fbpx

Toe kom die grondwetlike onderhandelings van die vroeë en middel 1990’s en uiteindelik die grondwetlike oorgang, wat amptelik in 1994 ʼn aanvang geneem het.

Baie Afrikaners, onder die invloed van die oorverdowende wonderwerk-propaganda wat met die oorgang gepaard gegaan het, was daarvan oortuig dat ons in ʼn omvattende reënboognasie, waarin daar plek vir almal sou wees sou opgaan. Hulle het die blydskap in die nuwe orde en die nuwe nasie gedeel. Ons weet nou dat hierdie blydskap ongegrond was. Ons weet nou dat ons nie net te kampe het met ʼn vervallende staat nie maar met ʼn regering wat gevaarlik min verdraagsaamheid vir kulturele verskeidenheid toon. Afrikaners met veel meer besondere kultuurbates as Engelstaliges, is veel skerper in die skyf van hierdie soort politiek as die (wit) Engelstaliges.

Ander Afrikaners het nie die blydskap van die propaganda van die grondwetlike oorgang gedeel nie. Hulle het ook nie die wonder van die reënboognasie vertrou nie. Hierdie mense was soos die geskiedenis van die afgelope twee dekades bewys het, natuurlik reg. Maar baie van mense onder hierdie groep van skeptiese Afrikaners het hulle ook bekla oor ons verlies naamlik dat: Ons Afrikaners in 1994 ons vryheid verloor het.”

Dit is egter onjuis. Afrikaners het nie in 1994 hulle – ons – vryheid verloor nie, eenvoudig omdat ons dit nie in die Suid-Afrika van voor 1994 gehad het nie. Dit was per slot van sake nie, of ten minste lank nie meer, ʼn Afrikanerstaat nie. Dit was ʼn blanke staat.

En meer as dit. In aanloop na 1994 en ooreenstemming met die Suid-Afrikanismes wat pas hierbo verduidelik is, het ons Afrikaners bowendien toenemend ons selfbewussyn as Afrikaners ten gunste van ʼn Suid-Afrikanistiese identiteit – hetsy ʼn algemene Suid-Afrikanisme of ʼn blanke Suid-Afrikanisme – begin prysgee. Ons was toenemend besig om onsself te laat assimileer en onsself op grond van ons eie nasiebou-projek op te hef. Die slotsom is dat gedurende die laaste jare van blanke bewind Afrikanerskap toenemend gevaarlik aan verwering blootgestel het. Die laaste dekades en jare van blanke bewind was gevolglik groeiend nadelig vir die Afrikaner. Ingryping om opnuut ʼn Afrikaner-selfbewussyn te vestig, was noodsaaklik, maar in die waan dat alles pluis en onder die gerusstellende blanke bewind, was ons nouliks hiervan bewus en derhalwe ook nie in staat om iets hier omtrent te doen nie.

Gedurende die eerste jare na 1994 het sake ook nie verander nie. Die agteruitgang in Afrikaner-selfbewussyn het voortgeduur en is vererger deur die wyd-gepropageerde grondwetlike waarborge van alle belange in die sogenaamde verskanste Suid-Afrikaanse grondwet.

Spoedig was dit duidelik dat die waarborge inderdaad gewaande waarborge was en dat die Afrikaner in die pad gestaan het van aggressiewe beleid van homogenisering wat nie ruimte laat vir die erkenning van kulturele diversiteit, en ten slotte vir die Afrikaner in ʼn gesentraliseerde monokulturele Suid-Afrika nie. Daar hoef nie hierop ingegaan te word nie, aangesien die besonderhede hiervan deeglik aan u bekend is. Hierdie homogeniseringsbeleid strek Afrikaners vandag tot groot nadeel. Nogtans is daar ook ʼn groot en groeiende reaksie onder Afrikaners hierteen, waarvan ons elkeen op die een of ander wyse deel is.

Maar nog lank voor dié reaksie en gepaardgaande teen-strategieë, het daar iets anders begin gebeur, nie op politieke vlak nie, maar op die kulturele terrein. Afrikaners het hulself geleidelik begin herontdek. Gevolglik het die bykans uitgedoofde Afrikaner-bewussyn van die dekades voor 1994 en die eerste jare daarna, plek gemaak het, vir Afrikaners wat weer begin bewus van hulself geraak het.

Dit het nouliks sigbaar in 1995 met kunsfeeste begin. In weerwil van, en in teenstelling met die drastiese afname van Afrikaans in die openbare sektor, in so ʼn mate dat Afrikaans eintlik nie meer vandag ʼn staatstaal is nie, asook in ook teenstelling met Afrikaanse drastiese afname in hoër onderwys, het Afrikaans in die burgerlike samelewing begin gedy. Afrikaanse musiek was nog nooit so lewendig soos nou nie. Die gehalte strek van beroerd tot uitstekend. Die Afrikaanse skryfkuns gedy ook. Van die voorste en beste verkopers in die land is Afrikaans. Groot maatskappye en Trustfondse stel beduidende bedrae vir navorsing en publikasie in Afrikaans beskikbaar. Dit word gedoen sonder dat dit enige opbrengs vir die betrokke maatskappy of trustfondse inhou.

Ou Afrikaanse organisasies, soos die FAK het nuwe lewe gekry en is op ʼn groeikurwe. Nuwes soos Afriforum het ontstaan en het dramaties gegroei. ʼn Kenner van minderheidsbewegings oor die wêreld heen, dr Bertus de Villiers deel my mee dat die verskynsel dat soveel mense vrywillig maandeliks lidmaatskapfooie tot organisasies soos Afriforum en die Orania Beweging bydra, sonder om enige persoonlike voordeel as teenprestasie daaruit te kry, ʼn sonderlinge verskynsel in die wêreld is.

Ons steek ook hand in die sak om vir ons eie mense te sorg. Die Helpende Hand is ʼn landswye voorbeeld daarvan. Die Helpsaamfonds ʼn plaaslike een.

In die wêreld van die media is reeds ongekende suksesse bewerkstellig. Die alternatiewe media wat ons gevestig het, vanaf Maroela Media, Pretoria FM, talle ander populêre en ernstige publikasies, hetsy elektronies of andersins, tot by ondernemings soos die nuwe publikasie Rede, wat hier uit Orania stam, is inderdaad nie meer alternatiewe media nie. Dis onmiskenbaar ʼn nuwe hoofstroom.

Op intellektuele gebied, meer bepaald op die gebied van die politieke denke, is daar opwindende dinge onder Afrikaners aan die gang. Ons is besig om onsself uit die ideologie van sentralisering en homogenisering van die huidige magselite te dink en te skryf. Ons verwoord ʼn nuwe lewenskragtige antwoord hierop. Gemeenskapsoutonomie, federalisme, selfregering, en die idee van ʼn gemeenskap van selfrespekterende en wedersyds respekterende gemeenskappe eerder as ʼn unitêre staat, is ons antwoord op die verstikkende homogenisering van die huidige magselite. Ons het nuwe konstitusionele denke en ons vestig reeds nuwe konstitusionele praktyke waarin ons as’t ware van die grond weer groeiende vryheid vir onsself vestig. Korporatiewe selfbeskikking begin geleidelik ʼn praktyk raak. Die idee van vrystede skiet wortel en Orania gee onmiskenbaar gestalte daaraan.

Wat Orania betref: getalle-gewys is dit nog ʼn dorp, dog ʼn treffend snel-groeiende dorp. In die gemoed van ʼn reeds beduidende getal Afrikaners – moontlik reeds die grootste gros van Afrikaners – is dit nie bloot ʼn plattelandse dorp nie. Dit is reeds gelykstaande aan ʼn lewenskragtige Afrikanersentrum: ʼn Pretoria of ʼn Bloemfontein van die laaste dekades van die negentiende eeu. Dis ʼn dorp – ʼn Afrikanerdorp – met ʼn toekoms – ʼn stedelike toekoms. Naas die ekonomiese groei, dien die kulturele en intellektuele bedrywighede wat hier aan die gang is, as bewys hiervan.

Dit is onverantwoordelik om vir een oomblik die moeilike posisie – die krisis – waarin ons verkeer te ontken. Ons getalle-aanwas is te laag; ons word geteister deur emigrasie; ons ly veral in plaasgemeenskappe onder die verskrikking van gewelddadige misdaad. Verengelsing onder ons eie mense is ontstellend hoog. Afrikaanse openbare hoër onderwys het ontstellend verskraal; Afrikaanse onderwys in openbare skole is in die gedrang, onder andere, vanweë die uitgesproke vyandigheid van sekere regeringswoordvoerders. Militante politici verklaar in die openbaar dat hulle die Afrikaner se uitwissing beoog, indien nie dadelik nie, dan wel in die afsienbare toekoms. Die Afrikaner dom het moeilikheid – moeilikheid waarvan die besonderhede baie van 1838 verskil maar moeilikheid soos destyds van ʼn diepliggende aard – bestaansbedreigende moeilikheid.

In weerwil hiervan en deels as gevolg van hierdie dinge, is Afrikaners soos pas aangedui weer besig om hul selfbewussyn te herwin. Ons is bewus van onself as Afrikaners, met ons eie uitdagings en ons aanvaar danksy God se genade toenemend verantwoordelikheid daarvoor. Want ons besef soos wat ons in die verlede besef het, niks of niemand anders nie maar die volk self sy eie toekoms skep.

Ons selfbewussyn plaas ons in ʼn oneindig gunstiger posisie as in die tydvakke waarin daardie selfbewussyn ontbreek het, want ’n bewustelose kan niks omtrent sy eie situasie doen nie. Vreemd genoeg – met die eerste oog opslag – is ons dus nou anders as in die laaste twee dekades voor 1994 en die jare daarna, in ʼn oneindig beter posisie. Want toe was ons Suid-Afrikaners in plaas van Afrikaners, wat gevolglik nie in staat was om na onsself as Afrikaners om te sien nie.

Ons was ook aan ʼn waan uitgelewer. In die dekades voor 1994 het ons meermale die waanbeeld van onoorwinlikheid gekoester omdat die staat waarin ons hoogty gevier het, so onoorwinlik sterk gelyk het. Na 1994 het ons in die waan verkeer dat alles in orde was omdat die grondwet so wonderlik.

Sedertdien het ons, ons die waanbeelde oorkom en ons selfbewussyn as Afrikaners herwin. Dis opvallend dat die herwinning van die selfbewussyn eers nadelig was. Toe ons van onsself bewus geraak het, ons ons onsself in ʼn spieël gesien het, was dit eers ʼn afskuwelike beeld, naamlik een van Afrikaners wat hulle aan die geweld van apartheid skuldig gemaak het en dus van Afrikaners wat hulleself selfbewus moes veroordeel en deur boetedoening, onsself as kultuurgemeenskap met politieke ideale moes ophef en dus moes verdwyn. Sedertdien het dit verander – drasties verander. Die populêre kultuur, onder andere Afrikaanse liedjies en films, waaroor ek enkele opmerkings wil maak, getuig daarvan.

Baie Afrikaanse liedjies klink op. Baie daarvan is doodeenvoudig vir lekker jol. Dis goed so. Ander is kru en uitdagend en nie in almal se smaak nie. Ek sê dit is ook goed so, want ʼn kultuurgemeenskap moet die hele spektrum van lewensterreine omvat en alle emosies kan uitdruk. Dieselfde geld vir films of watter ander uitdrukkingsmiddel ook al.

Tog wil ek op twee films wys wat baie veelseggend is juis omdat dit soveel oor ons selfbewussyn as Afrikaners sê. Die eerste is Modder en Bloed. Die kenners sê dit was in alle opsigte as film ʼn meesterstuk. As leek stem ek saam maar voeg by dat dit ʼn spieëlbeeld is van Afrikaners wat hulself in ʼn gunstige lig beskou: van onverskrokkenheid, persoonlike en volkswaardigheid, deursettingsvermoë en strydbereidheid, van herwonne geloof in God en van ʼn meesleurend inspirerende sin vir vryheid en selfstandigheid. Dit is uiters veelseggend maar sou ʼn mens kon byvoeg in ʼn sin maklik want na alles was die Tweede Vryheidsoorlog naas uiterste opoffering en verraad per slot van sake ook die hoogtepunt van Afrikaner-heldedom. Die stuk geskiedenis leen homself dus tot hierdie gunstige uitbeelding van Afrikaners.

Dan die ander film, Vir die Voëls wat tans te sien is. Dis ʼn eenvoudige verhaaltjie private verhaaltjie – liefdesverhaaltjie sou ʼn mens kon sê – uit die laat sewentiger, vroeë tagtigerjare. Dit gaan oor baie gewone Afrikanermense. Hulle is allermins welgesteld of besonder geleerd. Maar – en dis die kern van die saak: die mense is nie slegte mense nie. Ja, daar is ʼn sleg suiplap, wat sy vrou en kind afknou maar dan is daar die grootste gros van die ander mense. Hulle is nie engeltjies nie. Hulle het soos ons hulle foute, maar hulle is ten slotte ons mense. Hulle is ordentlike, deugsame en goeie Afrikanermense. En let wel hulle kom uit die tydperk van die ergste misstappe van die eertydse blanke bewind – van die “verfoeilike apartheidsregime.” Dog die spieëlbeeld van Afrikaners vanuit daardie tyd wat veronderstel is om ons laagtepunt te wees, is normaal. Dis ewewigtig en dis ten slotte gunstig. Die selfbeeld – die selfbewussyn – wat dit gaande maak, is dat Afrikaners in die dae van ons grootste misstappe toe al die tyd goeie mense, deugsame en inderdaad voortreflike mense was.

Vriende ek het aan die begin op ʼn lys dinge gewys waarvoor ons rede het om baie dankbaar te wees. Dis die dinge waaraan ons ons bestaan en ons groei te danke gehad het. Menslik gesproke is niks hiervan moontlik sonder ʼn skerp selfbewussyn en terselfdertyd van ʼn gunstige selfbewussyn nie. Daardie noodsaaklike selfbewussyn was vir geruime tyd bykans heeltemal afwesig. Maar daardie selfbewussyn is terug en hy is bowendien gunstig. Dis die belangrikste bron van ʼn volk se bestaan, voortbestaan sy groei en sy gesondheid.

By die lys van dinge waarvoor ons dankbaar kan wees, het ons dus nou ʼn verdere item – ʼn wesenlik belangrike een – by te voeg. Ons het ons bewussyn herwin. Ons is helder wakker, skerp bewus van onsself, ons moeilikheid, ons omgewing en van ons beduidende vermoë – en ons is ywerig aan die werk. Daar is enorme probleme. Daar is oneindig veel te doen. Maar ons kan spreek van dankbaarheid want ons het ons bewussyn herwin en tot verhaal gekom – gereed om ons verhaal voort te sit. En ons gaan.