Ek het nog nooit vantevore van Orania gehoor tot my lewenspad met een van die inwoners s’n gekruis het tydens my jare op universiteit nie. Sedertdien het ek die dorp al drie maal besoek. En dit is tydens my derde besoek wat ek hierdie stuk skrywe, my Orania storie.

Toe ek vir die eerste maal hierheen gekom het, het ek die wesenlike besluit geneem om sonder enige vooroordele hierheen te kom en myself te verdiep in die dorp, sy kultuur en mense. Dit was nog altyd vir my belangrik om my eie oordeel te fel oor ’n saak; om niemand anders se woord te vat daarvoor nie, maar self te gaan kyk wat die stand van sake is en te besluit.

En wat ek hier gesien het was goed. Hier is mense wat hard werk vir die brood wat hulle verdien. Hier is kinders wat veilig speel en gelukkig groot word onder die Afrika son. Hier is landerye wat so ver strek as wat die oog kan sien. Die mense bewoon en bewerk hierdie land. En ek kan onthou hoe ontsettend groot bewondering ek gekry het vir die generasies wat hier op die onwaarskynlikste plek, in die middel van die dorre, bar grond van hierdie land aan die suidpunt van Afrika ’n bestaan kom maak het, toe ek die storie van Orania gehoor het. Dit het my hart aangegryp.

En die gevoel van gemeenskap wat ek hier beleef het, sou ek nooit kon indink nie. Om in die straat te stap en mense groet mekaar, mense ken mekaar, mense gee om oor mekaar. Hoe sterk kontrasteer dit nie met my agtergrond en my woonbuurt waar mense dikwels nie eers hul bure enigsins ken nie, en eenvoudig nie belang stel of omgee nie; waar elkeen op sy eie voortploeter en alleen probeer ’n bestaan maak.

Hierdie gemeenskap is sterk, nie as gevolg van die feit dat hier noodwendig buitengewone mense woon nie, maar as gevolg van die feit dat hierdie mense saam staan wanneer daar nood in die gemeenskap ontstaan. Wanneer daar ’n produk of ’n diens is wat skort in die gemeenskap, word daar ’n plan beraam om die vaardighede en hulpbronne tot hul beskikking aan te wend sodat hierdie leemte aangespreek kan word. En dit is wat hierdie mense buitengewoon maak, glo ek. Ek is nie ’n deskundige op die veld van wiskunde nie, maar dit blyk dat die produk van die dele groter is as die som van die dele waaruit hierdie ’n gemeenskap bestaan. 

Daar is iets wat my aantrek tot hierdie plek. Ek sal moontlik nooit presies my vinger daarop kan sit nie, maar hier vind ek dikwels vrede. My siel vind rus by hierdie mense wie se hande nooit stil is nie, wat hulle daaglikse brood verdien in die sweet van hul aangesig.

In die afgelope twee weke is ek oorweldig deur die gasvryheid en totale onselfsugtigheid van die inwoners van Orania. Ek is ontvang met ope arms en het só deel geword van die gemeenskap en kultuur van hierdie samelewing dat ek met tye totaal onwaardig en selfs skuldig gevoel het oor die vriendelikheid en omgee waarmee ek oorlaai is.

Die mense hier gee sonder om twee keer te dink en sonder dat die gedagte van vergoeding enigsins deur hul gedagtes gaan. Hulle ontferm hulle oor hul medemens op ’n manier wat ek nie gedink het moontlik is nie en hulle is werklik ’n voorbeeld vir elke ander gemeenskap.

Ten spyte van my jeugdige naïwiteit, weet ek dat geen gemeenskap volmaak is nie, ook nie hierdie gemeenskap nie. Maar die essensie, die kern van hierdie gemeenskap is goedhartig en gemoedelik. Die mense hier gee vir my hoop vir my mense, die Afrikaners van die toekoms. Dostoyevsky, ’n persoonlike gunsteling letterkundige en filosoof sê, “to live without hope is to cease to live.” Oraniërs lééf omdat hulle hier hoop het. Hulle glimlag telkens moedig, onverskrokke wanneer hulle voor skynbaar onoorkombare uitdagings te staan kom. Dit is ’n verskynsel wat selfs met die beste woorde nie omvattend genoeg beskryf kan word nie, dit moet beleef word.

Die asemrowende landskap van die Karoo met sy vlaktes en ooptes dwing ’n mens tot ’n dieper vlak van bewustheid en ’n besef van die nietigheid van jou eie menswees. En ek glo dit dra grootliks by tot die nederige gemoedelikheid van hierdie mense. Dit is genoeg om enige kunstenaar of skrywer te inspireer; enige filosoof aan die dink te sit. Hier kan ’n mens se gedagtes met vrye teuels hardloop en ontwikkel, baie soos die kinders wat in hierdie Karoo-dorp groot word.

Die jongmense in my portuurgroep is dikwels doelbewus apaties. Hulle neem nie standpunt in teenoor die onreg wat hulle rondom hulle sien nie. Hulle verkies om met klappe oor hul oë die lewe binne te gaan, omdat dit die “veiligste” is. Omdat dit die veiligste is om met ’n skaapmentaliteit blindelings die trop te volg: ’n opleiding te kry, aangestel te word by ’n werk, te trou en kinders groot te maak om dieselfde manier van bestaan na te streef. In my binneste skree dit: “Besef hulle nie daar is soveel meer nie?”

Hierdie jongmense is bang om politieke standpunt in te neem, omdat dit van kleins af aan hulle gepropageer word dat hulle moet stil bly, nie te veel vrae vra nie, die regte antwoorde op die enkele vrae wat ontstaan word deel van hul wese. Antwoorde soos: “regstellende aksie en kwotastelsels veroorsaak dat ek nie my droom kan bereik om ’n opleiding te kry en ’n dokter of veearts te word nie,” die immergewilde, “dis die regering/land/president se skuld.” En sit dan agteroor met hul hande gevou want, ”iemand moet iets doen, nie ek nie, maar iemand”. “Jy moet jou opleiding in Engels kry, want jy gaan in elk geval in Engels moet werk eendag,” is ook volop. “As jy nie ’n akademiese opleiding kry nie, is daar geen toekoms vir jou nie. Jy gaan werkloos wees,” en nog meer, “as jou CV wys dat jy enigsins by ’n politieke aksie of beweging betrokke was, sal jy nie aangestel word nie.” Paranoïese idees soos: “Jou werknemer gaan agtergrond  navorsing oor jou doen en sien dat jy aan optogte deelgeneem het op jou kampus. Jy gaan nie aangestel word nie.”

Vrees is ’n ontsettend magtige wapen om ’n volk blind en onderdanig te hou. Dít het die geskiedenis al menigte male bewys. Want eintlik, as daar net een stappie verder gedink word, sal ’n werkgewer wat sy sout werd is, nie omgee oor jou politieke standpunt nie, maar of jy die beste kandidaat vir die pos is. Nog meer, ’n werkgewer wat sy sout werd is, sal iemand aanstel wat standpunt kan in neem en vas staan agter sy beginsels eerder as ’n ruggraatlose lafaard.

 As iemand wat self nog nie die arbeidsmark betree het nie, is dit seker maklik vir my om hierdie afleidings te maak. En om die lede van my portuurgroep te veroordeel, omdat hulle ’n veilige toekoms wil hê, sal sommiges argumenteer, is bloot onregverdig. Die feit bly egter dat niemand al ooit groot veranderinge bewerkstellig het deur langs die braaivleisvuur te staan en kla oor die toestand van die land nie. In die woorde van Polisiekar: “Jy kla oor die toestand van ons land, maar ***** doen iets daaromtrent.”

Hier in Orania doen die mense heelwat daaromtrent. Huise word gebou, tuine word onderhou, daar word skoongemaak en kos gemaak, daar word gewoeker om ’n toekomsvisie te bewaarheid. Die Orania Beweging doen iets daaromtrent. En as dit beteken ek gee my “veilige” toekoms op in hierdie land, in ’n poging om die onreg wat ek elke dag om my sien te probeer reg stel, dan doen ek dit sonder om terug te deins, in egte Orania-styl, onverskrokke en met vasberadenheid.

 

Annemarie Hoogenboezem is ʼn student in Kommunikasiekunde en Joernalistiek aan die Universiteit van Potchefstroom en het in Desember 2016 ʼn 2 weke lange internskap by die Orania Beweging gedoen.