We are marching to…

GilooleysWaarheen is jy op pad? Is dit nie een van die groot vrae nie. Waarheen is ons op pad? Ek sien ’n foto van ’n advertensie bord op ’n besige snelweg, dit vra: “Why do you keep doing this to yourself?” Wreed. Wanneer ons so ’n oomblik tot stilstand geroep word, tydjie vat om te dink, wat is jou antwoord op bogenoemde vrae?
So tussen die “jou kombers en my matras” deur marsjeer die volk agter wolkkolomme aan, soos Lucas Maree dit gesing het. As die rookwolk bo die stad immers ’n wolkkolom genoem kan word. Een van my stadsvriende vertel vermakerig hoe hy die oggende 5:30 opstaan tot die lieflike gehoes van die voëltjies.
Die Dave Matthews Band wy ’n hele lied aan die miere wat marsjeer. Soos “Ants Marching” beskryf hy die mensdom en die Prediker beskryf dit alles as ’n gejaag na wind. Ons jaag nie na wind nie, ek jaag, of kruip die N1 langs, in my opmars om my deel te doen, my brood te verdien, om terug te jaag na my veilige kompleks in die ooste. Kompleks, inderdaad die regte woord, want ons beleef juis ’n kompleks, ’n intense en verwarrende identiteitskompleks. Kyk in die spieël terwyl jy skeer of grimering doen. Beleef die kompleks. Werk toe, terug, werk toe terug, werk toe terug. Vasgevang in die mars van die lewe. Waarheen is jy op pad?
Ek bewonder en verwonder my aan diegene wat daagliks heen en weer marsjeer. Ek haal my hoed af, ek salueer. Om jou lewe op te offer vir iets so klein soos net jou eie bestaan verg werklike oortuiging. Ek vra om verskoning vir die sarkasme, dit kom van ’n goeie plek af. Miskien is die mensdom se gevoel van sinneloosheid en nutteloosheid juis dit, juis die feit dat wat jy doen, waarvoor jy studeer en alles opoffer, sinneloos is. Ek wil jou nie negatief maak nie, dit is ons as mensdom sommer vanself, ek wil ’n alternatief aanbied.
Wat is jou eindplan? Is dit die volgende groot reis, die aanbouing aan jou huis, die aankoop van die nuwe Hilux? Is dit jou kinders deur universiteit kry, jou skuld afbetaal, verhoging of bevordering? Daar moet tog iets groters wees; meer wees waarvoor ons marsjeer; meer as dit as die rede vir ons bestaan.
Bob Dylan sing: “How many roads must a man walk down, before you call him a man?” Koos du Plessis sing “en eindelik was almal maar net kinders van die wind…” Ek gaan met Koos verskil en vir Bob antwoord. Ons is meer as kinders van die wind, ons is knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry. “How many roads?” miskien net een, die pad na vryheid. Die FAK sing “we are marching to Pretoria,” ons sing “We are marching to Orania”
Ek bied dit aan as sin, as alternatief, as iets groters as jy: “Eendag in Orania”
Kruip môreoggend N1 langs, maar kruip met ’n doel, met ’n visie, met ’n plan, kondig sommer jou plan luidkeels aan: “We are marching to Orania, Orania, Orania. We are marching to Orania, Orania all te way…” Eendag in Orania.

Mense hou van grense

486336438Grense is deesdae weer in die nuus. Landsgrense, morele grense, die grense wat die verhouding tussen individue en die staat beheer en grense tussen mense, gemeenskappe en volkere word temas wat toenemend die indiepte-bladsye van koerante en besprekingsprogramma op radio en televisie, veral in Westerse lande, domineer.

Reeds sedert die laat 1960’s beleef die meeste Westerse lande ’n voortdurende veldtog teen grense. Die Britse sosioloog Frank Furedi skryf onlangs dat die Westerse samelewing se vervreemding van grense nie ‘n progressiewe stap is nie, maar dat dit eerder uitdrukking gee aan ‘n krisis onder Westerlinge om by bepaalde grense te bly staan en dit te verdedig. Volgens hom lê die groot probleem in die Westerse samelewing se ontwykende taktiek van nie-veroordeling. Vir enige Westerse beskawing om te oorleef sal die vermoë om waarde-onderskeidings te maak herontdek moet word en sal Westerlinge hul vrees vir hul eie waardes en grense moet oorkom en die vermoë aanleer om dit te kan verdedig, aldus Furedi.

Die Amerikaanse historikus Molly Worthen skryf onlangs in die New York Times oor die verskuiwing van algemene uitdrukkings onder Westerlinge en hoe dit ons aanslag tot belangrike gesprekke verander het. Volgens haar praat mense deesdae eerder van “Ek voel soos dit of dat” as van “Ek dink so” of “Ek glo hierin”. Westerlinge verkies om op maklike abstraksie terug te val eerder as om weens dieper waardes standpunt in te neem.

Die gevolge van meer as vier dekades se afbreek van fisiese en ander grense raak toenemend duidelik. Onwettige immigrante stroom Amerika en Europa binne. In sommige skooldistrikte in Kalifornië word meer as 100 verskillende tale gepraat. Die afgelope tyd heers daar ’n hewige debat in die VSA oor die gebruik van openbare badkamers. Deel van die afbreek van grense was die instel van sogenaamde geslaglose badkamers en die reg aan mense om self te kies watter badkamers hulle wil gebruik.

In Europa het die verval van grense gelei tot onbillike ekonomiese mededinging wat die een krisis na die ander in Suid-Europa, veral Griekeland veroorsaak het. Kommentators skryf van morele verval en die verlies aan identiteit en dus gebondenheid en hoe dit aanleiding gee tot ’n massa ongefokusde individue wat toenemend aan depressie, swak werksprestasie en gebroke verhoudinge lei.

Robert Nisbet het reeds in 1952 in The Quest for Community geskryf dat die verval van grense en identiteit sal lei tot ’n staat van nostalgie en vae verlange wat weer sal oorgaan in diepe ontevredenheid met jou wese en ’n bitter vervreemding van die individu teenoor alles om hom.

Na die verval van grense word dit nou duideliker dat die mens ‘n gemeenskap nodig het. Ons het nodig om aan iets te behoort en om tussen verskillende groepe mense te kan onderskei, om te kan identifiseer met ‘n groep, maar ook met spesifieke duidelike waardes op die terrein van geloof, politiek en kultuur.

Dat Europese lande dus grensbeheer begin toepas en dat 45% van Europeërs verlede week in ‘n peiling aangedui het dat hulle ‘n referedum oor lidmaatskap van die Europese Unie sal wil sien, is ‘n aanduiding dat Westerlinge tog weer begin smag na goeie, gesonde grense.

Die Orania ekonomiese model

Talle besoekers aan Orania (en waarskynlik nog meer mense wat Orania nog nie besoek het nie) het die persepsie dat Orania volgens een of ander sosialistiese model bestuur word, omdat ons sê dat ons ‘n gemeenskap is.

Die persepsie is byvoorbeeld dat jy grond nie kan koop nie en dit nie jou eiendom is nie, maar dat jy net ‘n lewensreg het en dit ook nie mag verkoop nie, behalwe aan die maatskappy en sonder wins. Verder is die persepsie dat die dorp se inkomste uit die gemeenskaplike boerdery kom en die inwoners se inkomste na die bestuur toe gaan wat dit dan gebruik vir ontwikkeling en om almal se salarisse te betaal.

Daar is blykbaar ‘n probleem om die idee van privaatbesit en privaatinisiatief met die idee van ‘n gemeenskaplike strewe te versoen. Privaat word gekoppel aan individualisme, en gemeenskap aan sosialisme. Verder is dit blykbaar ook moeilik om te verstaan dat ontwikkeling en voorspoed nie soseer kom uit ‘n maatskappy of bestuur wat alles beheer nie, maar uit verskillende privaatinisiatiewe. “Maar hoe verdien die dorp dan sy inkomste as die landbougrond aan privaatpersone behoort?” word dikwels gevra.

Orania funsioneer met die beginsel van die vrye mark, maar met die gemeenskap as die basis en vryheid vir die Afrikaner as ideaal. Dit is ‘n soort derde weg tussen sosialistiese staatsbeheer aan die een kant, en liberale individualisme aan die ander kant. Sowel die alles beheerdende staat asook die individualisme kalwe gemeenskappe uit, dus moet ons nie te veel van die een of die ander een hê nie. Ons soek egter groei en ontwikkeling, en dit is oor en oor bewys dat owerheidsinmenging groei eerder belemmer as bevorder en dat die owerheid hoogstens ‘n rol moet speel as inisieerder van ontwikkeling en dan moet onttrek en die bestuur aan ander moet oorlaat.

Dit is nie toevallig dat Libertariërs nogal ‘n groot mate van aanklank by Orania vind, nie so seer oor die ideaal nie, maar oor die praktyk van ‘n gemeenskpa met die minimum staatsinmenging. Omdat die staatsfunksie in Orania grootliks afwesig is, word ‘n groot mate van dit wat die staat moet doen, deur Orania-instellings gedoen. Die Dorpsraad, wat dikwels as die regering van Orania beskou word, beperk homself grootliks tot die pligte van ‘n munisipaliteit, naamlik dienslewering. Die Dorpsraad het wel ‘n soort “belasting” tot sy beskikking deur middel van heffings. Die Orania Beweging word befonds uit vrywillige bydrae van lede en ondersteuners. Sekere “staatsfunksies” soos die daarstelling en onderhoud van infrastruktuur, die handhawing van orde, geskilbeslegting, maatskaplike hulp en voorsiening van maatskalike behuising word deur die Dorpsraad of die Orania Beweging bestuur en befonds. Daar is sowel betaalde amptenare asook vrywilligers wat daarmee gemoeid is.

Die verskaffing van werk, lewering van produkte en dienste word feitlik heeltemal aan die privaatsektor oorgelaat. Die ekonomie is markgerig en vry, en die owerheid meng selde daarby in. In die beginjare van Orania was die ekonomie gereguleer deur ‘n permitstelsel wat slegs een besigheid van ‘n soort toegelaat het. Dit het egter nie gewerk nie en gelei tot bevoordeling van sekere mense en ontevredenheid by ander en is daarom vervang deur die huidige stelsel van vrye kompetisie. Dit is werklik betreklik maklik om ‘n besigheid in Orania oop te maak, dit is slegs die markkragte wat jou sukses bepaal. Daar is egter ‘n hele paar markkragte wat in ag geneem moet word voor ‘n mens ‘n besigheid begin. Die kompeterende voordele van Orania is die gemak waarmee ‘n besigheid oopgemaak kan word, relatief lae huur, goeie veiligheid en goeie werkende infrastruktuur asook ‘n betroubare en nie-korrupte plaaslike bestuur. Die nadele is dat Orania ver van die markte is sowel vir in- as uitvoer, dat die plaaslike mark klein en in talle opsigte oorbedien is en dat die aanbod aan geskikte personeel nie altyd volop is nie. Die tegniese sentrum en ander onderwysinstellings in die toekoms sal laasgenoemde toedrag van sake egter aanspreek, en met meer inwoners is daar ook meer geleenthede.

Die basis van die ekonomiese model is dat hier geleenthede geskep moet word om ‘n gesonde gemeenskap te bou, maar dat van die enkeling verwag word om die geleenthede aan te gryp en om nie met die leupel gevoer te wil word nie. Sterk individue vorm sterk gesinne en families en bou sodoende ‘n sterk gemeenskap.

Ekonomiese model

Teologie vs Wetenskap binne ’n Realistiese wêreldbeskouing.

flat-earth-society1

Om enige ergernis uit te skakel, gaan ek my skrywe dadelik vooruit loop en julle belowe dat hierdie stuk glad nie so ernstig is wat my tema dit laat klink nie. Dus kan die stoere Fundamentaliste asook die fanatiese wetenskaplike denkers gerus voort lees sonder om solank tant Sarie te roep om die voorlaaier te bring of Saheed, jou navorsingsgenoot,  te beveel om die biochemiese laboratorium voor te berei.

Teologie vs Wetenskap, ’n eeue oue debat waarin vele mense verketter  of bespotlik gemaak is oor hul sterk opinies en teorieë. Die bekendste onderafdeling van hierdie oorlog is die, soms bloedige, geveg tussen die Evolusioniste en die Kreasoniste, miljoene-jare-se-ontwikkeling of die ses-daagse-skepping. ‘n Minder prominente deel  is die aarde-rond- of- plat- geveg. Mens sou dink dat dit met Galileo opgelos is, maar selfs vandag nog, veral vanuit Australië duur hierdie velle debat voort.

My opinie is redelik eenvoudig  Psalm 19, waarskynlik omdat ek meestal nie deelneem aan bogenoemde debatte nie. Ek is oortuig dat God Homself openbaar aan die mens in die Skriftuur, wat dan ten diepste sy openbaring aan die mens, soos opgeteken in die Bybel is, maar ook prediking, studie, eksegese ensovoorts.  God openbaar Homself egter ook baie duidelik in die natuur, as voorbeeld natuurrampe, reën op die regte tye, die grootheid van die sterrestelsel en heelal, die kleinheid en detail van die mikrobiologiese wêreld; selfs deur siekte ensovoorts. God praat, God stel Homself bekend aan mense en die mens leer hom juis ken deur die Skriftuur; asook die Natuur.

Ek wil egter vandag met julle iets deel rakende die aarde-rond- of plat- debat: Jare gelede stap een van my studentemaats saam met ’n diep gelowige, vrome ou oom, so tussen sy skape. Die gesprek gaan oor boerdery, reën, politiek en geloof. Soos hierdie tipe gesprekke gewoonlik vorder, vorder hierdie een van die skape tot by die natuur en God se grootheid en soewereiniteit. Hulle gesels oor hierdie dinge en oor die wetenskap, die vordering op landbougebied, geneties-selektiewe teling asook die debat tussen die Kerk en die Wetenskap. My vriend raak toe die plat aarde teorie aan en noem die Ou-Testamentiese wêreldbeeld dat die aarde plat is en op vier pilare staan. Heel verbaas kyk die oom hom aan en sê: “Dominee, ek weet darem nie so mooi nie, ek het bewyse dat die aarde  nie plat is nie”. My vriend kyk die oom net vraend aan soos die oom op ’n miershoop gaan sit. Hy lig sy voet op en beduie statig na de onderkant van sy regter Strassberger-vellie. “Kyk hoe skeef loop ek my hak af, die aarde moet mos rond wees”

Met hierdie oom se eenvoudige antwoord is die debat vir my ook skielik verby. Ek kyk na my skoensool, sien dieselfde bewyse en besef vandag: “Ek glo verseker aan ’n ronde aarde, die bewyse is immers onteenseglik daar, my skoen se hakke is ook maar lekker skeef afgeloop.”

 

’n Alternatief vir Duitsland is nou op die tafel

2441050922517239Dapperheid. Waarheid. Duitsland. Hierdie drie woorde het die afgelope naweek op groot baniere in ’n moderne konferensiesentrum in die stad Stuttgart in Duitsland gepryk. Die okkasie? Die eerste nasionale kongres van die Alternatief vir Duitsland (AFD), ’n nuwe regse politieke party wat drie jaar gelede tot stand gekom het en die afgelope maande tot die derde grootste party in Duitsland gegroei het.

Dat die AFD uit dapperheid gebore is, is bekend. Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog en veral sedert die verligting en toename in immigrasie uit Moslemlande van die 1960’s, het Duitsers in ’n soort selfopgelegde politieskorrektheid geleef. Enige identifisering van ’n eie nasionale identiteit is as agterlik en ekstremisties afgemaak en Duitsers het in ’n oikofobiese staat van afkeur vir hul eie identiteit geleef. Daarom was Duitsland vir lank die voorloper met die skep en uitbou van die Europese Unie, die Euro-sone, die Schengen-oopgrensbeleid en die ontwikkeling van ’n moderne Europese identiteit gebou op die vervaging van nasionale en volksidentiteite in Europa.

Enige politieke standpunt teen die moderne idee van ’n identiteitlose Duitsland is as ekstremisties afgemaak en elke politieke party en beweging wat Duitse identiteit probeer bevorder het, is geïsoleer, verneder en vernietig.

Toe die AFD dus drie jaar gelede tot stand gekom het, moes dié party self versigtig wees om nie ook op dieselfde manier as vorige regse partye in Duitsland vinnig-vinnig vernietig te word nie. Die feit dat die AFD dus die afgelope naweek tydens hul kongres op dapperheid en waarheid gefokus het, is geen verrassing nie.

Die Duitsland van vandag is ’n ander land as die Duitsland van tien of twintig jaar gelede. Die AFD is ook nie vergelykbaar met lawwe en soms rassistiese en werklik ekstremistiese regse partye wat oor die afgelope paar dekades in Duitsland opgeskiet en weer verdwyn het nie.

Duitsers is vandag toenemend bekommerd oor die toekoms van hul land en kontinent. Die land se Moslembevolking nader 10%, vrese vir terroriste-aanvalle neem toe en ’n erkenning dat die droom dat immigrante sou assimileer, misluk het. Die groot Europese droom het ook begin misluk met spanning tussen lede van die Europese Unie en toenemende onsekerheid oor die langtermynvolhoubaarheid van die Euro as geldeenheid.

Toe die sowat 2400 kongresgangers van die AFD Saterdagoggend in Stuttgart deur honderde linkse betogers begroet is, het die woord dapperheid volle relevansie gekry. Die AFD is nie, maar net nog ’n populistiese regse party nie. Daarom juis die woord waarheid na dapperheid in die naweek se slagspreuk. Die party is gebou op sterk idees oor hoe die Duitsland van die toekoms moet lyk. Om hierdie idees te laat slaag sal dapperheid van ’n meerderheid van Duitsers vereis.

Die party het die naweek ’n moderne konserwatiewe platform wat steun op gesinswaardes, omsien na armes, teen die Islamisering van Europa gekant is en ’n gesonde vorm van patriotisme en eie identiteit bevorder, goedgekeur. Volgende jaar sal Duitsers vir die eerste keer die kans kry om in ’n nasionale verkiesing oor die rigting van hul land te besin. Indien dapperheid en die waarheid seëvier sal die AFD tot ’n wesenlike nasionale rolspeler bevorder word.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel