Om enige ergernis uit te skakel, gaan ek my skrywe dadelik vooruit loop en julle belowe dat hierdie stuk glad nie so ernstig is wat my tema dit laat klink nie. Dus kan die stoere Fundamentaliste asook die fanatiese wetenskaplike denkers gerus voort lees sonder om solank tant Sarie te roep om die voorlaaier te bring of Saheed, jou navorsingsgenoot, te beveel om die biochemiese laboratorium voor te berei.
Teologie vs Wetenskap, ’n eeue oue debat waarin vele mense verketter of bespotlik gemaak is oor hul sterk opinies en teorieë. Die bekendste onderafdeling van hierdie oorlog is die, soms bloedige, geveg tussen die Evolusioniste en die Kreasoniste, miljoene-jare-se-ontwikkeling of die ses-daagse-skepping. ‘n Minder prominente deel is die aarde-rond- of- plat- geveg. Mens sou dink dat dit met Galileo opgelos is, maar selfs vandag nog, veral vanuit Australië duur hierdie velle debat voort.
My opinie is redelik eenvoudig Psalm 19, waarskynlik omdat ek meestal nie deelneem aan bogenoemde debatte nie. Ek is oortuig dat God Homself openbaar aan die mens in die Skriftuur, wat dan ten diepste sy openbaring aan die mens, soos opgeteken in die Bybel is, maar ook prediking, studie, eksegese ensovoorts. God openbaar Homself egter ook baie duidelik in die natuur, as voorbeeld natuurrampe, reën op die regte tye, die grootheid van die sterrestelsel en heelal, die kleinheid en detail van die mikrobiologiese wêreld; selfs deur siekte ensovoorts. God praat, God stel Homself bekend aan mense en die mens leer hom juis ken deur die Skriftuur; asook die Natuur.
Ek wil egter vandag met julle iets deel rakende die aarde-rond- of plat- debat: Jare gelede stap een van my studentemaats saam met ’n diep gelowige, vrome ou oom, so tussen sy skape. Die gesprek gaan oor boerdery, reën, politiek en geloof. Soos hierdie tipe gesprekke gewoonlik vorder, vorder hierdie een van die skape tot by die natuur en God se grootheid en soewereiniteit. Hulle gesels oor hierdie dinge en oor die wetenskap, die vordering op landbougebied, geneties-selektiewe teling asook die debat tussen die Kerk en die Wetenskap. My vriend raak toe die plat aarde teorie aan en noem die Ou-Testamentiese wêreldbeeld dat die aarde plat is en op vier pilare staan. Heel verbaas kyk die oom hom aan en sê: “Dominee, ek weet darem nie so mooi nie, ek het bewyse dat die aarde nie plat is nie”. My vriend kyk die oom net vraend aan soos die oom op ’n miershoop gaan sit. Hy lig sy voet op en beduie statig na de onderkant van sy regter Strassberger-vellie. “Kyk hoe skeef loop ek my hak af, die aarde moet mos rond wees”
Met hierdie oom se eenvoudige antwoord is die debat vir my ook skielik verby. Ek kyk na my skoensool, sien dieselfde bewyse en besef vandag: “Ek glo verseker aan ’n ronde aarde, die bewyse is immers onteenseglik daar, my skoen se hakke is ook maar lekker skeef afgeloop.”
Die grap is natuurlik dat ons nog nie eens raak aan wat die werklikheid is nie.
Jy moes tog al gehoor het van “Einstein’s Theory of General Relativity”, https://en.wikipedia.org/wiki/Theory_of_relativity. Nou wat het dit te sê oor tyd en ruimte? Nogal iets heel interessant en dit is dat tyd en ruimte is nie konstantes nie. Die enigste konstante is spoed van lig, as ek dit nie mis het nie.
Nou goed dit beteken dan wel ons dink ons weet nou dat die aarde is rond en dat dit miljoene jare oud, maar die twee items is nie konstantes nie. Dus ons weet nie regtig nie en kan hulle nie regtig meet nie. Lees gerus “Why Space and Time Might Be an Illusion” http://www.huffingtonpost.com/george-musser/space-time-illusion_b_9703656.html
Wetenskaplikes, oa. Stephan Hawking, is nou al jare besig om al die wette bymekaar te bring in die sg. “Grand Unified Theory”. https://en.wikipedia.org/wiki/Grand_Unified_Theory Dit sal waarskynlik nog baie jare neem. So om te aanvaar dat ons nou alles weet en dat die Wetenskap al die antwoorde weet is verwaand.
Persoonlik sien ek dit so, dat daar dinge in die Bybel is wat ons nie verstaan nie. Soms kry ons in die Wetenskap ‘n goeie antwoord en soms nie. Eendag sal ons wel al die antwoorde weet. Een dag as ons huige staat van tydelik verander na die staat van ewige.
Ook op ‘n meer ligter noot: (Jammer as iemand nou beledig gaan voel.)
Daar was die dame wat die voorsitter was van die plat aarde vereniging. Die joernalis vra vir haar: “Waarop staan die aarde”. Sy antwoord. “Wel op ‘n olifant, natuurlik.” Hy vra: “… en daai olifant.” Sy antwoord. “Wel natuurlik ook op ‘n olifant.” Hy vra: “… en daai twee olifante.” Sy antwoord. “Hou op my tyd mors daar is olifante tot reg onder.”
Lekker lag ek: Olifante tot heel onder.