by Orania Beweging | Jan 5, 2017 | Nuus |
Toe kom die grondwetlike onderhandelings van die vroeë en middel 1990’s en uiteindelik die grondwetlike oorgang, wat amptelik in 1994 ʼn aanvang geneem het.
Baie Afrikaners, onder die invloed van die oorverdowende wonderwerk-propaganda wat met die oorgang gepaard gegaan het, was daarvan oortuig dat ons in ʼn omvattende reënboognasie, waarin daar plek vir almal sou wees sou opgaan. Hulle het die blydskap in die nuwe orde en die nuwe nasie gedeel. Ons weet nou dat hierdie blydskap ongegrond was. Ons weet nou dat ons nie net te kampe het met ʼn vervallende staat nie maar met ʼn regering wat gevaarlik min verdraagsaamheid vir kulturele verskeidenheid toon. Afrikaners met veel meer besondere kultuurbates as Engelstaliges, is veel skerper in die skyf van hierdie soort politiek as die (wit) Engelstaliges.
Ander Afrikaners het nie die blydskap van die propaganda van die grondwetlike oorgang gedeel nie. Hulle het ook nie die wonder van die reënboognasie vertrou nie. Hierdie mense was soos die geskiedenis van die afgelope twee dekades bewys het, natuurlik reg. Maar baie van mense onder hierdie groep van skeptiese Afrikaners het hulle ook bekla oor ons verlies naamlik dat: Ons Afrikaners in 1994 ons vryheid verloor het.”
Dit is egter onjuis. Afrikaners het nie in 1994 hulle – ons – vryheid verloor nie, eenvoudig omdat ons dit nie in die Suid-Afrika van voor 1994 gehad het nie. Dit was per slot van sake nie, of ten minste lank nie meer, ʼn Afrikanerstaat nie. Dit was ʼn blanke staat.
En meer as dit. In aanloop na 1994 en ooreenstemming met die Suid-Afrikanismes wat pas hierbo verduidelik is, het ons Afrikaners bowendien toenemend ons selfbewussyn as Afrikaners ten gunste van ʼn Suid-Afrikanistiese identiteit – hetsy ʼn algemene Suid-Afrikanisme of ʼn blanke Suid-Afrikanisme – begin prysgee. Ons was toenemend besig om onsself te laat assimileer en onsself op grond van ons eie nasiebou-projek op te hef. Die slotsom is dat gedurende die laaste jare van blanke bewind Afrikanerskap toenemend gevaarlik aan verwering blootgestel het. Die laaste dekades en jare van blanke bewind was gevolglik groeiend nadelig vir die Afrikaner. Ingryping om opnuut ʼn Afrikaner-selfbewussyn te vestig, was noodsaaklik, maar in die waan dat alles pluis en onder die gerusstellende blanke bewind, was ons nouliks hiervan bewus en derhalwe ook nie in staat om iets hier omtrent te doen nie.
Gedurende die eerste jare na 1994 het sake ook nie verander nie. Die agteruitgang in Afrikaner-selfbewussyn het voortgeduur en is vererger deur die wyd-gepropageerde grondwetlike waarborge van alle belange in die sogenaamde verskanste Suid-Afrikaanse grondwet.
Spoedig was dit duidelik dat die waarborge inderdaad gewaande waarborge was en dat die Afrikaner in die pad gestaan het van aggressiewe beleid van homogenisering wat nie ruimte laat vir die erkenning van kulturele diversiteit, en ten slotte vir die Afrikaner in ʼn gesentraliseerde monokulturele Suid-Afrika nie. Daar hoef nie hierop ingegaan te word nie, aangesien die besonderhede hiervan deeglik aan u bekend is. Hierdie homogeniseringsbeleid strek Afrikaners vandag tot groot nadeel. Nogtans is daar ook ʼn groot en groeiende reaksie onder Afrikaners hierteen, waarvan ons elkeen op die een of ander wyse deel is.
Maar nog lank voor dié reaksie en gepaardgaande teen-strategieë, het daar iets anders begin gebeur, nie op politieke vlak nie, maar op die kulturele terrein. Afrikaners het hulself geleidelik begin herontdek. Gevolglik het die bykans uitgedoofde Afrikaner-bewussyn van die dekades voor 1994 en die eerste jare daarna, plek gemaak het, vir Afrikaners wat weer begin bewus van hulself geraak het.
Dit het nouliks sigbaar in 1995 met kunsfeeste begin. In weerwil van, en in teenstelling met die drastiese afname van Afrikaans in die openbare sektor, in so ʼn mate dat Afrikaans eintlik nie meer vandag ʼn staatstaal is nie, asook in ook teenstelling met Afrikaanse drastiese afname in hoër onderwys, het Afrikaans in die burgerlike samelewing begin gedy. Afrikaanse musiek was nog nooit so lewendig soos nou nie. Die gehalte strek van beroerd tot uitstekend. Die Afrikaanse skryfkuns gedy ook. Van die voorste en beste verkopers in die land is Afrikaans. Groot maatskappye en Trustfondse stel beduidende bedrae vir navorsing en publikasie in Afrikaans beskikbaar. Dit word gedoen sonder dat dit enige opbrengs vir die betrokke maatskappy of trustfondse inhou.
Ou Afrikaanse organisasies, soos die FAK het nuwe lewe gekry en is op ʼn groeikurwe. Nuwes soos Afriforum het ontstaan en het dramaties gegroei. ʼn Kenner van minderheidsbewegings oor die wêreld heen, dr Bertus de Villiers deel my mee dat die verskynsel dat soveel mense vrywillig maandeliks lidmaatskapfooie tot organisasies soos Afriforum en die Orania Beweging bydra, sonder om enige persoonlike voordeel as teenprestasie daaruit te kry, ʼn sonderlinge verskynsel in die wêreld is.
Ons steek ook hand in die sak om vir ons eie mense te sorg. Die Helpende Hand is ʼn landswye voorbeeld daarvan. Die Helpsaamfonds ʼn plaaslike een.
In die wêreld van die media is reeds ongekende suksesse bewerkstellig. Die alternatiewe media wat ons gevestig het, vanaf Maroela Media, Pretoria FM, talle ander populêre en ernstige publikasies, hetsy elektronies of andersins, tot by ondernemings soos die nuwe publikasie Rede, wat hier uit Orania stam, is inderdaad nie meer alternatiewe media nie. Dis onmiskenbaar ʼn nuwe hoofstroom.
Op intellektuele gebied, meer bepaald op die gebied van die politieke denke, is daar opwindende dinge onder Afrikaners aan die gang. Ons is besig om onsself uit die ideologie van sentralisering en homogenisering van die huidige magselite te dink en te skryf. Ons verwoord ʼn nuwe lewenskragtige antwoord hierop. Gemeenskapsoutonomie, federalisme, selfregering, en die idee van ʼn gemeenskap van selfrespekterende en wedersyds respekterende gemeenskappe eerder as ʼn unitêre staat, is ons antwoord op die verstikkende homogenisering van die huidige magselite. Ons het nuwe konstitusionele denke en ons vestig reeds nuwe konstitusionele praktyke waarin ons as’t ware van die grond weer groeiende vryheid vir onsself vestig. Korporatiewe selfbeskikking begin geleidelik ʼn praktyk raak. Die idee van vrystede skiet wortel en Orania gee onmiskenbaar gestalte daaraan.
Wat Orania betref: getalle-gewys is dit nog ʼn dorp, dog ʼn treffend snel-groeiende dorp. In die gemoed van ʼn reeds beduidende getal Afrikaners – moontlik reeds die grootste gros van Afrikaners – is dit nie bloot ʼn plattelandse dorp nie. Dit is reeds gelykstaande aan ʼn lewenskragtige Afrikanersentrum: ʼn Pretoria of ʼn Bloemfontein van die laaste dekades van die negentiende eeu. Dis ʼn dorp – ʼn Afrikanerdorp – met ʼn toekoms – ʼn stedelike toekoms. Naas die ekonomiese groei, dien die kulturele en intellektuele bedrywighede wat hier aan die gang is, as bewys hiervan.
Dit is onverantwoordelik om vir een oomblik die moeilike posisie – die krisis – waarin ons verkeer te ontken. Ons getalle-aanwas is te laag; ons word geteister deur emigrasie; ons ly veral in plaasgemeenskappe onder die verskrikking van gewelddadige misdaad. Verengelsing onder ons eie mense is ontstellend hoog. Afrikaanse openbare hoër onderwys het ontstellend verskraal; Afrikaanse onderwys in openbare skole is in die gedrang, onder andere, vanweë die uitgesproke vyandigheid van sekere regeringswoordvoerders. Militante politici verklaar in die openbaar dat hulle die Afrikaner se uitwissing beoog, indien nie dadelik nie, dan wel in die afsienbare toekoms. Die Afrikaner dom het moeilikheid – moeilikheid waarvan die besonderhede baie van 1838 verskil maar moeilikheid soos destyds van ʼn diepliggende aard – bestaansbedreigende moeilikheid.
In weerwil hiervan en deels as gevolg van hierdie dinge, is Afrikaners soos pas aangedui weer besig om hul selfbewussyn te herwin. Ons is bewus van onself as Afrikaners, met ons eie uitdagings en ons aanvaar danksy God se genade toenemend verantwoordelikheid daarvoor. Want ons besef soos wat ons in die verlede besef het, niks of niemand anders nie maar die volk self sy eie toekoms skep.
Ons selfbewussyn plaas ons in ʼn oneindig gunstiger posisie as in die tydvakke waarin daardie selfbewussyn ontbreek het, want ’n bewustelose kan niks omtrent sy eie situasie doen nie. Vreemd genoeg – met die eerste oog opslag – is ons dus nou anders as in die laaste twee dekades voor 1994 en die jare daarna, in ʼn oneindig beter posisie. Want toe was ons Suid-Afrikaners in plaas van Afrikaners, wat gevolglik nie in staat was om na onsself as Afrikaners om te sien nie.
Ons was ook aan ʼn waan uitgelewer. In die dekades voor 1994 het ons meermale die waanbeeld van onoorwinlikheid gekoester omdat die staat waarin ons hoogty gevier het, so onoorwinlik sterk gelyk het. Na 1994 het ons in die waan verkeer dat alles in orde was omdat die grondwet so wonderlik.
Sedertdien het ons, ons die waanbeelde oorkom en ons selfbewussyn as Afrikaners herwin. Dis opvallend dat die herwinning van die selfbewussyn eers nadelig was. Toe ons van onsself bewus geraak het, ons ons onsself in ʼn spieël gesien het, was dit eers ʼn afskuwelike beeld, naamlik een van Afrikaners wat hulle aan die geweld van apartheid skuldig gemaak het en dus van Afrikaners wat hulleself selfbewus moes veroordeel en deur boetedoening, onsself as kultuurgemeenskap met politieke ideale moes ophef en dus moes verdwyn. Sedertdien het dit verander – drasties verander. Die populêre kultuur, onder andere Afrikaanse liedjies en films, waaroor ek enkele opmerkings wil maak, getuig daarvan.
Baie Afrikaanse liedjies klink op. Baie daarvan is doodeenvoudig vir lekker jol. Dis goed so. Ander is kru en uitdagend en nie in almal se smaak nie. Ek sê dit is ook goed so, want ʼn kultuurgemeenskap moet die hele spektrum van lewensterreine omvat en alle emosies kan uitdruk. Dieselfde geld vir films of watter ander uitdrukkingsmiddel ook al.
Tog wil ek op twee films wys wat baie veelseggend is juis omdat dit soveel oor ons selfbewussyn as Afrikaners sê. Die eerste is Modder en Bloed. Die kenners sê dit was in alle opsigte as film ʼn meesterstuk. As leek stem ek saam maar voeg by dat dit ʼn spieëlbeeld is van Afrikaners wat hulself in ʼn gunstige lig beskou: van onverskrokkenheid, persoonlike en volkswaardigheid, deursettingsvermoë en strydbereidheid, van herwonne geloof in God en van ʼn meesleurend inspirerende sin vir vryheid en selfstandigheid. Dit is uiters veelseggend maar sou ʼn mens kon byvoeg in ʼn sin maklik want na alles was die Tweede Vryheidsoorlog naas uiterste opoffering en verraad per slot van sake ook die hoogtepunt van Afrikaner-heldedom. Die stuk geskiedenis leen homself dus tot hierdie gunstige uitbeelding van Afrikaners.
Dan die ander film, Vir die Voëls wat tans te sien is. Dis ʼn eenvoudige verhaaltjie private verhaaltjie – liefdesverhaaltjie sou ʼn mens kon sê – uit die laat sewentiger, vroeë tagtigerjare. Dit gaan oor baie gewone Afrikanermense. Hulle is allermins welgesteld of besonder geleerd. Maar – en dis die kern van die saak: die mense is nie slegte mense nie. Ja, daar is ʼn sleg suiplap, wat sy vrou en kind afknou maar dan is daar die grootste gros van die ander mense. Hulle is nie engeltjies nie. Hulle het soos ons hulle foute, maar hulle is ten slotte ons mense. Hulle is ordentlike, deugsame en goeie Afrikanermense. En let wel hulle kom uit die tydperk van die ergste misstappe van die eertydse blanke bewind – van die “verfoeilike apartheidsregime.” Dog die spieëlbeeld van Afrikaners vanuit daardie tyd wat veronderstel is om ons laagtepunt te wees, is normaal. Dis ewewigtig en dis ten slotte gunstig. Die selfbeeld – die selfbewussyn – wat dit gaande maak, is dat Afrikaners in die dae van ons grootste misstappe toe al die tyd goeie mense, deugsame en inderdaad voortreflike mense was.
Vriende ek het aan die begin op ʼn lys dinge gewys waarvoor ons rede het om baie dankbaar te wees. Dis die dinge waaraan ons ons bestaan en ons groei te danke gehad het. Menslik gesproke is niks hiervan moontlik sonder ʼn skerp selfbewussyn en terselfdertyd van ʼn gunstige selfbewussyn nie. Daardie noodsaaklike selfbewussyn was vir geruime tyd bykans heeltemal afwesig. Maar daardie selfbewussyn is terug en hy is bowendien gunstig. Dis die belangrikste bron van ʼn volk se bestaan, voortbestaan sy groei en sy gesondheid.
By die lys van dinge waarvoor ons dankbaar kan wees, het ons dus nou ʼn verdere item – ʼn wesenlik belangrike een – by te voeg. Ons het ons bewussyn herwin. Ons is helder wakker, skerp bewus van onsself, ons moeilikheid, ons omgewing en van ons beduidende vermoë – en ons is ywerig aan die werk. Daar is enorme probleme. Daar is oneindig veel te doen. Maar ons kan spreek van dankbaarheid want ons het ons bewussyn herwin en tot verhaal gekom – gereed om ons verhaal voort te sit. En ons gaan.
by Orania Beweging | Jan 3, 2017 | Nuus |
Ek beleef meer en meer die moedeloosheid, die byna opgee-mentaliteit van ons mense. Binne die sielkunde praat hulle van die verskynsel van aangeleerde hulpeloosheid. Die voorbeeld wat soms gebruik word, is die van ’n persoon wat sy werk verloor het wat dan ’n eskalerende effek beleef; soos die persoon paar keer die verwerping van mislukte werksaansoeke beleef, hou hy op met die soek proses; of iemand wat sy rug beseer tydens ’n oefenprogram en die rug dan weer en weer beseer, hou op met oefen. Hulle noem dit dan aangeleerde hulpeloosheid wat mens laat ophou probeer, as’t ware opgee. Die Afrikaner ly vandag aan aangeleerde hulpeloosheid. Ons het keer op keer, persoonlik, gemeenskaplik, polities en selfs kerklik teleurstelling beleef, negatiwiteit beleef, teenkanting beleef, dermate ons ophou probeer. As ek na die 2016 Afrikaner kyk, dan sien ek ’n volk met aangeleerde hulpeloosheid. Dit is opmerkbaar dat hierdie hulpeloosheid geensins ’n weerspieëling van vermoëns of potensiaal is nie, maar bloot die selfpersepsie van die subjek. Hulpeloosheid, hopeloosheid is ’n aangeleerde toestand en dit kan en mag en moet verbreek word, afgeleer word omrede so ’n toestand mens lamlê en alle positiewe potensiaal neutraliseer. Interessant genoeg dat so ’n aangeleerde hulpeloosheid altyd ’n oorsaak vind; die dader van die misdaad teenoor my gepleeg is die maatskappy, die baas, die politiek, die regering, my vrou…ens. Dit plaas mens dan in die eerste plek in ’n situasie waar jy emosionele energie vermors omdat jy blaam plaas en selfs haat- en wraakgedagtes koesters teenoor iets of iemand aan wie jy nie werklik veel kan vermag nie, die tweede probleem is en hierdie is die groot een, is die feit dat jy nie verantwoordelikheid neem van jouself nie, jy plaas as’t ware jou lot in die hande van ander, maar meer as dit, in ander wat nie noodwendig die vermoëns of wil het om iets te verander nie. Jy is dus ten diepste, magteloos. Dit bring my by 2017 en die woordjie hoop.
Hoop, ons gebruik die woord maar effens buite sy betekenis: “Ek hoop ek sal dit maak,” “Ek hoop nie dit is te groot nie,” “Ek hoop jy het reggekom,” “Ek hoop dit sal reën,” en iets van die negatiwiteit van aangeleerde hulpeloosheid word weerspieël.
Binne die Afrikaanse gebruik van die woord, het dit meestal ’n tipe van ’n wens geword. “Ek wens ek sal dit maak…” ensovoorts. ’n Wens wat meermale ’n element van ernstige twyfel uitspreek: “ Ek hoop jy het mooi oor die saak gedink…” “Ek hoop jy besef hoe hoog dit is…” Die Hebreeuse vorm van die woord, yâchı̂yl, soos byvoorbeeld in Psalm 39: “En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U,” bevat nie so ’n element van vertwyfeling nie, maar een van geloof, van ’n vaste vertroue, verwagting.
Die Griekse woord elpis soos in Hd: 24 “…en ‘n hoop op God het, ‘n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar ‘n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges,” bevat hierdie selfde element van die Hebreeus, verwagting, ’n vaste verwagting.
As ek dus 2017 hoopvol binnestorm, dan is dit nie met die Afrikaanse volksmond aanwending nie, maar met ’n diep teologiese-filosofiese belaaide bedoeling. Ek hoop 2017 sal ’n goeie jaar wees. Die woord hoop word gekoppel aan die dunamis of die krag van die een op wie daar gehoop word. Dit is sekerlik te verstane dat mens nie jou hoop moet plaas op iets of iemand wat nie wil, of kan help nie, dit is waansin. Om te hoop, om jou hoop sinvol te belê, moet mens na die innerlike krag van die objek van jou hoop en verwagtinge kyk. Mens moet egter ook na die wil kyk, wil so ’n persoon jou help, wil jy iets bereik, wil jy iets doen, raw-tsone, sê die Hebreeus, die intensie of die wil. Ek wil tweeledig my hoop vir 2017 aanbied:
Eerstens op ons Almagtige God en Vader wat deur sy Seun vir ons die ewige hoop kom bied. Maar hierdie hoop gaan nie bloot oor die eendag nie, maar ook oor die hier en nou, die ewigheid breek immers vandag alreeds aan, met sy onderskeie fasette. My hoop is dan op ’n God wat mense so lief gehad het dat Hy sy eie Seun in hul plek laat kom betaal het. God het dus die wil om te help en is dus alreeds hoopwaardig. Hy is ook ’n God wat die son ’n dag lank kon laat stilstaan, ’n see oop kon skeer, die berg laat bewe het, Lasarus uit die dood geroep het; Hy is die God wat alles geskape het, dus het Hy baie duidelik ook die krag, of dunamis om te help. Hy is inderdaad hoopwaardig.
Ek wil egter my hoop in 2017 op ons Afrikaner ook plaas, miskien omrede ek verby ons as volk se aangeleerde hulpeloosheid kyk en die dunamis raaksien. Die Afrikaner is ’n formidabele volk, wat ten spyte van, miskien as gevolg van, ontsaglike groot uitdagings en onderdrukking, gegroei het tot een van die sterkste volkere op aarde. Ons is begenadig om met ’n intellek, ’n logika, ’n werksetiek en diepe geloof om enige probleem te oorkom, maar meer as net oorkom, om ook daaruit ’n positiewe uitkoms te bewerk. Die Afrikaner is ’n volk met dunamis, met ’n inherente krag. Die een element wat kort vir ’n hoopvolle 2017 is dan ook die rawtsone of die wil. Wil ons werklikwaar? Of is ons oorgelewer aan ons aangeleerde hulpeloosheid. Wil die Afrikaner homself help? Dit is die vraag wat ons daagliks op Orania moet antwoord en hier sien ek die dunamis en die rawstone van ’n volk bymekaarkom om vir elke inwoner hoop te gee. Ek verwag dat 2017 ’n uitstekende jaar gaan wees, omdat ek na hierdie elemente van hoop kyk en ek sien hoe perfek die dinge in plek val en dit is hoop wat die potensiële energie van ’n mens, ’n instelling en ’n volk laat oorgaan in die dinamiese tasbaarheid van kinetiese energie. Hoop begin ’n beweging en ek sien in 2017 die Afrikaner beweeg.
Ek bid aan u elkeen ’n hoopvolle 2017 toe.
by Orania Beweging | Jan 3, 2017 | Nuus |
Gewaardeerde mede-Afrikaners,
meneer die voorsitter,
Ons Afrikaners het besondere stof tot dankbaarheid om vandag, op 16 Desember 2016, 178 na die Slag van Bloedrivier te vergader. Die blote feit dat ons hierdie sin kan uiter, naamlik dat ons dankbaar kan wees om op hierdie dag byeen te wees, is uiters veelseggend, want dit getuig daarvan dat ons nie slegs die bestaanskrisis van 1838 oorleef het nie. Dit getuig daarvan dat ons al die ander krisisse sedert daardie datum oorkom het en dat ons vandag steeds as kultuurgemeenskap leef. Dit getuig van ruim Goddelike genade wat deurlopend oor ons is en bevestig daarom, dat dit inderdaad paslik is dat hierdie dag soortgelyk aan ʼn Sabbat gedenk kan word.
Maar Afrikaners het nie slegs oorleef nie. Ons het gedy.
– Die klompie duisende wat ons toe was, het uitgebrei tot etlike miljoene;
– Ons het ons armoedigheid agtegelaat en ons is vandag grootliks ʼn welvarende gemeenskap;
– Ons het toe nouliks ʼn taal gehad. Nou het ons ʼn moderne taal wat alle funksies net onderskeiding kan vervul;
– Ons is nou ʼn gemeenskap wat bestaan uit mense met bekwaamhede en vaardighede wat die totale spektrum van menslike aktiwiteit dek. Ons is geleerd en vaardig;
– Ons kan vandag terugkyk op ʼn geskiedenis wat net soos die van enige ander gemeenskap gekenmerk word deur dwaasheid, maar net soos die van enige ander suksesvolle gemeenskap gekenmerk word deur wysheid, vindingrykheid, prestasie, energie en heldedom.
Wanneer ons oor ons huidige tydsgewrig rekenskap gee, moet ons tereg verklaar dat ons opnuut in ʼn krisis verkeer, maar wanneer ons, ons geskiedenis sedert 1838 oorweeg en kyk waar ons nou in teenstelling met toe staan, het ons nie net rede tot diepe dankbaarheid nie maar inderdaad oortuigende rede vir selfvertoue en hoop op die toekoms.
ʼn Volk bestaan danksy baie dinge. Een van die belangrikste daarvan is dat ʼn volk van homself bewus moet wees. Hy moet ʼn kollektiewe intelligensie hê. Die lede van ʼn volk moet die wete hê dat hulle tot ʼn volk behoort. Hulle moet weet dat hulle ʼn besondere geskiedenis het wat hulle van ander mense onderskei. Hulle moet weet dat hulle oor besondere eienskappe beskik.
Sonder sodanige intelligensie – ʼn selfbewussyn – is ʼn volk oplaas onbestaanbaar, want sonder daardie selfbewussyn kan hy nie sy situasie na waarde skat nie. Hy kan daarsonder nie weet of dit met hom goed of sleg gaan nie. Hy kan daarsonder nie aandag aan homself gee nie. Hy kan nie sy eie swakhede, prestasies en bedreigings insien nie. Hy kan homself nie beskut nie. Hy kan nie skaam kry oor sy foute en dit probeer regstel nie. Hy kan nie trots wees op homself vanweë sy prestasie nie. Hy kan nie verantwoordelikheid vir homself aanvaar, eie instellings skep om homself te bestendig nie en hy kan in die afwesigheid van ʼn eie intelligensie ook nie vyande en vriende erken en verhoudings met ander gemeenskappe aanknoop nie.
Dit is gevolglik ter sake om te vra hoe dit met Afrikaners se kollektiewe intelligensie – se selfbewussyn – gesteld was en nou is omdat daar soos aangedui daarsonder geen Afrikanervolk kan wees nie.
Afrikaner-selfbewussyn allermins ʼn vanselfsprekende gegewe. Dit was vir lang tye beswaarlik aanwesig met die gevolg dat iets soos ʼn Afrikanervolk nouliks bestaan het. Daar is verskeie sodanige tydperke. Veral twee, met die klem op die tweede een word hier vermeld.
Die eerste het betrekking op die tweede helfte van die negentiende eeu. Betreklik kort na die aflegging van die Gelofte van 1838 en die Slag van Bloedrivier het die bewussyn van ʼn eie volk en die behoort tot ʼn eie volk beduidend vervaag, in so mate dat dit ʼn ope vraag was of iets soos ʼn Afrikanervolk hoegenaamd bestaan het. Dit het, onder andere, daarin tot uitdrukking gekom dat die Gelofte grootliks vergete geraak het. Inwoners ten noorde van die Vaalrivier, wat as die Transvaalse Republiek en later die Zuid-Afrikaansche Republiek bekend gestaan het, was in die tydperk van die 1850’s tot laat in die 1870’s in ʼn mindere of meerdere mate in ʼn toestand van anargie. Bedreigings kon moeilik die hoof gebied word onder andere vanweë die feit dat vir sover daar hoegenaamd ʼn georganiseerde publieke gemeenskap van die aard van ʼn staat bestaan het, die staatskas basies leeg was en burgers dikwels erg traag was om kommandodiens te lewer. Van kulturele bedrywighede en formele onderwys wat die voorwaarde vir ʼn volk se selfbewussyn is, was daar in die destydse Transvaal eintlik bykans geen sprake nie. Die risiko van, en trouens die daadwerklike verskynsel van veragtering was deurlopend teenwoordig.
In die Vrystaat het dit ietwat beter gegaan. Ten minste was daar ʼn beter georganiseerde gemeenskap – in die vorm van ʼn meer daadwerklike republiek. Nogtans was daar nouliks ʼn Afrikanerbewussyn. Vanweë die Basotho-oorlog van die 1860’s was daar wel ʼn soort Vrystaatse nasionale bewussyn. Van ʼn Afrikanerbewussyn, soos ons dit later tot uitdrukking gekom het, was daar nouliks sprake. Per slot van sake was daar nog nie eers iets soos ʼn Afrikaanse skryftaal waarmee ʼn gemeenskap objektiewe uitdrukking aan homself kon gee nie. Bowendien was die Engelse taal- en kulturele invloed in die Vrystaat besonder sterk en was ʼn dorp soos Bloemfontein – die belangrikste kultuursentrum ten noorde van die Oranjerivier – meer ʼn Engelse dorp as wat dit ʼn Afrikanerdorp was. Die Vrystaat was ook polities sterk koloniaal- eerder as republikeinsgesind. Dienooreenkomstig was daar ’n sterk beweging om polities met die Britsbeheerde Kaapkolonie eerder met Transvaal te vereenselwig.
Die Kaapse Afrikaners het tot met die opkoms van die Genootskap van Regte Afrikaners en die Afrikanerbond in die laat 1870’s en vroeë 1880’s nouliks enige selfbewussyn as Afrikaners gehad. Verengelsing het hoogty gevier. Selfs in die Nederlandse skole van daardie tyd is die meeste van die vakke in Engels aangebied. In die Weskaap was dit hoogmode om te verengels. Selfs by sosiale geleenthede onder jongmense was die keuse om eerder Engels te praat. Onder die enkeles wat wel ʼn taalbewussyn gehad het, was die vooruitsig vir die voorbestaan van die destydse Nederlands (en proto-Afrikaans) om goeie rede baie swartgallig. Van ʼn strewe na politieke vryheid was daar geen sprake nie.
Natal verteenwoordig ʼn ironie. Natal was die speerpunt van die Groot Trek. Hier is die grootste opofferings wat betref lewensverlies en vermoënsskade, gemaak. Hier is die Gelofte afgelê en hier is die Slag van Bloedrivier gelewer. Dog, etlike jare hierna was die Republiek van Natalia daarmee heen en het die vooruitsig vir Afrikanervryheid in hierdie geweste permanent verdwyn. Hier kon daar nouliks van Afrikanerselfbewussyn sprake wees, aangesien die Afrikaners grootliks uit Natal onttrek het.
Vir baie lank gedurende die tweede helfte van die negentiende eeu was daar dus nêrens in Suid-Afrika enige noemenswaardige Afrikaner-selfbewussyn nie en het die Afrikanervolk wesenlik sy eie bestaan opgeskort. Dit was eers met die suksesvolle Transvaalse opstand in 1880-81 wat ons vandag as die Eerste Vryheidsoorlog ken, toe ʼn bykans nie bestaande Afrikanervolk as’t ware die opskorting van sy bestaan oorkom en sy lewe as ʼn volk voortgesit het. Die oorlog en veral die Slag van Majuba gepaard met die groei van die Genootskap van regte Afrikaners, het ʼn Afrikaner-selfbewussyn dwarsoor Suid-Afrika gaande gemaak en gevolglik die Afrikaner as’t ware in aanskyn geroep.
Dit is hierdie Afrikanervolk wat oor die lengte en breedte van wat later Suid-Afrika geword het, vanaf 1899 tot 1902 die stryd teen Brittanje aangeknoop het, toe Afrikaners van sowel die Republieke as die Britse kolonies in stryd met Brittanje getree het. Dit was juis danksy die feit dat Afrikaners waar hulle ook al was, ʼn kollektiewe intelligensie gehad het, dat hulle hierdie stryd – ʼn egte volkstryd kon aanknoop, wat tot vandag – en vandag trouens meer as enkele dekades gelede – die hoofbron van Afrikanerheldedom is.
Gedurende die verloop van die twintigste eeu het die Afrikanervolk na ʼn ongekende ekonomiese geswoeg en ʼn energieke kultuurpolitiek ongekende prestasies behaal. Afrikaans het naas enkele ander tale wat dit in hierdie eeu kon vermag ʼn taal van hoogkultuur en letterkunde geword, wat die segsvermoë ontwikkel het om op elke lewensterrein doeltreffend aangewend te word. Afrikaners het in Afrikaans, meer bepaald by wyse van skoolopleding, voortgesette tegniese opleiding en universitêre opvoeding in Afrikaans gemoderniseer, op elke lewensterrein gepresteer en welvarend geword. Die verskynsel van Afrikaner-minderwaardigheid teenoor die gewaande inherent meer verhewe Engelse kultuur het juis vanweë hierdie Afrikanerprestasies verdwyn. Daar was werklik geen gronde meer vir enige vorm van minderwaardigheid nie. Die Afrikanervolk hoef nie in die Britse-Engelse wêreld geassimileer te word ten einde deel van die universele mensdom te wees nie. Inteendeel, die Afrikanervolk, het soos met alle volke behoort te wees, sy deelagtigheid aan die universele mensdom aan die hand van sy eie eiesoortigheid – sy eie taal en kultuur – verwerf.
Afrikaners het ook polities, administratief en militêr presteer. In die huidige tydsgewrig word dit dikwels as onaanvaarbaar beskou om hierop te wys. Onaanvaarbaarheid kan egter nie die daadwerklike waarheid troef nie. Die feit is dat Afrikaners fenomenale staatsbouers was. Die Suid-Afrikaanse staat onder die Nasionale Party met die hoogtepunt onder Verwoerd was ʼn uiters doeltreffende glad geadministreerde staat, wat oral – plaaslik en in die buiteland – enorme vertroue ontlok het. Sy ekonomiese groeikoers gedurende die Verwoerd-tydperk, onder andere, deur buitelandse beleggings gestimuleer, was tekenend hiervan. Net so tekenend was die grootskaalse Europese immigrasie na Suid-Afrika gedurende hierdie tydperk. Die regspleging was uitstekend. Die staatsdiens doeltreffend. Die polisie betroubaar en die weermag toenemend gedug. Die huidige Zuma-staat steek inderdaad sleg af teen die destydse Verwoerd-staat.
Die suksesvolle Afrikanerstaat wat vanaf 1948 onder die Nasionale Party ontwikkel is en in die 1960’s en die 1970’s sy hoogtepunt bereik het, het egter ʼn ironies nadelige uitwerking op Afrikaners gehad. Wat dit gedoen het, was juis om Afrikanerselfbewussyn beduidend te laat vervaag. Trouens, die benadeling het verder as vervaging van selfbewussyn as Afrikaners gegaan aangesien baie Afrikaners stilweg ʼn identiteitsverwisseling ondergaan het. Hulle het hulle Afrikanerskap agtergelaat en in toenemende mate Suid-Afrikaners geword. Die Suid-Afrikaners in plaas van Afrikaners, wat baie Afrikaners geword het, het in twee variasies voorgekom.
Die eerste was dat Afrikaners hulle met hul suksesvolle staat vereenselwig het. Dienooreenkomstig het baie Afrikaners hulle primêre selfbelewenis as Afrikaners laat vaar om eerder burgers van Suid-Afrika te word. Hulle het primêr Suid-Afrikaners, dit wil sê deel van ʼn kultureel grootliks ongedefinieerde Suid-Afrikaanse nasie geword. Dit het in ʼn sekere mate onopgemerk gebeur, want Afrikanerinstellings was per slot van sake op hulle sterkste en Afrikaanstalige instellings soos enkelmediumskole, tegniese kolleges en universiteite op hulle hoogtepunt. Dog, al hierdie instellings het stilweg ʼn grondige verandering ondergaan, naamlik om in hul selfbelewenis al hoe meer Suid-Afrikaans te word in plaas van die as draers van ʼn kultuur-gedefinieerde Afrikanerskap. Van buite gesien was dit verstaanbaar dat dit gebeur het aangesien Afrikaners wat die hoofouteurs van die Suid-Afrikaanse staat was, ’n groot sukses van dié staatbouprojek gemaak het, en ten slotte baie trots daarop was. Presies as gevolg hiervan het Afrikaners hulself egter in toenemende mate begin ophef ten einde in ʼn meer omvattende groter Suid-Afrikaanse staatsgemeenskap geassimileer te word. Hoe suksesvoller die Suid-Afrikaanse staat onder Afrikanerbeheer, des te trotser het Afrikaners op hulle Suid-Afrikaanse staat geword en het hulle, hul identiteit laat vaar ten einde in die Suid-Afrikaanse nasie op te gaan.
Suid-Afrika het dus sy tol toenemend geëis deurdat Afrikaners onder die einste Nasionale Party, wat veronderstel was om Afrikaner-selfbewussyn te bevestig, juis toenemend al hoe meer Suid-Afrikaans geword. Onder die vaandel van Afrikanerskap het Afrikaners, primêr met Suid-Afrika vereenselwig en toenemend Suid-Afrikaans geword. Anders gestel: onder die vaandel ban Afrikaner-nasionalisme – die NAT-vaandel – het Afrikaners toenemend Suid-Afrikaans – SAP – geword. Aangedryf deur ons eie projek van Suid-Afrikanistiese nasiebou in ons eie suksesvolle Suid-Afrikaanse staat was ons besig om onsself ongedaan te maak. Hierdie denk- en handelswyse is veral met die Nasionale Party sedert die 1970’s vereenselwig.
Die tweede variasie van Suid-Afrikanerskap voor die aanvang van die grondwetlike oorgang waarin Afrikaners in die toenmalige Afrikaner-beheerde Suid-Afrikaanse staat opgegaan het, was in Blank Suid-Afrika. Toenemend vereenselwig met anderstalige blankes, meer bepaald Engelssprekende Suid-Afrikaners, het Afrikaners hulself algaande meer as deel van ʼn groter “Blankedom” beleef. Afrikaners het in die Blanke Volk van Suid-Afrika opgegaan. Net soos die eerste variasie, was dit ook ʼn Suid-Afrikanisme. Dit het ook voortgespruit in die primêre vereenselwiging met die staat eerder as met die volk. Anders as die eerste variasie het dié een, die Suid-Afrikaanse nasie meer uitdruklik in rasseterme – ʼn Blanke Volk – beskryf. Hier het ons dus ook met ʼn Suid-Afrikanisme te doen. Hierdie SAP-denkwyse anders as die eerste was egter wit. Sy wortels gaan ver terug. Gedurende die laaste twee dekades voor die grondwetlike oorgang van 1994, het hierdie denk- en handelswyse die sterkste in die eertydse regse partye tot uitdrukking gekom.
Die slotsom is dat Afrikaners in die laaste twee tot drie dekades voor 1994 toenemend ʼn verlies van selfbewussyn beleef het. Afrikaners was al hoe minder Afrikaners en al hoe meer Suid-Afrikaners, of dit nou South Africans in die algemeen of white South Africans was. Afrikanerskap was onder die invloed van ons destydse politieke beheer oor Suid-Afrika, toenemend die slagoffer van ons eie Suid-Afrikanistiese nasiebou-projek.
by Orania Beweging | Des 22, 2016 | Nuus |
Neerhalende, selfs hatige artikels oor Orania is so oud soos Orania self. In meeste gevalle sê dit meer van die skrywers se blindheid as van die toestand van Orania. Alhoewel Orania geweldig gevorder en verander het oor die afgelope jare, is die artikels oor Orania van destyds en van nou, veral in die buitelandse nuusbronne, feitlik identies. Omtrent almal se opskrif is ʼn variasie op die “wit dorp/laaste uithoek van apartheid/armsalige, armlastige woestyndorp” tema, wat ʼn anachronisme in die wonderlike reënboognasie is. Fotos wat gebruik word, word gewoonlik van die internet afgetrek en wys ʼn Orania van 10 of selfs 20 jaar gelede, die foto van die Verwoerdbeeld wat oor die dorp uitkyk (en al meer as 10 jaar nie meer daar staan nie) is altyd deel daarvan. Ons kan aanhou om te verduidelik dat selfbeskikking ʼn reg is, dat die Afrikaner ʼn kultuurgemeenskap is, dat ons na onsself moet omsien omdat daar teen ons gediskrimineer word ens., die effek op die joernaliste se vooropgestelde opinie is feitlik nul. Onlangs was daar weer ʼn artikel op CNN (Artikel) wat ʼn handboekvoorbeeld was van die soort beriggewing oor Orania spesifiek en die Afrikaner in die algemeen. Skeefgetrekte statistieke word aangehaal wat moet bewys dat ons nie rede het om te kla nie en dat dit met ons veel beter gaan as met die meerderheid swart mense in Suid-Afrika wat misdaad en werkloosheid betref.
Ten spyte van wat ek geskryf het, hoef ons nie moedeloos te raak oor die media nie. Die media is magtig en het hulle agenda, maar hulle mag is besig om te krimp. Die internet en sosiale media het die houvas wat die sogenaamde hoofstroommedia op mense se denke gehad het, verbreek. Selfs die CNN-artikel gee toe dat Orania deel is van ʼn nuwe en kragtige golf, al word dit deur die skrywer as ʼn negatiewe een beskou: ”The splintering of a portion of South Africa’s Afrikaner community is only a microcosm within a much larger trend. In the wake of Brexit, the rise in nationalist movements in Europe and arguably the United States, directly or indirectly through president-elect Donald Trump, isolation has become a hot topic.” Om hierdie sin in Afrikaans te dekodeer: Orania en dit waarvoor dit staan is nog steeds verfoeilik (vir CNN en ander linkse meningsvormers), maar is deel van ʼn nuwe tendens. Selfs ʼn negatiewe artikel in ʼn internasionale medium soos CNN maak ʼn hele paar potensiële ondersteuners van Orania, wat tussen die lyne kan lees, bewus van ons strewe. Ook ek het die eerste keer oor Orania gelees in ʼn negatiewe, neerhalende artikel maar kon nog steeds my eie afleidings maak. Daagliks vat ons tientalle besoekers op toere en werklik almal gaan met ʼn beter opinie oor Orania hier weg, of is selfs so beïndruk dat hulle by die Orania Beweging aansluit, ander mense aanmoedig om ons te besoek en besluit selfs om later hier te kom bly.
My dank aan almal wat op die een of ander manier gehelp het om Orania se boodskap oor te dra, synde deur ʼn brief in die koerant, deur met vriende te praat, deur ons DVD en pamflette te versprei, deur hier tyd te spandeer. Na harde werk begin die boom vrugte afwerp. Ons boom is nog klein, maar lewenskragtig en groeiend. Die magtige links-liberale media se groot en ou boom is hol. Die winde van verandering sal dit in die toekoms omwaai, die takke breek nou reeds af. CNN moes sy eie magteloosheid beleef toe hulle met die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing moes besef, soos die uitslae ingekom het, dat hulle voorspellings, beïnvloeding van die kiesers en wensdenkery oor mev. Clinton se oorwinning totaal verkeerd was. Daar is niks so sterk soos ʼn idee waarvoor die tyd ryp geword het nie (met erekenning aan prof. Carel Boshoff). Die tyd is besig om te kom. Of, om die woorde van Mohandas Gandhi te gebruik: “First they ignore you. Then they ridicule you. Then they fight you. Then you win.”
by Orania Beweging | Des 19, 2016 | Nuus |

Waardebepaling
Wat bepaal waarde? Ek wandel hierdie Kerstyd so deur die digitalemarkspleine en tussen die winskope en aanbiedinge en opspring-flikker-advertensies en winkeltrollies vol wenslyste blaai ek tussen die aanlynwinkels en kyk na goed. Goed is seker die beste beskrywing. Ek kyk na handgekerfde kitare, massa-vervaardigde juwele, sweetwinkel speelgoed en egte Italiaanse mode uit China. Ek kry so ’n boodskappie op my foon dat ek die kans staan om al my skuld gedelg te kry as ek my finansies so sal bestuur dat die aftrekorders einde Januarie sal deurgaan. Mooi, dink ek, spandeer net wat jy kan bekostig. Ek kyk na twee van hierdie goed in my trollie en daar is dan so ’n handige “vergelyk produkte” skakel. Met hierdie skisma van tegniese besonderhede oopgekloof voor my op die skerm, probeer ek hond haaraf maak. Hoe weet mens watter een is nou die beste. Ek besluit uiteindelik om die duurder een te kies, ek weet nou nog nie hoekom nie, die ander een was mooier, maar duurder is beter, goedkoop koop is duurkoop. Wat bepaal goed se waarde? Is dit die inherente eienskappe wat ’n objek waardevol maak, die bruikbaarheid?…is dit die prys etiket?…is dit die estetika? Moontlik is al die bogenoemde rolspelers, miskien ten diepste die waarde wat dit vir my inhou, hoe ek as die nuwe eienaar daaroor voel.
Ek sal so naïef wees deur tog te glo dat daar in die volmaakte kommersiële vryemark tog ook ’n element van vervaardigingskoste in die prysetiket weerspieël word en iets wat meer gekos het om te maak, moet mos sekerlik beter wees?
Wat bepaal waarde? Ek is verward hier waar ek op hierdie gedagtevlug gaan. Dit neem my verskeie Bybelse gedagtes, na ’n kruis by ’n koppie buite Jerusalem waar ‘n Seun met sy lewe betaal, boet; na ’n pottebakker wat ’n erdekruik stukkend gooi, na so ’n erdekruik waar ’n skat binne gebêre word.
Kerstyd voel veel mense juis hierdie worsteling met selfwaarde. Wat is ek werd, ek voel alleen, moeg hartseer, vernederd. Wat bepaal ’n mens se waarde? Is dit jou inherente bruikbaarheid? Vir sommige ander mense glo ek dit is die geval, jy is bruikbaar en waardevol in so verre ek jou kan benut. Is dit die jou estetika, hoe mooi jy is?
Ek staar na die inkopietrollie vol mense, ek kyk na al die vergelykende eienskappe, ek kyk na die estetika, ek kyk na die prysetiket, ek kyk na die vervaardiger se handelsmerk…ek begin ’n prentjie te vorm. Wat is mense werd?
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
Ek kyk weer na al die mense in my lewestrollie en ek kyk na die prys wat vir hulle betaal is. Miskien is goedkoop koop, duur koop. Ek dink aan die prys wat vir my betaal is en hierdie prys gaan nie oor my estetika of bruikbaarheid of inherente vermoëns nie, nee hierdie prys is gans te duur as mens hierdie kenmerke as waardebepalend gaan ag. Hierdie is ’n emosionele koop, ’n liefdeskoop. God betaal die prys van sy eie Seun en dit bepaal jou waarde. Ek gaan hierdie Kersfees so ’n bietjie anders na mense kyk, want soos ek hier sit en dink besef ek: mense is verskriklik baie werd.