Die waarde van rituele

geloftefees-2012Die term ritueel het ʼn negatiewe klank gekry: iets wat vervelig is, wat geen betekenis meer het nie, wat herhalend is, nie meer relevant is nie, ʼn tydmors ensovoorts. Iets word eers ʼn ritueel en dan word dit gelos. In vandag se tyd moet ʼn mens uit alles “iets uitkry”. Daarom dat die “ritueel” van die Sondagerediens verval en mense dit as verskoning gebruik om nie kerk toe te gaan nie, want dit is herhalend en gee hulle nie meer iets nie. Die moderne mens soek die hele tyd iets nuuts, ʼn nuwe “kick”, ook wat godsdiens betref. Daarom ook die opgang van die charismatiese “event” kerke, alhoewel ook die soort kerke hulle eie rituele en herhalings het. Die inkopies op Sondae het intussen die ritueel geword wat die erediens in talle gevalle vervang het, maar ek wil beweer dat jy minder daaruit kry as uit ʼn erediens wat ʼn gewoonte geword het.

Die oorspronklike betekenis van ritueel is ʼn opeenvolging van handelinge op ʼn spesifieke plek en gewoonlik met ʼn godsdienstige agtergrond. Net so belangrik, ʼn ritueel is ʼn produk van ʼn kultuur.

Om dus deel te neem aan ʼn ritueel bevestig jou kultuur- en volksverband. Daarsonder is jy ʼn ongebonde individu, uitruilbaar, vervangbaar, sonder ʼn merk wat jy maak.

Geloftedag is ʼn jaarlikse ritueel van die Afrikanervolk, oftewel die deel wat hulle nog gebonde voel as deel van ʼn volk wat ʼn gelofte aan God gemaak het en dit nou al vir 180 jaar in stand hou. Ook 22 jaar na die aanbreek van die “nuwe Suid-Afrika” woon nog steeds groot getalle Afrikaners Geloftefeeste by. Dit is net ʼn breukdeel van die Afrikanervolk, maar daar is aanduidings dat die bywoning toeneem. Dit wys ook dat die volk nog nie dood is nie, ten spyte van alle individualisering.

Die Geloftefees is ʼn jaarlikse instelling in Orania, wat elke jaar volgens dieselfde patroon afloop, en wat die jaarlikse feesdag is wat deur die meeste Oraniërs en talle besoekers bygewoon word. Daar is sowel ʼn erediens, omdat die Voortrekkers belowe het om Geloftedag jaarliks soos ʼn Sondag te herdenk, asook ʼn toespraak wat die geskiedkundige gebeure vertel en in perspektief plaas. Party mense trek tradisionele drag aan vir die geleentheid, wat altyd ʼn mooi gesig is. Na die tyd word gesellig verkeer in familieverband of as vriendekringe, met Afrikaner-lekkernye soos gemmerbier en koek, en natuurlik braaivleisvure, en die res van die dag is ʼn rusdag, die winkels is gesluit.

Natuurlik kan Geloftedag nie die enigste ritueel wees wat die volk uitmaak nie. Op ʼn meer informele manier is Saterdag se braai, saamkuier en rugby kyk ʼn naweekritueel, en in talle gevalle ook nog die Sondag-erediens. Godsdiens moet meer as net ʼn ritueel wees, maar uit die ritueel en die gewoonte wat in kulturele verband beoefen word, groei ‘n dieper bewuswording. Rituele is nie al wat ʼn volk uitmaak nie, daar moet ook ʼn gemeenskaplike taal, geskiedenis, godsdiens ensovoorts wees.

Rituele is egter deel van ʼn kultuur, en ʼn kultuur maak ʼn volk uit. ʼn Volk met sy eie kultuur kan aanspraak maak op selfbeskikking. Rasse, klasse of mense met gedeelde oortuigings kan nie.

Koester dus jou rituele wat jou as Afrikaner uniek maak. Ek hoop groot getalle Afrikaners woon more Geloftedagvieringe oor die hele land by, sodat ons vir die land en die wêreld kan wys: Ons is ʼn volk, ons is nog hier, en ons is hier om te bly.

Begrond in erfenis

man-looking-in-the-mirror1Die nihilisme, as heersende leegheid binne die grys van die liberalisme en polities-korrekte era, laat die individu vandag verdwaald en verward. Ons is nie onaangeraak hierdeur nie, ons as Afrikaner. ’n Goeie vriend van my pendel elke dag; Pretoria- Midrand-Sandton-Midrand-Pretoria. Vyfuur die oggend in die motor om agtuur op kantoor te arriveer, om agt ure op kantoor te spandeer, om agtuur die aand weer by die huis te kom. Die huis is ommuur, omhein en die ganse tuin met alarmstrale bewapen. Sluit, slaap, sluit, ry, werk, ry, sluit, slaap. Dit is nie hoe ek sy lewe beskryf nie, hy is gelukkig getroud en het pragtige troeteldiere en ’n mooi huis. Dit is hoe hy self sy lewe beskryf. Hy sê aan my dat alles maar alles wat hy doen, nutteloos en tevergeefs; ’n gejaag na wind voel. Hoekom doen hy dit elke dag aan homself? Vra hy. Wat is die sin? Hy vertel hy staan nou die dag voor die spieël en vra homself af: “Wie is jy?” Hy antwoord: “’n prokureur.”

Wie is jy? Ek plaas hierdie vraag en soeke vierkantig voor die deur van die liberalisme. Julle maak dat mense onseker is oor wie hulle is, want wie hulle is maak hulle anders as die volgende een en dit is ongeregtigheid, dit mag nie. Jy mag nie anders wees nie! Die liberales roep in die strate, vryheid, vryheid en fluister dan konformeer, konformeer tot daar niks oorbly om in die vryheid te vier nie. Kom ons vier die leegheid deur in die spieël na onsself te staar.

Die gryse leegheid van die nihilisme: want niemand mag meer iemand wees nie, geen volk mag meer bestaan nie, geen taal wat anders is, mag gepraat word nie, niemand mag meer presteer nie, niemand mag meer druip nie, ons almal huppel-huppel saam die afgrond van die leegheid in; tot by die spieël waar jy jouself nie meer herken nie.

Ek blaai saam met my vriend deur ’n  Familiebybel, sy Familiebybel, ’n majestieus-gebinde boek in Hoognederlands. Geslagte en geslagte van naamgenote het geteken, sy naam staan amper onder op die derde bladsy.

Wie is jy? Vra ek hom soos ons blaai. Hy antwoord met ’n knop in sy keel: Jacobus Johannes Kruger!

Pharamaul is orals. Of is dit?

pharamaulPharamaul is ‘n fiktiewe Afrika-staat, eintlik ʼn eiland, voor die Weskus van Afrika, sowat 500 km wes van die kus van Namibië, wat in die boeiende boeke “The Tribe that lost its head” en sy opvolg “Richer than al his tribe” beskryf word. Alhoewel dit ʼn soort karikatuur van ʼn Afrikastaat is, is die dinge wat daar beskryf word (en die boeke is al in die laat 1960’s geskryf, toe die eerste euforie van onafhanklikheid verby was en al die negatiewe effekte van uhuru na vore gekom het) eintlik verbasend akkuraat en kon amper vandag se Afrika beskryf.

Pharamaul se meerderheidsvolk is die Maulas, ʼn stam met ʼn trotse tradisie van konings en die legendariese stamvader, Maula the Great, wat ʼn goeie leier was, maar ook wreed en genadeloos. Hulle woon in die suide en die sentrale dele van die eiland. Hulle tradisionele setel is die sentrale stad Gamate, maar die elite trek saam in die hoofstad Port Victoria, waar die grootste deel van die blanke minderheid woon, wat die ekonomie oorheers en ook na onafhanklikheid van Brittanje nog in sekere sleutelfunksies aanbly. Daar is diegene onder die blankes wat niks goeds oor die nuwe bewind te sê het nie en wat wil emigreer, en die wat aanbly en wil help met die opbou van ʼn nuwe, nie-rassige land. Die ander swart volk is die U-Maulas, wat in die noordelike woudgebiede met die hoofdorp Shebiya bly en sowel deur die blankes asook die Maulas as primitief en barbaars gesien word.

Die jong, belowende swart leier is Dinamaula, 4de geslag van die Maula-dinastie en tydens die koloniale bewind in ballingskap. Met die aanloop tot onafhanklikheid keer hy triomfantlik na sy geboorteland terug, predik versoening, beskeidenheid en opbou van die land tot almal se voordeel.

Nie lank na onafhanklikheid begin Dinamaula meer en meer sleutelposte met sy ondersteuners, bevoeg of nie, vul. Korrupsie neem toe en die opposisie, veral bestaande uit verteenwoordigers van die U-Maula stam wat dit aanhangig maak, word as onpatrioties en as verraaiers uitgekryt (en later in hegtenis geneem) en die blanke amptenare wat nie wil saamspeel nie, word afgeransel of summier uit die land gesit. Terwyl die hoofstad blink en vol prestigeprojekte is, verval die res van die land, die infrastruktuur, die fabrieke en die landbou. Fenomenale skuld word aangegaan om in die eerste liga van state saam te speel en om almal by die VN te beïndruk. Bande met Brittanje word losser gemaak, die met sosialistiese lande sterker. Op ʼn persoonlike vlak verwerp Dinamaula sy vrou uit sy eie stam wat vir hom met haar lomp maniere en voorkoms ‘n verleentheid raak, en voer vir hom beeldskone houvrou uit Engeland in. Die sondes van die koloniale heersers word egter nóg vergewe nóg vergeet, maar met rente terugbetaal.

Soos dinge vererger, onttrek die wit minderheid hulle meer en meer, of emigreer, maar onder die landelike, arm Maulas en U-Maulas bou woede op teen die elite in die hoofstad, wat die res van die land laat krepeer. Hulle kom in opstand en marsjeer na Port Victoria om hulle griewe te lug, maar hulle word eers met vleitaal om die bos gelei en dan koelbloedig afgemaai. Dinamaula verklaar hom tot ewige leier met ʼn reeks titels, maar wantrou alles en almal.

Die boek is lank voor Idi Amin, Robert Mugabe, Eduardo dos Santos, Bokassa, ensovoorts geskryf, maar is verbasend akkuraat oor hoe Afrika na onafhanklikheid ontwikkel het. Ook Suid-Afrika, alhoewel baie groter en meer ontwikkeld en meer ingewikkeld as die denkbeeldige Pharamaul, het ʼn hele paar parallelle.

Is daar hoop vir Afrika, of loop alles altyd volgens die slegste scenario af? Wat bo beskryf word, is die reël, maar gelukkig is daar uitsonderings op die reël, en hulle word dalk geleidelik meer.

ʼn Land wat as voorbeeld vir Pharamaul kon gedien het, is Gambië, ʼn mini-staat in Wes-Afrika met minder as twee miljoen inwoners, behalwe vir die verbouing van grondbone en ʼn bietjie toerisme geen ekonomiese aktiwiteit nie, alles is gekonsentreer in die hoofstad Banjul teen die kus. Die president, Yahya Jammeh, regeer al vir 22 jaar as diktator en toon toenemend tekens van grootheidswaan en irrasionaliteit. Talle politieke gevangenes is in die tronke en van menseregte is daar geen sprake nie. Verkiesings is gewoonlik ʼn hersenskim, met intimidasie en manipulasie wat selfs vir buurstate te veel geraak het. Gambië, ʼn voormalige Britse kolonie, het in 2013 die Gemenebes van State verlaat weens kritiek deur Brittanje aan Jammeh se onderdrukking van teenstanders, en hierdie jaar het Gambië ook van die internasionale strafhof onttrek. Intussen gaan die ekonomie ten gronde en meer en meer Gambiërs waag hulle lewe om na Europa te emigreer.

Met die verkiesing verlede naweek het egter die ondenkbare gebeur: die opposisie het agter een kandidaat verenig (al was talle van sy moontlike kandidate in die tronk) en die kandidaat, Adama Barrow, kon die verkiesing teen mnr. Jammeh wen. Nog meer ondenkbaar, mnr. Jammeh, wat eens aangekondig het dat hy ʼn miljard jare sal regeer as Allah dit toelaat, het die neerlaag aanvaar. Mnr. Barrow is nog ongetoets, maar die tekens is bemoedigend dat hy nie ook die voorbeeld van mnr. Jammeh sal volg nie. Hy het reeds aangekondig dat politieke gevangenes vrygelaat gaan word, en dat Gambië weer tot die Statebond en die Internasionale Strafhof sal toetree. Hier is nog ʼn verkiesing waar dinge heel anders as verwag gebeur het en waar die magtiges in hulle verwaandheid die gevoel op grondvlak geignoreer het tot hulle eie spyt.

Een swaeltjie maak nog nie ʼn somer nie, en Gambië is ʼn klein land met min invloed. Nogtans, in Afrika is ʼn mens dankbaar vir elke teken van hoop, en daar is ook ander lande waar dinge stadig maar seker verbeter. Ongelukkig is Suid-Afrika nie een van die lande nie, maar ook hier kan die gety draai, en geen president kan beweer dat Allah of God aan sy kant is en hy vir ewig sal regeer nie.

Energieopwekking – gevare en geleenthede.

Dit is verblydend dat die regering blykbaar insien dat kernkragsentrales tans nie vir Suid-Afrika haalbaar is nie en dat met die nuwe konsep-kragplan die kernkragsentrale-bouprogram eers op die lange baan geskuif is. Eers in 2037 sal nuwe kernenergie tot die huidige energiemengsel toegevoeg word, maar die plan is dan om tot 2050 30% van kragvoorsiening deur kernkrag te verskaf. Die gesegde is: “Jy moet eers kruip voor jy kan loop”. Kernkrag is ʼn hoogs doeltreffende, maar ook hoogs gevaarlike tegnologie en dit is nie toevallig nie dat dit ʼn tegnologie is wat veral in gevorderde, Eerste Wêreldsonkraglande gebruik word. Miskien is dit juis om die rede dat Suid-Afrika sy kernkragvermoë wil uitbou, om vir die wêreld iets te wys, maar gelukkig is dit tans veral finansieël nie haalbaar nie. Suid-Afrika het reeds, as enigste land in Afrika, ʼn kernkragsentrale (Koeberg), maar dit is geskep onder ʼn baie meer doeltreffende en gedissiplineerde bedeling as die huidige een. ʼn Mislukking op die terrein van kernkrag kan egter nog meer rampspoedige gevolge hê as die onlangse Eskom-debakel, wat enige tyd weer kan uitbreek. As ʼn steenkool-kragstasie ontplof is dit erg genoeg (die ergste skade is die verlies aan kragopwekkingsvermoë), maar die ontploffing van ʼn kernkragstasie veroorsaak enorme skade aan mens en natuur.

Die huidige sterk steun op lae gehalte steenkool vir kragopwekking (tans 81% van die land se energiemengsel) is nie die oplossing nie, maar tans is daar geen korttermyn-alternatief nie. Selfs in ʼn gedissiplineerde, ontwikkelde en vooruitstrewende land soos Duitsland het die oorskakeling van konvensionele krag na alternatiewe, herwinbare krag (son, wind, water en ander) talle probleme meegebring. Suid-Afrika kan egter baie meer doen om ʼn groter deel van sy energie deur alternatiewe krag op te wek, veral as in ag geneem word hoeveel son in die grootste deel van die land skyn. Die omstandighede is so veel gunstiger in Suid-Afrika as in ʼn reënerige en koue land soos Duitsland, waar al meer as 20% deur alternatiewe krag voorsien word, terwyl dit in Suid-Afrika tans net om en by 3% is. Selfs vir die toekoms speel alternatiewe krag ʼn ondergeskikte rol in Suid-Afrika, met slegs 24% kragopwekking uit wind- en sonkrag wat beplan word vir 2050.

Ook die regering se opgewondenheid oor die ontginning van skaliegas, wat met hidrokraking gepaard gaan, is misplaas. ʼn Onlangse verslag van die WNNR en nader navorsingsinstitute gooi koue water op die regering se bewering dat dit veilig is, baie werksgeleenthede skep en die land onafhanklik van olieinvoer kan maak. Die hidrokraking, waardeur skaliegas ontgin word, is nes kernkrag  ʼn gevaarlike tegnologie met groot risikos vir mens en natuur, en dit is ook nie ekonomies so winsgewend soos wat voorgehou word nie, veral met ʼn stabiele olieprys en die moontlikheid dat daar vorentoe tegnologie sal ontwikkel word wat olie en gas toenemend kan vervang. Onlangs het ek ʼn batteryaangedrewe klein vragmotor hier in Orania gesien, wat blykbaar nou kommersieel vervaardig gaan word (ongelukkig nie by ons nie). Een of ander tyd moet die brandstofaangedrewe enjin (die beginsel is al meer as 150 jaar oud) vervang word met ʼn heeltemal nuwe tegnologie. Die stoorvermoë van alternatiewe krag was nog altyd die achilleshiel van alternatiewe energie, maar op die terrein van batterye is daar groot vordering.

Orania kan in Suid-Afrika op die voorpunt wees van die nuwe ontwikkeling, ons het die son, ons mense is omgewingsbewus en ons moet ons selfstandigheid en onafhanklikheid verhoog. Die finansies is tans nie daarvoor beskikbaar nie, en daar is tans dringender infrastruktuurprojekte. Energieonafhanklikheid, selfs energieuitvoer moet egter op ons radar bly. Suid-Afrika is polities, ekonomies en tegnologies dikwels een van die wêreld se agterosse, maar Orania dink en doen vooruit en beplan vir die toekoms.

 

Obama-waarskuwing oor nasionalisme val op dowe ore

president-barack-obama-takes-a-tour-of-the-acropolisPresident Barack Obama van die VSA het verlede week in Athene, Griekeland ’n sterk pleidooi teen nasionalisme in Westerse lande gelewer. Hy is duidelik steeds ontsteld oor Donald Trump se oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing en in sy afsluitingsboodskap aan Europese leiers het hy hulle probeer oortuig om die opkoms van ’n nuwe soort nasionalisme in Europa te stuit.

Volgende jaar sal kiesers in Frankryk, Nederland, Duitsland, Noorweë en Slowenië in nasionale verkiesings gaan stem terwyl kiesers in die Verenigde Koninkryk aan plaaslike verkiesings deel sal neem. In talle Oos-Europese en Balkanlande sal kiesers ook na die stembus gaan.

Op 4 Desember vanjaar sal kiesers in Oostenryk hul nuwe president verkies en in Italië sal kiesers op dieselfde dag aan ’n referendum oor ’n grondwetlike wysiging deelneem. In beide gevalle ontaard hierdie verkiesings in ’n stryd tussen die gevestigde politieke belange en die opkomende populistiese regse partye. Die kanse dat Norbert Hofer van die Oostenrykse Vryheidsparty tot president verkies kan word en dat die Eerste Minister van Italië Matteo Renzi se voorgestelde grondwetwysiging verwerp kan word, net omdat kiesers kwaad is vir die bestaande partye en politieke leiers, is baie goed.

In volgende jaar se verkiesings in Europa sal populistiese regse partye in bykans elke land opgang maak en kan die Partij voor de Vrijheid in Nederland en Front National in Frankryk selfs die verkiesings wen.

Barack Obama se kommer is geldig gesien vanuit sy perspektief van ’n moderne internasionale liberalisme waarvolgens die behoud van nasies en volkere sleg is en waar regse politici ’n groot bedreiging vir die liberale denke inhou.

Die konserwatiewe Amerikaanse skrywer Pat Buchanan beskryf verlede week Obama se siening as ’n soort utopiese mite. Hierdie mite is gebou op die idee dat mense van verskillende kulture, tale, gelowe en nasionaliteite daarin kan slaag om dit wat hulle veskillend van mekaar maak te vergeet en slegs te fokus op die menslike ooreenkomste wat daar tussen hulle almal is.

Wat die wêreldpolitiek ons egter nog altyd gewys het, is dat die mens graag wil assosieer met mense wat soos hyself is. Die skep van Israel as Joodse staat, die val van die Berlynse Muur, die revolusie in die Oekraïne in 1991 en die talle oorloë in Balkanlande wat tot die skep van nasiestate gelei het, is maar enkele onlangse voorbeelde hiervan. Die idee dat mense dit wat hul uniek maak net kan vergeet ten einde in ’n nuwe kultuurlose wêreld op ooreenkomste wat soms in elk geval afwesig is, te fokus, is ’n lawwe idee.

In China, Japan, Rusland en lande in elke ander wêreldstreek gebruik politieke leiers nasionalisme om ekonomiese, territoriale en ingewikkelde politieke uitdagings te bowe te kom. Die nasionale samehang in lande regoor die wêreld was lanklaas so sterk soos vandag. Donald Trump se 60 miljoen “Amerika Eerste”-kiesers, het maar net gedoen wat kiesers in talle ander lande oor die wêreld heen reeds vir jare doen. Met die toenemende bevestiging en herbevestiging van grense sal hierdie golf sonder twyfel oor die Weste, soos oor talle ander wêreldstreke bly spoel.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel