by Orania Beweging | Aug 5, 2016 | Nuus |
Sedert sy hoogtepunt in 2004 verloor die ANC geleidelik steun, en dit is ook met die munisipale verkiesing voortgesit. Dit is ook die eerste keer sedert 1994 dat die ANC minder as 60% van die landswye steun kry. Die ANC het steun verloor, die DA het steun gewen en kon Port Elizabeth by die ANC afneem en het ook beduidend toeneem in die belangrike metropole Johannesburg en Pretoria. In al twee sal waarskynlik koalisies regeer, of onder DA- of onder ANC-leiding. Die vreemde kombinasie van DA en EFF lyk na ‘n moontlikheid as die metropole uit die hande van die ANC geneem moet word. Maar die groot wegholoorwinning vir die DA en die ernstige terugslag vir die ANC, wat die media voorspel het, het nie gebeur nie. Suid-Afrika se politiek is eintlik baie staties en baie vervelig. In ‘n Europese land sou ‘n regerende party wat so droogmaak soos die ANC by ‘n verkiesing geslag word. Die steun wat die ANC verloor het, het ook nie soseer na die DA toe gegaan nie, maar eerder na die EFF en dit is beslis nie goeie nuus vir ons nie. Die DA se groei is veral deur kleiner partye soos Cope se steun op te raap, en weens die lae stempersentasie in die swart gebiede. Maar ‘n verskuiwing van swartmense uit die middelklas van die ANC na die DA, weliswaar nog nie beduidend nie, vind wel plaas.
Al die partye het meer links geskuif want dit is waar verkiesings in Suid-Afrika gewen word. ‘n Ideologiese indeling word toenemend moeiliker en partye is meer en meer netwerke om poste te kry en persoonlike loopbane te verseker, ten spyte van die retoriek om die mense te wil dien. Die ANC gebruik gereeld die uitgediende maar onder hulle kiesers hoogs doeltreffende retoriek van wit skuld om van sy eie onvermoë af te lei. Die DA het vir alle praktiese doeleindes ‘n ANC light geword en nog steeds kon hulle nie werklik deurbreek in swart gebiede nie, terwyl wit kiesers (en in die Weskaap bruin kiesers) bankvas agter hulle staan.
Die EFF as nuwe party het goed gevaar, maar het agter hulle eie mikpunte gebly en kon geen enkele munisipaliteit wen nie. Hulle verteenwoordig die populiste, wat geraas maak en nie hoef aanspreeklikheid te aanvaar nie, omdat hulle net in opposisie is. Met talle munisipaliteite waar nóg die ANC nóg die DA die meerderheid het, kan die EFF die beslissende koalisievennoot word en sal dan ook moet uithaal en wys.
Die verkiesing het die ANC se gebruiklike selfvertroue, om nie te sê verwaandheid effens geknou. Die party het nog altyd die fout elders gesoek en blameer alles en almal behalwe hulleself vir enigiets wat verkeerd loop. As die party nou tot selfkritiek bereid sou wees is dit ‘n groot skuif in die Suid-Afrikaanse politiek, maar ek sou nie my geld daarop wed nie.
Die IVP, wat op ‘n afwaartse pad was, het danksy die nie-toelating van die NVP ‘n tweede asem gekry en hulle tradisionele hartland in die noorde van Kwazulu-Natal van die ANC terug gewen. Die Vryheidsfront Plus het aansienlik beter gedoen, moontlik danksy die DA se swart leier en fokus op die swart stemme, maar is as minderheidsparty met baie verspreide steun landswyd geen werklike faktor nie. Om egter onder sulke omstandighede nie net te oorleef nie, maar selfs te groei is op sigself ‘n prestasie.
Die ysterwette van die SA politiek geld, die uitslag ten spyt, nog steeds:
- Swartmense stem vir die ANC, ongeag wat hulle doen of nie doen nie, oor die swart bevrydingsmitologie. Die ANC sal nog vir lank die dominerende party wees.
- Witmense bly vir die DA stem, ongeag wat hulle sê, oor die “sterk opposisie” mitologie en oor goeie bestuur van brood en botter sake. Oortuigings speel in die Suid-Afrikaanse politiek al hoe minder ‘n rol en ‘n tradisioneel konserwatiewe en godsdienstige volk soos die Afrikaner is al lankal gemaklik binne ‘n sekulêre en liberale party.
- Nuwe partye maak opgang kort na hulle stigting en kwyn dan van verkiesing tot verkiesing weg. Ons het dit gesien met die UDM, met Cope, met Agang (wat al met die eerste verkiesing gefaal het en net ‘n mediaverskynsel was). Nou sal ons sien of die EFF hier is om te bly.
- Die Weskaap is vas in die hande van die DA, die res bly in die hande van die ANC, veral die meer plattelandse provinsies.
Armes en plattelandse mense sal ANC bly stem, ongeag hoe sleg dit gaan. In teendeel, dit wil voorkom asof hulle juis ANC stem as dit sleg gaan omdat hulle dan maklik vatbaar is vir beloftes en vir omkopery met kospakkies en T-hemde. Die ANC kan eintlik nie bekostig om arm mense op te hef nie, want sodra arm mense in die middelklas inbeweeg, word hulle makliker DA-stemmers en verloor die ANC sy steunbasis. Dieselfde geld vir die EFF. Hulle bestaansrede is arm en ontevrede swartmense wat onregverdig behandel voel.
Partye bly etnies gedomineer, ten spyte van hulle retoriek om vir “almal” te wees en hulle uitreik na ander groepe. So het die ANC geen noemenswaardige wit steun nie en krimp die steun van ander minderhede soos bruinmense en Indiërs. Die DA breek nie werklik deur na swartmense toe nie en bly ten spyte van hulle beleid as links-liberale party wat geen etnisiteit ken nie en die smeltkroes-idee meer voorstaan as enige ander party ‘n keuse vir witmense en Wes-Kaapse bruinmense. Veral bly dit ‘n party vir die middelklas, ongeag die tallose veldtogte in arm, swart gebiede. Die IVP, wat hulle nêrens as Zulu-party bemark nie, maar as ‘n soort beter en meer gematigde ANC, se basis bly die meer tradisionele en plattelandse Zululand, soos dit van die begin af was. Selfs die VF+, wat probeer het om ‘n breër minderheidsparty te word en wat blykbaar ‘n hele paar bruin kandidate in die Wes- en Noordkaap opgestel het, kon baie min steun uit die oorde kry en bly afhanklik van Afrikanersteun.
In die Noordkaap is dinge eintlik soos dit altyd is, met alle munisipaliteite wat onder ANC beheer bly en geen beduidende verskuiwings nie. Orania bly uit die Suid-Afrikaanse munisipale verkiesings en die onwaardige gevryery na stemme deur middel van allerhande beloftes uit en kies oudergewoonte sy eie Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) met 11 lede, net op ‘n individuele grondslag en sonder partyverbintenis. Die OVR het tot stand gekom op grond van die 2000 hofsaak wat Orania se status as eie plaaslike owerheid bevestig het. Die OVR verteenwoordig nie net aandeelhouers nie, maar alle inwoners van die groter Orania, ook na buite. Dit is ‘n stuk direkte, plaaslike demokrasie, en juis dit is vir die media elke keer vreemd en moeilik om te begryp. Die OVR gaan ook nie oor dienslewering nie (dit word reeds goed hanteer deur Orania Dorpsraad) maar oor die handhawing en uitbou van Orania as selfstandige Afrikanergemeenskap.
by Orania Beweging | Aug 1, 2016 | Nuus |
Vir besoekers en voornemende intrekkers, met wie ek daagliks kommunikeer, is Orania amper ‘n soort utopia, ‘n plek wat in die res van die land ondenkbaar lyk en die vraag: “maar hoe kry julle dit reg?” word dikwels gevra.
Vir ons as inwoners is dit wat ons het ‘n gegewe en ons werk ons dikwels op oor dit wat nie ideaal is nie, soos mense wat nie aan die ideaalbeeld van ‘n Christen-Afrikaner voldoen nie, die gewone geskinder en bekgevegte wat enige gemeenskap kenmerk, sekere dinge wat die dorpsraad dalk nie reg doen nie ensovoorts.
Uit die aard van die saak is ons nie die utopia of die Afrikanerhemel waar alles net reg loop nie. Mense is geneig om dit wat hulle net gedeeltelik ken te idealiseer, en dit wat hulle té goed ken, vlak te kyk. Dikwels idealiseer ons ander samelewings op grond van ander se eensydige beriggewing, of ons idealiseer die verlede omdat ons in films en boeke net van die mooi dele hoor en lees. Maar dan is dit ook nie reg om jou as Oraniër die hele tyd vas te kyk teen dit wat nie ideaal is nie. Die mense buite sien net die woud en vergeet dat ‘n indrukwekkende woud ook dooie bome het. Ons in Orania sien te dikwels net die enkele bome raak en vergeet die groter geheel wat van die somtotaal van die bome ‘n pragtige ekosisteem en lewensruimte maak.
Kom ons staan ‘n oomblik terug en, sonder om onkrities of vol selfprysing te wees, verwonder ons in dit wat die gemeenskap van Orania, met die hulp van bo, reggekry het. Dit is heelwat, selfs al was ons aanvanklike mikpunt onrealisties hoog.
Ons kan in tye waar Afrikaans onder druk is en uit die openbare sfeer verwyder word in ‘n gemeenskap lewe waar Afrikaans die amptelike taal is en alles in Afrikaans gedoen word, van kuier en gesels oor onderwys en opleiding tot kuns en kultuur.
Waar elders die christelike godsdiens uit die openbaar verdwyn, die samelewing heeltemal sekulêr raak en daar geen verskil tussen Sondag en die weeksdae is nie, leef ons in ‘n plek waar meeste mense kerk toe gaan, waar feitlik almal ten minste nominaal Christene is en waar Sondag (met enkele uitsonderings) eerbiedig word.
Waar Afrikaners buite sukkel om werk te kry en waar daar vir werklose Afrikaners dikwels geen ander heenkome is as bedel nie en waar diegene wat nog posisies het op ander Afrikaners trap om dit te behou (soos die rektore van die Afrikaanse universiteite of talle joernaliste), het ons ‘n maatskaplike netwerk wat mense opvang en hulle weer oprig deur middel van werk, maatskaplike berading en gesubsidieerde mediese dienste en behuising.
Terwyl Afrikaner-erfenis verniel en gevloek word, kan ons dit hier bewaar en aan inwoners en besoekers ten toon stel om sodoende die band met die verlede en die trots op die eie lewendig te hou.
Terwyl feitlik elke Afrikaner in ‘n mindere of meerdere mate in vrees lewe en dikwels al ‘n slagoffer van misdaad was, kan ons ons eie veiligheid hanteer en staan ons as gemeenskap saam om aanslae van buite (en binne indien nodig) af te weer.
Waar elders basiese dienste nie meer voorsien word nie en die drinkwater besoedel is (as dit hoegenaamd beskikbaar is) en rioolwerke tot stilstand kom, het ons ‘n dorp wat werk en waar alles in
stand gehou word.
Dit is alle nog baie min in vergelyking met wat die Afrikaner gehad het, maar gemeet aan die totale magsverlies, agteruitgang en krisis waarin ons volk verkeer as ‘n mens eerlik is, is dit baie om op trots te wees en om op voort te bou, maar veral ook om voor dankbaar te wees.
by Orania Beweging | Jul 28, 2016 | Nuus |
Uit die aard van die saak raak gebeure in die land ons ook, al is die impak minder direk omdat ons ‘n groot mate van beheer het. Doemprofete voorspel dat dinge in die land so erg sal gaan dat ook Orania “weggespoel” sal word. Die vraag wat ons sal doen as “busse vol EFF-ondersteuners op Orania toesak” word dikwels gevra.
Laat ek daarop die volgende antwoord gee: Daar is gebeurlikheidsplanne in plek en ons veiligheid is opgeskerp. Ons monitor ook die gebeure in die land en het ons inligtingsnetwerk. Daar is egter ook ander noodsituasies wat dalk meer waarskynlik is en waarvoor ‘n mens ook net kan beplan, soos ‘n vloede, brande en ander natuurrampe wat op enige plek op aarde kan gebeur. Jy kan en moet daarvoor gereed wees en oefen, maar as dit jou tref dan sal dinge in elk geval nooit presies gebeur soos verwag nie.
Om reaktief te wees is egter nie al antwoord nie. Elke huis en besigheid in Suid-Afrika is beveilig en nog steeds word ingebreek, gemoor en gesteel. Wat ons anders maak is dat ons ‘n ander werklikheid skep wat risikos soos grootskaalse aanvalle, besettings, geweldpleging ensovoorts onwaarskynlik maak.
Ten eerste opereer ons vanuit ‘n gemeenskapsbenadering en nie ‘n individuele benadering nie. Ons help mekaar en staan as gemeenskap saam en verlaat ons nie vir beskerming op vreemdelinge nie. Die belangrikheid van volkseie arbeid kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dit is die hoeksteen van Orania en skep nie net werk vir ons mense wat elders sukkel om werk te kry weens hulle velkleur nie, dit skep ook ‘n omgewing waarbinne misdaad baie minder voorkom. Misdaad, so wil dit vir my voorkom, gedy in ‘n samelewing wat gestroop is van hegte gemeenskappe met reëls en norme, en waar daar ‘n gedurige wisselwerking tussen mense uit verskillende groepe, klasse en volke is, sonder dat hulle gemeenskaplike waardes en belange het.
Verder is die Afrikaners ook pioniers van afkoms en behoort meer moed aan die dag te lê. Pleks om altyd te vra: “maar wat as dit en dat gebeur?” en om oorsee te wil vlug moet ons
die werklikheid in oënskou neem en dan volhard met die gekose pad. Orania se konsep was reg omdat dit deur jarelange beplanning voorafgegaan is. Dit het egter nie net by idees en planne gebly nie, maar dit is uitgevoer en by die beginsels gehou, met enkele praktiese aanpassings hier en daar. Niemand het destyds geweet waar dit gaan eindig nie, en ons weet dit nou ook nog nie. Wat ons wel weet is dat ons op die regte pad is en by ons bestemming sal uitkom, al weet ons nie wat om die volgende draai lê of hoe lank die pad is nie. Geen pionier het al ooit iets reggekry deur vrees en twyfel nie, en pioniers weet ook dat God hulle inspanning seën, maar dat die seën gewoonlik al heelwat later kom. As ‘n mens net vir hier en nou leef dan sal jy moedeloos raak en dink alles is verlore. ‘n Volk gaan egter deur tye van teëspoed en voorspoed en rig mekaar op en dink aan die volgende generasie.
Al vir 25 jaar gaan Orania vorentoe, partymaal baie stadig, dan weer vinnig. Van die begin af was daar bedreigings en uitdagings en dit sal ook in die toekoms so wees. Maar van die begin af was ons vertroue op God en ook op ons vermoëns wat ons gekry het. Daar is sowel gebid asook gedoen. Die Here het ons immers nie ‘n gees van vrees gegee nie, maar ‘n gees van oorwinning. Om die rede moet mense ook nie Orania toe kom omdat hulle vrees vir die EFF of wie ook al, want as jy vrees dan sal jy nie kan verdedig nie, dan hardloop jy met ‘n bedreiging net weer na die volgende plek toe.
‘n Inspirierende boek om te lees oor hierdie onderwerp van opstaan as volk is dr. Dirk Hermann se “Begrond”.
by Orania Beweging | Jul 27, 2016 | Nuus |
Gedurende die vroeë dertiende eeu het ’n klein groepie afstammelinge van Osman, die stigter van die Ottomaanse vorstehuis, uit Sentraal-Asië met vierhonderd tente aan die buitewyke van die Romeinse provinsie Bithynië, gevestig.
Die Ottomane was op daardie tydstip nie die grootste of vernaamste Turkse groep wat uit Sentraal Asië weswaarts migreer het nie. Die Seldjoeke was heelwat sterker en van groter aansien as die Ottomane. Die Seldjoeke het teen die dertiende eeu reeds heelwat grondgebied van die Bisantynse Ryk afgeneem.
Die Ottomane het egter munt geslaan uit die politieke onstabiliteit in Anatolië. Teen die Dertiende Eeu het die Bisantynse Ryk, net soos die Wes Romeinse Ryk vroeër, toenemend sy vermoë om oor ‘n enorme grondgebied te regeer, begin verloor.
Met die val van Konstantinopel in 1453 het die Christendom sy oostelike sentrum verloor en was Oos-Europa weerloos vir die toe reeds magtige weermag van die Ottomane.
Teen 1529 het die Ottomaanse Ryk die grootste deel van Oos-Europa, Noord-Afrika en Wes-Asië beheer. Met Konstantinopel het die Ottomane hul voet in die Europese deur gekry en tot en met 1529 het hul met veldslag na veldslag hul opmars na Wes-Europa voortgesit. Die Ottomane is egter in 1529 verhoed om die groot Westerse prys, Wenen, oor te neem en moes 154 jaar wag voordat hulle in 1683 weer met ‘n groot aanslag sou probeer om Wenen oor te neem. Ook die poging in 1683 het misluk en daarmee het die 300-jaarlange stryd tussen die Wes-Romeine en die Ottomane grotendeels tot ‘n einde gekom en is groot dele van Hongarye weer deur die Oostenrykse Huis van Habsburg oorgeneem.
Wat daarop sou volg is meer as twee eeue van voortdurende agteruitgang in die Ottomaanse Ryk. Met die val van die sultanaat in 1922 en die opkoms van die jong republikeine, het Turke hul rug op hul Ottomaanse verlede gedraai. Die Islamitiese Ottomaanse Ryk is deur ‘n sekulêr-nasionalistiese Turkye vervang en die Ottomaanse geskiedenis is in geskiedenisboeke afgewater. Jong Turke moes na die toekoms kyk, eerder as na die donker Ottomaanse verlede.
Na die vestiging van ‘n veelpartystelsel in Turkye in die 1940’s het verskeie individue en groepe weer toenemend na die glorieryke vyftiende en sestiende eeu begin verwys as teenvoeter vir die links-sekulêre rigting waarin die land beweeg het. In 1999 is die 700-jarige herdenking van die stigting van die Ottomaanse vorstehuis regoor Turkye herdenk.
Toe Reccep Erdogan in Januarie 2009 in Turkye tuiskom na ‘n warm debat by die Wêreld Ekonomiese Forum met Shimon Peres van Israel oor die Gaza-strook, is hy deur duisende Turke met die slagspreek: “Die laaste Ottomaanse sultan” verwelkom. Tagtig jaar gelede sou dit ‘n belediging genoem kon word, maar die Turke was reg om die Ottomaanse glorie van die vyftiende en sestiende eeue weer hul eie te maak.
Die afgelope weke se gebeure in Turkye is die voltrekking hiervan. In ‘n era van nostalgie en die laaste stuiptrekkings van twintigeeuse wêreldmagte, wil meer en meer Turke nie meer Europeërs wees nie, maar eerder Islamitiese Ottomane. Die Ottomane se kort flirtasie met demokrasie gedurende die twintigste eeu is vir eers verby.
by Orania Beweging | Jul 20, 2016 | Nuus |
Die Weste beleef vandag sy grootste krisis sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. In Europa vrees burgers vir die volgende terroriste-aantal terwyl die VSA deur toenemende rassespanning geteister word. Die nuwe Britse Eerste Minister Theresa May voer aan dat die bedreiging van ’n moontlike kernaanval teen die Weste hoog is.
President Francois Hollande van Frankryk se reaksie Vrydagoggend na die soveelste terroriste-aanval in sy land is dat Frankryk nou harder teen groepe soos die Islamitiese Staat sal veg en dat dié land sy aanvalle in Sirië en Irak sal opskerp. Frankryk en talle ander Westerse lande het hul hande vol in die Midde-Ooste en Noord-Afrika waar die gevolge van hul militêre inmenging steeds chaos veroorsaak.
Die grootste krisis wat die Weste vandag in die gesig staar is nie dié van persoonlike veiligheid nie. Die meeste strate in Europa en Amerika is baie veiliger as strate in Afrika, die Midde-Ooste en die res van die Derde Wêreld. Die totale aantal Westerlinge wat die afgelope paar jaar in terroriste-aanvalle gesterf het, lyk soos ’n niksseggende klein getal wanneer dit met die sterftes weens burgeroorloë en terrorisme in Derde Wêreldlande vergelyk word.
Die krisis wat die Weste vandag in die gesig staar is ’n groter bestaanskrisis. Die voortbestaan van die Westerse beskawing, volkere en nasies word bedreig omdat Westerse lande hul grense oopgegooi, globalisme omhels en naïef gedink het dat die res van die wêreld se mense graag soos hulle sou wou word.
Die Frans-Kanadese skrywer Mathieu Bock-Côté skryf in die Franse dagblad Le Figaro dat die Westerse elite, gedryf deur ’n selfmoordende hardkoppigheid weier om die werklike vyand in hul midde by die naam te noem. Bock-Côté skryf dat toe hierdie sogenaamde elite met terroriste-aanvalle in Brussel en Parys gekonfronteer word hulle aanhou verkies het om op die filosofiese stryd tussen demokrasie en terrorisme, tussen ’n oop samelewing en fanatisme en tussen beskawing en barbaarsheid te fokus.
Die werklike vyand waarna Bock-Côté verwys is die groeiende deel van Westerse lande se Moslembevolking wat nie bereid is om te assimileer nie en wat selfs in die tweede en derde generasie verkies om die land van hul afkoms, as hul tuisland te bestempel. Hierdie mense woon in Westerse lande omdat hierdie lande hulle grense vir immigrante oopgegooi het. Hulle woon in Westerse lande weens die welsynstaat wat gratis behuising, onderwys, mediese dienste en toelaes uitdeel. Hulle woon nie in Westerse lande omdat hulle Westerlinge wil wees nie.
Die oorsprong van die probleem lê in Westerse lande se verlies aan identiteit en die oikofobie wat tot ’n bykanse drang na multikulturalisme aanleiding gegee het. Voeg dáárby Westerse lande se interventionistiese praktyke in veral Noord-Afrika en die Midde-Ooste en jy sit met miljoene mense in Westerse lande wat nie van Westerse lande is nie en wat sien hoe Westerse lande die plekke waarmee hul steeds assosieer probeer demokratiseer. Radikalisering en interne konflik is dan logiese gevolge. Terwyl identiteitsverlies vêrder oor die Weste spoel en die politieke elite demokrasie met geweld na die Derde Wêreld wil neem, sal die situasie bly versleg en waarskynlik binne enkele dekades tot die vernietiging van die Weste beskawing aanleiding gee.