Die noodsaak vir die behoud van familieplase

Cop-Phil-DorpVerlede week se Nampo-oesdag by Bothaville in die Vrystaat was nie net ’n toonvenster vir die nuutste landbouprodukte en dienste nie, maar het ook die kollig laat val op die talle uitdagings wat die landboubedryf in Suid-Afrika in die gesig staar.

Met die onlangse droogte wat nog nie orals heeltemal uitgewoed is nie, hoë insetkoste en ’n voortdurende aanslag op die veiligheid van boere, staan Suid-Afrika se landboubedryf voor ’n tyd van groot uitdagings.

Die fout wat baie ekonome, denkers en politici maak is om die landboubedryf bloot net as nog ’n sektor van die land se ekonomie te beskou. Om die landboubedryf te reduseer tot sy beperkte bydrae tot die bruto binnelandse produk, is ’n groot fout. Om op te hou om van boere te praat en eerder na produsente te verwys, is net so verkeerd.

Boere en boerderye in Suid-Afrika het ’n sterk kulturele en gemeenskapsbelang wat toenemend besig is om verlore te gaan. Regdeur Suid-Afrika het dorpe in die agtiende en negentiende eeu tot stand gekom omdat boere ’n kerk en later ander dienste nodig gehad het. Die plattelandse dorp was die sentrum vir boere waar hulle bymekaar kon kom, kon sosialiseer en aan ekonomiese en gemeenskapsaktiwiteite kon deelneem.

Min dorpe en selfs klein stede in Suid-Afrika het enige bestaansreg sonder die deelname van boere en hul gesinne gehad. Skole, kerke en talle besighede het vir lank floreer weens die deelname van die landboubedryf.

Die afgelope twee tot drie dekades het boerdery-eenhede begin vergroot, meer mense het na die stede getrek, maar boere en hul gesinne het ook toenemend verby hul naaste dorp gekyk en kinders na skole in groot stedelike gebiede gestuur. Talle dienste en produkte is nie meer plaaslik aangekoop nie.

Daar is drie redes hiervoor. Eerstens is die toenemende individualisering van Afrikaners as antwoord op die vervreemding binne die Nuwe Suid-Afrika, ook op boere van toepassing en het die verruiling van die gemeenskap vir materiële oorvloed ook sommige boere besluite laat neem wat hul gemeenskappe hard getref het. Nog ’n rede vir die verskuiwing is die vervreemding wat nuwe politieke beheer in ons dorpe en stede gebring het. Mede-eienaarskap van ons gemeenskappe het verval. Die derde rede is dat die Suid-Afrikaanse landboubedryf ook deur globale invloede geraak is. Die Amerikaanse idee dat die plaas ’n groot fabriek moet word, het ook hier begin posvat. In die VSA beheer vier maatskappy tans die produksie van 65% van varkvleis en 84% van beesvleis. Die gemeenskapsgefokusde kleinboer word deur siellose korporatiewe landbou vernietig en talle studies in die VSA het bewys dat dit ook tot minder mededinging en selfs ekologies-onvriendelike praktyke lei. Die grootste verlies is egter die verval van gemeenskappe en hul instellings.

Die verlies aan die familieplaas en sy naelstring aan ’n hegte gemeenskap met ’n dorp, ’n kerk, ’n skool en strukture wat mekaar bevorder en volhoubare oplossings vir die uitdagings van landelike gebiede skep, gaan in die toekoms bewys dat die idee dat plase sommer net fabrieke sonder ’n siel kan word, vernietigende gevolge kan hê.

‘Entitlement’ en die verval van volkstrots

Picard facepalmIn 1994 het dinge aangrypend verander. Die wêreld het verander. Die wêreld het mal geword. Ek blameer 1994 en u sal spoedig verstaan hoekom.

Ek lees vanoggend weereens die Liebeck v. MacDonald’s siviele saak in New Mexico, VSA, 1994 raak. Vir die van u wat nie bekend met hierdie saak is nie gaan ek vinnig in breë trekke dit deel en verskoon my onakademiese, plebiaanse gebruik van Wikipedia, ek het regtig nie die krag om verder te soek nie.  Op 27 Februarie 1992 het die 79 jarige Stella Liebeck van Albuquerque koffie by die deur-ry diensvenster by MacDonald’s bestel. Hulle het met haar kleinseun se 1989 Ford Probe gery en sy was passasier. Blykbaar is die model van die voertuig deurslaggewend omdat dit nie oor daardie nuwerwetse plekkies beskik het waar mens jou polystyrene koppie, of coke-blikkie ens. lekker gemaklik kan laat staan nie. Haar kleinseun, ene Chris, het stilgehou sodat sy melk en suiker kon byvoeg. So het die tante die koppie tussen haar bene vasgeknyp, die deksel oopgemaak en in hierdie proses die hele koppie oor haar skoot uitgestort. Uiteraard het sy gebrand. Die brand was blykbaar so erg dat sy vir twee jaar lank gedeeltelik gestremd was. Sy het $2 860 000 gekry as reparasie vir wat haar oorgekom het. In vandag se geld R45 230 158 and Megawatts (sic), dit sonder die inagneming van inflasie. Indien u sukkel om die and Megawatts te verstaan, google dit…nine-thousand-and-six-hundred-and-megawatts (sic).

Die saak word geklassifiseer as ’n verbruikers-produk-regsaanspreeklikheid-hofsaak. Ek sê vinnig weer wat gebeur het: Tannie Stella Liebeck, ’n 79 jare oue dame, het die MacDonald’s restaurant groep gedagvaar omdat sy derdegraadse brandwonde opgedoen het nadat sy so ’n kokende koppie in haar skoot gemors het.

Ek wil graag klem daarop lê dat sy KOFFIE bestel het, dat sy dit in HUL voertuig oopgemaak het en dat SY dit op haarself omgegooi het.

Onnoselheid word beloon met R45 230 158 and Megawatts (sic). Het ons ’n kultuur geërf waar onnoselheid beloon word? Ek is nie seker nie, soos ek die geskiedenis bestudeer dink ek ons het níe. Dit wil vir my voorkom of ons hierdie kultuur van onnoselheid aangeleer het en nou koester deur dit te beloon.

Dit bring my juis by die titel van my gesanik. Entitlement en die verval van volkstrots. Ek beleef meer en meer hoe ons mense ander blameer, nie net vir wat verkeerd loop met die land en dorp en omgewing nie, maar selfs vir onnosele dinge wat hul self aanvang. So word ander blameer vir jou armoede, of jou gebroke huwelik, of jou afgeloopte skoene, of jou gebreekte kunsgebit.

Waar is die trots, daardie trots van foute regmaak, probleme oplos, eienaarskap van jou eie lewe neem? Nou koester ons hierdie kultuur, ’n kultuur van kry-wat-jy-nie-verdien-nie; kry wat ander jou kamtig skuld. Entitlement, ek sukkel om hierdie woord selfs in Afrikaans te skryf, asof dit nie in ons woordeskat hoort nie. Toe-eiening. Asof ons mense meer en meer bakhand staan en dan kwaad is indien hulle nie kry waarop hulle aandring nie. Dit pas nie by ’n Afrikaner nie…miskien…ek stap sommer gou oor na die Pienk Zebra toe en bestel die warmste koffie wat hulle het…

Jy mag nie oordeel nie…

GrotHoe durf jy? Hoe durf jy sê dat iemand anders se optrede verkeerd is? Die Humanisme skreeu so hard vandag dat selfs goeie Gereformeerdes sukkel om die woord van God tussen al die Politiese Korrektheid te hoor. Verskoon my meneer, ek wil nie aanstoot gee nie, maar jy moet darem nie al jou geld uitdrink sodat jou kinders swaarkry nie. Hoe durf jy? Jammer, meneer. Ek sal nie weer nie. Ek gaan my nek lekker ontbloot en solank op die Polities Korrekte kapblok neerlê: Homoseksualiteit is ook sonde. Ja, daar is vele ander sondes ook, ek weet, soos pedofilie en skinder en diefstal en hoogmoed, maar homoseksualiteit ook; Riaan se uitspraak oor die wreedheid van die gode ten spyt. “Laat die een wat sonder sonde is die eerste klip gooi! Jy mag nie oordeel nie!” gil die quasi-kerk, gil die politieskorrekte, gil die Woolworths tannie, gil die feminis met haar baniere soos die klippe om my reën. Ek gooi nie klippe nie julle, ek sê maar net wat God in sy Woord sê. En die die klippe hou aan teen my vasreën soos ek huiswaarts keer op my scooter. Ek word elke aand nou maar aan die slaap met die ritmiese gedreun van klippe op my sinkdak. Rassehaat is ook sonde en ek is ’n groot voorstander vir verskeidenheid van volkere en kulture en mense, ek kry sommer lekker om die Khoi mense in hul tradisioneel drag nou die dag hier by Orania te aanskou. Ek is trots om ’n Afrikaner te wees en trots saam met ander mense wat hul Kultuur koester. Ek erken en vier selfs die verskille. Mens mag nie haat nie. Hoe durf jy? Gil die vêrregses nou. Hoe durf jy? Gil die super-pienk-liberaliste soos ek oor veelvuldige kulture praat maar ek verdwaal nou agter ’n ander jakkals aan.
Mag mens oordeel? Moet jy oordeel?
Ek lees eenkeer ’n verhaal oor ’n klein dorpie, gebou aan die voet van ’n majestueuse bergreeks. Hierdie dorpie was, soos meeste ander klein dorpies, gevul met die daaglikse gang van die burgery. Hierdie dorpie was egter uniek siende daar, so ’n paar honderd meter van die dorpie se grens, net so agter die begraafplasie, ’n indrukwekkende en onheilspellende grot was. Om eerlik te wees was die grot nie onheilspellend nie, daar was niks spellend daaraan nie, die grot was onheilig, gevaarlik, boos. Wat presies daar gewoon het, of daar aangegaan het, is nooit oorvertel nie, die wat gaan probeer uitvind het se oorskot is weke later buite die dorpie gevind. Hierdie grot was blerrie-lewens-gevaarlik. Die dorpsraad het uiteraard reëls en regulasies ingestel om die burgery te beskerm teen die gevaar. Reëls so eenvoudig soos: “Geen inwoner mag naby die grot gaan nie”
Ongelukkig, soos die mensDOM maar is, het enkelinge en groepies mense die kans gewaag om te gaan kyk en twee weke later het weduwees of kinders of pappas of mammas geween en “Genade onbeskryflik groot” gesing soos die kiste afsak.
As jy in so ’n dorpie sou woon, wat sou jy nie alles doen om jou geliefdes weg te hou van daardie grot af nie? Ek sou, as ek hoor dat hulle wou gaan, so vêr gaan om hulle toe te sluit, vas te hou, om te keer dat hulle hulself skade aandoen.
Jy mag nie oordeel nie, daarmee stem ek saam, maar mag ons mekaar liefhê? Mag jy iemand so passievol en angstig liefhê dat jy hulle van die kwaad wil weghou? Dat jy jouself ongewild sal maak om hulle te beskerm?
Met hierdie verhaal in my gedagtes dink ek weer aan die “Jy mag nie oordeel nie” standpunt. Sien julle nie die grafte nie? Sien julle nie die ontsaglike groot gevaar van die grot van sonde meer raak nie? Weeg Humanisme en Polities Korrek wees swaarder as mense se ewigheid?
My betoog is dat ons, in plaas van ’n humanistiese “almal maar laat begaan om hul eie einde te soek”, werklikwaar weer as gemeenskap mekaar sal liefhê, so ernstig liefhê dat ons sal inmeng en omgee.
As ek op pad na daardie grot is en ek pleit nou by julle almal, asseblief, moenie polities korrek probeer wees nie, help my.
Daar is niks so mensverkeurend gevaarlik as sonde nie. Dit is juis vanuit God se liefde dat hy vir ons die wette gee; om ons te beskerm om ons weg te keer van ons eie geneigdheid tot selfvernietiging; en Hy gebruik mense as sy medewerkers hierin. Dit was immers God self wat die wette vir Moses gegee het, maar Moses het dit aan die volk gaan meedeel, Moses het dit in regspraak aangewend. Is dit nie juis wat ons vandag nodig het nie? Ons benodig meer wette wat weer in God se liefde toegepas en gehoorsaam word.
Ek sluit hierdie skrywe met paar woorde vanuit Jakobus 5.
Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.

Die Koue Oorlog duur voort

New_cold_war620Toe die Sowjet Unie op 25 Desember 1991 tot ’n einde gekom het, het die wêreld ook geglo dat die Koue Oorlog verby was. Tog sien ons vandag dat die Westerse lande onder die vaandel van die Noord Atlantiese Verdragsorganisasie voortdurend besig is om strategieë te bedink om die opmars van Rusland te probeer stuit.

Vyf en twintig jaar na die val van die Sowjet Unie het Amerika 35 000 soldate wat permanent in Europa en veral die oosgrens naby aan Rusland, gestasioneer is. Die VSA beplan om binnekort tussen 4000 en 5000 ekstra soldate na Oos-Europa te stuur ten einde die bedreiging van Rusland teen te staan.

Sedert die einde van die Koue Oorlog handhaaf die VSA ’n aktiewe militêre teenwoordigheid in Europa. Onder die presidentskap van George W. Bush is ’n komplekse missielafweerstelsel deur die Amerikaners in Pole ontwikkel.

Hoewel die internasionale gemeenskap vermoed het dat Barack Obama die VSA se militêre betrokkenheid in Europa sou afskaal, het die teenoorgestelde eintlik gebeur. In 2014 het Obama die sogenaamde “Europese Gerusstellingsinisiatief” aangekondig. Dié inisiatief is daarop gefokus om Rusland te verhoed om Europese lande, veral die Baltiese State, binne te val. Met die bekendstelling van die inisiatief het Obama 1 miljard dollar vir die inisiatief beskikbaar gestel. Teen volgende jaar sal dit tot 3,4 miljard dollar verhoog.

Waarom is die VSA en Wes-Europese state so bekommerd oor ’n moontlike aggressiewe strategie van Rusland? Eerstens moet ’n mens erken dat Rusland nie onskuldig is nie. Die Russe het reeds in 2008 Georgië binnegeval en beset vandag steeds Suid-Ossetia en Abkhazia, twee van dié land se noordelike provinsies.

Gedurende Maart 2014 het Russiese seperatiste in die Krimgebied, ’n skiereiland aan die noordkus van die Swartsee, met die hulp van die Russiese regering en weermag die gebied as onafhanklik van die Oekraïne verklaar.

Rusland is dus bekend vir ’n aggressiewe benadering aan sy westelike en suidelike grens. Die redes hiervoor is egter duidelik. Die gebiede waar Rusland betrokke geraak het, is almal gebiede met groot Russiese bevolkings wat eerder deel van Rusland wil wees. Tweedens het Rusland betrokke geraak in gebiede waar sy eie weermag bedreig kan word sou hy nie die grondgebied daarom beheer nie. Rusland het ’n belangrike vlootbasis op die Krimskiereiland.

Beide redes vir Rusland se aggressie word gedryf deur lande soos Georgië en die Oekraïne se besluit om minder met Rusland te assosieer en eerder pro-Westerse regerings te verkies. Terwyl hierdie lande wes begin kyk het, het Rusland gevrees dat sy belange daar bedreig kan word.

Die Weste en veral die VSA oorskat die Russiese bedreiging. Rusland het min rede om ander Oos-Europese lande soos Pole en die Baltiese lande binne te val. Rusland se militêre vermoë word ook oorskat. Terwyl die VSA en NAVO egter hul vermoë in Oos-Europa uitbrei, sal Rusland geen ander keuse hê as om dieselfde te doen nie.

Die toenemende of hernude Koue Oorlog tussen die Weste en Rusland is eerder ’n oorsaak van Westerse oordrewe militêre teenwoordigheid as ’n wesenlike bedreiging van Rusland. Indien die Weste te vêr gaan kan dinge binnekort lelik raak in Oos-Europa.

Jou kultuur en (digitale) geleenthede

Volgens die onlangse retoriek van die regering en die EFF as vernaamste opposisie, is dit duidelik dat die skroewe aangedraai word om Afrikaners van toegang tot geleenthede te ontsê.

Die minister van Sport se onlangse aksies teen sportliggame wat nie die land se demografie weerspieël nie wys hoe swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie tot nuwe hoogtes gedryf word. Selfs ons talentvolle sportmense sal voortaan bakhand moet staan.

Terwyl ouer Afrikaners nog tot ‘n mate van die ergste gevolge geïsoleer is omdat hulle steeds kan kapitaliseer op die geleenthede wat hulle wel ontvang het, staan jong Afrikaners voor ‘n besonderse uitdaging. Sommige voel die druk so erg dat hulle selfs hoop om die drukgang oppad na ballingskap te ontsnap deur hul Afrikanerskap en selfs hul moedertaal te ontken.

Jeanelle Greyling beskryf die worsteling van sommige jong Afrikaners as volg: “Ons voel soos die naamgenote van ’n reeksmoordenaar wat vir ewig vervloek sal wees weens sy dade. In ’n land waar werk en geld skaars is, blyk dit Afrikaans trek aan die kort end van die prioriteitslys. Slegs die sterkste oorleef, dus voel dié wat nie beplan om te emigreer nie dat ons maar ons moeder(taal) se rokspante moet los en die mededingendste taal aanneem.”[1]

Om kulturele selfmoord te pleeg is egter nie ons enigste opsie nie. Daar is ruimte vir alternatiewe skuiwe. Terwyl die regering ‘n monopolie het op die geleenthede wat die staat uitdeel en wetgewing kan uitvaardig om besighede te straf wat nie sy edikte gehoorsaam nie, verteenwoordig hul invloedsfeer ‘n baie klein persentasie van die geleenthede wat raakgesien, geskep en uitgebuit kan word.

Indien ons die markwaarde van lande se genoteerde maatskappye gebruik as ‘n aanduiding van ekonomiese geleenthede, dan verteenwoordig Suid-Afrika slegs 1.2% van die beskikbare geleenthede wat reeds ontgin word.

Markwaardes

Beteken dit dat mens moet emigreer om meer geleenthede te benut? Nee. Tegnologiese ontwikkeling skep vir ons ongekende moontlikhede om vandag op die wêreldverhoog mee te ding.

Volgens Oxford se Ekonomiedepartement het daar gedurende 2013 verkoopstransaksies ter waarde van $20.4 triljoen (miljoen miljoen) aanlyn plaasgevind. Wanneer ons hierdie syfer vergelyk met die Suid-Afrikaanse bruto binnelandse produk (BBP of totale ekonomiese produksie en verbruik), dan is dit 63 keer die grote van Suid-Afrika se BBP. ‘n Kwart van hierdie transaksies is vir die verkoop van digitale produkte. Weens die aard van die aanlynmark kan dit vanaf enige plek in die wêreld bedien word. Ook vanuit Orania.

Digitale netwerke bied aan jong ondernemers toegang tot geleenthede wat vorige geslagte maar net oor kon droom. Die volgende grafiek dui aan hoe nuwe tegnologie die koste verlaag het om sake te doen. Dit kos vandag minder as 1% wat dit 15 jaar gelede gekos het om ‘n kompeterende besigheid te skep. Die rede hiervoor is dat jy nie meer ‘n fisiese winkel, kantoor of stoor nodig het om sake te begin doen nie. Jy het ook nie meer reuse rekenaarbedieners nodig om jou eie webwerf te begin nie. Jy het nie eers meer jou eie webwerf (en webwerfprogrammeerders) nodig om jou goedere of dienste aanlyn te verkoop nie.Digitale ontwrigting

Mense kan op verskillende wyses ‘n inkomste aanlyn verdien. Die eerste is om jou arbeid/diens te verkoop. Webwerwe soos www.fiverr.com bied ‘n markplein waar jy jou dienste kan aanbied. Jy kan jouself bemark om mense te help om dokumente te vertaal, grafika te skep, berekeninge op spreitabelle te doen, dokumente te proeflees, webwerwe te ontwerp, sagteware te programmeer en vele meer. Daar is selfs iemand wat handgeskrewe poskaarte na kliënte pos vir ‘n fooitjie.

Die tweede tipe aanlyn besigheid is om digitale produkte te verkoop. Skrywers kan boeke, kortverhale of digbundels en dies meer elektronies op www.amazon.com publiseer[2]. Dit neem 5 minute om ‘n geredigeerde boek te publiseer en dit is binne 48 uur wêreldwyd beskikbaar op Amazon se Kindle winkels. Skrywers verdien tot 70% kommissie op verkope van hul e-boeke, wat heelwat meer is as tradisionele druk.

youtubeVideos is ‘n ander tipe digitale produk. www.youtube.com bied ‘n platform waarop enige persoon sy eie tv-kanaal kan skep en videos op kan laai vir die publiek om te sien. Volgens Alexa (‘n diens wat die gewildheid van webwerwe meet) is youtube die tweede mees-besoekte webwerf in die wêreld. Youtube betaal aan mense wat kanale skep ‘n persentasie van die bemarkingsfooi wat hulle verdien uit die advertensies wat videos op youtube voorafgaan. Hoe meer mense na jou videos kyk, hoe meer verdien jy. Gebruikers van youtube kan ook op kanale inteken. Pewdiepie is die youtube kanaal met die meeste intekenare. Dit is in 2010 deur ‘n Sweedse jong man begin waar hy videos wys van hoe hy rekenaarspeletjies speel en belaglikhede aanvang. In 2014 het hy deur sy kanaal $7 miljoen verdien.[3] Gewilde kanale soos hierdie maak veral geld deur maatskappye se produkte in hul videos te plaas en te bemark. Meer oor digitale bemarking later. Videos mag moeilik klink, maar mens moet in ag neem dat selfone en rekenaars vandag beter kwaliteit videos kan maak as wat moontlik was met die toerusting wat Stephen Spielberg gehad het toe hy Hollywoodtreffers Jaws en ET verfilm het. Youtube het heelwat videos wat jou leer hoe om professionele videos met jy selfoon te maak. Indien jy dit sou verkies om geanimeerde videos te maak, kan jy inteken op videoscribe of powtoon se aanlynsagteware. Hierdie sagteware stel enigeen in staat om ‘n video te maak. Jy het ook die opsie om mense op fiverr te gebruik om jou videos meer professioneel te help maak.

udemyIndien jy oor bepaalde kennis of vaardighede beskik wat ander mense graag sal wil leer (byvoorbeeld hoe om sekere sagteware te gebruik of hoe om jou eie groente op organiese wyse te kweek), kan jy gerus ‘n kursus skep wat jy aanlyn op www.udemy.com kan verkoop. Udemy bied ‘n platform waarop jy deur middel van videos en kursusmateriaal jou eie aanlynkursusse kan verkoop.

Jou talent vir fotografie, skets, video of klankopnames kan ook ‘n bron van inkomste wees indien jy jou dit op istock verkoop. istock betaal kommissie van 15% tot 45% vir elke foto, skets, videobeeld of klankopname van jou wat hulle verkoop.

Toepassings vir slimfone en tabletrekenaars is ook ‘n tipe digitale produk. Indien jy van rekenaars hou kan jy gerus leer hoe om hierdie tipe toepassings te skep. Supercell is ‘n Finse besighed wat deur ‘n paar programmeerders met hul spaargeld in 2010 begin is en vandag is dit ‘n besigheid wat miljarde dollars maak uit hul speletjie “Clash of Clans” wat 10 maande geneem het om te skep. Enige persoon kan hul toepassings, nadat dit deur Apple of Google goedgekeur is, op daardie maatskappye se aanlyn toepassingswinkels verkoop aan ‘n reuse internasionale mark. Indien jy ‘n goeie idee het vir ‘n toepassing, kan jy selfs iemand op fiverr kry om dit vir jou te skep sonder dat jy self hoef te leer hoe om dit te doen.

Sou jy dit egter verkies of fisiese produkte te verkoop, kan jy dit op die Suid-Afrikaanse www.bidorbuy.co.za plaas. www.ebay.com bied ‘n soortgelyke platform vir die internasionale mark. Indien jy produkte in grootmaat van fabrieke af wil aankoop om te verkoop, kan jy www.alibaba.com besoek om jou voorraad te vind. Die bestuur van jou fisiese voorraad kan egter ‘n groot kopseer wees, veral as jy internasionaal wil verkoop. Oorweeg dan gerus Amazon se logistieke diens. Stuur jou voorraad na hul verspreidingsentrums en hulle sal jou kliënte se bestellings namens jou versend. Hulle sal selfs waarborge en terugsendings vanaf kliënte hanteer.[4]

Bogenoemde geleenthede maak gebruik van ander besighede se platforms of webwerwe. Die vooordeel hiervan is dat hulle reeds oor miljoene besoekers en verkeer beskik en dat jy met ‘n enkele produk of diens geld kan begin verdien. Die nadeel is dat jy min beheer het oor die wyse waarop jou produk of diens verkoop word. Jy kompeteer ook teen talle ander verskaffers en dit mag moeilik wees om jouself te onderskei. Jy kan sosiale media soos Facebook en twitter gebruik om jou spesifieke produkte en dienste bekend te stel en deur jou netwerk te bemark. Jy kan egter verder gaan en jou eie webwerf skep waarop jy jou produkte kan bemark. Jy hoef ook nie oor programmeringsvaardighede te beskik om dit te doen nie. www.wordpress.com maak dit vir enigeen moontlik om hul eie webwerwe te skep. Besoek www.tyler.com vir ‘n gratis kursus deur Tyler Moore wat jou wys hoe om ‘n professionele webwerf te skep vir minder as R500. Indien jy jou eie webwinkel wil begin waar mense jou produkte kan koop, maak www.shopify.com jou lewe baie makliker en kan jy sonder ‘n professionele programmeerder jou winkel aanlyn kry.

Amazon_logo-4So hoe maak Tyler Moore geld indien sy kursus oor webwerwe gratis is? Hy doen dit deur kommissie te verdien op affiliasieprogramme. Talle aanlynbesighede laat jou toe om kommissie te verdien op kliënte wat jy na hulle verwys. Amazon betaal jou byvoorbeeld tot 7% kommissie op aankope wat mense op hul webwerf maak vir 24-uur nadat jy die persoon na hul webwerf verwys het[5]. Om dit te doen, registreer jy as ‘n affiliaat en kry jy spesiale skakels waarmee jy mense na hul webwerf kan verwys. Wanneer iemand dan hierdie skakels gebruik om na Amazon te gaan, weet Amazon dat jy die persoon gestuur het, en betaal hulle kommissie aan jou uit hulle sak uit wanneer die persoon iets koop, sonder dat dit die persoon iets ekstra kos. Tyler verdien sy kommissie by Hostgator wat webwerwe teen ‘n jaarlikse fooi huisves. Indien jy ‘n baie gewilde webwerf kan skep wat baie besoekers lok, kan jy skakels op jou webwerf plaas na verskaffers wat aan jou affiliasiekommissie sal betaal. Kyk dus gerus watter aanlynbesighede verkoop goed of dienste waarin mense belang mag stel wat jou webwerf besoek en kyk of hulle oor ‘n affiliasie-program beskik. Indien jy nie hierdie moeite wil doen nie, kan jy eenvoudig by Google se Adsense aansluit en een van hul advertensieborde op jou webwerf plaas. Jy verdien dan inkomste vanaf Google elke keer as iemand op die advertensie op jou webwerf klik[6].

Een van die grootste uitdagings vir Suid-Afrikaners is egter om ‘n bankrekening te kry waarin hul geld oorbetaal kan word wat hulle aanlyn maak. Weens Suid-Afrika se valutabeheer word Suid-Afrikaners effektief afgesny van deelname aan die internasionale geleenthede. Waar dit wel moontlik is om geld na ‘n Suid-Afrikaanse rekening te stuur, word ‘n groot persentasie van jou inkomste verteer deur bankkoste en onbillike wisselkoerse. Daar is egter maniere om daarby verby te kom. Een manier is om oorsee te reis en ‘n bankrekening in die buiteland oop te maak. ‘n Ander manier is om ‘n rekening by ‘n verskaffer soos www.payoneer.com oop te maak, wat namens jou geld sal ontvang waarvandaan jy dan jou geld na jou eie rekening kan oorplaas wanneer jy genoeg bymekaar gemaak het om die bankkoste die moeite werd te maak.

Wat belangrik is, is dat baie mense wat groot suksesse aanlyn behaal het soos fiverr, Pewdiepie, Alibaba en Supercell, nie Engelse mense is nie. In hierdie groepie is die suksesvolle ondernemers se moedertale Sweeds, Hebreeus, Fins en Chinees (Mandaryns). Terwyl Engels vir hulle ‘n belangrike funksie verrig, het hulle nie nodig gehad om hulle eie taal of kultuur te verander om aanvaar te word of Engels effektief te kon aanwend nie. Tewens, daar is heelwat bewyse dat mense wat meer as een taal magtig is, meer kreatief en skeppend is en juis uit hul kulture kan put om interessanthede te vind waarvoor ander bereid sal wees om voor te betaal.

Bogenoemde aanlyndienste is egter nie sonder hul uitdagings nie. Dit is ‘n geval van “gebruikers wees gewaarsku.” Jy is self verantwoordelik vir jou eie besluite en om jou risiko te beperk. Begin klein sodat jy kan toets wat werk vir jou sonder om te veel op die spel te plaas en beskerm jou inligting. Die moontlikhede word net al meer. Die digitale rewolusie bied ‘n bykans onuitputbare bron van geleenthede. Veral ook vir jong Afrikaners wat trots op hul eie bene wil staan.

[1] http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/laat-ons-onsself-wees-20160510

[2] https://kdp.amazon.com/

[3] https://en.wikipedia.org/wiki/PewDiePie

[4] http://www.amazon.com/gp/help/customer/display.html?nodeId=200229160

[5] https://affiliate-program.amazon.com/

[6] https://www.google.com/adsense/start/#?modal_active=none

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel