by Orania Beweging | Jul 15, 2016 | Nuus |
Op 4 April 1968 is die swart burgerregte aktivis Martin Luther King op die balkon van ’n hotel in die Amerikaanse stad Memphis doodgeskiet. In die dae, weke en maande wat daarop gevolg het, het rassespanning regoor Amerika toegeneem en is veertig onskuldige mense in gewelddadige aanvalle dood en is eiendom in meer as 100 Amerikaanse stede tydens gewelddadige betogings beskadig.
Die Verenigde State van Amerika het ’n lang geskiedenis van rassespanning wat van tyd tot tyd op geweld en selfs lewensverlies uitgeloop het. Gedurende 2015 is net meer as 100 swart mans deur polisielede in die VSA doodgeskiet. Talle soortgelyke voorvalle het reeds vanjaar voorgekom en twee insidente verlede week in Louisiana en Minnesota het tot betogings regoor Amerika aanleiding gegee. Die sogenaamde “Black Lives Matters”-aktivistegroep het vurige uitsprake teen wit polisielede gemaak en opruiende byeenkomste wat aan die optogte van 1968 herinner, vind tans daagliks in groot Amerikaanse stede plaas.
Verlede Donderdagaand se aanval deur ’n swart man in die strate van Dallas op wit polisielede waarin vyf polisielede dood en talle beseer is, moet binne die konteks van hierdie opruiende retoriek gesien word. Hoewel Micah Johnson volgens alle aanduidings nie as deel van ’n georganiseerde groep die aanval beplan het nie, is hy wel deur die retoriek van die leiers van “Black Lives Matters” beïnvloed en was sy aanvalle volledig rasgedrewe.
Vrydag het ’n swart man op motoriste in Tennessee begin losbrand. ’n Vrou is dood en talle mense onder wie ’n polisieman is ernstig beseer. Die skieter het erken dat hy deur die rassevoorvalle gedryf is en dat hy wit mense wou doodskiet. Soortgelyke voorvalle het ook oor die naweek in Georgia en Missouri plaasgevind.
Navorsing toon dat ’n swart man in Amerika ’n nege keer groter kans as ’n wit man staan om deur ’n polisieman geskiet te word. Hierdie statistiek wek die indruk dat die polisie rassisties is en dat swart mans in die algemeen geteiken word. Wat egter ook waar is, is dat 52% van alle moorde in die VSA deur swart persone gepleeg word terwyl swart mense slegs 13% van die land se bevolking uitmaak. Sowat 93% van swart mense wat vermoor word, word deur ’n ander swart persoon vermoor. Geweldsmisdaad is ’n enorme probleem in swart gemeenskappe regoor die VSA en gevolglik maak die hoë voorkoms van konfliksituasies tussen swart mans en die polisie sin. Sowat 12% van alle polisielede in die VSA is swart en die hoof van die polisiedepartement in Dallas is self ’n ervare swart man wat vir baie jare reeds in die polisie diens doen. Argumente oor ’n sistematiese fokus deur wit polisiedepartemente op arm swart gemeenskappe dra dus nie water nie.
Die VSA staan vandag voor enorme uitdagings net soos in 1968. Enkele gevalle waar wit polisielede onregmatig geweld teen swart mans gebruik het, lei nou tot grootskaalse mobilisering in die swart gemeenskap wat tot gewelddadige aanvalle aanleiding gee. Rassistiese uitsprake van wit teen swart en swart teen wit neem toe. Toenemende diversiteit bied voortdurende uitdagings vir die VSA. Sterk leierskap sal nodig wees om gemeenskappe elk tot hul reg te laat kom en die vlam van rassehaat te laat verdor.
by Orania Beweging | Jul 8, 2016 | Nuus |
Dirk Viljoen, mede-grondlegger van die volkstaatbeweging is in Mei vanjaar kort voor sy vier en tagtigste verjaarsdag in Pretoria oorlede. Dirk is op 31 Mei 1932 naby Middelburg (Kaap) gebore en het in verskeie Kaapse dorpe gewoon waar sy ouers as koshuisouers waargeneem het. Na sy skoolloopbaan het hy by die Universiteit van Pretoria as landmeter gekwalifiseer.
Dirk het as landmeter op verskeie plekke gewerk. Op Winburg het hy sy vrou, Magda, ontmoet en kort na hulle troue het hulle na die destydse Rhodesië verhuis. Dit was destyds nog ‘n pioniersland waar hy plase uitgemeet het. Sy twee oudste kinders is in 1957 en 1959 daar gebore terwyl hulle dikwels rondgetrek en in die veld gewoon het.
In 1964 het hulle na Suid-Afrika teruggekeer en die eenvoudige omstandighede vir vestiging in Pretoria verruil. Nog ‘n seun en ‘n dogter is daar gebore. Daar het hy vir die Departement van Beplanning gewerk en deeltyds ‘n Meestersgraad in Stads- en streeksbeplanning aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hy het ‘n gesaghebbende beplanner geword en het, saam met vennote, die firma Plan Medewerkers gevestig en bestuur.
Dirk was sedert die middel 1960’s by SABRA (die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-Aangeleenthede) betrokke. Hy het afsonderlike ontwikkeling ondersteun en was ‘n voorstander van planmatige en billike skeiding tussen die volkere van Suid-Afrika. Daar het hy in aanraking gekom met prof Carel Boshoff, voorsitter en dr Chris Jooste, direkteur van SABRA en het later saam met hulle ‘n beslissende rol in die volkstaatbeweging gespeel. Hy was ’n stigterslid van die Vereniging van Oranjewerkers, van die Afrikanervolkswag en van die Afrikanervryheidstigting.
Saam met prof Boshoff as charimatiese politieke en geestelike vertolker van die volkstaatgedagte en dr Jooste as sosiale demograaf en diepte navorser, was Dirk die geografiese beplanner. Hulle was ’n formidabele en oortuigende driemanskap wat die deurslaggewende rol in die aanwysing van die Noordwes-Kaap as gebied waarbinne ‘n Afrikanervolkstaat kan ontwikkel, gespeel het. Hy was in 1989 ook mede-outeur van die gesaghebbende boek “die Volkstaat as Afrikanerbestemming”, waarop talle ander boeke en navorsingstukke gevolg het wat die idee van ‘n volkstaat verkondig het.
Met sy betrokkenheid en kundigheid was Dirk ook ‘n vanselfsprekende kandidaat vir die Volksstaatraad waarop hy van 1994 tot 1997 as voltydse lid gedien het. Daar het hy tot talle verslae oor die moontlikhede wat die Noordwes-Kaap vir volkstaatontwikkeling inhou, die lig laat sien. Hy was ook lid van die Vryheidstigting se Burgerraad en het in Orania belê, hoewel hy sy planne om daar te vestig weens persoonlike omstandighede nie kon uitvoer nie. Hy het in Jongensfontein afgetree en is later terug na Pretoria waar hy die laaste jare van sy lewe versorg is.
Dirk Viljoen is deur almal wat hom ken as ’n ware heer beskou en is as aangenaam, hoflik, nugter en fyn besnaard beskryf. Hy is deur diensvaardigheid gemotiveer en het nie persoonlike voordeel of eer nagejaag nie. Magda het hom reeds einde verlede jaar ontval, maar hy word deur 4 kinders, 6 kleinkinders en 9 agterkleinkinders oorleef.

by Orania Beweging | Jul 8, 2016 | Nuus |
Brexit, oftewel die Britte se besluit om uit die Europese Unie te tree, is die afgelope twee weke deur kommentators, politici en selfs bekende akteurs en sangers gebruik en ook misbruik om argumente wat bitter min met Brexit en die gevolge daarvan te make het, op die voorgrond te skuif. Brexit is verbind aan anti-Europese gevoelens, rassisme en selfs ou haat onder Britte jeens Duitsland.
Soos wat die stof gaan lê en ons egter deur al die geraas en propaganda kyk en werklik ondersoek instel na die redes waarom 52% van Britte ten gunste van Brexit gestem het, is dit duidelik dat hierdie mense nie fasciste of rassiste is nie, maar eerder grotendeels ’n meerderheid van Britte verteenwoordig wat die opmars van sentralisasie en politieke en ekonomiese globalisme wou stuit.
Die Britte wat teen die Europese Unie gestem het, het nie teen Europa gestem nie. Om die waarheid te sê daar is genoeg ondersoeke en peilings wat wys dat die meerderheid van hierdie mense met Europa assosieer en Brittanje as deel van Europa beskou. Europa as ’n kontinent van verskillende volkere en die Europese Unie as ’n burokratiese, ondemokratiese mag wat politieke en ekonomiese mag in Brussel sentraliseer, is twee verskillende dinge.
Sedert die verkiesingsuitslag is daar ook sprake van ’n sogenaamde Nexit in Nederland en ook in andere lande in Europa kan soortgelyke referendums volg.
Aan die ander kant van die Atlantiese Oseaan bou die frustrasie met sentralisme ook op. In die VSA staan Texit vir die deelstaat Texas se moontlike poging om die federasie te verlaat en in die relatief libertariese staat, New Hampshire is ’n sterk beweging teen sentralisme die afgelope tyd van stapel gestuur. Hoewel dit moontlik is vir ’n Amerikaanse deelstaat om van die federasie af te skei, is dit besonder moeilik en eintlik hoogs onwaarskynlik omdat dit deur die kongres goedgekeur sal moet word.
Die opmars van sentralisme word oor die korttermyn gesien as ’n soort oplossing vir Europa en Amerika se interne konflikte. Die persepsie word dus geskep dat indien mag gesentraliseer word en gedeelde politieke en ekonomiese belange ontstaan, verskillende volkere en lande minder rede sal hê om in konflik met mekaar te tree.
Sentralisasie is egter reeds vir die afgelope 600 jaar in Europa in opmars. Dit het begin by Koning Henry die Sewende van Brittanje en Koning Ferdinand van Spanje en is oor die eeue voortgesit deur mense soos Napoleon, Koning Louis van Frankryk en uiteindelik Hitler in Duitsland.
Ook in die VSA het dit reeds na die einde van die Burgeroorlog in 1865 sterker geraak. Hoewel die Burgeroorlog tot ‘’n mate oor slawerny gegaan het, kan Lincoln se hardkoppige onwilligheid om die Unie te sien skeur, ook nie ontken word nie.
Die geskiedenis het bewys dat volkere en lande wat in ’n gesonde magsverhouding met mekaar saamleef nie in konflik met mekaar hoef te tree nie. Sentralisasie is nie die oplossing nie en ’n breë, internasionale grondvlakbeweging ten gunste van desentralisasie kan oor die volgende paar jaar ’n realiteit word.
by Orania Beweging | Jul 6, 2016 | Nuus |
Sebastian Junger, ‘n bekende Amerikaanse outeur, oorlogverslaggewer en vervaardiger van dokumentêre films se onlangse boek (in Mei vanjaar verskyn) “Tribe. Of homecoming and belonging.” werp ‘n interessante lig op die belangrikheid van die groep (in die sin van stam of volk) vir die geestesgesondheid van die mens. Hy kies doelbewus die woord tribe (stam) en nie community (gemeenskap) nie omdat die term gemeenskap volgens hom te vaag, vloeibaar en te sag is. Elke groepering en belangegroep word deesdae ‘n gemeenskap genoem, maar ‘n stam is iets wat ‘n sterk, amper mitiese en blywende verbintenis tussen mense aandui. As ek in die teks van gemeenskap praat, dan is dit egter in die nouer sin van ‘n gegroeide, etniese gemeenskap met gedeelde afkoms, plek en waardes.
Volgens Junger het die mens het van sy vroegste bestaan af die groep gehad en daarbinne sy bestemming en sy vrede gevind. Eers in die laaste paar dekades word die mens losgemaak van die stam- of gemeenskapsverband en kan dit sielkundig nie verwerk nie. Terwyl die Westerse samelewing as amper perfek voorgehou word en volgens sekere aanduidings al hoe meer perfek word in die sin dat alles voorspelbaar en veilig word en vir almal gesorg word, neem selfmoord en depressie met groeiende welvaart en modernisering toe. Samelewings wat materieël feitlik alles het en wat voorspelbaar, veilig en gereguleerd is, het nogtans dikwels die mees ongelukkige mense, terwyl mense in “primitiewe”, pre-moderne samelewings dikwels gelukkig is, ongeag die materiële gebreke.
Die mens het blykbaar uitdagings in groepsverband nodig (en jeugbendes van ontstamde Westerlinge, ‘n soort karikatuur van die stam, bevestig juis dit). Junger het vasgestel dat mense selfs troumatiese gebeure soos oorlog of natuurrrampe sielkundig positief beleef wanneer die gemeenskap saamstaan en mekaar help in sulke tye van nood. Soldate beleef dit besonder intens. In die oorlog is hulle in gevare op mekaar aangewese en daar bestaan ‘n sterk groepsgevoel en lotsverbondenheid. As hulle dan terugkeer na die hoogs geindividualisieerde en versplinterde samelewing, is daar geen gemeenskap wat vir hulle omgee nie en hulle voel uit plek uit en ly aan depressie. Die gemeenskap kon nog altyd oorlogstrouma genees deur soldate weer deel van die groep te maak, maar sielkundiges kry dit selde reg. Meer nog, terwyl soldate vroeër as helde terug verwelkom is, word hulle vandag in die Weste skeef aamgekyk en uitgekryt as “moordenaars” en “onderdrukkers”, juis in hulle eie lande.
Ouer mense in Wes-Europa en die VSA kyk met nostalgie terug na die tyd onmiddelik na die verwoesting en onbering van die Tweede Wêreldoorlog, waar die mense vir die laaste keer in die Weste ‘n werklike gemeenskap was omdat hulle saam die skade van die oorlog herstel en mekaar gehelp het. Met toenemende voorspoed wat daarna gevolg het vanaf die middel 1950’s, het ook individualisering, materialisme en nihilisme ingetree. Ook die films van die era beeld dit uit. Verglyk byvoorbeeld die sterk gesins- en gemeenskapsbande van “The Green Promise” van 1949 met die konflik en ontbindingstendense van “Rebell without a cause” van 1955, wat ‘n nuwe era ingelui het, skaars 5 jaar later.
Die mens se verlange na die noue bande van ‘n stam of gemeenskap sit volgens Junger ook agter die Amerikaanse setlaars se drang na die ongerepte lande van die Weste. Hier was hulle deel van ‘n hegte gemeenskap, wat saamgestaan het teen Indiane, wilde diere en ‘n ‘n vyandige natuur. Ander weer het juis by die Indiane aangesluit op soek na ‘n stamverband. Ook vandag is daar derduisende Westerlinge wat die doellose en individualistiese Weste wil ontsnap en poog om by meer oorspronklike en tradisionele volke in Asië of Afrika aan te sluit (dikwels tot hulle ontnugtering en sonder om werklik aanvaar te word).
Alhoewel talle van Junger se bevindinge en afleidings aanvegbaar is en die primitiewe stamme alles behalwe ideale en vreedsame samelewings was, is die behoefte om te “behoort” onlosmaaklik deel van die mens en belangrik vir sy ontwikkeling en sy menswees. Die individualisering van die mens verteenwoordig nie die toppunt van evolusie nie, maar eerder ‘n doodloopstraat. Danie Goosen het in sy gesaghebbende boek “Oor Gemeenskap en Plek” die kwessie in diepte bespreek en die belangrikheid van gemeenskap vir die mens en vir die kultuur uitgelig.
Te dikwels word die strewe van Orania en ander Afrikaner-organsisasies wat vir die etniese gemeenskap staan afgemaak as verouderd en ondermynend. Talle meningsvormers probeer Afirkaners oortuig dat die fokus op groepe nasionale eenheid ondermyn en ook Afrikaners terughou en verstik en dat die aankoms in ‘n multi-etniese land hulle as t’ ware bevry het. Min woorde is so deurspek van huigelaary as die “oop, multi-kulturele samelewing” wat Suid-Afrika nou sou wees, of besig is om te word namate die verlede agtergelaat word. Selfs diegene wat die dogma verkondig, leef nie daarvolgens nie. Kyk maar waar woon die sogenaamde meningsvormers: gewoonlik in veiligheidsbuurte vir die hoër middelklas, dalk met ‘n paar swart middelklasgesinne tussenin, maar alles behalwe verteenwoordigend van Suid-Afrika se bevolking.
Dit is tyd dat die skynheiligheid agtergelaat word en erken word dat mense basiese behoeftes het: behalwe om te eet en om voort plant ook om hulle plek en doel in die wêreld te vind en om deel van ‘n gemeenskap (stam, volk, groep) te wees. Diegene wat verkies om as vryswewende, ongebonde en swerwende individue in ‘n gewaande “global village” te leef is welkom om dit te doen, maar hulle moet nie hulle wil op die groot res afdwing nie.
by Orania Beweging | Jul 5, 2016 | Nuus |
Ek kon nie help om die berig op Maroela Media oor die EFF se politieke werwing in Hermanstad met skeptisisme en teleurstelling te lees nie. Skepties is ek oor die hoop wat die gemeenskap het dat daar heil by die EFF te wagte is. Vermoedelik word die EFF gesteun omdat hulle beloftes bied oor grond en behuising. Moontlik uit vrees. Opportunisties gebruik die EFF die geleentheid om te wys dat hulle as party ook wit steun kan kry.
Aan die ander kant is ek teleurgesteld in die sogenaamde vryheid wat die nuwe demokratiese bedeling in Suid-Afrika klaarblyklik bied, maar dat dit in realiteit op marginalisering van minderhede uitloop. Nie net is ek teleurgesteld in die bedeling waarmee ons te doen het nie, maar ook in die wyse waarop daar binne die Afrikaanse gemeenskap ʼn reuse kloof tussen ryk en arm ontstaan het. Terwyl die rykes dit kan regkry om hulself teen die demografiese verskuiwings te verskans, is arm blankes oorgelewer aan ʼn onbarmhartige lot.
Uit my eie ervaring kan ek net ʼn paar probleme noem waarmee arm blankes op ʼn daaglikse basis te doen kry. Meeste van hul kan nie medies bekostig nie en moet van staatshospitale gebruik maak. Taxi’s moet gebruik word vir vervoer. Dwelms en drank is probleme wat gesinne verwoes. Hul moet ook blyplek vind in minder gegoede gebiede, waar misdaadsyfers gewoonlik hoër is. Hul word slagoffers van geweld, diefstal, gesinsverbrokkeling en verwaarlosing deur hul eie mense. Jong kinders loop op straat rond, sonder dat hul ouers iewers opgemerk word. In baie gevalle maak oupa en ouma die kleinkinders groot. Dit is maar net wat ek van binne die veiligheid van my eie motor al opgemerk het.
Vanweë die skeiding tussen arm blankes en ryk blankes ten opsigte van die onderskeie woongebiede, het ons in die reël al hoe minder bewus geword van die nood van mede-Afrikaners. Hoewel daar verskeie organisasie soos Helpende Hand is wat dankbaar hiermee, help is die mees fundamentele probleem dat ryk en arm Afrikaners vandag in verskillende wêrelde leef en byna van mekaar vergeet het.
Die arm blanke vraagstuk gaan nooit volkome opgelos word nie. Die Bybel leer ons dat daar altyd rykes en armes sal wees. Tog meen ek dat ons ʼn verantwoordelikheid het om beter om te sien na mede-Afrikaners wat in armoede verkeer. Hiermee sê ek nie dat ons net ʼn verantwoordelikheid het om na arm Afrikaners om te sien nie, maar wel dat die verantwoordelikheid die swaarste weeg en prioriteit behoort te geniet.
Om behoorlik na mekaar om te sien, is dit nodig om mekaar meer te sien. Dit is nodig dat ryk en arm nie in aparte wêrelde leef nie maar tussen mekaar, sodat die wat meer ontvang die kan help in nood. ʼn Gemeenskaplike grondgebied kan dus ʼn groot stap vorentoe wees. Sou ons nader aan mekaar woon, sal ons ook meer bewus word van mekaar se lyding en ook beter weet hoe om hand by te sit. Hoewel die demokratiese bedeling waarin ons leef vir verskeie individue geweldige voorspoed gebring het, blyk dit nie die geval vir die Afrikanergemeenskap as ʼn geheel te wees nie. Die armblankes in Hermanstad wat die EFF steun is maar net ʼn simptoom hiervan.