fbpx

boxes_trash “Libdioot, vêrregse, rassis, fundamentalis, humanis, feminis, seksis, verkrampte, idealis…” Aan hierdie terme word bepaalde betekenisse gekoppel, wat dan ’n bepaalde verstaan of begrip by die aanhoorder oproep. Sulke terme roep by die hoorder egter meer as net ’n enkele begrip op, dit roep ’n gedagtewêreld op, ’n woord wat duisende prentjies in die aanhoorder se gedagtes skep. Om mense te etiketteer is ’n uiters suksesvolle metode om ’n debat te wen.  Enige poging om sinvol te debatteer is tot niet as die opponent tydens die gesprek die geleentheid aangryp om die etiket te hang: “Ek glo dat volke, tale en nasies ’n plek in God se skepping het” betoog jy tydens ’n debat oor Afrikaans in skole, die reaksie “Jy is ’n vêrregse rassis”. “Nee ek is nie” maar “Jy sien dit bloot nie raak nie omdat jy verblind is deur jou Witbevoordeling” kap hulle terug. Klaargepraat, debat verby en dit op ’n baie effektiewe metode van eenvoudige etikettering. ’n Tragedie in vandag se samelewing is dat die sinvolle debat nie meer aangegryp word as ’n geleentheid om gedagtes te vorm en die gemeenskap te  dien nie. Dit het verword tot ’n gespreksgeleentheid waar die aanval van die persoon die weg tot oorwinning is en geensins die sinvolheid en logika van die argumente nie.

Ek glo dat so ’n metodiek moontlik gefundeerd is die beginsels van afgebakende hanteerbaarheid.  Binne die skool van afgebakende hanteerbaarheid is die beste metode om iets te verstaan, die plasing daarvan in kleiner hanteerbare en verstaanbare afskortings is. Dit laat my dink aan die gedagtevlug van “Hoe eet mens ’n olifant?” “Stukkie vir stukkie”. Mens kan egter so fokus op die stukkies dat jy die olifant totaal en al miskyk en, myns insiens, gaan jy dan mettertyd vergeet waarmee jy besig is. Mens sou kon redeneer dat die uitkomste dieselfde sou wees, die olifant word immers geëet, die probleem wat ek met so ’n pragmatiese benadering het, is dat jy die oorspronklike doel vergeet en dit is ope vraag of, indien die olifant uiteindelik opgeëet is, die doel bereik is, aangesien die eter vergeet het waarmee hy besig was.  In plaas van om die geheel te probeer sien, fokus jy op die kleine, plaas dit in boksies en hanteer dit dan los van die geheel. Dit is te verstane, omdat sekere idees in sy geheel, haas onbegryplik is vir die aanhoorder wat nie noodwendig die groter geheel kan insien nie, maar die gevolge hiervan maak ons as gemeenskap in geheel armer.

In idees; in teologie, filosofie en  politiek wat tog ten diepste ’n gedagteveld van idees is, is die geheel meer as die som van die dele. Ook is dit heel waarskynlik dat ’n persoon wat geëtiketteer word as byvoorbeeld ’n liberale, omdat hy in sy teologie moontlik ’n ander opinie handhaaf oor as voorbeeld die skeppingsverhaal, maar tog in sy politiek glo in afsonderlike ontwikkeling en die bewaring en beskerming van die eie en dus konserwatief is. So kan iemand uiters konserwatief wees as dit by Afrikaans kom, maar moontlik ’n gematigde standpunt oor homoseksualiteit handhaaf. In watter boksie plaas ons so ’n individu as ons debatteer? Oor dr. Verwoerd is daar een keer gesê dat: “Hy was vir die linkses te regs en vir die regses te links”

Die feit is dat mens meermale hierdie etikettering beleef vanuit, en hier gaan ek self ook etiketteer omdat ek ook maar ’n kind van my tyd is,  die vêrregse en vêrlinkse groepe, die ekstremiste. Sodra ek iemand as ’n ekstremis afmaak hoef ek niks wat hy sê te weeg nie, want hy is mos klaar in ’n boksie. Dit maak my eie debat en gedagtewêreld armer, want ons het met etikettering en met afgebakende hanteerbaarheid die vermoë verloor om na mense te luister.

Wat ek op ’n lomp manier probeer verduidelik, is dat ek ’n Nuwejaarsvoorneme maak: Dat ek in 2017 al my boksies gaan oopmaak en werklik na die ander opinie, gedagte, ideologie sal luister, eerstens omdat ek glo dat elkeen iets om te sê het, tweedens omdat ek graag wil verstaan, verby al die dele wil kyk en by die geheel uitkom. My strewe is om aan die einde van 2017 terug te kyk en die wêreld beter te verstaan; ek gaan dit doen deur na ander te luister, sonder om hulle bloot maar af te maak as ’n libdioot, vêrregse, fundamentalis of iets dergeliks.