by Orania Beweging | Nov 21, 2016 | Nuus |
‘n Paar dae gelede het die meeste mense regoor die wêreld nog aanvaar dat Hillary Clinton tot president van Amerika verkies sou word, dat die Republikeinse Party op alle vlakke van regering pakslae sou kry en die liberale Obama-jare verleng sou word. Die konserwatiewe beweging in Amerika sou ‘n nuwe laagtepunt bereik.
Nou, enkele dae na die aardskuddende verkiesingsuitslag in die VSA sien ons egter dat die teenoorgestelde gebeur het. Donald Trump is tot president verkies, die Republikeinse Party is nasionaal die sterkste ooit. Die party beheer 33 van die 50 goewerneurskappe, hul sterkste posisie sedert 1922. Hulle beheer 68 van die 99 wetgewende liggame in die 50 state, die sterkste posisie wat die party nog ooit beklee het. Behalwe vir die Withuis beheer die party ook die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers. Op elke vlak van regering het die Republikeine verlede week die Demokrate uitgestof.
Wat beteken dit polities in Amerika? Die liberale opmars sedert 2008 toe Obama tot president verkies is, is gestuit. Die konserwatiewe beweging kry vanaf Januarie, wanneer Trump ingehuldig sal word, ‘n baie goeie geleentheid om hul agenda uit te voer. Met dié dat die Demokrate geen beheer in Washington D.C. sal hê nie kan ‘n werklik konserwatiewe agenda nou uitgevoer word.
Trump gaan na alle waarskynlik ‘n sterk kabinet met heelwat sakelui en kundige persone wat nie ‘n politieke loopbaan gevolg het nie, aanstel. Daar kan verwag word dat hy die federale regering soos ‘n sake-onderneming sal benader met kort en mediumtermyndoelwitte, ‘n sterk fokus op begrotings en die sny van enige onnodige spandering, oormatige regulasie en oorbodige poste.
Trump het heelwat beloftes tydens sy verkiesingsveldtog gemaak en hy sal na alle waarskynlikheid probeer om so gou as moontlik die volgende vyf dinge te doen:
1. Obama se bekende mediese hervorming, Obamacare, sal gekanselleer word en deur ‘n nuwe mediese hervorming wat baie meer op vryemark beginsels en die vrye keuse van individue toegespits is, vervang word.
2. Tweedens sal daar streng teen onwettige immigrante opgetree word. Die proses om ‘n muur op die grens met Mexiko op te rig sal begin en intussen sal Trump waarskynlik veiligheid op die grens wesenlik opskerp.
3. Een van die eerste stappe wat Trump sal neem is om ‘n regter vir die Hooggeregshof te benoem. Hy het reeds belowe dat dit ‘n konserwatiewe regter sal wees. Die Senaat sal dan die regter se benoeming moet bevestig.
4. Vierdens sal Trump Amerika se rol in internasionale konflik en sy lidmaatskap van internasionale organisasies wil heroorweeg. Verhoudinge met bestaande Westerse leiers sal nuut bedink word, terwyl hy waarskynlik moeite sal doen om ‘n goeie verhouding met Putin van Rusland daar te stel.
5. Die hersiening van handelsooreenkomste sal hoog op Trump se prioriteitslys wees en hy sal stappe neem om plaaslike bedrywe teen storting van produkte uit ander lande te beskerm.
Behalwe vir hierdie punte sal Trump natuurlik heelwat wil doen om ekonomiese groei aan te moedig soos om belasting te verlaag en regulasies te verminder. Wie sou tien dae gelede kon dink dat Januarie 2017 die begin van ‘n nuwe dag vir konserwatisme in Amerika sou wees?
by Orania Beweging | Nov 17, 2016 | Nuus |
Daar is belangrike redes waarom rassisme onaanvaarbaar is. Dit is onversoenbaar met die Christelike waardes en etos wat respek vir God se ganse skepping vereis. Dit benewens die opdrag om alle lewe met waardigheid te behandel en om ander lief te hê soos onsself. Rassisme is dikwels ‘n aanduiding van swak oordeelsvermoë (veral in vandag sê wêreld) en ‘n valse sin van selfvertroue. Dit sê baie meer van die persoon wat dit inspan as van die persoon teen wie dit gerig word.
Afrikaners is ‘n hoogs uitkenbare en kwesbare groepie mense in Suid-Afrika. Ons is uitkenbaar weens ons velkleur en die wyse waarop ons praat. Ons is kwesbaar omdat ons yl verspreid en in isolasie in klein woonbuurte, sekuriteitskomplekse of plase woon. Ons is slegs ‘n groepie omdat ons getalle minder as 5 uit elke 100 Suid-Afrikaners verteenwoordig.
Hierdie werklikheid bring mee dat wanneer ons rassisties (of gewoon meerderwaardig) optree teenoor die ander volkere van Suid-Afrika, dit soos ‘n rooi vlag is wat vir ‘n bul gewaai word. Met die verskil dat dit nie een bul is nie, maar ‘n arena vol bulle met genoeg getalle en krag om ons binne oomblikke uitmekaar te ruk en tot stof te vertrap.
Dit is daarom nie alleen reg dat ons rassisme in ons geledere uitroei niel; dit is vir ons ‘n oorlewingstaak.
Waar ons rassiste in eie geledere teëkom, moet ons hulle dade verwerp en dit duidelik maak dat Afrikaners nie so optree nie.
Dit bring ons egter by die punt van geregtigheid. Gelykheid voor die reg vorm ‘n hoeksteen van vooruitstrewende samelewings. So ook die reg om die beskuldigings teen jou aan te hoor en om jouself daarteen te verdedig. Hierdie gebruike het ook uit Bybelse beginsels ontwikkel.
Dit raak ongelukkig al duideliker dat hierdie beginsels van geregtigheid nie tot Afrikaners se beskikking is wanneer ons van rassisme beskukldig word nie. Ons word byvoorbaat as rassiste beskou.
Nie alleen word ons politiek altyd as rassisme gebrandmerk terwyl ander se rassisme net politiek is nie (kyk maar na die min gevolge vir Julius Malema se rassistiese beleide), maar ons misdade is ook altyd rassisme terwyl ander se rassisme net misdaad is.
Wanneer swart bendes ons aanval, martel, verkrag en vermoor, is dit misdaad. Wanneer ‘n bende Afrikaners ‘n swart boemelaar vermoor is dit rassisme. Wanneer ‘n Afrikaner-boelie ‘n swart betreder in ‘n kis prop sonder om enige rassistiese stellings te maak, is hy nie net ‘n misdadige aanrander nie, maar ook ‘n rassis.
Hierdie dubbele standaard is ‘n eenvoudige werklikheid. Om daaroor te kla, help nie. Weet dit: as jy iets verkeerd doen teenoor iemand van ‘n ander velkleur gaan jy nie aleen vir jou misdryf gestraf word nie, maar jy gaan as rassis gebrandmerk word – met ernstige finansiële, sosiale en fisiese gevolge.
Wat staan ons dan te doen? Daar is drie belangrike dinge wat ons wel kan doen. Die eerste is om nie ‘n rassis te wees nie. Die tweede is om op te hou om die mite te voed dat ons almal rassiste is. Ons kan dit doen deur rassiste in eie geledere te veroordeel en onsself van hulle te distansieër. Ons moet ook ophou om te maak asof individuele swape se onverstandighede optrede ons kollektiewe skuld bewys. Ons moenie ons “skaam” of ‘n kollektiewe swaart-val uitvoer vir elke rassis wat uitgekrap word nie. Hulle verteenwoordig ons nie en ons het hulle ook nie aangemoedig of ondersteun nie. Ons moet ook die media en politieke partye voor stok kry wanneer hulle ons by enkeles se wandade wil betrek.
Derdens, en die belangrikste, is om onsself van hierdie konflik en wrywing te verwyder deur te werk vir ons selfbeskikking in die Noord-wes Kaap. Deur selfstandig en op onsself aangewese te wees, en daar vir mekaar te wees, kan ons die versoeking asook die gevolge van rassisme (wit en swart) vryspring.
by Orania Beweging | Nov 15, 2016 | Nuus |
Die verskil in ervaring om vir twee jaar in Orania te bly en dan na Wuhan, die 5de grootste stad in Sjina te trek is redelik drasties, van 1 300 mense na ‘n bevolking van 8 000 000 ! Die eerste ding wat vir my uitgestaan, of eerder oorweldig het van Wuhan, is die skaal van die stad en die aanhoudende konstruksie. Orals waar jy gaan is daar geel hyskrane, die massiewe “boorpunte” wat die tonnels grawe vir moltreine en gepaardgaande blou afskorting borde, en die verskeidenheid konstruksie geluide wat daarmee gepaard gaan. Wuhan se moltreinstelsel gaan bv. een van die dae vergelykbaar wees met die van Seoul in Suid-Korea. Dieselfde kan eintlik gesê word van alle metropole in Sjina.
Behalwe vir die moltreinstelsel in die stede, is daar ook hoëspoedtreine tussen die stede. Wuhan, is redelik sentraal geleë, en alle groot stede is plus minus bereikbaar binne 5 ure. As die stad bietjie verder is, dan ry die trein net ‘n bietjie vinniger!
Daar word gesê dat die meeste van die huidige Sjina in der waarheid vanaf die 1950’s dateer. Wuhan het tradisioneel uit drie dorpe bestaan totdat dit saamgesmelt het in een groot stad, met dit Yangtserivier wat daardeur vloei. Mao Tse-Dong (die kommunistiese leier van Sjina van 1949-1976) het na bewering in onstabiele tye oor die Yangtse geswem as ‘n gebaar om sy teenstanders te herinner aan sy krag!
Ander uitgewekenes waarmee ek tot dusvêr gesels het, sê dat Wuhan drasties oor die laaste 7 tot 8 jaar uitgebrei het, met nuwe woongebiede wat verrys soos paddastoele. Die area waar ek woon, “Future City”, met die moltreinlyn wat ons bekruip, is ‘n goeie voorbeeld.
As daar een ding is waarmee ek ‘n bietjie teleurgesteld met Wuhan is, is dit juis die gebrek aan tradisionele geboue. Ek het gedink hier sal meer ou geboue, torings, of bruggies wees wat langs die nuwe geboue staan maar dit is nie so nie. Die ou Sjina is blykbaar nog hier, maar mens sal ‘n trein moet vat om dit te sien.
Ek het bv. gelees van ‘n “Yellow Crane” toring in Wuhan wat 4 000 jaar oud is. Die werklikheid is egter dat die toring al talle kere herbou moes word as gevolg van brande en oorloë, met die huidige weergawe van die toring wat nie eers op dieselfde plek as die oorspronklike staan nie! Die mees indrukwekkende “Yellow Crane” torings in Wuhan is dan amper al die geel konstruksie-hyskrane.
As iemand wat Orania se ontwikkeling vir die afgelope ses jaar entoesiasties dophou, en selfs as toergids gewerk het om die ontwikkeling uit te wys aan ander mense, en dan in 90% van die kere beїndruk is met Orania se ontwikkeling, was ek ietwat aarde toe gebring deur die skaal van ontwikkeling in Sjina. Die slotsom waartoe ek gekom het, is dat daar tog iets is wat Orania en Sjina se ontwikkeling in gemeen het, en dit is ‘n driehoek.
Die driehoek is die sterkste vorm in die natuur. As jy triangulasie verstaan, kan jy enigiets bou, van hyskrane, tot bruë en ‘n stad! Orania se skaal is natuurlik baie kleiner as die van Sjina, maar dit wat bereik is met die uiters beperkte hulpbronne en mense, in ‘n uiters ongunstige politieke klimaat is niks minder as indrukwekkend nie. Die skaal verskil, maar die vorm is dieselfde!
Nog iets waarop ek perspektief gekry het in Sjina, is hoe skoon Orania is. Van die strate, tot die restaurante en die swembad en natuurlik die magtige Oranje! Dit maak ‘n mens lus om jou krag ten toon te stel en Vrystaat toe te swem!
by Orania Beweging | Nov 11, 2016 | Nuus |
Die Amerikaanse presidensiële verkiesingsveldtog van die afgelope jaar was ’n duidelike veldtog tussen populisme en anti-populisme. Donald Trump het die populisme verteenwoordig en Hillary Clinton die anti-populisme.
Die probleem met Trump se populisme is egter dat dit ’n vorm van nasionalistiese populisme is, wat by baie mense die verkeerde beeld oor populisme geskets het. Trump se populisme is verteenwoordigend van ’n reaksionêre politiek wat op slegs die verwerping van beleid eerder as die omarming van die positiewe, geskoei is. Hierdie vorm van populisme lei gereeld tot vingerwysery en ’n onvermoë om werkbare oplossings vir knellende probleme daar te stel.
Een voorbeeld is die benarde situasie vir talle bloukraagwerkers in die ou industriële midweste van Amerika. Baie van hierdie mense is met reg kwaad vir die afgelope drie regerings onder Bill Clinton, George Bush en Barack Obama waartydens honderde groot fabrieke weens onbillike vryhandelsooreenkomste en die storting van lae gehalte produkte uit lande soos China, Indië en Meksiko gesluit het. Die vraag is egter of woede alleen die probleem gaan oplos?
Die oplossing vir hierdie mense se benarde situasie lê dalk juis eerder in ’n soort lokale, eerder as nasionale populisme. Wat behels ’n lokale populisme? Die Amerikaanse historikus Richard Hofstadter het in 1955 geskryf dat populisme die eenvoudige denke van ’n groepie ondeurdagte skurke of die melodramatiese optrede van landelike, eenvoudige mense is. Hofstadter se arrogante neersien op gewone mense en die redes waarom hulle hulself tot populisme dryf, was die afgelope tyd ook weer duidelik toe Hillary Clinton na hierdie mense as ‘betreurenswaardig’ verwys het.
Die woede onder dié Amerikaners wat hul die afgelope tyd tot die populisme gewend het, is heeltemal verstaanbaar. Die regerende klas sien graag neer op hierdie mense – die landelikes insluitende boere, inwoners van klein dorpe en kleinsake-eienaars, sowel as die sukkelaars wat baie keer bloukraagwerkers is wie deur die stelsel vergete agtergelaat is.
Die Amerikaanse skrywer Bill Kauffman, skryf dat hierdie mense juis eerder ’n soort lokale populisme moet begin aanhang. Die oplossings vir hul probleme lê juis nie in nasionale wetgewing en in die federale regering opgesluit nie, maar eerder op ’n plaaslike vlak. Volgens Kauffman is ’n plek-gebaseerde populisme dié wat gebaseer is op ’n liefde vir die eie en wat die gemeenskap wil beskerm teen kragtige negatiewe magte van buite. Hierdie soort populisme is nie net regs of links op die politieke spektrum nie, maar is eerder gebaseer op die eenvoudige vraag oor wat tans die beste vir die gemeenskap is en hoe die gemeenskap kan saamwerk om dit te verseker.
Mense wat hulle tot populisme wend is baie keer mense wat onder politieke, ekonomiese of ander druk verkeer. Die oplossing vir hul probleme lê nie in ’n nasionale regering wat dinge reg reguleer nie, maar eerder in hul vermoë om self te organiseer en uit hul eie inisiatief oplossings daar te stel.
by Orania Beweging | Nov 10, 2016 | Nuus |
Geen verkiesing in die wêreld trek soveel internasionale aandag en maak mense so passievol soos die Amerikaanse presidentsverkiesing nie. Meeste Afrikaners, en beslis meeste Oraniërs, het waarskynlik gehoop vir ʼn oorwinning vir Donald Trump en die Republikeine, wie se konserwatiewe en grondvlak
-gerigte beleid vir ons nader voel as die globalistiese “een-wêreld” en sosiaal-liberale beleid van Hillary Clinton en die Demokrate. Donald Trump het talle mense se verbeelding aangegryp omdat hy ʼn uitgesproke anti-establishment kandidaat was (ongeag die feit dat hyself uit die ryk establishment kom en sy leefwyse alles behalwe ʼn voorbeeld van die smal weg is).
Die vraag wat vir ons veral interessanter behoort te wees, is wat Trump se verkiesingsoorwinning vir ons beteken.
Amerika het nog altyd die internasionale toneel oorheers en die rigting voorgegee, veral vir die Weste. Ook die kultuur van die Weste word grootliks deur Amerika bepaal. Barak Obama se verkiesing in 2008 was die slotsteen en voorlopige hoogtepunt van die Weste se golf van selfverloëning, wat al in die 1960’s begin het. “Die eerste swart president” is veral deur witmense binne en buite Amerika so opgehemel omdat daarmee die ewige skuld van onderdrukking en diskriminasie, waarmee elke Westerling gevoed word, simbolies betaal is. Obama kon immers nie president word sonder die steun van groot getalle wit Amerikaners en van die media nie. Daardie gety van ʼn links-liberale elite in die media, die kunste en die akademie wat die politieke keuses voorskryf en wat die “gewone mense” met minagting behandel en wat alle tradisionele waardes op sy kop keer en diegene wat daarteen is in die sterkste taal veroordeel, is egter besig om uit te loop. ʼn Nuwe gety, of teengolf, is aan die opbou. Dit is al geruime tyd in Europa sigbaar, waar partye wat staan vir identiteit en die behoud van die eie ten spyte van die totale afkeur deur die meningsvormers al hoe beter doen en in sekere lande, soos Pole en Hongarye, uitgesproke Christelike nasionaliste regeer.
Vir die saak van die Afrikaner is dit van betekenis dat die media se groot mag besig is om te taan. Ons saak is nog altyd deur die media afgekraak en verdag gemaak. Een negatiewe artikel oor Orania in ʼn landswye, Afrikaanse nuusmedium, en voornemende besoekers kanselleer hulle besprekings of voornemende inwoners besluit anders, of so was dit in die verlede. Intussen steur al hoe minder mense hulle aan die amptelike, hoofstroom-media en gebruik die sosiale media. Dat iemand soos Trump, wat bykans geen amptelike ondersteuning van prominente nuusmediums gekry het nie, trouens wie se skandes wyd en syd verkondig is terwyl mev. Clinton sʼn onder die mat ingevee is, kon wen, wys hoe sterk die media se mag al uitgekalwe is. Dié toedrag van sake, wat in ʼn mindere mate ook in Suid-Afrika aanwesig is, baat ons saak geweldig.
Verder het Trump ook die houvas van politieke korrektheid gebreek. Die spektrum van dit wat aanvaarbaar is en wat gesê mag word, het al hoe kleiner geword en talle woorde en onderwerpe wat niemand in die onlangse verlede gepla het nie, is nou verbode terrein. Daar is al hoe minder verskille in opinie in openbare debatte, omdat allerhande dinge wat nie inpas by die links-liberale paradigma nie, nie meer gesê mag word nie. Dat rassistiese skelwoorde uit is, is seker vanselfsprekend, maar dat om bloot na verskillende volke, geslagte, waardes en mentaliteite te verwys al rassisme, seksisme ensovoorts en dus verbode is, maak enige debat onmoontlik en laat almal uit vrees vir viktimisasie dieselfde niksseggende en huigelende gebrabbel uiter. Trump is iemand wat sê wat hy glo, al is dit hoogs polities-onkorrek, en al die aanvalle van die wagters oor politieke korrektheid het hom nie geskeel nie, en nog belangriker, sy ondersteuners nie gepla nie. Sy ondersteuners is die gewone Amerikaanse hoofstroom, anders kon hy nie verkies word nie. Dit is allermins net “rassistiese, seksistiese ou gefrustreerde mans”, soos die media ons wil laat glo. Die kloof tussen die elite in hulle ivoortoring en die “gewone mense” was nog altyd groot, maar anders as in die verlede het die gewone mense ook nou danksy die sosiale media ʼn spreekbuis en kan opinies nie meer so maklik gefilter word nie.
Laastens is die Trump-oorwinning ʼn sterk boodskap dat die eie weer belangrik is. Trump het van die begin af as nasionalis opgetree. Die belange van die VSA en sy mense kom eerste, nie die van multinasionale maatskappye en van buitelandse magte soos Sjina nie. Ons saak van selfbeskikking en sorg vir ons mense en behoud van ons kultuur het tot baie onlangs ʼn uiters moeilike stand gehad, omdat dit so lynreg ingedruis het teen die logika van globalisme en die “Een Wêreld Beweging”. Om te sê dat jy in jou gemeenskap vir jou eie mense werk gee en jou eie produkte koop is as “xenofobies” en “rassisties” en veral as heeltemal uit tred met die tyd beskou. Vermenging en die grootste moontlike getal vreemdes in jou midde is as verryking en as wenslik gesien. As die internasionale klimaat nou verander en volke begin besef dat globalisme hulle meesal benadeel en net ʼn klein, identiteitslose elite bevoordeel, is ons saak van selfstandigheid en behoud van die eie baie makliker verkondigbaar.