Hoe groot is jou laer?

Tap01_DieUittogEk lees vanoggend ’n gedeelte uit Sagaria 2:

“En ek het my oë opgehef en gekyk—daar was ’n man met ‘n meetsnoer in sy hand.Toe sê ek: Waar gaan u heen? En hy antwoord my: Om Jerusalem te meet, om te sien wat sy breedte en wat sy lengte is.”

’n Aangrypende beskrywing volg soos wat die visioen ontplooi. Die engele meet die volk van God, om te bepaal wie hulle is, om hulle as’t ware te tel. Daar is die oproep vir almal in die Noordland om te vlug, terug na hul plek toe, al die Israeliete wat versprei is oor die aarde heen.

Na Israel en Juda se ballingskappe was die volk verspreid (Jerusalem val in 587/6 v.C.) en Sagaria sien sy visioen binne hierdie agtergrond. Die eerste gebeure is om te bepaal wie nog sy mense is.

Wie is jou mense?

Ek wonder vandag as so ’n engel met ’n meetsnoer die Afrikaner sou meet, wie almal Afrikaner sal wees. Ons is immers ook ’n volk met wie God ’n besondere pad stap. Jare gelede, toe die debat oor Boer of Afrikaner meer vurig as vandag was, vertel een van my professore ons, tydens ’n  Ou-Testament Eksegese lesing, dat hy die vorige naweek op Loftus was. Soos die Bulle en die Vrystaat mekaar pak kyk hy om hom, hy sien die blou en wit en oranje, hy sien die biltong en droëwors en gedokterde lemoene; hy hoor die mense lag en juig en sing en hy besef, hierdie is ons volk, dit is ons mense, dit is die Afrikaner.

Dit mag dalk vir meeste van ons te simplisties klink, meeste van ons wil die definisie verfyn, skerper maak. Ek beleef vandag te veel hoe ek my eie definisie van Afrikaner soos ’n vlymskerp skalpel aanwend om mense uit te sny en weg te gooi. Kerkverband, kerk enigsins, politieke verbintenisse, geheime organisasie lidmaatskap, ja of nee stem, haarlengte, baardlengte, kennis van geskiedenis voor 1910, kennis van geskiedenis na 1910, hoeveel strofes van die Transvaalse Volkslied jy ken, waar jou oupa in die oorloë was, KP, NP, HNP, NKP, VF, DA, NAT, SAP, OB, Solidariteit, AfriForum, Front Nasionaal, VVK, Verkenners, FAK, Orania Beweging, Hartland Stigting…

Hoe groot is jou laer? Hoeveel baniere kan saam in jou laer wapper? Daar was ’n stadium in my lewe dat ek gedink het “eendrag maak mag” was satiries bedoel, vandag dink ek dit was in ’n sekere sin profeties. Hoe bitter nodig het ons nie mekaar nie?

Soos die engel vandag oor die wêreld gaan met die meetsnoer vir die Afrikaner, wonder ek of my skalpel en sy meetsnoer dieselfde resultaat sal oplewer.

Ek sien ’n laer, saamgetrek uit al die windrigtings, in hierdie laer hang vele vlae en baniere, maar hierdie laer sing in die oggend Sarie Marais, saans Kaplyn en De la Rey en Sondae Psalm 100.

Ek was eerste hier; Proto-habitasie teenoor Aimathusia teenoor Beurtgrond

(c) National Army Museum; Supplied by The Public Catalogue Foundation

(c) National Army Museum; Supplied by The Public Catalogue Foundation

Vele organisasies en groeperinge, selfs volkere, sal so ’n stelling maak: Ons het die grond met bloed gekoop. Dit verwys dan natuurlik nie na ’n transaksie waar bloed as ruilmiddel gebruik is nie, maar na die stryd waarmee grond verkry is. So word dan aan besitreg van grond ’n historiese legitimiteit gegee asof die feit dat jou voorgeslagte, of moontlik jou huidige geslag, die prys betaal het in die konflik oor die eienaarskap van grond. Ek wil nie ons eeue lange stryd om bestaansreg hier aan die Suidpunt van Afrika negeer tot niks nie, inteendeel dit vorm juis ’n onontbeerlike deel van ons identiteit en moet juis om hierdie rede erken en selfs herdenk word. Ek erken en vier ons volkshelde wat meermale die hoogste prys betaal het vir hul strewe na vryheid. Ek betoog egter dat so ’n bloedprys nie as kaart en transport kan dien vir ons besitreg op die grond nie. Ek betoog verder  dat die beginsel van ‘Ek-was-eerste-hier’ of dan besitreg gekoppel aan proto-habitasie van ’n bepaalde gebied ook nie aangebied kan word as ’n ewigdurende reg op daardie grond nie. Met so ’n argument sal ons oupas, wat dalk noodgedwonge die familieplaas moes verkoop,  se vooraf-teenwoordigheid op die grond mos dien as bewys van ons eie besitreg daarvan. Op hierdie weg lê waansin. Vanuit ’n Bybelse-Joods-Christelike perspektief sou die beloofde land, Kanaän, nooit aan die volk wat uit Egipte gelei is, mag behoort nie.  Die verdere vraag rakende proto-habitasie as reg tot grondbesit is die beskikbaarheid van werklike betroubare historiese of selfs argeologiese bewyse. Ek dink aan drie kinders wat baklei oor ’n swaai by die parkie. “Ek was voor jou hier!” roep die een. Die ander antwoord: “My pa het die swaai in sy werkswinkel gebou.” Die derde een: “My oupa het die grond geskenk waar die parkie gebou is.” Met ’n oorvereenvoudiging van die oplossing sou ek die kinders waarskynlik beurte gegee het. Beurtswaai, beurtkrag, beurtwater, beurtgrond. Agter hierdie komiese oorvereenvoudiging skuil daar moontlik meer van die ernstige werklikheid as wat ons sal wil erken. Beurtgrond, denkende die geskiedenis van die mensdom, met fokus op die volkekundige asook nasionale-staatkundige aspekte blyk beurtgrond ’n meetbare en duidelik waarneembare praktyk te wees. As voorbeeld en ek reken daar is vele gevalle wat genoem kan word, maar as enkele voorbeeld wil ek graag na Israel bly verwys.

Die geografiese gebied, alhoewel die grense gereeld gewissel het, kan oorkoepelend identifiseer word as die gebied wat ten tye van Salomo se regering sy mees definieerbare ook grootse afmetinge aangeneem het. Dit is ook, soos in die onderstaande kaart met die rooi grense aangedui relativeerbaar teenoor vandag se grense vir die staatkundige Israel.

israel_map1 map_ancient

Vanuit die geskiedenis het ons alreeds vinnig by die twaalf-stamme se uittog vanuit Egipte en die inname van die land wat aan Abraham beloof is stilgestaan.  Die Ha’Aretz HaMuvtahat, beloofde land. Josua verklaar in 3:10 “Verder het Josua gesê: Hieraan sal julle erken dat daar ‘n lewende God tussen julle is, en dat Hy sekerlik die Kanaäniete en Hetiete en Hewiete en Feresiete en Girgasiete en Amoriete en Jebusiete voor julle uit sal verdrywe”

Duidelik het ander volkere proto-habitatiewe grondbesitreg gehad wat deur die beginsel van beurtgrond verval het. Beurtgrond deur ’n hoër gesag toegedeel en verordineer. God self stel die besitter van die grond aan, miskien eerder as ’n tipe rentmeester, ten koste van die proto-inwoners se reg op die grond. Ek wil ’n gevolgtrekking waag dat proto-habitasie as besitreg nie Bybels verantwoordbaar is nie. Die vraag is: Is gestorte bloed, stryd, swaarkry ’n geldige argument vir grondbesit of gaan so ’n besitreg ook deur die beurtgrond beginsel tot niet.

My Afrikanerhart wil  uitbasuin dat die grond met bloed gekoop is. My Calvinisties-teologiese opleiding roep tot bedaring en ernstiger besinning. Op grond van watter regs-beginsel het Israel grondbesit verkry? Ek is seker my regsgeleerde vriende sou ’n term en ’n hele paar voorbeelde kon noem, ek gaan dit egter vereenvoudig en die stelling maak: Israel (en ek verwys na die OT en nie 1948 nie) se reg tot grondbesit was geen reg nie, maar ’n voorreg lynreg en kongruent aan God se genade. Beurtgrond.

Met ’n vinnige reis deur Historiese Israel sien mens duidelik dat hierdie grondbesit gewissel het. Van ongeveer 859 v.C. merk mens die opkoms van die Assiriese ryk en hul konflik met Israel. Hulle oorheers mettertyd die hele Midde-Ooste, Israel ingesluit. Hierdie ryk kom tot ’n val in ongeveer 633 v.C. met die opkoms van die neo-Babiloniese ryk wat weer tot ’n val kom in 539 v.C. met die Persiese Ryk se oorname. Alexander die Grote se Ryk, die Grieke, kry dan weer ’n beurt en daarna die Romeine in Jesus se tyd. Hierop volg dan die tydperk waar die Germaanse groepe die Romeinse ryk tot ’n val bring en die totstandkoming van Europa. Dan kan ons waarskynlik spring tot 1948 en die totstandkoming van die huidige staat Israel.

Die enigste afleiding wat ek kan maak is beurtgrond, belofte van die land ten spyt. Die redes vir die wisseling van eienaarskap is legio, maar meestal in dieselfde trant: Ongehoorsaamheid. Die vraag wat Israel hulself kon afvra is waarskynlik: “Wat maak ons met ons beurt op die grond?”

Behalwe dat die besitreg op grond kongruent met God se genade is, is dit ook kongruent aan die besitter se gehoorsaamheid. Ek wil verder gaan deur te erken dat daar eintlik nie eens iets soos besitreg is nie. Psa 24:1  ‘n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;

Redes vir grondbesit is legio, dit is immers elke volk, elke familie, elke gesin se droom om grond te hê wat hul hul eie wil noem. Die mens het ’n onherroeplike affiniteit vir grond en dit lê veel dieper as bloot die benutbare eienskappe van grond. Ten diepste gaan dit oor die mens se strewe om aan en op hierdie planeet ’n vaste punt te hê wat hy sy huis kan noem. Sy plekkie binne hierdie ewigwisselende bestaan. Op grond word mens begrond, geaard, gerelativeer. Binne Plato se filosofie van ’n “lever and a fulcrum” is die grond vir die mensdom, vir ’n volk, die vastepunt waarmee die aarde beweeg word. Dit is dus te verstane dat elke groep wat homself groep ag, streef na grond.

Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan. Met so ’n geloofsoortuiging ontstaan die vraag na die redes hoekom grond wel eienaarskap wissel.  Dit sou binne ’n teologie van rentmeesterskap verstaan kan word. God deel immers gawes aan die mense, met die hoofdoel om sodanige gawes te benut tot eer en verheerliking van sy naam, tot uitbouing van sy koninkryk en tot seën van die begunstigde.

Soos ek Israel se geskiedenis bekyk, blyk al die bogenoemde doelstellings nie net die verwagte uitkoms vir grondbesit is nie, maar ’n vereiste vir die behoud van die gawes. Beurtgrond.

Binne ons Suid-Afrikaanse konteks sal ek dit weereens waag deur aan te bied dat proto-habitasie, alhoewel hoog op die politieke agenda soos die strewe na grondbesit ’n definieerbare afmeting aanneem, nie kan dien as rede, oorsaak, vir besitreg nie. So ook, baie duidelik sigbaar in die Afrikaner se verlies aan besitreg, is die aimathusia of bloedoffer nie ’n onvervreembare reg tot sodanige besit nie.

Ek wil die reg tot grond besit dan opsom: Wat jy met jou beurt op die grond doen, bepaal hoe lank jy op die grond sal voorreg hê. God gee jou ’n beurt op die grond, hoe lank jy daardie beurt gaan hê, word bepaal deur jou verhouding met Hom en sy verhouding met jou.

Ons het weer ’n beurt gekry op hierdie stukkie grond in die Bo-karoo, wat maak ons met heirdie beurt.

 

 

 

Die universele gebod…die Heros-karakter mag nie kyk nie.

MedussaJare gelede kry ek ’n oproep van ’n baie bekommerde ouderling. Ek antwoord, trek my baadjie aan en spring in die kar. Noodflikkerligte aan jaag ek na die adres. Onderweg daarheen flits die erns van die situasie voor my oë. Die ouderling,  nog een van die jongeres in die gemeente, het laat weet dat hy bekommerd is oor sy vrou. Sy het nie by die werk opgedaag nie en sy antwoord nie haar foon nie. Binne die Suid-Afrikaanse konteks kan dit vele gevalle wees, dink ek by myself en die moontlikhede is almal redelik negatief. Roof, huisbraak, aanranding, kaping, ontvoering… ek ry al hoe vinniger.

Stofwolk om my kom ek tot stilstand voor hul motorhek. Ek druk die klokkie so ’n paar keer sonder sukses. Nou aanskou ek die imposante motorhek met daardie drie-punt duiwel-vurkies boaan, maar ook op gereelde tussenposes aan die palisades aangebring. Ek sal moet klim my fisiese vermoëns ten spyt.

Ek sal graag met u wil deel dat hierdie spesifieke motorhek en palisade so ontwerp is dat ’n nommer 10 mans-skoen net-net binne die gapings inpas. Dit is amper asof die hekmaker die presiese afmeting van my nommer 10 grasshoppers geneem het.  Die sagte sool pas lekker in, maar enige opwaartse beweging skep die effek dat die sool reguit trek en lekker styf inwig tussen die staal. Uitdaging. Ek besef egter die erns van die situasie so druk deur, soos wat die duiwel-vurke ook deurdruk. Albei voete en hande juk bloei van die oorklim en my Edgars polyester-wol vermenging broek spog met ’n nuwe asemhalings-funksie.

Ek haas myself, uitasem om die rowwe baksteenhuis, tot by die deur wat gewoonlik as ingang dien, die agter skuifdeur. Ek klop. Ek klop weer. Ek hoor iets val binne en forseer die skuifdeur oop. Ek haas myself deur die sitkamer, ganglangs dan tot in die hoofslaapkamer, roepende na die dame.

Dit is hier waar ek Lot se verhaal herroep. In vele verhale, ook binne hierdie Bybelse verhaal, vind mens die verbod op kyk. Mens mag nie omkyk nie. Mens mag nie kyk nie. Orpheus en Eurydice. Lot en sy vrou. Medussa. In meeste sulke verhale word die helde-figuur verbied om te kyk. Hier staan die eerwaarde ouderlingsvrou, Eva in haar Adamsgewaad. Soos ’n ortodokse jood gryp ek na my afwesige Tefillin om so spoedig moontlik by die sewende gebod uit te kom. Dit was immers een van die jonger ouderlinge en sy veel jonger vrou.

“Ek het pille gedrink” hoor ek deur my blosende ore deur. “Ek’s jammer”

Tragies, maar amper soos die Griekse humor-tragedies. Nou tref die erns my eers. Ek sal hierdie dame by die hospitaal moet kry, maar ek sal eers en hierdie is veel ernstiger as die eerste nood, ek sal eers vir haar klere moet aantrek.

“Wie het julle te kenne gegee dat julle naak is” Hoor ek die Paradys-stem en kyk verward rond vir vye-blare soos die dame, heel bedwelmd op die deurmekaar bed gaan sit.  Ek gryp die ligpienk Woolworths-buustehouer en al wegkykende gaan ek te werk. Die volgende fase kan ek nie eens in woorde omskakel nie. Ek het al gelees van sielkundige blokasies, my sinapse marsjeer deur die strate van my verstand met baniere, baniere met die woorde: ONS WIL NIE ONTHOU NIE. #memoriesmustfall.  Ek voel die bloed opwel na my gesig soos ek hier sit en tik. In elk geval, een Woolworths-buustehouer, een swart broekie, een ligblou sweetpakbroek en een lospassende swart t-hempie later, worstel ek met die dame in my arms ganglangs, skuifdeur toe. Halfpad langs die swembad onthou ek my infiltrasie maneuvers oor die hek, draai om, kombuiswaarts op soek na ’n sleutel.

Hierdie verhaal het vir die dame en haar geliefde man darem ’n gelukkige einde. Vir die heros-karakter…wel hy worstel dekades later nog steeds met die letsel in sy psige.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hoe utopiese denke die Weste kan vernietig

_76676196_utopia-signSedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog word die Westerse wêreld toenemend deur ’n moderne stroming van utopiese denke gedomineer. Die groot droom om alle konflik, siektes, hongersnood en ander slegte dinge wat die wêreld oor eeue besig gehou het, uit te wis, het in Europa en die VSA onstaan.

Die rede vir hierdie utopiese denke is gesetel in teorieë dat politieke en ekonomiese gelykmaking tot ’n stelsel sal lei waar almal in die wêreld se voordele kan deel en dat niemand redes sal hê om teen ander te diskrimineer nie.

Sosialiste glo dat hierdie ideale bereik kan word deur die regulering van alle ekonomiese aktiwiteit en geforseerde gelyke uitsette, eerder as billike gelyke insette. Libertariërs glo in ’n vorm van absolute individuele vryheid waar die individu se ervaring van vryheid, motiewe om slegte dinge te inisieer tot ’n einde sal bring.

Die gedagte dat utopiese denke egter die fundamentele goeie moontlik maak, is verkeerd. Die utopiese denke van die Franse Revolusie het aanleiding gegee tot die onthoofding van duisende mense met ’n valbyl in Parys. In Duitsland het die utopiese denke van Adolf Hitler tot ’n wêreldoorlog aanleiding gegee.

Die kamma-kommunisme wat ons deesdae in China, Viëtnam en Venezuela beleef, is ook ’n vorm van utopiese denke. Die onuitvoerbaarheid van die utopiese denke lei egter hier nie tot dood en vernietiging nie, maar wel tot korrupsie, diskriminasie en armoede.

Die Amerikaanse skrywer Michael Lind sorteer utopiese denke binne drie kategorieë. Ekonomie utopia word deur libertariërs as die absolute vryemark beskou. Sosialiste sien dit as die punt waar die ekonomiese koek presies gelyk tussen alle mense op aarde verdeel is.  Nie die libertariërs of die sosialiste se utopiese ekonomiese idees is al êrens bewys nie. Libertariese ekonomiese denke oorskat die goedheid van die mens, terwyl sosialistiese utopiese denke reeds in Kuba verkeerd bewys is.

Op politieke terrein is dit veral die Amerikaners wat die afgelope jare deur hul inmenging in ander wêrelddele die utopiese denke waar elke land in die wêreld die Amerikaanse model van demokrasie beoefen, probeer bevorder het. Irak, Afganistan en Libië is drie van talle bewyse van hoe hierdie idees misluk het.

Lind verwys na ’n derde vorm van utopiese denke, namens morele utopiese denke, wat hy onder konserwatiewe Amerikaners ervaar. Lind, self ’n konserwatiewe denker, voer aan dat konserwatiewes vandag nie soos Josua probeer om die son in Gibeon te laat stilstaan nie, maar eerder soos in Jesaja 38 die son ’n paar treë terug wil laat tree.

Terwyl Christene almal moet glo en hoop dat die morele verval in die Westerse wêreld tot ’n einde sal kom, beskou Lind dit as onbereikbare utopiese denke om te dink dat vandag se immorele wêreld môre met een stem of een wet in ’n morele samelewing omskep kan word.

Weens utopiese denke laat Westerse lande miljoene immigrante toe, probeer hulle met hulpprogramme en soms oorlog, vryheid en demokrasie na lande bring waar die bevolkings nie in vryheid of demokrasie belangstel nie.

Indien Westerse bevolkings, insluitende die Afrikaner nie meer realisties en minder utopies in ons denke gaan wees nie, sal ons die pad van selfvernieting bly stap.

Om Vry te wees…

DX251259-e1417706926622

My treë kraak die amper verswelgende kombers akkerblare. Dit is hoog herfs en die oggendluggie byt aan my ore soos ’n Dobermann Pincher aan ’n hakskeen. Herfs, die blaf is dalk erger as die byt, maar die byt pla genoeg. Ek skop ’n klompie rooi en geel en bruin blare op. So tussen die son se stofstrepe deur lyk die kleure vanoggend soos ’n Marokkaanse mark; diep-rooi, helder-mosterd, sand-bruin. Met hierdie gedagte hunker my smaaksintuig na speserye: Paprika, Kaneel, Vanielje, Gemmer. So tussen die droë blare deur ruik ek die klein ou materiaal winkeltjie in my tuisdorp weer. Ek stap straat-af, sypaadjie-langs,  teen die groen en rooi en bruin palisade heinings, voete aan die Suidpunt maar my gedagtes vêr-vêr Noord by daardie sintuiglik-oorweldigende markte. Die blare suis-kraak ritmies onder my treë, kalmerend, bekend, hipnoties.

Met ’n allesoorweldigende skreeu-blaf-grom word ek uit my idilliese sluimer-droom geruk. Ongeveer ’n meter van my af troon ’n enorme perd-leeu-ondier. Die Latyns beskryf ’n dier met die woorde Canis Dirus (Vreesaanjaende Hond), die Engelse Dire Wolf. Uitgesterf? Ek dink nie so nie. Met die skielike ontploffing van klank en kwyl hier by my oor, dink ek egter nie aan Latyns nie, ek uiter ’n hele paar, heelwat eenvoudiger woorde.  Ek bevind my onwillekeurig besig met ’n strategiese terugval. Op ’n afstand wat ek reken veilig is, waarskynlik 5 of 10 meter meer as wat nodig is, staan ek, hardkloppend en uitasem geskrik. Boeglam is die woord, ek staan met al my boë heeltemal lam. Ek aanskou die perd-leeu-ondier ; agter sy  grynslag, of glimlag oor my retirering sien ek diep, donker sielvolle oë.  Ek sien die dier agter die tralies. Ek sien die diep stofpad wat hy teen die groen palisade langs uitgedraf het en ek beleef ’n verlange. Van my kant af, van sy kant af…ek is onseker.

Ons beleef ’n oomblik; miskien, as gevolg van adrenalien vergifting, beleef ek dat ons ’n oomblik beleef. Ek en hierdie pragtige dier. Ek staar vir etlike minute na hom; al grommende met sy enorme voorpote teen die palisade. Wat ’n dier!

Ek draai stadig , kraakblaar, weer in die rigting waarheen ek op pad was. Bewus van die blik wat my volg, stap ek voort. Ek hoor sy grom-blaf-draf agter my aan, seker maar om my te vergesel tot verby sy plek, of om te kyk of hy nie tog ’n happie mens kan bykry nie.

Ek wil u meedeel, dat hierdie bepaalde erf, wat tog sekerlik aan hierdie hond moet behoort, so op ’n slap draai in die pad geleë is. Soos ek aanstap en die klein blinde kol sigbaar raak, sien ek dat Canus Dirus se motorhek wawyd oopstaan. Veg of Vlug?

Tot my verbasing storm hy tot by die palisade paneel reg langs die gaping in die heining; hier staan hy en blaf en grom. Ek stap verby, vêr genoeg verby, maar verby soos ek onwillekeurig die Ave Maria neurie. Ek keer huiswaarts, brou ’n stomende koffie, steek vir my ’n Camel Filter aan en gaan sit op die stoep.

Hoekom het hy nie uitgekom nie? Hoekom is sy soektog na vryheid ’n uitgetrapte paadjie tot langs ’n oop hek? Ek blaas die stoom oor my koppie rand. Wat keer hom? Miskien is hy tevrede, miskien is die daagliks-afgemete graan en proteïene vermenging vir hom genoeg. Miskien is die mense goed vir hom, hy het nie te sleg versorg gelyk nie. Miskien bly hy juis daar omdat dit al is wat hy ken, omdat hy gewoond daaraan is. Miskien is hy so bang vir die buitekant soos wat ek was vir die binnekant.

Ek druk my stompie dood in ’n ou geel en blou asbakkie met die embleem van ’n skilpad op, afkomstig uit vroeëre politiek dae. Ek dink, die geure en reuke van Marokko vêr van my gedagtes. My gedagtes nou by palisades en Canis Dirus en vryheid.

Wat keer my vryheid? My afgemete bak kos aan die einde van die maand? Die feit dat my blyplek nie te sleg is nie? Is ek te bang vir die andersheid? Is ons hek ook oop? Ek staan op, stap na my foon toe en stuur ’n boodskap aan Lianda: “Lians, ek dink ons moet Orania toe gaan.”

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel