by Orania Beweging | Aug 24, 2016 | Nuus |
Volgens mediaberigte het president Jacob Zuma `n week gelede opdrag gegee aan dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, en Pravin Gordhan, minister van finansies, dat daar ’n manier gevind moet word om ’n 0%-verhoging in klasgeld te bied. `n Jaar gelede het Zuma ook voor betogende student geswig en `n 0%-verhoging aangekondig. Die Universiteit van Kaapstad sê egter dat `n 0%-verhoging nie haalbaar is nie. Adam Habib, visekanselier van die Universiteit van die Witwatersrand, sê hy is in ooreenstemming met die besluit, solank die regering dan die 8%-inkomsteverhoging dek wat elke universiteit nodig het om kop bo water te hou. Habib het verder gesê day hy aanneem dat daar geld om universiteite te ondersteun as die president dan so ’n besluit geneem het. Hy reken ook dat sou die regering die universiteite help met gratis water en krag, dit universiteite verder sal help om lewenskragtig te bly.
President Zuma en die ANC moet in gedagte hou dat deur `n 0%-verhoging in klasgelde aan te kondig hulle reuse druk op universiteite plaas wat vir daardie inkomste begroot het. Volgens bronne wat deur mediainstansies aangehaal word sal universiteite personeel moet afdank, projekte moet staak en selfs departemente moet sluit. Die regering het in die verlede 85% van bedryfskostes gedek, maar steeds moes universiteite ’n tekort van 15% self finansier. Dit sal nie prakties wees om dit twee jaar na mekaar self te dra nie.
Suid-Afrikaanse universiteite is die een na die ander besig om na laer plekke op internasionale ranglyste te skuif. Alhoewel die primêre redes sekerlik die afskaling of selfs afskaffing van moedertaalonderrig en onrus en betogings op kampusse is sal `n gebrek aan befondsing vorentoe die gehalte van universiteitsonderrig `n ernstige knou kan toedien.
Wat verder teleurstelling is, is die feit dat nog nie een student wat aan verlede jaar se landswye kampusgeweld deelgeneem het strafregtelik vervolg is nie. By die Universiteit van Johannesburg word ’n afgebrande ouditorium teen R100 miljoen herbou, geboue ter waarde van R151-miljoen is by die Noordwes-Universiteit se Mahikeng-kampus afgebrand en by die Universiteit van KwaZulu-Natal is R82 miljoen se skade aangerig toe die administrasiegebou en ’n woonstelblok aan die brand gesteek is. Dit is enkele voorbeelde. Indien studente sien dat gewelddadige betogings en die beskadiging van eiendom lewer resultate is daar geen rede waarom hulle daarmee sal ophou nie. Veral aangesien daar geen gevolge blyk te wees nie.
Ongelukkig moet die meeste universiteite hulle aan regeringsbesluite onderwerp wat die rol van privaat têrsiere onderriginstellings soveel belangriker maak. Akademia, wat uit die Solidariteitstal gebore is, beskik reeds oor diploma- en graadkursusse en sal vorentoe verder uitgebou word. Die ontwikkeling van `n eie kampus met Afrikaans as onderrigmedium moet in die vooruitsig gestel word. Orania is die perfekte gasheer vir so `n kampus waar studente in Afrikaans, met `n Christelike begronding en sonder onrus en betogings onderrig kan word.
by Orania Beweging | Aug 18, 2016 | Nuus |
Met die munisipale verkiesings nou agter die rug, neem koalisies onder leiding van die DA in sekere metropole gestalte aan. Dit is wel goeie nuus dat die absolute houvas van die ANC op die mag geleidelik verbreek word. Dit is verblydend dat belangrike stede soos Pretoria en Port Elizabeth, en dalk ook Johannesburg en die Oos-R
and Munisipaliteit, nie meer onder die beheer van die ANC is nie. Kaapstad is al geruime tyd onder DA- beheer en word beter bestuur as die ander metropole. Op plaaslike vlak sal dit die nodige verwydering van onbekwame en deels korrupte amptenare en ʼn vars bries na verlamde strukture bring.
Nou moet ʼn mens egter waak teen ongegronde opgewondenheid, al smag Suid-Afrikaners, en Afrikaners spesifiek, na iets soos ʼn silwer randjie wat dalk ʼn voorbode van die naderende einde van die Babiloniese gevangenskap onder die ANC is. Nog steeds beheer die ANC om en by 170 van 200 munisipaliteite en is hulle greep op die platteland nog baie stewig. ʼn Swaeltjie (in die vorm van 2 of selfs 3 metros) maak nog nie ʼn somer nie. Wat verder kommerwekkend is, is dat feitlik orals die DA-geleide koalisies, wat uit ʼn bonte verskeidenheid uiteenlopende vennote bestaan, van VF+ tot UDM en Cope, afhanklik is van die steun van die EFF. Die EFF is radikaal en irrasionaal en dit is net sowel moontlik dat hulle vorentoe weer toenadering tot die ANC soek en die DA-koalisies in die rug steek. Die vete tussen die EFF en die ANC is veral oor persoonlikhede, nie so seer oor ideologie nie. ʼn ANC sonder Zuma, wat op druk van die EFF nog verder links skuif en verdere grondwetlike beginsels soos eiendomsreg ondermyn, sal vir die EFF ʼn meer natuurlike vennoot wees as die DA. Die ANC se magshonger en Machiavellisme is bekend, en hulle sal maklik hulle oorblywende beginsels oorboord gooi om weer in beheer van die belangrike stede te kom.
Meer nog, met wankelrige koalisies wat afhanklik is van die guns van die EFF sal daar op munisipale vlak die verwydering van alles wat vir Afrikaners kosbaar is waarskynlik net vinniger vorder as in die ANC munisipaliteite. Die DA moet hulle bewys as swart party en moet iets doen om die EFF gelukkig te hou en sal maklik oorblywende Afrikaanse straat- en plekname of monumente opoffer. Dalk kan die VF+ wat deel van sekere koalisies is dit keer, dalk nie.
Selfs al werk die koalisies, is daar min vir Afrikaners om oor opgewonde te raak. Dienslewering gaan waarskynlik verbeter en korrupsie gaan moontlik aangespreek word, en dit is inderdaad al wesenlik. ʼn Munisipaliteit onder DA beheer sal egter ook dié party se uitgangspunte weerspieël: alles sal Engels wees, min sal gedoen word vir Afrikaner-erfenis en nog minder erkenning sal gegee word aan Christelike waardes en beginsels en die morele verval sal voortgaan. Vir diegene vir wie Kaapstad die modelstad is, is dit seker goeie nuus.
In die ideale stad volgens my is Afrikaans die amptelike taal, is straatname en advertensies in Afrikaans, word Afrikaner-erfenis bewaar en met trots vertoon, is daar talle kerke wat op Sondae vol is, (en nie moskeë en Hindu-tempels nie), mense gee om vir mekaar en misdaad is feitlik afwesig, almal het werk en volg dieselfde Christelike etos en waardes en streef na ʼn gemeenskaplike doel. Dienslewering is uit die aard van die saak ook op hoë standaard. Laasgenoemde kan egter nie die belangrikste doelwit wees nie, dit moet eerder vanselfsprekend wees.
Geen koalisieregering van watter aard ook al kan vir ons so ʼn stad gee nie, want Afrikaners is orals ʼn minderheid. As jy in Pretoria of Johannesburg of waar ook al woon, stem vir ʼn beter munisipale regering, maar beywer jou volstoom vir die langtermyndoelwit van ʼn Afrikanerstad in Orania.
by Orania Beweging | Aug 17, 2016 | Nuus |

Oor net meer as ’n jaar van nou af vind die vierjaarlikse federale verkiesing in Duitsland plaas. Terwyl Angela Merkel omstrede is weens haar immigrasiebeleid is die vraag of daar volgende jaar enige werklike opposisie teen haar gaan wees.
Hoewel Merkel nog nie-amptelik haar kandidaatskap aangekondig het nie, raak dit duidelik dat sy haarself vir ’n vierde termyn beskikbaar gaan stel. Merkel, wie hierdie week na haar jaarlikse somervakansie na Berlyn terugkeer om haar regering se agenda vir die volgende twaalf maande tot en met die verkiesing te bepaal, is blykbaar reeds besig om haar verkiesingsveldtog vir volgende jaar te beplan.
Toe Merkel in 2005 tot bondskanselier verkies is, het min mense gedink dat sy een van die bekendste, soms gewildste en soms mees omstrede leiers van Europa sou word. Merkel het gedurende die 1990’s haar opgang in Duitse politiek gemaak. Onder leiding van haar mentor Helmut Kohl het sy deur die range van die Christen-Demokratiese Party gevorder. In 1999 het Merkel ’n leiersrol in Kohl se ondergang gespeel toe sy in ’n artikel in een van die bekende Duitse koerante druk op Kohl geplaas het om te bedank.
Weens ’n korrupsie-skandaal binne haar party het die een groot leier na die ander geval en in 2003 was Merkel gereed om as leier van die party oor te neem. Sy was die een kandidaat sonder bagasie en hoewel nie noodwendig die beste nie, wel die veiligste. Sedert Merkel se verkiesing in 2005 as bondskanselier het haar pragmatiese, versigtige en byna wetenskaplike benadering tot politieke besluite tot Duitsers gespreek.
Wat baie kommentators egter sedert Merkel se toetrede tot Duitse politiek misgekyk het, is die wyse waarop sy van politieke opponente ontslae geraak het. ’n Bekende Britse politikus, Jonathan Powell het ’n tyd gelede Merkel se politiek as Machiavelliaans bestempel, verwysende na die onverskrokke wyse waarop sy mag nastreef en politieke opponente uit die weg ruim.
Vandag het Merkel geen politieke opponente of potensiële opvolgers binne haar eie party nie. Merkel se kabinet bestaan uit politici sonder veel ambisie, persone sonder die vermoë om haar uit te daag en natuurlik individue wat volledig lojaal aan Merkel is.
Merkel het selfs daarin geslaag om haar grootste politieke opponent, die Sosiaal-Demokratiese Party, te verswak deurdat sy talle van dié party se beleidsrigtings haar eie gemaak het. Leiers binne die Sosiaal-Demokrate oorweeg om nie eers volgende jaar ‘n kandidaat teen Merkel te stel nie.
Die Angela Merkel wat haar land weg van omstredenheid, oorloë en ekonomiese slaggate gehou het, het egter vroeg in die somer van 2015 besluit om die grootste stap van haar loopbaan te neem. Sy het Duitsland se grense vir meestal Moslem-immigrante uit die Midde-Ooste en Noord-Afrika oopgegooi. Sedertdien het haar en haar party se steun gedaal en is sy lankal nie meer die veilige keuse vir Duitsers nie. Met byna geen wesenlike sterk alternatief tot Merkel nie, sal sy waarskynlik volgende jaar herkies word en sal die onindrukwekkende karakter, maar geharde politikus Duitsland se toekoms vir altyd in ‘n rigting stuur waaraan sy waarskynlik reeds vir jare beplan.
by Orania Beweging | Aug 15, 2016 | Nuus |
Die afgelope naweek is Taaldag herdenk. Op 14 Augustus dink ons terug aan die Genootskap van Regte Afrikaners wat op daardie dag in 1875 byeengekom het om die onderdrukking van die Afrikaanse taal te beveg. `n Afrikaanse Bybel, Afrikaanse kunstefeeste en Afrikaans as algemene gebruiksstaal kan direk toegeskryf word aan die stryd wat deur ons voorgeslagte gevoer is. Die GRA was ook verantwoordelik vir die eerste Afrikaanse koerant wat as Die Patriot bekendgestaan het. Vandag word die nuus in koerante, op televisie en natuurlik op radio in Afrikaans aan die publiek gebring.
Die feit dat Afrikaans op soveel platforms beskikbaar is kan direk toegeskryf word aan die werk wat vroeër gedoen is en die fondasie wat daar gelê is. Ons moet onthou dat daar `n fel stryd teen Afrikaans was na die Anglo Boereoorlog. Afrikanerkinders wat nie die Engelse uitsprake kon baasraak nie moes in klaskamers op stoele staan met die word ‘donkie’ om hulle nekke. Selfs lank voor dit, in die 1800’s was Nederlands die taal wat bo Afrikaans verkies is. Die gewildheid en internasionale bekendheid van Afrikaans was dus ‘n opdraende pad.
Vandag is die woorde ‘Afrikaans must fall’ oral op kampusse te sien. Dit is nie `n veldtog om moedertaalonderrig uit te brei en ander Afrikatale te laat insluit by tersiêre onderrig nie maar `n terughunkering na `n eentalig Engelse onderrigmedium. Baie soortgelyk aan die stryd wat teen Afrikaans gevoer is kort na 1902. Ook in die staatsdepartemente kom Afrikaans toenemend onder druk.
Daar is talle persone en instansies wat hulle kant bring om Afrikaans se regmatige plek te beskerm. Organisasies soos AfriForum het al verskeie hofaksies daarvoor aangepak. Die taalaktivis, Kerneels Lourens, doen ook sy deel om Afrikaans se regmatige plek in die howe en op ander plekke te beskerm. In Orania word daar `n stad gebou waar Afrikaans beskerm en bevorder sal word. Hierdie inisiatiewe speel almal `n groot rol in die uitbou van Afrikaans.
Die vraag is egter nie wat ander doen of reeds gedoen het vir Afrikaans nie. Elke spreker van die taal, elke individu, het `n rol wat hulle moet speel. Die rol kan so eenvoudig wees soos die ondersteuning van Afrikaanse skrywers of die inskakel op `n Afrikaanse radiostasie. Hollywood neem die voortou as dit by die vervaardiging van rolprente kom maar ondersteun gerus ook die Afrikaanse produksies – mits dit van `n bepaalde gehalte is. Moedig jou kinders aan om Afrikaanse werke te lees – nuwe werke asook die digkuns van Eugene Marais, Totius en DJ Opperman.
Oor `n honderd jaar gaan ons nageslagte terugkyk en vra wat ons nagelaat het vir hulle. Watter fondasie het ons gelê waar op die taal verder uitgebou kon word? Ons mag hulle nie teleurstel nie.
by Orania Beweging | Aug 10, 2016 | Nuus |
Jare gelede vertel my skoonpa, ook ’n predikant, die volgende verhaal. By geleentheid word predikante gevra om in ander gemeentes sakramente te bedien, gewoonlik omdat die familie betrokke is of omdat dié gemeente vakant is. So word my skoonpa gevra om by ’n naburige gemeente die doop te gaan bedien. Om by ’n ander gemeente te preek is gewoonlik ’n nuwe, vreemde ervaring, daar is tog iets van ’n plaaslike kultuur en mens beleef dit sommer met die telefoniese reëlings al van die betrokke Sondag. As voorbeeld mens se skakeling met die orrelis oor die liturgiese liedere. Soms verwag sy dit twee weke voor die tyd alreeds om te oefen, soms is die orrelis so gemaklik dat sy sommer self op die houtbordjies kyk waar die ou koster die nommertjies aanbring. Met die aankomslag gaan die vreemdhede voort: Wie jou kom verwelkom, die tipe koffie wat jy aangebied word, die uitleg van die kerkgebou. Ook binne die konsistorie beleef mens dit, heelwat vreemde gesigte wat gesels oor dorpsdinge en mense waarvan jy nie veel weet nie. Dit is amper of mens jouself op die intreeslag op die volksvreemde sendingveld beleef. Anders.
Met meeste uitpreke wil jy as predikant so ’n vinnige draai op die kansel maak voor die tyd, om die papiere en boeke reg te sit, die klank te toets en net so ’n gevoel te kry van wat voorlê. Hierdie spesifieke Sondag word hierdie kardinale voorbereiding egter nagelaat en so ’n oordeelsfout skep gewoonlik die teelaarde vir ten minste ’n opwindende en interessante ervaring. Dit stel nie teleur nie.
Die betrokke Sondag verloop alles soos verwag met die verwelkoming in die konsistorie, die statige voorsitter wat die dominee verwelkom, die doopkaartjie met die name wat oorgegee word en die ouderling wat hartroerend bid vir die diens wat voorlê en vir die teken van redding wat bedien gaan word aan ’n kindjie.
Voor mens instap, deur die sydeur aan die ouderlinge toegeken, altyd van die gemeente se kant af die linker een, hoor mens gewoonlik die gemeente se “God is hier teenwoordig” of iets in der voege, dan gooi jy gou jou toga oor jou skouers, gryp jou pakkie boeke en stap statig deur die deur, kerkbinne. Die Predikant stop dan by die trappies, om te bid vir leiding, wysheid en meermale beskerming teen jou eie minder as volmaakte voorbereiding. Dan begin die diens.
Die betrokke Sondag, so vertel my skoonpa, gaan die prediking oor redding met die water van die doop as simbool van Christus se offer wat ons reinig van al ons sondes, gefundeerd in die verbond van God met die mens. Na die preek beweeg hy af na die liturgiese ruimte vir die sakrament, die ouers kom na vore en oupa bring die kriewelende bondeltjie verbondskind in. Dit is toe dat hy die potensiële probleem bemerk. Hierdie betrokke gemeente, het ’n indrukwekkende glas doopfont, ’n geskatte meter hoë glas kunswerk, amper soos ’n groot buis. Mooi. Dit op sig self is nie ’n probleem nie, die probleem is die feit dat hy bespeur dat die water in die font, omtrent elmboog diepte van die die bokant af lê. Nou moet ek moontlik by voorbaat noem dat met glas, water en die refraksie verskynsel van lig mens maklik oordeelsfoute kan maak en so ’n fout is deur hom begaan.
Toe die formulier afgehandel is, my skoonpa die verbondskindjie in sy arms neem, begin hy met die woorde…..sê nou maar sommer Jacobus Daniel van der Westhuyzen, ek doop jou in die naam… en met hierdie woorde en die oordeelsfout, druk my skoonpa sy regterand, elmboogdiepte in die font in, salig onbewus van die feit dat die water eintlik, perfek, 100%, tot by die rant van die font vol gegooi is en die lig hom geflous het. Elmboog diep nat, water wat die hele ruimte vol stort, doop hy die ouers, grootouers en sy eie skoene sommer ook. Johannes 2:7 sal nog getoonset moet word vir so ’n geleentheid: “Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak.”
Jacobus Daniel van der Westhuyzen, ek doop jou in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees…terwyl die water uit sy toga-arm stroom. Die reënboog dien as teken dat die aarde nooit weer met ’n vloed sal vergaan nie, die waardigheid van die sakrament, op daardie betrokke Sondag, het egter met ’n oordeelsfout en ’n vloed heengegaan
Die fout wat begaan is, is eintlik eenvoudig: Redding het vir hom te vêr gelyk. In ons eie lewens van kleingeloof maak ons ook die parallaksfout. Soms laat die glas en lig van hierdie lewe ook die redding veel verder lyk as wat dit eintlik is.