fbpx

2441050922517239Dapperheid. Waarheid. Duitsland. Hierdie drie woorde het die afgelope naweek op groot baniere in ’n moderne konferensiesentrum in die stad Stuttgart in Duitsland gepryk. Die okkasie? Die eerste nasionale kongres van die Alternatief vir Duitsland (AFD), ’n nuwe regse politieke party wat drie jaar gelede tot stand gekom het en die afgelope maande tot die derde grootste party in Duitsland gegroei het.

Dat die AFD uit dapperheid gebore is, is bekend. Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog en veral sedert die verligting en toename in immigrasie uit Moslemlande van die 1960’s, het Duitsers in ’n soort selfopgelegde politieskorrektheid geleef. Enige identifisering van ’n eie nasionale identiteit is as agterlik en ekstremisties afgemaak en Duitsers het in ’n oikofobiese staat van afkeur vir hul eie identiteit geleef. Daarom was Duitsland vir lank die voorloper met die skep en uitbou van die Europese Unie, die Euro-sone, die Schengen-oopgrensbeleid en die ontwikkeling van ’n moderne Europese identiteit gebou op die vervaging van nasionale en volksidentiteite in Europa.

Enige politieke standpunt teen die moderne idee van ’n identiteitlose Duitsland is as ekstremisties afgemaak en elke politieke party en beweging wat Duitse identiteit probeer bevorder het, is geïsoleer, verneder en vernietig.

Toe die AFD dus drie jaar gelede tot stand gekom het, moes dié party self versigtig wees om nie ook op dieselfde manier as vorige regse partye in Duitsland vinnig-vinnig vernietig te word nie. Die feit dat die AFD dus die afgelope naweek tydens hul kongres op dapperheid en waarheid gefokus het, is geen verrassing nie.

Die Duitsland van vandag is ’n ander land as die Duitsland van tien of twintig jaar gelede. Die AFD is ook nie vergelykbaar met lawwe en soms rassistiese en werklik ekstremistiese regse partye wat oor die afgelope paar dekades in Duitsland opgeskiet en weer verdwyn het nie.

Duitsers is vandag toenemend bekommerd oor die toekoms van hul land en kontinent. Die land se Moslembevolking nader 10%, vrese vir terroriste-aanvalle neem toe en ’n erkenning dat die droom dat immigrante sou assimileer, misluk het. Die groot Europese droom het ook begin misluk met spanning tussen lede van die Europese Unie en toenemende onsekerheid oor die langtermynvolhoubaarheid van die Euro as geldeenheid.

Toe die sowat 2400 kongresgangers van die AFD Saterdagoggend in Stuttgart deur honderde linkse betogers begroet is, het die woord dapperheid volle relevansie gekry. Die AFD is nie, maar net nog ’n populistiese regse party nie. Daarom juis die woord waarheid na dapperheid in die naweek se slagspreuk. Die party is gebou op sterk idees oor hoe die Duitsland van die toekoms moet lyk. Om hierdie idees te laat slaag sal dapperheid van ’n meerderheid van Duitsers vereis.

Die party het die naweek ’n moderne konserwatiewe platform wat steun op gesinswaardes, omsien na armes, teen die Islamisering van Europa gekant is en ’n gesonde vorm van patriotisme en eie identiteit bevorder, goedgekeur. Volgende jaar sal Duitsers vir die eerste keer die kans kry om in ’n nasionale verkiesing oor die rigting van hul land te besin. Indien dapperheid en die waarheid seëvier sal die AFD tot ’n wesenlike nasionale rolspeler bevorder word.