by Orania Beweging | Jan 20, 2017 | Nuus |
Toe die myn op ‘n klein dorpie in die Noord-Transvaal toegemaak het, het ‘n hele aantal van die manne wat by die myn betrokke was, werk in Kathu gekry.
So gebeur dit dat Christo van Wyk die middag in Januarie in tipiese Noord-Kaapse versengende hitte by die vulstasie in Kathu stilhou. Die pad was lank vanuit die Noorde en hy klim uit om bene te rek.
Moeg en moedeloos kyk Christo van Wyk om hom rond…
Waar is die groen? Waar is die Bome? Waar is die Berge?
Die wêreld lyk morbied hier in die Noord-Kaap.
Terwyl Christo so na die wêreld rondom hom kyk, kom Jannas die plaaslike petroljoggie aangestap. Jannas is wel bekend aan die inwoners van Kathu vir sy tipies bekkige Kleurling wysheid.
Christo skrik uit sy moedelose gedagtegang wakker toe ou Jannas hier langs hom vra:
“Middag meneer. Jannas is die naam! Kan ek volmaak? Olie en water?”
“Ja, Dankie. Olie en water ook.” Die pad was lank.
Nou moet jy verstaan Christo was gelukkig daar waar hy in die dorpie in die Noord-Transvaal gebly het. Daarom dat hy bekommerd vra.
“Jannas, die Kalahari is nou my nuwe woonplek. Vertel my gou. Is Kathu darem ‘n lekker dorp om in te bly?”
Ou Jannas onderbreek die vrolike deuntjie wat hy fluit, en vra so sylangs… “Hoe was dit daar waar my larney vandaan kom?
“Ek het goeie vriende gemaak. Die huis was ruim genoeg en dit was lekker om na werk by die huis te kom. Die kerk was gesond en het vir mekaar omgegee.”
Jannas druk die petrolkap toe en stap vorentoe na die enjinkap. “My Larney sal sien… Dis maar dieselfde hier in Kathu.”
Christo glimlag in gedagte. Hy besef dat daar ‘n nuwe avontuur vir hom aangebreek het.
So gebeur dit dat Nico Vermeulen later die aand by Kathu se vulstasie stilhou. Net soos Christo het hy die nuwe werk in Kathu opgeneem nadat die Noord-Transvaalse myn toegemaak het.
Terwyl Nico in die kar bly sit, kom Jannas weer nader gestap en herhaal sy geoefende groet.
“Middag meneer. Jannas is die naam! Kan ek volmaak? Olie en water?”
Moeg gery en in gedagte antwoord Nico dat volmaak, olie en water ‘n goeie plan is.
Weer stap Jannas om die motor en draai die brandstoftenk se prop oop.
Nico kyk net soos Christo om hom rond. Droog, vaal en warm. Miskien was Kathu ook nie ‘n goeie idee nie.
“Jannas, vertel my van hierdie plek! Kan man darem lewe in ‘n dorp soos die.”
Jannas glimlag. Daar is altyd ‘
n klomp nuwe myners so in Januarie.
“Nee wat my Larney, hoe was dit daar waar jy vandaan kom?
Sonder om te dink antwoord Nico. Hy weet wat hy wil sê. Die dorpie daar in die Noorde was maar ‘n simpel plek. “Rugsteker vriende. Skynheilige kerke en paaie vol slaggate!”
Jannas onderbreek weereens sy vrolike deuntjie en sê. “My Larney sal sien… Dis maar dieselfde hier in Kathu.”
—–
‘n Groot struikelblok vir geluk is dikwels mense se onvermoë om binne hulself vrede te vind. Daar word dan altyd honderd en tien redes aangevoer waarom alles en almal verantwoordelik is vir die negatiewe wat jy eintlik maar met jouself saamdra.
Net so is Orania ‘n plek vol gelukkige en ongelukkige mense wat hulle eie werklikhede geskep het.
by Orania Beweging | Jan 16, 2017 | Nuus |
Ek het nog nooit vantevore van Orania gehoor tot my lewenspad met een van die inwoners s’n gekruis het tydens my jare op universiteit nie. Sedertdien het ek die dorp al drie maal besoek. En dit is tydens my derde besoek wat ek hierdie stuk skrywe, my Orania storie.
Toe ek vir die eerste maal hierheen gekom het, het ek die wesenlike besluit geneem om sonder enige vooroordele hierheen te kom en myself te verdiep in die dorp, sy kultuur en mense. Dit was nog altyd vir my belangrik om my eie oordeel te fel oor ’n saak; om niemand anders se woord te vat daarvoor nie, maar self te gaan kyk wat die stand van sake is en te besluit.
En wat ek hier gesien het was goed. Hier is mense wat hard werk vir die brood wat hulle verdien. Hier is kinders wat veilig speel en gelukkig groot word onder die Afrika son. Hier is landerye wat so ver strek as wat die oog kan sien. Die mense bewoon en bewerk hierdie land. En ek kan onthou hoe ontsettend groot bewondering ek gekry het vir die generasies wat hier op die onwaarskynlikste plek, in die middel van die dorre, bar grond van hierdie land aan die suidpunt van Afrika ’n bestaan kom maak het, toe ek die storie van Orania gehoor het. Dit het my hart aangegryp.
En die gevoel van gemeenskap wat ek hier beleef het, sou ek nooit kon indink nie. Om in die straat te stap en mense groet mekaar, mense ken mekaar, mense gee om oor mekaar. Hoe sterk kontrasteer dit nie met my agtergrond en my woonbuurt waar mense dikwels nie eers hul bure enigsins ken nie, en eenvoudig nie belang stel of omgee nie; waar elkeen op sy eie voortploeter en alleen probeer ’n bestaan maak.
Hierdie gemeenskap is sterk, nie as gevolg van die feit dat hier noodwendig buitengewone mense woon nie, maar as gevolg van die feit dat hierdie mense saam staan wanneer daar nood in die gemeenskap ontstaan. Wanneer daar ’n produk of ’n diens is wat skort in die gemeenskap, word daar ’n plan beraam om die vaardighede en hulpbronne tot hul beskikking aan te wend sodat hierdie leemte aangespreek kan word. En dit is wat hierdie mense buitengewoon maak, glo ek. Ek is nie ’n deskundige op die veld van wiskunde nie, maar dit blyk dat die produk van die dele groter is as die som van die dele waaruit hierdie ’n gemeenskap bestaan.
Daar is iets wat my aantrek tot hierdie plek. Ek sal moontlik nooit presies my vinger daarop kan sit nie, maar hier vind ek dikwels vrede. My siel vind rus by hierdie mense wie se hande nooit stil is nie, wat hulle daaglikse brood verdien in die sweet van hul aangesig.
In die afgelope twee weke is ek oorweldig deur die gasvryheid en totale onselfsugtigheid van die inwoners van Orania. Ek is ontvang met ope arms en het só deel geword van die gemeenskap en kultuur van hierdie samelewing dat ek met tye totaal onwaardig en selfs skuldig gevoel het oor die vriendelikheid en omgee waarmee ek oorlaai is.
Die mense hier gee sonder om twee keer te dink en sonder dat die gedagte van vergoeding enigsins deur hul gedagtes gaan. Hulle ontferm hulle oor hul medemens op ’n manier wat ek nie gedink het moontlik is nie en hulle is werklik ’n voorbeeld vir elke ander gemeenskap.
Ten spyte van my jeugdige naïwiteit, weet ek dat geen gemeenskap volmaak is nie, ook nie hierdie gemeenskap nie. Maar die essensie, die kern van hierdie gemeenskap is goedhartig en gemoedelik. Die mense hier gee vir my hoop vir my mense, die Afrikaners van die toekoms. Dostoyevsky, ’n persoonlike gunsteling letterkundige en filosoof sê, “to live without hope is to cease to live.” Oraniërs lééf omdat hulle hier hoop het. Hulle glimlag telkens moedig, onverskrokke wanneer hulle voor skynbaar onoorkombare uitdagings te staan kom. Dit is ’n verskynsel wat selfs met die beste woorde nie omvattend genoeg beskryf kan word nie, dit moet beleef word.
Die asemrowende landskap van die Karoo met sy vlaktes en ooptes dwing ’n mens tot ’n dieper vlak van bewustheid en ’n besef van die nietigheid van jou eie menswees. En ek glo dit dra grootliks by tot die nederige gemoedelikheid van hierdie mense. Dit is genoeg om enige kunstenaar of skrywer te inspireer; enige filosoof aan die dink te sit. Hier kan ’n mens se gedagtes met vrye teuels hardloop en ontwikkel, baie soos die kinders wat in hierdie Karoo-dorp groot word.
Die jongmense in my portuurgroep is dikwels doelbewus apaties. Hulle neem nie standpunt in teenoor die onreg wat hulle rondom hulle sien nie. Hulle verkies om met klappe oor hul oë die lewe binne te gaan, omdat dit die “veiligste” is. Omdat dit die veiligste is om met ’n skaapmentaliteit blindelings die trop te volg: ’n opleiding te kry, aangestel te word by ’n werk, te trou en kinders groot te maak om dieselfde manier van bestaan na te streef. In my binneste skree dit: “Besef hulle nie daar is soveel meer nie?”
Hierdie jongmense is bang om politieke standpunt in te neem, omdat dit van kleins af aan hulle gepropageer word dat hulle moet stil bly, nie te veel vrae vra nie, die regte antwoorde op die enkele vrae wat ontstaan word deel van hul wese. Antwoorde soos: “regstellende aksie en kwotastelsels veroorsaak dat ek nie my droom kan bereik om ’n opleiding te kry en ’n dokter of veearts te word nie,” die immergewilde, “dis die regering/land/president se skuld.” En sit dan agteroor met hul hande gevou want, ”iemand moet iets doen, nie ek nie, maar iemand”. “Jy moet jou opleiding in Engels kry, want jy gaan in elk geval in Engels moet werk eendag,” is ook volop. “As jy nie ’n akademiese opleiding kry nie, is daar geen toekoms vir jou nie. Jy gaan werkloos wees,” en nog meer, “as jou CV wys dat jy enigsins by ’n politieke aksie of beweging betrokke was, sal jy nie aangestel word nie.” Paranoïese idees soos: “Jou werknemer gaan agtergrond navorsing oor jou doen en sien dat jy aan optogte deelgeneem het op jou kampus. Jy gaan nie aangestel word nie.”
Vrees is ’n ontsettend magtige wapen om ’n volk blind en onderdanig te hou. Dít het die geskiedenis al menigte male bewys. Want eintlik, as daar net een stappie verder gedink word, sal ’n werkgewer wat sy sout werd is, nie omgee oor jou politieke standpunt nie, maar of jy die beste kandidaat vir die pos is. Nog meer, ’n werkgewer wat sy sout werd is, sal iemand aanstel wat standpunt kan in neem en vas staan agter sy beginsels eerder as ’n ruggraatlose lafaard.
As iemand wat self nog nie die arbeidsmark betree het nie, is dit seker maklik vir my om hierdie afleidings te maak. En om die lede van my portuurgroep te veroordeel, omdat hulle ’n veilige toekoms wil hê, sal sommiges argumenteer, is bloot onregverdig. Die feit bly egter dat niemand al ooit groot veranderinge bewerkstellig het deur langs die braaivleisvuur te staan en kla oor die toestand van die land nie. In die woorde van Polisiekar: “Jy kla oor die toestand van ons land, maar ***** doen iets daaromtrent.”
Hier in Orania doen die mense heelwat daaromtrent. Huise word gebou, tuine word onderhou, daar word skoongemaak en kos gemaak, daar word gewoeker om ’n toekomsvisie te bewaarheid. Die Orania Beweging doen iets daaromtrent. En as dit beteken ek gee my “veilige” toekoms op in hierdie land, in ’n poging om die onreg wat ek elke dag om my sien te probeer reg stel, dan doen ek dit sonder om terug te deins, in egte Orania-styl, onverskrokke en met vasberadenheid.
Annemarie Hoogenboezem is ʼn student in Kommunikasiekunde en Joernalistiek aan die Universiteit van Potchefstroom en het in Desember 2016 ʼn 2 weke lange internskap by die Orania Beweging gedoen.
by Orania Beweging | Jan 12, 2017 | Nuus |
Soms hoor mens vreemde verhale: So ’n ruk gelede lees ek van ’n visserman wat saam met van sy vriende op ’n visvangekspedisie was. Vroeg in die nanag, worstel die vissermanne met die bootjie in die water, omdat die wind ongurig teen hulle vaart begin draai het. Soos hulle worstel gebeur daar egter iets vreemds: Hulle sien ‘n spook. Een van hul vriende, wat op die wal agtergebly het, kom na hulle toe aangestap, sommer so op die water. Hulle het natuurlik eers later besef dat dit hul vriend is, maar so in die stormwind, het hulle eers mekaar lekker bang gepraat met bewerings en teorieë dat dit een of ander spook of gees moet wees. Ek kan my indink soos ek die verhaal volg, paar vissermanne, stormsee en spook oor die water, ek lees dat hulle geskreeu het, ek sou ook.
Die vriend het egter naby genoeg gekom om vir hulle te laat weet dat dit darem nie een of ander bonatuurlike gees of ding is nie, maar net gewoon hy. Natuurlik glo niemand regtig wat hy sê nie en een grootmond, die visserman oor wie ek eintlik gelees het, daag die spook uit, dat as dit regtig hul vriend is, dat hy hom ook op water sal laat loop. Wat ’n vreemde manier om iemand se identiteit te toets? Laat my dan ook op die water loop! En die vriend het blykbaar vol selfvertroue geantwoord dat hy gerus maar kom… die visserman spring van die bootjie af en loop na sy vriend toe.
Die verhaal eindig veel later, met hierdie Vriend wat uit die dood uit opstaan, maar hierdie hoofstuk eindig met die brawe visserman wat om hom rondkyk, besef hy loop op water, besef water kan nie logies of wetenskaplik hom dra nie, besef die golwe is groot; dan sink hy weg tot sy Vriend, nog steeds bo-op die water, sy hand uitsteek en nou sy eie en die visserman se gewig dra, bo-op die water!
U ken hierdie beskrywing van die gebeure tussen Petrus en Jesus goed. Matteus beskryf dit so aangrypend in hoofstuk 14.
Soos ek aan hierdie gebeure dink en my logika en wetenskaplike denke ondersoek, merk ek ’n ernstige konflik tussen my verstaan van die werklikheid en God se mag daaroor. Ek kan slegs doen en verstaan wat ek kan doen en verstaan. My ondervinding het my al telkemale geleer dat mens nie op water kan loop nie, mens kan dalk ski, of op ys loop, maar waar daar golwe is, gaan jy sukkel. Nou bots my geloof oënskynlik met my rasionele denke.
Die punt wat ek egter wil maak, is dat ons verstaan van die werklikheid nie beperk moet word deur wat ons as feite en werklikheid ervaar en kan waarneem nie, maar eerder ontsluit moet word binne die verstaan en geloof van wat God kan vermag: Wat sou Hy kon doen?
Jare gelede lees ek iewers die verhaal “Om te praat met ’n berg”, so lank gelede dat ek eintlik net die titel kan onthou, maar die uitdrukking gryp my aan. Om te praat met ’n berg… om op water te loop…
Matteus skryf twee keer oor so ‘n verskynsel wat nie binne ons denkraamwerk inpas nie. Die voorafgaande gebeure van Petrus wat op die water loop en Mat 21:22
“Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see—sal dit gebeur.”
Hoekom sou geloof sulke dinge kon vermag? Omdat jou werklikheid nie bepaal word deur hierdie tasbare, feitelike, wetenskaplike bestaanswêreld nie, maar deur die potensiële krag van die Almagtige God. Ek wil dit bely, soms maak die Afrikaner se toekoms in hierdie kontinent nie vir my rasioneel sin nie, daar is net te veel dinge wat teen ons tel, net te veel logiese vrae waarop ons geen antwoorde het nie. Maar ek kyk met ’n ander bril na die werklikheid, eintlik is my werklikheid iets anders as die wetenskaplike, koue, feitelike rasionele van die moderne mens. Binne my werklikheid kan met berge gepraat word en hulle kan letterlik rondgeskuif word, letterlik in die see gegooi word, in my werklikheid kan mens letterlik op water loop en letterlik uit die dood uit opstaan en letterlik die ewige lewe kry. My werklikheid is egter ook beperk, beperk dermate ek glo in God se vermoëns en krag. Sonder om geloof goedkoop te maak, wil ek tog die film The Matrix herroep, veral die gebeurlikheid waar Neo besef dat sodra mens die Matrix snap, sien, jy dit kan gebruik om buite die gewone dinge te vermag. Geloof is juis dit, om na die wêreld te kyk, met ‘n ander bril, en te besef dat, alhoewel daar bepaalde reëls en wette is, daar Een is wat hierdie wette en reëls gemaak het, en dus die mag daaroor kan uitoefen. Hoekom kan ‘n berg opgetel en in die see gegooi word? Want God het die berg gemaak en kan daarmee maak soos Hy wil.
Maak Orania sin, ten spyte van al die kragte en magte wat hierop inwerk? Sekerlik… want ek kyk na Orania met die oë van ’n visserman wat bo-op water kan loop en met ‘n geloof wat skielik met ander oë na ‘n berg kyk.
by Orania Beweging | Jan 10, 2017 | Nuus |
Die Orania Beweging se volk-staatbetoog vir 2017
’n Ope brief aan Afrikanerbesluitnemers
Geagte mede-Afrikaner,
Dit het nou al gebruiklik geword om vroeg in die nuwejaar ’n Orania-perspektief op die vraagstukke en uitdagings waarvoor Afrikaners te staan kom, te ontvang. Ons stuur dit met vrymoedigheid uit omdat ons reeds weet dat talle Afrikaners die leiding wat van Orania uitgaan, ernstig opneem en ons noem dit ’n “volk-staatbetoog” omdat dit oor die situasie en stand van ons mense gaan en omdat die oorweging daarvan op toepaslike optrede afgestem is. Vanuit Orania wens ons u dus nie net ’n voorspoedige nuwejaar toe nie, ons vra ook na die voorwaardes vir ’n voorspoedige nuwejaar vir ons mense en probeer aandui wat ons elkeen apart en ons almal saam kan doen om aan dié voorwaardes te voldoen.
Selfs al kyk ons met ’n ietwat donker gemoed op die afgelope jaar se politieke en ekonomiese verwikkelinge terug, en selfs al het ons min rede om ’n groot, positewe ommekeer te verwag, kan ons nie anders nie as om met groot dankbaarheid op die geleenthede en die toerusting waarmee ons die geleenthede van ons dag tegemoetgaan, te antwoord. Ons hoef nie moedeloos te wees nie, want die Hoër Hand het vir ons nie net probleme en teenspoed beskik nie, maar ook lewenslus, arbeidskrag en ondernemingsgees. Terwyl ons dus die goeie en die kwade uit sy hand ontvang, is ons nie daardeur stomgeslaan nie, maar ervaar ons dit as roeping en as uitdaging waarvoor ons juis deur Gods genade toegerus word.
Agtergrond: 2016
Hoewel ons die afgelope jare op ons volk se “staat” as stand, status en toestand gefokus het, is gebeure besig om die meer verwagse betekenis van die woord staat weer op die voorgrond te stoot. As die politieke verwikkelinge van 2016, maar ook van die voorafgaande agt of tien jaar, uiteindelik in een woord opgesom kan word, is dit in die nuwe en beeldende Afrikaanse woord “staatskaping”. In minder ontwikkelde Afrikastate sou beide die proses én die beskrywing daarvan minder gesofistikeerd gewees het: dit sou eenvoudig as ’n gepoogde of mislukte staatsgreep beskryf word. Dit hou egter ten nouste met mekaar verband, want dit kom in beide gevalle daarop neer dat ’n belangegroep binne die staatselite onder een of ander voorwendsel poog om toegang tot en beheer oor staatsinstrumente te monopoliseer en te behou.
Die klassieke staatsgreep word deur of met behulp van die veiligheidsdienste of ’n deel daarvan uitgevoer en is daarop gemik om drie, en by implikasie vier magsetels te verower, naamlik: (1) die setel van uitvoerende staatsmag, soos die president/presidensie, (2) die openbare uitsaaier om so wyd as moontlik te kommunikeer, en (3) die staatskas of tesourie om die staatsoorname in werking te stel. Die veronderstelling is dan dat (4) die veiligheidsmagte reeds deel van die nuwe beheer uitmaak, maar dit is dikwels nodig om afvallige onderdele daarvan in lyn met die nuwe magsorde te bring. Staatsgrepe word verbasend dikwels in die naam van demokrasie uitgevoer, meestal teen presidente wat hulle nie by termynverstryking neergelê het nie en sonder voldoende steun aan die mag vasklou.
’n Staatsgreep is egter net moontlik waar die magsorde sodanig gekonsentreerd is dat dit met enkele beslagleggings of plaasvervangings oorgeneem kan word, byvoorbeeld waar ’n president selfstandige amptenare met lojaliste vervang het tot die mate dat daar van ’n sin vir die staat, apart van die mense wat ampte beklee, naastenby niks oorgebly het nie. Patrimoniale of neo-patrimoniale politieke verhoudings, waar elkeen sy heil van die Groot Man bo hom ontvang, baan die weg daarvoor. Mens kan dus aanvoer dat ’n staatsgreep, of selfs net ’n ernstige poging tot ’n staatsgreep, deur suksesvolle staatskaping voorafgegaan moes word om regtig denkbaar te wees. Anders sou daar eenvoudig te veel departementshoofde, regters, ministers en rekenmeesters wees, om van opposisieleiers en burgerlike verteenwoordigers nie eers te praat nie, wat hulle nie aan die selfaangestelde nuwe gesag onderwerp nie.
Teen dié agtergrond is daar niks toevallig aan dat, naas al die lonende posisies wat mense rondom president Zuma ingeneem het, daar veral verlede jaar so ’n felle storm om die koppe van die Minister van Finansies en die bedryfshoof van die SABC losgebars het nie. Nie eers ’n sittende president kan sy staat soos persoonlike eiendom hanteer as hy nie die staatskas en openbare kommunikasie beheer nie. Die begeerte om dit wel te doen, staan natuurlik lynreg in stryd met die gedagte dat die president as regeringshoof eintlik net die hoogste staatsamptenaar is en vervang kan word sonder om die staat as sodanig te affekteer. Daarom tel dit tot Suid-Afrika se krediet dat daar genoeg demokratiese instellings en kultuur was om die gepoogde staatskaping van die afgelope tyd, verlede jaar te ontmasker en (voorlopig) te stuit.
Dit neem egter nie weg dat baie Suid-Afrikaners die afgelope jaar verplig was om oor dinge te dink wat hulle voorheen as ondenkbaar beskou het en selfs nou nog sukkel om te verstaan nie. Hoewel daar baie meer oor 2016 se mislukkings en verliese gesê sou kon word, is die gedagte dat staatskaping ’n moontlikheid geword het en dat dit saamhang met baie van die misstande wat ons mense negatief raak, genoeg om ons opnuut voor die vraag na die Afrikaner se staatkundige bestaan te stel.
Vooruitsigte vir 2017
Afrikaners kom uit ’n tradisie waar grond besit kan word en waar grondregte staatlik geadministreer word aangesien die staat histories die reg op lewe en eiendom waarborg. Die voortrekkers het byvoorbeeld vroeg reeds republikeinse owerheidsinstellings opgerig en ’n grondregime ingestel om ordelike vestiging te verseker. Daarin het hulle voortgang gegee aan gebruike wat in die Kaapkolonie aan die orde was, naamlik dat grond nie kommunaal nie, maar privaat besit is en gekoop, verkoop en vererf kan word. Nie dat grond toe al die kommoditeitswaarde gehad het wat dit nou het nie, inteendeel, die eksistensiële waarde wat grond in ’n bestaansekonomie gehad het, het die eiendomsverbintenis dalk selfs versterk.
Intussen het die president van Suid-Afrika, ’n land waarvan die meerderheid inwoners aan kollektiewe eerder as individuele grondbesit glo, dit sy nuwejaarsvoorneme gemaak om die herverdeling van grond ten koste van wit en ten gunste van swart inwoners te versnel. Daarvoor beroep hy hom op nuwe onteieningswetgewing en op die Suid-Afrikaanse grondwet, maar ten diepste natuurlik op die populistiese sentimente van die deel van die bevolking wat aan armoede en wanhoop uitgelewer is. Nie dat dit ’n nuwe onderwerp is nie, grondbesit is ten minste sedert die Volkskongres van Kliptown in 1955, toe die Freedom Charter bekendgestel is, ’n punt op die ANC se politieke sakelys. Baie Afrikaners is egter nog geneig om te dink dat die staatlike grondregime waarmee hulle nog altyd bekend is, ’n neutraal rasionele gegewe is wat teen die meerderheid se irrasionele en afwykende sienings daarvan sal standhou. Dit kan hulle suur bekom.
In soverre as wat Suid-Afrika ’n demokratiese regstaat is, word goeie regsprosedure insake iets soos grondbesit of onteiening gewaarborg. Die feit dat staatskaping onlangs ontmasker en gestuit is, spreek natuurlik boekdele en het baie mense se geloof in die regstaat herbevestig. Dit neem egter nie weg dat selfs ’n werkende liberale demokrasie uiteindelik aan die meerderheid se belang voorkeur gee nie en dat Afrikaners tot ’n ongeliefde minderheid behoort nie. Of onteiening uitendelik met rowwe werkershande of met fluweelhandskoene gedoen word, maak eintlik nie so ’n groot verskil nie; die vraag is of die staat waarin ons ons bevind ons reg op grond en eiendom beskerm of bedreig. Bygesê dat, sodra die oortuiging posgevat het dat die regering traag is om eiendomsreg te verseker, dit selfs prosedureel korrek sal ondermyn, dit dikwels onnodig is om grond te onteien omdat baie eienaars eerder poog om verliese te bekamp en te onttrek as om die onafwendbare te weerstaan.
Die punt is dat ons ons in ’n beskawingskonflik bevind waarin elke kant op ’n intuïtiewe manier oortuig is van sy meriete en alles in sy vermoë sal doen om sy belang te bevorder. Afrikaners beskik egter, anders as tevore, nie oor enige staatsmag nie en is aangewese op so veel of min “gesonde verstand” as wat daar nog in die toepaslike dele van die staatsadministrasie oor is. Aan die ander kant beroep die nuwe elite hom ondubbelsinnig op die Freedom Charter en die gedagte dat die grond moet behoort aan wie dit bewerk – ’n gedagte met genoeg ooglopende appèl om nie sonder meer veroordeel te word nie.
Saam met ander transformasiestrategieë soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging plaas dit natuurlik enorme spanning op onderlinge verhoudings – spanning wat deur sommige aangeblaas word ter bevordering van hulle eie politieke denkbeelde en ondersteuning. Ons het voorheen daarna verwys dat linkse ekstremiste soos die EFF die ANC aan die ekstremisme in sy eie mondering sal herinner en ons kan verwag dat populiste uit die twee partye mekaar nog sal oorbie in hulle pogings om die kieserspubliek na die mond te praat. Die belange van ’n voorheen dominante minderheid word maklik in dié proses opgeoffer. Die beste beskrywing daarvan is dat die speelveld na links verskuif en dat gevestigde belange toenemend bedreig word.
Bes moontlik gebeur daar nie in 2017 ’n enkele aardskuddende ding nie – behalwe dalk dat die president vervang word, maar selfs dit sal die Afrikaner se situasie nie wesenlik verander nie. Daarvoor is die onderliggende kragte te sterk op die belange van die armoedige massa en hulle (nie so armoedige) verteenwoordigers afgestem. Maar selfs al aanskou ons steeds nie ’n kataklisme nie, moet ons teen ’n valse gerustheid waak. Afrikaners se posisie gaan heeltyd agteruit en ons vermoë om strategieë wat ons selfstandigheid bevorder, in werking te stel, word in die proses ondermyn. Ons moet dus nie die fout maak om die tyd wat ons gegun word onder te benut nie, ons hoef seker nie altyd weer terug te kyk op geleenthede wat verspeel is net omdat ons die krisis waarin ons was gering geskat het nie!
Strategiese fokus vir 2017
Daar is vandag tekens van, en waarnemers verwys daarna dat Afrikaners besig is om hulle ewewig te herwin. Daarby word bedoel dat ons mense weer selfvertroue openbaar en die gedagte dat ons met ’n ondraaglike skuldlas gestraf is, van ons afskuif. Ons verlede is nie sonder foute nie, maar dit is ook nie net ’n reeks misdade nie en talle Afrikaners is besig om hulle geskiedenis opnuut en op ’n gebalanseerde wyse toe te eien. Dit lê die grondslag vir ’n nugtere beoordeling van die hede en van wyses waarop ons vandag weer vir ons eie, billike belang kan intree – nie ten koste van ander nie, maar ook nie ten koste van onsself nie.
Bygesê dat almal dit ook nie terselfdertyd dieselfde sien nie; waar sommige al tekens van nuwe lewe sien, kom ander nou eers onder die besef van hoe magteloos en versplinterd ons volk nog is. Aangesien dié besef egter ’n voorwaarde vir die nuwe lewenskrag is wat inderdaad plek-plek onder ons mense geopenbaar word, hoef sulke negatiwiteit nie sonder meer veroordeel te word nie. Dit dra eerder tot die noodsaaklike nugterheid wat ons nuwe ewewig kenmerk by solank ons nie daarin vasdraai en wegsak nie. Daarom moet ons onsself en mekaar bemoedig en versterk, ons moet bevestig dat daar steeds ’n belowende toekoms is vir mense wat dit met dankbaarheid, ootmoed en ywer tegemoetgaan. Dit kan ons eerste fokuspunt vir 2017 wees.
Die tweede fokuspunt is om te besef dat, met inbegrip van ander terreine waarop ons bestaan ondermyn word, ons grootste en oorhoofse uitdaging besig is om ’n staatkundige vorm aan te neem. Dit is nie net politieke verhoudings en magsuitoefening of ekonomiese agteruitgang en wanbestuur wat teen ons gelaai is nie, dit is die aard van die makrostruktuur waaronder ons onsself bevind wat van ons vreemdelinge in die land van ons geboorte maak. Ons moet besef dat Suid-Afrika al vir meer as twee dekades aan ’n doelgerigte transformasieproses onderwerp is, met ander woorde dat Suid-Afrika vandag eenvoudig nie die Suid-Afrika van twintig jaar gelede is of kan wees nie. Ons moet ons nie verbeel dat die horlosie teruggedraai kan word en óns bloudruk op Suid-Afrika afgedruk kan word nie; daarenteen moet ons nie ophou planne maak om ons eie, regmatige plek in die wêreld op te neem nie. Die punt is dat hierdie woorde toenemend besig is om ’n staatkundige strekking te kry.
Die derde fokuspunt is, ironies genoeg, om op etlike sake tegelyk te konsentreer. Daarby word nie bedoel dat ons aandag versplinter moet word of dat ons aan elke ding wat oor ons pad kom dieselfde aandag moet gee nie, die bedoeling is dat Afrikaners gefokus op meer as een terrein tegelyk moet werk, bes moontlik met behulp van verskillende instellings. In die eerste plek moet ons beide ons mense se belange in beskerming neem daar waar hulle is en die volste reg het om te wees. Organisasies soos Solidariteit, Afriforum en Helpende Hand dien as voorbeelde van wat gedoen kan word. Maar tegelyk moet ons doodrealisties konsentrasiestrategieë in werking stel om te verseker dat daar ’n heenkome is vir diegene wie se belange en veiligheid nie meer verseker kan word waar hulle altyd was nie. Daarmee is die Orania Beweging in besonder besig en daarop moet óns klem lê; ons skep ’n heenkome vir mede-Afrikaners wat dit nodig het en vervul ’n roeping vergelykbaar met ons voorsate wat die Groot Trek onderneem het.
In die tweede plek moet ons beide ons selfstandigheid vestig en versterk, én ’n politiek van erkenning beoefen. Die feit dat die staatsdiens en groot maatskappye rassekwotas najaag wat ons jongmense (en oueres!) dikwels benadeel, verplig ons om ander planne te maak en dikwels meer ondernemend na ons geleenthede en vermoëns te kyk. Talle Afrikaners is in werklikheid besig om suksesvol by die nuwe omstandighede aan te pas omdat hulle dit in ’n gees van selfstandigheid aanpak en omdat ons nie vir iemand anders wag om ons probleme op te los nie. Dié gees moet aangemoedig en versterk word, want al is dit in die kleine, verteenwoordig elke persoon en gesin wat groter materiële én geestelike selfstandigheid bereik, ’n bousteen in die herwinning van ons hele volk se vryheidsgebou.
’n Suksesvolle konsentrasie van selfstandige Afrikaners kan egter dink dat hulle ander nie nodig het nie. Dit sal ’n fout wees om selfgenoegsaam te raak oor ons klein suksesse, want dit plaas ’n plafon bo ons toekomstige ontwikkeling en moontlikhede. Daarom moet ons konsentrasiepolitiek met ’n politiek van erkenning gekomplementeer word. Ons wil nie in isolasie bestaan nie, maar opbouende betrekkinge met die mense van Suid-Afrika en Afrika vestig; ons wil die bande met ons stamlande versterk en ons wil handel dryf met almal wat ’n sin vir wedersydse voordeel openbaar. Die hele gedagte is eintlik wonderlik verwoord in die ou Vrystaatse volkslied wat lui: “Beklee ons klein gemenebes, op orde wet en reg geves, rang in die statery!”
Mag 2017 vir elke Afrikaner in die teken staan van ’n nuwe ewewig en selfvertroue, van ’n sin vir ons staatkundige nood en strewe en van konsentrasie, selfstandigheid en erkenning. Ons verwag nie om meteens ons verre bestemming te bereik nie, maar met ons oog op die leidster van vryheid sal ons ook deur die donker nag wat ons tans beleef koers hou oppad na ons bestemming: vryheid.
Met beste wense
Carel Boshoff
President van die Orania Beweging
by Orania Beweging | Jan 9, 2017 | Nuus |
“Libdioot, vêrregse, rassis, fundamentalis, humanis, feminis, seksis, verkrampte, idealis…” Aan hierdie terme word bepaalde betekenisse gekoppel, wat dan ’n bepaalde verstaan of begrip by die aanhoorder oproep. Sulke terme roep by die hoorder egter meer as net ’n enkele begrip op, dit roep ’n gedagtewêreld op, ’n woord wat duisende prentjies in die aanhoorder se gedagtes skep. Om mense te etiketteer is ’n uiters suksesvolle metode om ’n debat te wen. Enige poging om sinvol te debatteer is tot niet as die opponent tydens die gesprek die geleentheid aangryp om die etiket te hang: “Ek glo dat volke, tale en nasies ’n plek in God se skepping het” betoog jy tydens ’n debat oor Afrikaans in skole, die reaksie “Jy is ’n vêrregse rassis”. “Nee ek is nie” maar “Jy sien dit bloot nie raak nie omdat jy verblind is deur jou Witbevoordeling” kap hulle terug. Klaargepraat, debat verby en dit op ’n baie effektiewe metode van eenvoudige etikettering. ’n Tragedie in vandag se samelewing is dat die sinvolle debat nie meer aangegryp word as ’n geleentheid om gedagtes te vorm en die gemeenskap te dien nie. Dit het verword tot ’n gespreksgeleentheid waar die aanval van die persoon die weg tot oorwinning is en geensins die sinvolheid en logika van die argumente nie.
Ek glo dat so ’n metodiek moontlik gefundeerd is die beginsels van afgebakende hanteerbaarheid. Binne die skool van afgebakende hanteerbaarheid is die beste metode om iets te verstaan, die plasing daarvan in kleiner hanteerbare en verstaanbare afskortings is. Dit laat my dink aan die gedagtevlug van “Hoe eet mens ’n olifant?” “Stukkie vir stukkie”. Mens kan egter so fokus op die stukkies dat jy die olifant totaal en al miskyk en, myns insiens, gaan jy dan mettertyd vergeet waarmee jy besig is. Mens sou kon redeneer dat die uitkomste dieselfde sou wees, die olifant word immers geëet, die probleem wat ek met so ’n pragmatiese benadering het, is dat jy die oorspronklike doel vergeet en dit is ope vraag of, indien die olifant uiteindelik opgeëet is, die doel bereik is, aangesien die eter vergeet het waarmee hy besig was. In plaas van om die geheel te probeer sien, fokus jy op die kleine, plaas dit in boksies en hanteer dit dan los van die geheel. Dit is te verstane, omdat sekere idees in sy geheel, haas onbegryplik is vir die aanhoorder wat nie noodwendig die groter geheel kan insien nie, maar die gevolge hiervan maak ons as gemeenskap in geheel armer.
In idees; in teologie, filosofie en politiek wat tog ten diepste ’n gedagteveld van idees is, is die geheel meer as die som van die dele. Ook is dit heel waarskynlik dat ’n persoon wat geëtiketteer word as byvoorbeeld ’n liberale, omdat hy in sy teologie moontlik ’n ander opinie handhaaf oor as voorbeeld die skeppingsverhaal, maar tog in sy politiek glo in afsonderlike ontwikkeling en die bewaring en beskerming van die eie en dus konserwatief is. So kan iemand uiters konserwatief wees as dit by Afrikaans kom, maar moontlik ’n gematigde standpunt oor homoseksualiteit handhaaf. In watter boksie plaas ons so ’n individu as ons debatteer? Oor dr. Verwoerd is daar een keer gesê dat: “Hy was vir die linkses te regs en vir die regses te links”
Die feit is dat mens meermale hierdie etikettering beleef vanuit, en hier gaan ek self ook etiketteer omdat ek ook maar ’n kind van my tyd is, die vêrregse en vêrlinkse groepe, die ekstremiste. Sodra ek iemand as ’n ekstremis afmaak hoef ek niks wat hy sê te weeg nie, want hy is mos klaar in ’n boksie. Dit maak my eie debat en gedagtewêreld armer, want ons het met etikettering en met afgebakende hanteerbaarheid die vermoë verloor om na mense te luister.
Wat ek op ’n lomp manier probeer verduidelik, is dat ek ’n Nuwejaarsvoorneme maak: Dat ek in 2017 al my boksies gaan oopmaak en werklik na die ander opinie, gedagte, ideologie sal luister, eerstens omdat ek glo dat elkeen iets om te sê het, tweedens omdat ek graag wil verstaan, verby al die dele wil kyk en by die geheel uitkom. My strewe is om aan die einde van 2017 terug te kyk en die wêreld beter te verstaan; ek gaan dit doen deur na ander te luister, sonder om hulle bloot maar af te maak as ’n libdioot, vêrregse, fundamentalis of iets dergeliks.