fbpx

Die Orania Beweging se volk-staatbetoog vir 2017

n Ope brief aan Afrikanerbesluitnemers

Geagte mede-Afrikaner,

Dit het nou al gebruiklik geword om vroeg in die nuwejaar ’n Orania-perspektief op die vraagstukke en uitdagings waarvoor Afrikaners te staan kom, te ontvang. Ons stuur dit met vrymoedigheid uit omdat ons reeds weet dat talle Afrikaners die leiding wat van Orania uitgaan, ernstig opneem en ons noem dit ’n “volk-staatbetoog” omdat dit oor die situasie en stand van ons mense gaan en omdat die oorweging daarvan op toepaslike optrede afgestem is. Vanuit Orania wens ons u dus nie net ’n voorspoedige nuwejaar toe nie, ons vra ook na die voorwaardes vir ’n voorspoedige nuwejaar vir ons mense en probeer aandui wat ons elkeen apart en ons almal saam kan doen om aan dié voorwaardes te voldoen.

Selfs al kyk ons met ’n ietwat donker gemoed op die afgelope jaar se politieke en ekonomiese verwikkelinge terug, en selfs al het ons min rede om ’n groot, positewe ommekeer te verwag, kan ons nie anders nie as om met groot dankbaarheid op die geleenthede en die toerusting waarmee ons die geleenthede van ons dag tegemoetgaan, te antwoord. Ons hoef nie moedeloos te wees nie, want die Hoër Hand het vir ons nie net probleme en teenspoed beskik nie, maar ook lewenslus, arbeidskrag en ondernemingsgees. Terwyl ons dus die goeie en die kwade uit sy hand ontvang, is ons nie daardeur stomgeslaan nie, maar ervaar ons dit as roeping en as uitdaging waarvoor ons juis deur Gods genade toegerus word.

 

Agtergrond: 2016

Hoewel ons die afgelope jare op ons volk se “staat” as stand, status en toestand gefokus het, is gebeure besig om die meer verwagse betekenis van die woord staat weer op die voorgrond te stoot. As die politieke verwikkelinge van 2016, maar ook van die voorafgaande agt of tien jaar, uiteindelik in een woord opgesom kan word, is dit in die nuwe en beeldende Afrikaanse woord “staatskaping”. In minder ontwikkelde Afrikastate sou beide die proses én die beskrywing daarvan minder gesofistikeerd gewees het: dit sou eenvoudig as ’n gepoogde of mislukte staatsgreep beskryf word. Dit hou egter ten nouste met mekaar verband, want dit kom in beide gevalle daarop neer dat ’n belangegroep binne die staatselite onder een of ander voorwendsel poog om toegang tot en beheer oor staatsinstrumente te monopoliseer en te behou.

Die klassieke staatsgreep word deur of met behulp van die veiligheidsdienste of ’n deel daarvan uitgevoer en is daarop gemik om drie, en by implikasie vier magsetels te verower, naamlik: (1) die setel van uitvoerende staatsmag, soos die president/presidensie,  (2) die openbare uitsaaier om so wyd as moontlik te kommunikeer, en (3) die staatskas of tesourie om die staatsoorname in werking te stel. Die veronderstelling is dan dat (4) die veiligheidsmagte reeds deel van die nuwe beheer uitmaak, maar dit is dikwels nodig om afvallige onderdele daarvan in lyn met die nuwe magsorde te bring. Staatsgrepe word verbasend dikwels in die naam van demokrasie uitgevoer, meestal teen presidente wat hulle nie by termynverstryking neergelê het nie en sonder voldoende steun aan die mag vasklou.

’n Staatsgreep is egter net moontlik waar die magsorde sodanig gekonsentreerd is dat dit met enkele beslagleggings of plaasvervangings oorgeneem kan word, byvoorbeeld waar ’n president selfstandige amptenare met lojaliste vervang het tot die mate dat daar van ’n sin vir die staat, apart van die mense wat ampte beklee, naastenby niks oorgebly het nie. Patrimoniale of neo-patrimoniale politieke verhoudings, waar elkeen sy heil van die Groot Man bo hom ontvang, baan die weg daarvoor. Mens kan dus aanvoer dat ’n staatsgreep, of selfs net ’n ernstige poging tot ’n staatsgreep, deur suksesvolle staatskaping voorafgegaan moes word om regtig denkbaar te wees. Anders sou daar eenvoudig te veel departementshoofde, regters, ministers en rekenmeesters wees, om van opposisieleiers en burgerlike verteenwoordigers nie eers te praat nie, wat hulle nie aan die selfaangestelde nuwe gesag onderwerp nie.

Teen dié agtergrond is daar niks toevallig aan dat, naas al die lonende posisies wat mense rondom president Zuma ingeneem het, daar veral verlede jaar so ’n felle storm om die koppe van die Minister van Finansies en die bedryfshoof van die SABC losgebars het nie. Nie eers ’n sittende president kan sy staat soos persoonlike eiendom hanteer as hy nie die staatskas en openbare kommunikasie beheer nie. Die begeerte om dit wel te doen, staan natuurlik lynreg in stryd met die gedagte dat die president as regeringshoof eintlik net die hoogste staatsamptenaar is en vervang kan word sonder om die staat as sodanig te affekteer. Daarom tel dit tot Suid-Afrika se krediet dat daar genoeg demokratiese instellings en kultuur was om die gepoogde staatskaping van die afgelope tyd, verlede jaar te ontmasker en (voorlopig) te stuit.

Dit neem egter nie weg dat baie Suid-Afrikaners die afgelope jaar verplig was om oor dinge te dink wat hulle voorheen as ondenkbaar beskou het en selfs nou nog sukkel om te verstaan nie. Hoewel daar baie meer oor 2016 se mislukkings en verliese gesê sou kon word, is die gedagte dat staatskaping ’n moontlikheid geword het en dat dit saamhang met baie van die misstande wat ons mense negatief raak, genoeg om ons opnuut voor die vraag na die Afrikaner se staatkundige bestaan te stel.

 

Vooruitsigte vir 2017

Afrikaners kom uit ’n tradisie waar grond besit kan word en waar grondregte staatlik geadministreer word aangesien die staat histories die reg op lewe en eiendom waarborg. Die voortrekkers het byvoorbeeld vroeg reeds republikeinse owerheidsinstellings opgerig en ’n grondregime ingestel om ordelike vestiging te verseker. Daarin het hulle voortgang gegee aan gebruike wat in die Kaapkolonie aan die orde was, naamlik dat grond nie kommunaal nie, maar privaat besit is en gekoop, verkoop en vererf kan word. Nie dat grond toe al die kommoditeitswaarde gehad het wat dit nou het nie, inteendeel, die eksistensiële waarde wat grond in ’n bestaansekonomie gehad het, het die eiendomsverbintenis dalk selfs versterk.

Intussen het die president van Suid-Afrika, ’n land waarvan die meerderheid inwoners aan kollektiewe eerder as individuele grondbesit glo, dit sy nuwejaarsvoorneme gemaak om die herverdeling van grond ten koste van wit en ten gunste van swart inwoners te versnel. Daarvoor beroep hy hom op nuwe onteieningswetgewing en op die Suid-Afrikaanse grondwet, maar ten diepste natuurlik op die populistiese sentimente van die deel van die bevolking wat aan armoede en wanhoop uitgelewer is. Nie dat dit ’n nuwe onderwerp is nie, grondbesit is ten minste sedert die Volkskongres van Kliptown in 1955, toe die Freedom Charter bekendgestel is, ’n punt op die ANC se politieke sakelys. Baie Afrikaners is egter nog geneig om te dink dat die staatlike grondregime waarmee hulle nog altyd bekend is, ’n neutraal rasionele gegewe is wat teen die meerderheid se irrasionele en afwykende sienings daarvan sal standhou. Dit kan hulle suur bekom.

In soverre as wat Suid-Afrika ’n demokratiese regstaat is, word goeie regsprosedure insake iets soos grondbesit of onteiening gewaarborg. Die feit dat staatskaping onlangs ontmasker en gestuit is, spreek natuurlik boekdele en het baie mense se geloof in die regstaat herbevestig. Dit neem egter nie weg dat selfs ’n werkende liberale demokrasie uiteindelik aan die meerderheid se belang voorkeur gee nie en dat Afrikaners tot ’n ongeliefde minderheid behoort nie. Of onteiening uitendelik met rowwe werkershande of met fluweelhandskoene gedoen word, maak eintlik nie so ’n groot verskil nie; die vraag is of die staat waarin ons ons bevind ons reg op grond en eiendom beskerm of bedreig. Bygesê dat, sodra die oortuiging posgevat het dat die regering traag is om eiendomsreg te verseker, dit selfs prosedureel korrek sal ondermyn, dit dikwels onnodig is om grond te onteien omdat baie eienaars eerder poog om verliese te bekamp en te onttrek as om die onafwendbare te weerstaan.

Die punt is dat ons ons in ’n beskawingskonflik bevind waarin elke kant op ’n intuïtiewe manier oortuig is van sy meriete en alles in sy vermoë sal doen om sy belang te bevorder. Afrikaners beskik egter, anders as tevore, nie oor enige staatsmag nie en is aangewese op so veel of min “gesonde verstand” as wat daar nog in die toepaslike dele van die staatsadministrasie oor is. Aan die ander kant beroep die nuwe elite hom ondubbelsinnig op die Freedom Charter en die gedagte dat die grond moet behoort aan wie dit bewerk – ’n gedagte met genoeg ooglopende appèl om nie sonder meer veroordeel te word nie.

Saam met ander transformasiestrategieë soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging plaas dit natuurlik enorme spanning op onderlinge verhoudings – spanning wat deur sommige aangeblaas word ter bevordering van hulle eie politieke denkbeelde en ondersteuning. Ons het voorheen daarna verwys dat linkse ekstremiste soos die EFF die ANC aan die ekstremisme in sy eie mondering sal herinner en ons kan verwag dat populiste uit die twee partye mekaar nog sal oorbie in hulle pogings om die kieserspubliek na die mond te praat. Die belange van ’n voorheen dominante minderheid word maklik in dié proses opgeoffer. Die beste beskrywing daarvan is dat die speelveld na links verskuif en dat gevestigde belange toenemend bedreig word.

Bes moontlik gebeur daar nie in 2017 ’n enkele aardskuddende ding nie – behalwe dalk dat die president vervang word, maar selfs dit sal die Afrikaner se situasie nie wesenlik verander nie. Daarvoor is die onderliggende kragte te sterk op die belange van die armoedige massa en hulle (nie so armoedige) verteenwoordigers afgestem. Maar selfs al aanskou ons steeds nie ’n kataklisme nie, moet ons teen ’n valse gerustheid waak. Afrikaners se posisie gaan heeltyd agteruit en ons vermoë om strategieë wat ons selfstandigheid bevorder, in werking te stel, word in die proses ondermyn. Ons moet dus nie die fout maak om die tyd wat ons gegun word onder te benut nie, ons hoef seker nie altyd weer terug te kyk op geleenthede wat verspeel is net omdat ons die krisis waarin ons was gering geskat het nie!

 

Strategiese fokus vir 2017

Daar is vandag tekens van, en waarnemers verwys daarna dat Afrikaners besig is om hulle ewewig te herwin. Daarby word bedoel dat ons mense weer selfvertroue openbaar en die gedagte dat ons met ’n ondraaglike skuldlas gestraf is, van ons afskuif. Ons verlede is nie sonder foute nie, maar dit is ook nie net ’n reeks misdade nie en talle Afrikaners is besig om hulle geskiedenis opnuut en op ’n gebalanseerde wyse toe te eien. Dit lê die grondslag vir ’n nugtere beoordeling van die hede en van wyses waarop ons vandag weer vir ons eie, billike belang kan intree – nie ten koste van ander nie, maar ook nie ten koste van onsself nie.

Bygesê dat almal dit ook nie terselfdertyd dieselfde sien nie; waar sommige al tekens van nuwe lewe sien, kom ander nou eers onder die besef van hoe magteloos en versplinterd ons volk nog is. Aangesien dié besef egter ’n voorwaarde vir die nuwe lewenskrag is wat inderdaad plek-plek onder ons mense geopenbaar word, hoef sulke negatiwiteit nie sonder meer veroordeel te word nie. Dit dra eerder tot die noodsaaklike nugterheid wat ons nuwe ewewig kenmerk by solank ons nie daarin vasdraai en wegsak nie. Daarom moet ons onsself en mekaar bemoedig en versterk, ons moet bevestig dat daar steeds ’n belowende toekoms is vir mense wat dit met dankbaarheid, ootmoed en ywer tegemoetgaan. Dit kan ons eerste fokuspunt vir 2017 wees.

Die tweede fokuspunt is om te besef dat, met inbegrip van ander terreine waarop ons bestaan ondermyn word, ons grootste en oorhoofse uitdaging besig is om ’n staatkundige vorm aan te neem. Dit is nie net politieke verhoudings en magsuitoefening  of ekonomiese agteruitgang en wanbestuur wat teen ons gelaai is nie, dit is die aard van die makrostruktuur waaronder ons onsself bevind wat van ons vreemdelinge in die land van ons geboorte maak. Ons moet besef dat Suid-Afrika al vir meer as twee dekades aan ’n doelgerigte transformasieproses onderwerp is, met ander woorde dat Suid-Afrika vandag eenvoudig nie die Suid-Afrika van twintig jaar gelede is of kan wees nie. Ons moet ons nie verbeel dat die horlosie teruggedraai kan word en óns bloudruk op Suid-Afrika afgedruk kan word nie; daarenteen moet ons nie ophou planne maak om ons eie, regmatige plek in die wêreld op te neem nie. Die punt is dat hierdie woorde toenemend besig is om ’n staatkundige strekking te kry.

Die derde fokuspunt is, ironies genoeg, om op etlike sake tegelyk te konsentreer. Daarby word nie bedoel dat ons aandag versplinter moet word of dat ons aan elke ding wat oor ons pad kom dieselfde aandag moet gee nie, die bedoeling is dat Afrikaners gefokus op meer as een terrein tegelyk moet werk, bes moontlik met behulp van verskillende instellings. In die eerste plek moet ons beide ons mense se belange in beskerming neem daar waar hulle is en die volste reg het om te wees. Organisasies soos Solidariteit, Afriforum en Helpende Hand dien as voorbeelde van wat gedoen kan word. Maar tegelyk moet ons doodrealisties konsentrasiestrategieë in werking stel om te verseker dat daar ’n heenkome is vir diegene wie se belange en veiligheid nie meer verseker kan word waar hulle altyd was nie. Daarmee is die Orania Beweging in besonder besig en daarop moet óns klem lê; ons skep ’n heenkome vir mede-Afrikaners wat dit nodig het en vervul ’n roeping vergelykbaar met ons voorsate wat die Groot Trek onderneem het.

In die tweede plek moet ons beide ons selfstandigheid vestig en versterk, én ’n politiek van erkenning beoefen. Die feit dat die staatsdiens en groot maatskappye rassekwotas najaag wat ons jongmense (en oueres!) dikwels benadeel, verplig ons om ander planne te maak en dikwels meer ondernemend na ons geleenthede en vermoëns te kyk. Talle Afrikaners is in werklikheid besig om suksesvol by die nuwe omstandighede aan te pas omdat hulle dit in ’n gees van selfstandigheid aanpak en omdat ons nie vir iemand anders wag om ons probleme op te los nie. Dié gees moet aangemoedig en versterk word, want al is dit in die kleine, verteenwoordig elke persoon en gesin wat groter materiële én geestelike selfstandigheid bereik, ’n bousteen in die herwinning van ons hele volk se vryheidsgebou.

’n Suksesvolle konsentrasie van selfstandige Afrikaners kan egter dink dat hulle ander nie nodig het nie. Dit sal ’n fout wees om selfgenoegsaam te raak oor ons klein suksesse, want dit plaas ’n plafon bo ons toekomstige ontwikkeling en moontlikhede. Daarom moet ons konsentrasiepolitiek met ’n politiek van erkenning gekomplementeer word. Ons wil nie in isolasie bestaan nie, maar opbouende betrekkinge met die mense van Suid-Afrika en Afrika vestig; ons wil die bande met ons stamlande versterk en ons wil handel dryf met almal wat ’n sin vir wedersydse voordeel openbaar. Die hele gedagte is eintlik wonderlik verwoord in die ou Vrystaatse volkslied wat lui: “Beklee ons klein gemenebes, op orde wet en reg geves, rang in die statery!”

Mag 2017 vir elke Afrikaner in die teken staan van ’n nuwe ewewig en selfvertroue, van ’n sin vir ons staatkundige nood en strewe en van konsentrasie, selfstandigheid en erkenning. Ons verwag nie om meteens ons verre bestemming te bereik nie, maar met ons oog op die leidster van vryheid sal ons ook deur die donker nag wat ons tans beleef koers hou oppad na ons bestemming: vryheid.

 

Met beste wense

 

Carel Boshoff

President van die Orania Beweging