In 1994 het dinge aangrypend verander. Die wêreld het verander. Die wêreld het mal geword. Ek blameer 1994 en u sal spoedig verstaan hoekom.
Ek lees vanoggend weereens die Liebeck v. MacDonald’s siviele saak in New Mexico, VSA, 1994 raak. Vir die van u wat nie bekend met hierdie saak is nie gaan ek vinnig in breë trekke dit deel en verskoon my onakademiese, plebiaanse gebruik van Wikipedia, ek het regtig nie die krag om verder te soek nie. Op 27 Februarie 1992 het die 79 jarige Stella Liebeck van Albuquerque koffie by die deur-ry diensvenster by MacDonald’s bestel. Hulle het met haar kleinseun se 1989 Ford Probe gery en sy was passasier. Blykbaar is die model van die voertuig deurslaggewend omdat dit nie oor daardie nuwerwetse plekkies beskik het waar mens jou polystyrene koppie, of coke-blikkie ens. lekker gemaklik kan laat staan nie. Haar kleinseun, ene Chris, het stilgehou sodat sy melk en suiker kon byvoeg. So het die tante die koppie tussen haar bene vasgeknyp, die deksel oopgemaak en in hierdie proses die hele koppie oor haar skoot uitgestort. Uiteraard het sy gebrand. Die brand was blykbaar so erg dat sy vir twee jaar lank gedeeltelik gestremd was. Sy het $2 860 000 gekry as reparasie vir wat haar oorgekom het. In vandag se geld R45 230 158 and Megawatts (sic), dit sonder die inagneming van inflasie. Indien u sukkel om die and Megawatts te verstaan, google dit…nine-thousand-and-six-hundred-and-megawatts (sic).
Die saak word geklassifiseer as ’n verbruikers-produk-regsaanspreeklikheid-hofsaak. Ek sê vinnig weer wat gebeur het: Tannie Stella Liebeck, ’n 79 jare oue dame, het die MacDonald’s restaurant groep gedagvaar omdat sy derdegraadse brandwonde opgedoen het nadat sy so ’n kokende koppie in haar skoot gemors het.
Ek wil graag klem daarop lê dat sy KOFFIE bestel het, dat sy dit in HUL voertuig oopgemaak het en dat SY dit op haarself omgegooi het.
Onnoselheid word beloon met R45 230 158 and Megawatts (sic). Het ons ’n kultuur geërf waar onnoselheid beloon word? Ek is nie seker nie, soos ek die geskiedenis bestudeer dink ek ons het níe. Dit wil vir my voorkom of ons hierdie kultuur van onnoselheid aangeleer het en nou koester deur dit te beloon.
Dit bring my juis by die titel van my gesanik. Entitlement en die verval van volkstrots. Ek beleef meer en meer hoe ons mense ander blameer, nie net vir wat verkeerd loop met die land en dorp en omgewing nie, maar selfs vir onnosele dinge wat hul self aanvang. So word ander blameer vir jou armoede, of jou gebroke huwelik, of jou afgeloopte skoene, of jou gebreekte kunsgebit.
Waar is die trots, daardie trots van foute regmaak, probleme oplos, eienaarskap van jou eie lewe neem? Nou koester ons hierdie kultuur, ’n kultuur van kry-wat-jy-nie-verdien-nie; kry wat ander jou kamtig skuld. Entitlement, ek sukkel om hierdie woord selfs in Afrikaans te skryf, asof dit nie in ons woordeskat hoort nie. Toe-eiening. Asof ons mense meer en meer bakhand staan en dan kwaad is indien hulle nie kry waarop hulle aandring nie. Dit pas nie by ’n Afrikaner nie…miskien…ek stap sommer gou oor na die Pienk Zebra toe en bestel die warmste koffie wat hulle het…
“Plebiaans”? Entitlement-aanspraak.
Ek gooi netso terloops ‘n klip in die bos. Ek en andere weet Republiekdag is iets wat deel was van die ou Suid-Afrika. Dan is daar ook ‘n klomp witmense onder wie sogenaamde Afrikaners wat dit gerieflikheidshalwe vergeet of wil vergeet. Vandag vertel my ma (74 jaar oud), vir my sy en my oupa was op Kerkplein, Pretoria, op die eerste Republiekdag 55 jaar terug in gietende reën saam met honderde, indien nie duisende Afrikaners met C.R. Swart se inhuldiging as president. Gedurende die Tagtigerjare is dit nog gevier, maar baie afgewater deur PW Botha se NP regering, en daar was Afrikaanse kinders wat ek van geweet het wat geen erg daaraan gehad het nie. Deesdae sal Afrikaners eerder hul beheptheid met rugby bevredig as om na so ‘n byeenkoms te gaan of ‘n byeenkoms soos protes teen plaasmoorde. Daarby sluit ek aan by die skrywer-die volkstrots is blykbaar nie meer daar nie. Ek sê maar net…
Ja, ons het nie meer volkstrots nie. Ons word dan gebombaardeer met ons “foute” van die verlede; ons het net sleg gedoen; ons moet skaam wees omdat ons, ons is. Hoe kan so ‘n volk dan trots wees!?
Ons moet ons kinders weer die ware feite leer. Dan en dan allen sal ons, en veral ons kinders, weer trots op onsself en veral ons voorgeslagte kan wees.
Maar ons is mos te besig vir hierdie dinge; ons moet wakker skrik. Erfenis en volkstrots is baie meer werd as geld en goed.
Ek stem saam. Agteroorsit en blameer hoort nie in ons kultuur nie.
Toe eiening van dinge is nie ons nie. Ons moet her gebore word. Ons self leer op bou.Ons is mos skeppers van dinge kom ons skep ook weer ons selftrots en leer ons kinders dat hul saam met hul volksgenote groot dinge kan bereik.