensies, die afskaffing van ou gevestigde tradisies en gebruike en die verdere sekularisering van die openbare en privaatlewe?
In Suid-Afrika is Erfenisdag verlede week gevier. Twintig jaar na die politieke verandering van 1994 behoort ons almal te besef dat daar nie iets soos ‘n enkel Suid-Afrikaanse identiteit en erfenis is nie. Ja ons is almal Suid-Afrikaners weens ons nasionaliteit, maar ons is ‘n land met ‘n groot verskeidenheid identiteite. Ongelukkig sien ons ook pogings tot die manipulering van identiteit deur die miskenning van sommige tale, kulture en tradisies en die kunsmatige skep van ‘n soort nuwe nasionale identiteit.
In beide Turkye en Nederland beleef jongmense vandag ‘n identiteitskrisis. Die verwydering van hul historiese identiteit bring mee dat mense nie meer presies weet wie hulle is nie. Indien Suid-Afrika ernstig is oor erfenis en die beskerming van alle kulture in ons land sal ons nie Suid-Afrikaanse winkelpoppe probeer skep nie, maar eerder erken dat daar plek vir Afrikaner-, Zoeloe-, Xhosa- en talle ander winkelpoppe in ons spreekwoordelike winkelvensters behoort te wees.
by Jaco Kleynhans | Sep 24, 2014 | Nuus |
Een van die bekende kenmerke van die ANC voor 1994 was die party se sterk internasionale steunwerwingsprogram. Die party het regoor die wêreld verteenwoordigers en kantore gehad. Dit het dit vir die party moontlik gemaak om voltyds regerings, nie-regeringsorganisasies en die gewone burgers van verskeie lande oor dinge in Suid-Afrika in te lig en om steun vir die party en sy programme te werf.
Ons weet vandag dat die ANC se internasionale strategie uiters suksesvol was en waarskynlik een van die hoofredes is waarom die Nasionale Party-regering laat in die 1980’s onder druk begin swig het. Terwyl die NP sy hande vol gehad het om dinge in Suid-Afrika bymekaar te hou het die ANC met ‘n byna vryhand sy propaganda in oorsese land versprei. Veral die ANC se sterk fokus op Westerse lande het dié lande, organisasies en persone wat moontlik nog bondgenote van die blanke bevolking in Suid-Afrika kon wees, ook teen hulle laat draai. Die ANC se veldtog in die buiteland is goed beplan, goed gekoördineer en meesterlik uitgevoer.
Vandag sien ons dat die res van die wêreld heelwat minder op Suid-Afrika fokus. Die demokratiseringsprojek wat die buiteland in die 1980’s met sanksies en ander vorme van druk op die blanke regering, geloods het, is volgens hulle in 1994 suksesvol afgehandel. Sedertdien word Suid-Afrika as ‘n toonbeeld van ‘n land wat van sogenaamde onderdrukking na Westerse demokrasie oorgegaan het, voorgehou.
Ons weet egter dat die situasie in die land vandag iets totaal anders is. Suid-Afrika verkeer in die magsgreep van die ANC. Die party sentraliseer alle magte en uitvoerende vermoë en het sedert 1994 daarin geslaag om ‘n meerderheid van die bevolking aan hom getrou en gedienstig te maak, deur gemeenskappe te ontmagtig, plaaslike ekonomieë te vernietig en meer as 16 miljoen mense se lewens van welsynstoelaes afhanklik te maak.
Die Afrikaner verkeer vandag onder groot druk. Sogenaamde regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, regeringskorrupsie, misdaad en die verval van ons geldeenheid gekoppel aan voortdurende inflasie het ons in ‘n moeilike posisie geplaas. Meer as ‘n kwart van Afrikaners het waarskynlik reeds na die buiteland vertrek. Duisende Afrikaners is sedert 1994 vermoor en soveel meer van ons mense moes die trauma van motorkapings, huisinbrake en ander misdade deurmaak. Verder is ons taal en kultuur verswak, subsidies aan alles van ons museums tot ouetehuise en kinderhuise is onttrek, terwyl vreemde leerplanne vol propaganda teen die Afrikaner op ons skole en kinders afgedwing is.
Die buitewêreld weet egter maar min hieroor. Verlede week is daar ‘n televisieprogram oor die situasie van Afrikaners in Nederland uitgesaai en baie Nederlanders wat dit gekyk het was skoon verbaas. Hoe het dit alles gebeur sonder dat ons daarvan weet? Dit is hulle vraag. Afrikanerorganisasies sal hul internasionale skakeling moet verskerp. Strategieë om steun te werf moet beter bedink word. Ou, verregse retoriek sal agtergelaat moet word en nuwe moderne boodskappe geskep word. Indien die Afrikaner ‘n toekoms in Suid-Afrika wil hê sal ons, ons internasionale skakeling en steunwerwing dramaties moet verbeter.
by Jaco Kleynhans | Sep 16, 2014 | Nuus |
‘n Paar dae gelede het die Katalane in Spanje hul nasionale dag herdenk met groot steun vir onafhanklikheid. Stappe om Katalonië nader aan onafhanklikheid te bring sal waarskynlik binne die volgende paar maande geneem word. Later hierdie week sal die Skotte besluit of Skotland voortaan ‘n onafhanklike staat moet wees. In Suid-Tirool in Italië is die steun vir onafhanklikheid of ‘n herinlywing by Oostenryk die hoogste in dekades. Selfs in Texas in die VSA was daar die afgelope maande ‘n skerp styging in die steun vir sesessie. In België is die Nieuw-Vlaamse Alliantie, ‘n party wat ten gunste van selfbeskikking vir Vlaminge is, tans die grootste party in Vlaandere en ook in die hele België. Sesessie is nie meer ‘n tema wat deur randfigure en randorganisasies bespreek word nie. Die idee van onafhanklikheid vir streke en volkere wat begeer om uit territoriale state te breek en oor hulself te regeer begin ‘n algemene idee te raak.
Tydens ‘n konferensie van die libertariese Vereniging vir Eiendom en Vryheid wat die afgelope vyf dae in Turkye plaasgevind het, is die belang van selfbeskikking en sesessie keer op keer bespreek. Dié vereniging bevorder breë libertariese idees oor eiendomsreg en die vryheid van individue en gemeenskappe om oor hul eie sake te kan besluit. Meer as 100 akademici, sakelui en regskenners van regoor die wêreld woon jaarliks hierdie prestige konferensie by.
‘n Deurlopende tema by vanjaar se konferensie was die vraag oor die wenslikheid al dan nie van volkere om ‘n reg tot selfbeskikking te kan opeis. Spreker na spreker het hul steun vir selfbeskikking en sesessie uitgespreek. Die motivering hiervoor lê juis in die probleem wat soveel minderhede regoor die wêreld beleef naamlik ‘n staat wat toenemend mag sentraliseer. Regerings plaas toenemend beperkinge op eiendomsreg en onderdruk, soms ongewustelik, sy onderdane deur diskriminerende wetgewing insluitende wetgewing teen diskriminasie en wetgewing wat sukses belas en afhanklikheid aanmoedig. Die libertariese antwoord hierop is dat alles moontlik gedoen moet word om sentrale regerings te verswak. Slegs dan sal gewone burgers die vermoë herwin om groter seggingskap oor hul eie lot te herwin. Meer en kleiner regerings beteken dus meer vryheid vir burgers en beloon prestasie terwyl groter en magtiger regerings toenemend vryhede moet inperk en prestasie eerder belas.
Carel Boshoff, president van die Orania Beweging, was vanjaar een van die 17 sprekers by die Vereniging vir Eiendom en Vryheid se konferensie. Die idee van Afrikaners wat net soos die Skotte, Katalane, Vlaminge en Suid-Tirolers beheer oor hul eie lot by die sentrale regering wil wegneem en na hul eie gemeenskappe afwentel, is baie positief ontvang.
Daar was egter ook waarskuwings. Afrikaners wat na selfbeskikking strewe moenie in die slaggat trap om een gulsige regering met ‘n ander te wil vervang nie. Ons historiese fokus op die staatlike het ons keer op keer in moeilikheid laat beland. Afgewentelde besluitnemingsvermoëns of regering is die korrekte model. Ons sal ons strewe egter op die regte beginsels naamlik hoë morele waardes, persoonlike vryheid, die vryemark en vryheid van assosiasie of disassosiasie moet maak. Dan sal ons ook aktief kan deel word van die internasionale beweging van volkere wat na vryheid strewe.
by Jaco Kleynhans | Sep 12, 2014 | Nuus |
As jy vandag om jou rondkyk sien jy die gevolge van globalisering. Die klere wat jy aan het is waarskynlik in China gemaak. Jou motor dalk in Duitsland of Japan? Die koffie wat jy drink kom dalk van Kenia of Rwanda? Jou rekenaarsagteware is waarskynlik in die VSA ontwikkel. Globalisering het die wêreld die afgelope paar dekades voorwaar ‘n kleiner plek gemaak. Handel tussen nasies het tot die vinnige ontwikkeling van ekonomieë regoor die wêreld aanleiding gegee en vandag vind ons in elke land produkte en dienste van byna elke ander land op aarde.
Is dit dus gek om te vra of globalisering tans besig is om tot ‘n einde te kom? Waarskynlik nie. Die afgelope twee jaar het die groei in internasionale handel met minder as die groei in lande se BBP gestyg. Orals fokus regerings daarop om meer selfversorgend te raak. Lokalisme en plaaslike produksie is deel van die groter poging van lande om hulself teen onstabiliteite in ander wêrelddele te verskans en ook om die finansiële koste en invloed op die omgewing wat die vervoer van produkte oor duisende kilometers inhou te probeer beperk.
In talle wêreldstede is daar vandag restaurante waar jy ‘n premie vir jou kos betaal omdat die bestanddele plaaslik vervaardig is. Hierdie restaurante is uiters gewild. Orals in die wêreld ontwikkel lande ‘n handelsmerk wat duidelik aandui dat ‘n produk plaaslik vervaardig is. In Suid-Afrika is die sogenaamde “Proudly South African”-veldtog ‘n voorbeeld hiervan.
Regerings regoor die wêreld is besig om meer proteksionistiese wetgewing eerder as wetgewing wat vryhandel aanmoedig, in te stel. In 2013 is drie keer meer wette wat markte beskerm as wette wat markte oopstel wêreldwyd ingestel. Die fokus in handel verskuif dus van die globale na die lokale.
Nog ‘n gebeurtenis wat teen globalisering inwerk is die sanksies wat vroeër vanjaar eers deur die VSA en later deur die Europese Unie teen Rusland ingestel is. Hierdie ekonomiese sanksies bring grootliks mee dat ‘n land soos Rusland nie meer orals handel kan dryf soos hy graag wil nie. Dit veroorsaak egter ook ‘n verdere opkoms van nasionalisme en lokalisme in Rusland waar die Russe besef dat hulle vir hulself moet sorg en minder van ander lande vir produkte en dienste afhanklik moet wees. Ook in die VSA en Europa het hierdie sanksies ‘n negatiewe invloed op globalisering.
In Nederland, wat nie juis proteksionisties van aard is nie, is burgers onlangs aangemoedig om meer vrugte en suiwelprodukte in hul dieët in te sluit omdat Rusland sy invoere van landbouprodukte uit Nederland en ander Europese lande gestaak het. Europese lande sal weens die sanksies dus ook toenemend meer daarop gefokus wees om selfversorgend te raak.
Globalisering het die wêreld totaal verander. Vir goed en vir sleg. Oop markte het ekonomiese geleenthede geskep, maar baie van die lokale insluitende kulture, tale en tradisies het in die slag gebly. Die uitdaging sal voortaan wees om die regte produkte en dienste vir uitvoere te skep, terwyl jy jou vermoë uitbrei om aan plaaslike behoeftes te voldoen.