Soms hoor mens vreemde verhale: So ’n ruk gelede lees ek van ’n visserman wat saam met van sy vriende op ’n visvangekspedisie was. Vroeg in die nanag, worstel die vissermanne met die bootjie in die water, omdat die wind ongurig teen hulle vaart begin draai het. Soos hulle worstel gebeur daar egter iets vreemds: Hulle sien ‘n spook. Een van hul vriende, wat op die wal agtergebly het, kom na hulle toe aangestap, sommer so op die water. Hulle het natuurlik eers later besef dat dit hul vriend is, maar so in die stormwind, het hulle eers mekaar lekker bang gepraat met bewerings en teorieë dat dit een of ander spook of gees moet wees. Ek kan my indink soos ek die verhaal volg, paar vissermanne, stormsee en spook oor die water, ek lees dat hulle geskreeu het, ek sou ook.
Die vriend het egter naby genoeg gekom om vir hulle te laat weet dat dit darem nie een of ander bonatuurlike gees of ding is nie, maar net gewoon hy. Natuurlik glo niemand regtig wat hy sê nie en een grootmond, die visserman oor wie ek eintlik gelees het, daag die spook uit, dat as dit regtig hul vriend is, dat hy hom ook op water sal laat loop. Wat ’n vreemde manier om iemand se identiteit te toets? Laat my dan ook op die water loop! En die vriend het blykbaar vol selfvertroue geantwoord dat hy gerus maar kom… die visserman spring van die bootjie af en loop na sy vriend toe.
Die verhaal eindig veel later, met hierdie Vriend wat uit die dood uit opstaan, maar hierdie hoofstuk eindig met die brawe visserman wat om hom rondkyk, besef hy loop op water, besef water kan nie logies of wetenskaplik hom dra nie, besef die golwe is groot; dan sink hy weg tot sy Vriend, nog steeds bo-op die water, sy hand uitsteek en nou sy eie en die visserman se gewig dra, bo-op die water!
U ken hierdie beskrywing van die gebeure tussen Petrus en Jesus goed. Matteus beskryf dit so aangrypend in hoofstuk 14.
Soos ek aan hierdie gebeure dink en my logika en wetenskaplike denke ondersoek, merk ek ’n ernstige konflik tussen my verstaan van die werklikheid en God se mag daaroor. Ek kan slegs doen en verstaan wat ek kan doen en verstaan. My ondervinding het my al telkemale geleer dat mens nie op water kan loop nie, mens kan dalk ski, of op ys loop, maar waar daar golwe is, gaan jy sukkel. Nou bots my geloof oënskynlik met my rasionele denke.
Die punt wat ek egter wil maak, is dat ons verstaan van die werklikheid nie beperk moet word deur wat ons as feite en werklikheid ervaar en kan waarneem nie, maar eerder ontsluit moet word binne die verstaan en geloof van wat God kan vermag: Wat sou Hy kon doen?
Jare gelede lees ek iewers die verhaal “Om te praat met ’n berg”, so lank gelede dat ek eintlik net die titel kan onthou, maar die uitdrukking gryp my aan. Om te praat met ’n berg… om op water te loop…
Matteus skryf twee keer oor so ‘n verskynsel wat nie binne ons denkraamwerk inpas nie. Die voorafgaande gebeure van Petrus wat op die water loop en Mat 21:22
“Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see—sal dit gebeur.”
Hoekom sou geloof sulke dinge kon vermag? Omdat jou werklikheid nie bepaal word deur hierdie tasbare, feitelike, wetenskaplike bestaanswêreld nie, maar deur die potensiële krag van die Almagtige God. Ek wil dit bely, soms maak die Afrikaner se toekoms in hierdie kontinent nie vir my rasioneel sin nie, daar is net te veel dinge wat teen ons tel, net te veel logiese vrae waarop ons geen antwoorde het nie. Maar ek kyk met ’n ander bril na die werklikheid, eintlik is my werklikheid iets anders as die wetenskaplike, koue, feitelike rasionele van die moderne mens. Binne my werklikheid kan met berge gepraat word en hulle kan letterlik rondgeskuif word, letterlik in die see gegooi word, in my werklikheid kan mens letterlik op water loop en letterlik uit die dood uit opstaan en letterlik die ewige lewe kry. My werklikheid is egter ook beperk, beperk dermate ek glo in God se vermoëns en krag. Sonder om geloof goedkoop te maak, wil ek tog die film The Matrix herroep, veral die gebeurlikheid waar Neo besef dat sodra mens die Matrix snap, sien, jy dit kan gebruik om buite die gewone dinge te vermag. Geloof is juis dit, om na die wêreld te kyk, met ‘n ander bril, en te besef dat, alhoewel daar bepaalde reëls en wette is, daar Een is wat hierdie wette en reëls gemaak het, en dus die mag daaroor kan uitoefen. Hoekom kan ‘n berg opgetel en in die see gegooi word? Want God het die berg gemaak en kan daarmee maak soos Hy wil.
Maak Orania sin, ten spyte van al die kragte en magte wat hierop inwerk? Sekerlik… want ek kyk na Orania met die oë van ’n visserman wat bo-op water kan loop en met ‘n geloof wat skielik met ander oë na ‘n berg kyk.