Hoekom ek tuis voel in Orania

Dit is reeds amper ʼn jaar dat ek Orania my tuiste gemaak het. Onvoorsiene verwikkelinge het ons gebring na ons huidige tuisdorp. Met ʼn negatiewe uitkyk op die heel onskuldige dorpie het ek met ʼn baie kritieke oog alles gade geslaan. Baie gou het blomme gepryk waar ek dorings en distels verwag het. Die vriendelikheid van jonk en oud is prysenswaardig. Ryk en arm leef in ʼn harmonie ongeëwenaard in die res van Suid-Afrika. My oordeel oor Orania het stadig maar seker verander. Reg langs my het ʼn bejaarde man, oom Okkie, nie een oomblik laat verby gaan om te groet en te vra hoe dit gaan nie. So het ek die res van my bure baie vinnig leer ken, en op dieselfde manier is ons verwelkom deur ander inwoners. Baie vinnig het ons baie meer kuiergaste gehad as wat ek ooit in my vier-en-dertig jaar in Groblersdal gehad het. Wanneer ek vroeg gaan wasgoed ophang, weerklink die “More” groet uit verskillende rigtings, soveel so dat die dagbreek ʼn vreugde in jou hart laat ontstaan.

Aand vir aand staan ek verstom en kyk na die sterreprag waarvan ek so baie gehoor het. ‘Jy sal aan die sterre kan vat in die Karoo’ is die woorde van vele akteurs en sangers. As oud-Transvaler was my reaksie altyd: “Waarom sou dit nou eintlik beter lyk in die Karoo as in die Transvaal?” Groot was my verbasing daardie eerste aand, toe die sterreprag my mond laat oophang het. Dit is onbeskryflik, dit voel werklik of jy jou hand kan uitsteek, en as jy net vergenoeg kon reik, jy ʼn pragtige skitterende diamant in jou hand kan hou.

Soveel aande wanneer ek radio toe stap, vra mense my: “Waarom loop jy?” Waarop my woorde onomwonde dieselfde bly met elke vraag: “Het jy al die dassiepad gestap en het jy al in die aand huis toe gestap en die almag van Onse Hemelse Vader beskou: Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande? Het jy al op ʼn sterrenag buite gestaan en jouself gevang ophou asemhaal, asof die grootsheid saam met die verskriklike stilte jou tot jou knieë wil dwing?”

Die natuurlike gelag van kinders tot laat in die aand wanneer hulle hulleself in die strate van hierdie veilige heenkome bevind. Nêrens in die res van Suid- Afrika kan ek ʼn dorp oproep waar kinders se klokhelder stemmetjies jou begroet wanneer jy straat af wandel nadat die son sy kop gaan neergelê het nie. In ander dorpe staan kinders agter diefwering en veiligheidshekke verskans om hul veiligheid te verseker. Die verlangende ogies kyk na die grasperk wat so aanloklik lyk, waar jy kan rol, tuimel, wegkruipertjie speel en soveel meer, maar helaas die waagstuk is net te groot, die ondier wat moord, verwarring, verkragting en jou grootste vrese kan bewaarheid, skuil in die donker skaduwees van ons erwe. ʼn Kruising tussen die wreedheid van die hiëna, die slinksheid van die jakkals en die moordende doelgerigtheid van ʼn hondsdol hond, lê en loer na hulle vir ʼn maklike prooi. Wreed en onwerklik het dit geword, daarom klink dit ook onmoontlik dat daar êrens ʼn veilige hawe vir ʼn mens kan wees, ʼn plekkie waar jy rustig in die aand jou kop op die kussing kan sit, sonder dat dit nodig is om jouself in ʼn tronk toe te sluit en jy nie nodig het om die beste alarmstelsel aan te skakel nie.

Daar is arm en ryk mense in Orania en telkemale word die swaard bokant die dorpie se kop gehou van die misbruik van sogenaamde goedkoop blanke arbeid. Daar is wel diegene wat uit Orania gaan en met ʼn suur-druiwe-houding ʼn swak beeld van oorwerkte verarmde blankes verkondig. Dit is allermins die geval. Dit is wel waar dat blankes die werk doen wat aan swart werkers in die res van Afrika gegee word om te doen, en daarom het my respek vir sulkes die hoogte in geskiet. Hulle buig elke dag in ʼn ongenadige warm son en soms moet dinge teen ʼn onheilspellende tempo plaasvind om by vooruitgang te hou. Die pragstuk van Orania is dat ʼn minimumloon vasgestel is, hoër as wat in die res van Suid- Afrika geld. Bekostigbare hoë gehalte behuising word verskaf aan ʼn moeë liggaam na ʼn harde dag se werk. Elkeen steek sy hand uit en bou aan ons groeiende dorpie waarvan nie net die estetika jou verstom, maar wat ook ʼn veilige hawe vir ons kinders en kleinkinders wil wees.

Dit is wel waar dat die kruipende onheil altyd êrens sy kop wil uitsteek, maar met ʼn sterk veiligheidstelsel in plek en ʼn samewerkende gemeenskap, word ʼn unieke samelewing van liefde en trou geskep. ʼn Negatiewe benadering tot Orania is gewortel in absolute onkunde of haatspraak wat Malema soos ʼn lammetjie laat lyk. Met my meer as vyftig jaar ondervinding kan ek met oortuiging sê: Dit is onmoontlik om mense tevrede te stel wat nie tevrede wil wees nie of wat met ‘n absolute negatiewe uitkyk dag na dag leef.

Die diep Christelik gewortelde waardes waar na gestreef en wat in Orania beoefen word, is ʼn riem onder die hart van enige regdenkende ouer met betrekking tot die veilige opvoeding van sy en haar kroos. Met soveel liefde beur ouers voort om die gesin aanmekaar te hou, maar die verswakte waardes, verkrampte toepassing van wetgewing en algemene verslapping van godsdiens gedrewenheid, bring ʼn onnatuurlike skudding in die opvoeding van jou geliefdes mee. Die aanloklikheid van ʼn valse lewe word elke dag voor ons kinders se deure gelê, en maak nie saak hoe goed die opvoeding nie, daar bestaan altyd die moontlikheid van ʼn oomblik waar die een waarvoor jy so lief is, van balans gebring word en dan begin die ewige nagmerrie om uit die wrede kloue van hierdie ongenaakbare magte los te kom. Is Orania vry van sulke gevalle? Geen plek waar satan sy voetspore laat, kan vry wees nie, ons bly nog deel van die wêreld, maar omdat hier op ʼn streng Christelike fondasie gebou word, is dit makliker om sodanige probleme aan te spreek in raad en daad.

Kom ontmoet die plek waaroor vele bekendes hulle monde uitspoel. Die verbasing is op almal se gesigte wat met ʼn oop gemoed die doen en late van hierdie klein gemeenskappie kom bekyk en ondersoek. ʼn Onbekende besoeker van ʼn paar maande gelede het met verbasing gevra hoe die dorp dit dan regkry dat kinders onbekende groot mense vriendelik groet. Daar is twee gebooie wat God baie naby aan die hart lê: “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Mat 22:37-39). 

Daarom is hierdie woorde van Christus die hoeksteen van ons bestaan!

Trooskos

TrooskosKersfees ete. Ek maak ‘n waarskynlik onwetenskaplike steekproef, siende ek self deel van die eksperiment is, sommerso tussen kennisse en by die kantoor. “Hoe lyk julle Kersete?” Ek verwag ’n legio antwoorde, ek sien in my geestesoog ’n wye verskeidenheid eksotiese temas, ek sien kalkoen en bloubessies, die realiteit troos my egter veel meer. “Koue gerookte varkboud of gammon soos my ouma dit noem, skaapboud in fyn repies gesny, meestal bietjie te droog gestoompot, aartappelslaai met uie, eier en liters mayonnaise, vrugtepons, gestolde wortelslaai, gestolde komkommerslaai, koue hoenderboudjies, frikkadelle, fillet of snoek op die kole …” ek sien ’n tendens en raak ietwat nostalgies. Ek blaai deur ’n argief  Nataniël resepte in my kas, heerlik, maar ietwat vreemd. Vandag is ek lus vir biltong, geelvet, lippebrandsout biltong, ek is lus vir biltong en my ma se warm boerbeskuit, so warm uit die oond, so voor dit gedroog is en soos sagte soet brood in my koffie agterbly. Ek dink aan die Anglo-Boereoorlog en hoe beskuit en biltong die krygers aan die lewe gehou het. Droë beskuit, droëvleis… noodvoorraad. Ek stel myself voor hoe die kommando in die koue winter om ’n vuurtjie sit en stukke biltong kerf, noodkos. Biltong en beskuit het ons bewaar teen die Engelse, biltong en beskuit word geneties in ons Afrikaner deoksiribonukleïensuur (DNS) ingeprogrammeer, biltong en beskuit hou ons aan die lewe, tot die bittereinde toe. Ons oorleef as gevolg van biltong en beskuit, ons stry voort omdat biltong en beskuit en twak ons aan die gang hou. Ek kerf biltong soos die bokke stert tussen die bene afstap, bittereinder, noodkos, trooskos. Ek gooi ’n stuk boerewors op die rooster, roer die poetoepap in die swartpot dat dit aan die houtlepel kleef, die stoom my hande onvou. Lekker, ek ruik die botter en mielies, ek voel getroos, voel weer mens, voel in die eenvoud van die pap en wors iets egs, iets  Afrikaner.

Kultuur is ’n dinamiese lewenskragtige ding. Dit verander, miskien is verander nie die regte woord nie, want verandering hou die element van andersheid in, dit verander nie, kultuur groei. Orania is ’n kultuurgemeenskap en binne Orania groei die kultuur, dit groei en word groot en kry vorm, dit groei uit die saad wat in 1652 hier geplant is, dit groei uit die saad wat ’n doringboompie langs die pad laat groei het oor wie Totius skryf.

Kultuur is egter nie iets vaag-filosofies nie, maar die tasbare, waarneembare leefstyl van ’n volk, letterlik die manier wat hulle dinge doen. Kultuur is langarm-sokkies en rugbytruie en “hy lyk vir my so baie soos tant Koek se hoenderhaan…” op troues; ook boeremusiek en kerkkoor, basaarpoeding en uitgerekte Psalm 100. Kultuur is dit wat ons definieer en dit is diepgewortel in ons erfenis, maar is ook iets wat groei, groter word en ook deur seisoene gaan.  Kultuur is egter begrond in wat ons eet, in ons trooskos, in koeksisters wat die volk uit die depressie laat opstaan het, in pap en wors wat my uit my depressie laat opstaan en mes en vurk opneem om voort te stry. Troos. Kultuur troos mens, dit troos jou soos ’n ma wat jou sus sê: “toemaar, jy is nou by die huis. Toemaar, jy is nou veilig.”

Ek kyk na die geelvet en speserye op die droëvleis en ek sny ‘n stukkie, ek eet ’n heilhappie op De Wet en De la Rey en op Jopie…ek lek my soutbrandlippe en word getroos aan my volk se bors: “Toemaar Pieter, jy is nou by die huis.”

Linkse onverdraagsaamheid en die opkoms van die nuwe verkramptes

(Hierdie artikel het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn)

Onverdraagsaamheid

Die Amerikaanse president, Donald Trump, se inhuldigingstoespraak moes Vrydagaand kompeteer vir mediadekking met `n paar betogers wat die polisie uitgetart het terwyl hulle plakkate met anti-Trump slagspreuke rondswaai. Die polisiemagte het die situasie professioneel ontlont en Trump se presidensiële konvooi kon deur die strate van Washington DC beweeg. Die volgende dag was daar egter weer protesoptogte waaraan duisende vroue regoor Amerika aan deelgeneem het. Weereens was die rede vir hulle ongelukkigheid Donald Trump.

Sedert sy verkiesing het verskeie bekendes hulle ongelukkigheid oor hierdie verwikkeling uitgespreek. Die sangeres Miley Cyrus het haar emosionele ineenstorting op kamera vasgelê en dit op YouTube geplaas, Meryl Streep het `n toespraakgeleentheid by die Golden Globes misbruik om Trump te kritiseer en Madonna het gedreig om die Withuis op te blaas. Natuurlik bestaan daar iets soos vryheid van spraak en natuurlik is dit heeltemal aanvaarbaar om deur middel van protesaksies te wys hoe ongelukkig jy met `n bepaalde gebeurtenis is. Dit is egter onbillik om `n presidensiële termyn te veroordeel nog voor die president by die withuis ingestap het.

Die kritiek op Trump se verkiesing en die onverdraagsaamheid wat daarmee gepaard gaan is `n toenemende verskynsel onder diegene wat hulself links in die politieke spektrum posisioneer. Daar is woede as `n demokratiese verkiesing lei tot `n president waarmee hulle nie tevrede is nie, daar is woede as `n konserwatiewe meningsvormer genooi word om `n universiteit toe te spreek of daar is woede as `n winkelsentrum besluit dat badkamers slegs vir twee geslagte voorsiening maak – mans en vroue.

Die verskynsel van die tipe onverdraagsaamheid is egter nie tot Amerika beperk nie. In Suid-Afrika kom dit voor as jy nie inskakel by wat as die politieke norm gesien word nie. Een van die kenmerke van linkse onverdraagsaamheid is `n absolute weiering om ander se standpunte in te sien of selfs ruimte te laat vir oortuiging. `n Goeie voorbeeld hiervan is die sangeres wat verby Orania ry en nie die moeite doen om uit te vind hoe die gemeenskap funksioneer en waaroor dit gaan nie. Sy stop slegs om `n foto voor die bord wat aandui dat jy nou in Orania is te neem met haar twee middelvingers in die lug. Geen ruimte vir debatvoering nie en geen bereidwilligheid om ander se standpunte aan te hoor nie.

In 1966 spreek die voormalige koerantredakteur en akademikus, dr Willem de Klerk `n SABRA-jeugkongres toe waar hy van die terme verlig en verkramp gebruik maak. Die verkramptes is diegene wat onverdraagsaam is teenoor verandering, ander se standpunte en enige gebeure of uitlatings wat nie versoenbaar is met hulle eie baie beperkte manier van dinge sien nie. Dit sal interessant wees om te sien na wie dr De Klerk vyftig jaar later as die verkramptes verwys.

Wat is die vereiste om tot ʼn volk te behoort?

In tye waar migrasiestrome meer as ooit oor lande spoel en blootstelling aan ander volke, tale en kulture alledags geword het, raak die vraag wie tot ʼn land of volk behoort oftewel deel daarvan kan wees, en wie nie, al hoe belangriker. Alle lande het in mindere of meerdere mate mense uit ander lande en kulture oor tyd geïntegreer, maar selde het immigrante in sulke groot getalle en uit kultureel en etnies heeltemal verskillende samelewings lande oorstroom soos in die laaste tyd. Die konsensus dat immigrasie meesal voordelig is vir die land van bestemming, word ook toenemend bevraagteken.

Die PEW Navorsingsentrum in die VSA het ʼn uitgebreide studie oor die kwessie wie tot ʼn land en volk behoort gedoen, onder die titel ‘What it takes to be truly one of us”. Verskeie uiteenlopende lande is ondersoek en inwoners oor die belangrikheid van verskeie kenmerke van “behoort”, soos taal, godsdiens, geboorteplek en nasionale gewoontes en gebruike ondervra. Die lande wat ondersoek is, is 10 Europese lande wat histories as “volkstate” ontstaan het (Brittanje, Frankryk, Duitsland, Swede, Hongarye, Griekeland, Spanje, Italië, Pole, Nederland), waarvan talle intussen behoorlik multi-Taal, kultuurkultureel geword het, 3 “Nuwe Wêreldlande” wat deur immigrasie ontstaan het (VSA, Kanada, Australië) en een Asiatiese “volkstaat” (Japan) wat min immigrasie beleef.

Taal is volgens die ondersoek die belangrikste kenmerk om tot ʼn land te behoort. In alle lande voel ʼn groot meerderheid so, waarby veral in Nederland (84%), Hongarye (81%) en Brittanje (81%) mense baie sterk voel daaroor, terwyl mense in Spanje (62%), Kanada (59%) en Italië (59%) relatief minder sterk voel oor die gebruik van die landstaal as vereiste om werklik te behoort. As egter diegene wat nog redelik sterk oor taal voel bygereken word, is dit in alle lande meer as 90% wat baie sterk of redelik sterk daaroor voel, slegs tussen 1% en 7% in die onderskeie lande ag taal as minder belangrik of onbelangrik as kenmerk deel wees.

Nasionale gewoontes, tradisies en gebruike, met ander woorde dit wat algemeen as kultuur beskryf word, as kenmerk van behoort verskil redelik wyd tussen die onderskeie lande. Hongare (68%) en Grieke (66%), al twee etnies redelik homogene lande, en in ʼn mate ook Pole (56%), voel baie sterk daaroor, maar selfs in lande wat gewoond is aan immigrasie, soos Kanada, Brittanje, Australië, Frankryk en die VSA is dit nog om en by 50% wat sterk daaroor voel. Nasionale kultuur speel ʼn ondergeskikte rol as kenmerk van behoort in lande met ʼn liberale uitkyk en ʼn onderontwikkelde patriotisme, soos Nederland (37%, Duitsland (29%) en Swede (26%). As diegene wat kultuur as effens belangrik beskou bygetel word, gaan die syfer vir bykans alle lande op na tussen 80% en 90%. Slegs in Duitsland en Swede is daar ʼn aansienlike hoeveelheid wat nasionale kultuur as min of glad nie belangrik ag nie (26% en 37%, onderskeidelik). Dit is ook nie toevallig dat dit juis die twee lande was wat hulle poorte oopgegooi het vir vlugtelinge uit die Midde-Ooste nie.

Om in die spesifieke land gebore te word, is vir 32% van alle ondersoekte lande se respondente baie belangrik. Ook hier is dit Hongare en Grieke, asook Japannese vir wie dit baie belangrik is om in die land gebore te wees om te behoort (52%, 50% en 50%). Vir meer as, of rofweg ʼn derde (tussen 42% en 32%) in Pole, Italië, Spanje, Groot-Brittanje en die VSA is dit baie belangrik om in die land gebore te wees, terwyl dit vir Kanadese, Nederlanders, Australiërs, Duitsers en Swede (tussen 21% en 8% wat sterk voel daaroor) ʼn ondergeskikte rol speel om in die land gebore te wees.

Godsdiens as kenmerk van behoort speel in meeste lande ʼn ondergeskikte rol, alhoewel daar duidelike verskille is. 54% van Grieke asook om en by ʼn derde (tussen 32% en 29%) in Pole, VSA, Italië en Hongarye voel dat om ʼn Christen te wees baie belangrik is om werklik tot die land te behoort. In meeste ander lande speel godsdiens egter ʼn ondergeskikte rol as merker om te behoort (minder as 20%), terwyl dit besonder laag is (10% of minder) in Frankryk, Nederland, Spanje en Swede. Frankryk (oorwegend katoliek), Nederland en Swede (tradisioneel protestants) is al vir geslagte lank sterk sekulêr, maar in Spanje, wat tradisioneel sterk katoliek was, het ʼn opvallende sekularisasie in die laaste om en by 20 jaar plaasgevind.

In alle lande is taal en kultuur die belangrikste kenmerke om te behoort, terwyl om daar gebore te wees en om ʼn Christen te wees (die vraag is nie in Japan gevra nie, alle ander lande is tradisioneel Christelik) as minder belangrik geag word. Net in Japan ag ʼn oorgrootte meerderheid (77%) dit as baie of effens belangrik om in Japan gebore te wees om ʼn Japannees te wees. Dit is omdat Japan baie min immigrante het en omdat daar ook relatief min Japannese buite Japan woon.

In alle kategorieë is dit die ouer mense van elke land wat sterker oor elke kategorie voel en, soos verwag kan word, ook aanhangers van behoudende en nasionalistiese partye, en mense wat godsdienstig is.

Die vraag oor wie behoort en wie nie behoort nie, word natuurlik ook in en vir Orania gevra. Geen ondersoek is oor die kwessie gedoen nie, maar hier is my waarneming:

Taal speel ʼn baie belangrike rol en nie-Afrikaanssprekendes is die absolute minderheid. Van hulle word verwag om Afrikaans in die openbaar te praat. Afrikaans alleen is egter nie genoeg nie, kultuur en godsdiens speel net so ʼn belangrike rol, en om tot die gemeenskap van Orania te behoort moet jy (my waarneming, ander mag verskil) Afrikaans praat (selfs al is dit nie noodwendig iemand se moedertaal nie), die Afrikanerkultuur uitleef en ʼn Christen wees (dit is, God Drie-Enig soos geopenbaar in die Bybel bely). Die vereiste om in Orania gebore te wees geld uit die aard van die saak nie in ʼn gemeenskap wat ontstaan het uit Afrikaners wat van elders in die land gekom het nie. Dis so vêr net jongmense wat in Orania gebore is. Ons kan egter nou reeds waarneem dat kinders wat in Orania gebore is, hier opgegroei het en die Orania -idee as ‘t ware met die moedersmelk ingedrink het, beter aangepas is as diegene wat in die res van Suid-Afrika opgegroei het.

Beter ʼn aktiewe minderheid as ʼn swyende meerderheid

Die meerderheid regeer en bepaal alles, so word dikwels gesê. Van meet af is die uitspraak bedoel om ons as klein minderheid moedeloos te maak, maak nie saak of die uitspraak vanaf die kant van die meerderheid, of uit ons eie geledere kom nie.

In der waarheid is die meerderheid egter ook divers en dikwels onaktief. Dit is nie die meerderheid wat regeer of die opinies bepaal nie, dit is ʼn self-aangestelde elite wat namens die meerderheid praat, of voorgee om te praat, maar wat self ook ʼn klein minderheid is.

In Westerse, dikwels etnies meer homogene lande as wat dit die geval is met Suid-Afrika, word daar dikwels gepraat van die “swyende meerderheid” wat dikwels nie saamstem met besluite van die elite nie, maar wat te ongeorganiseerd of te traag is om iets daarteen te doen.

In Suid-Afrika is die versinnebeelding van die swyende meerderheid onder Afrikaners diegene wat hulle stem dik maak by die braaivleisvure tussen hulle familie en vriende, maar wat nie die moed van hulle oortuiging het om enigiets verder te doen nie. Hulle is nie betrokke by ʼn party of organisasie nie, hulle stem dikwels nie eers nie en nog minder oorweeg Orania as ʼn alternatief.

In meeste moderne Westerse lande (en Suid-Afrika as ʼn mengsel tussen Weste en Afrika en as gemoderniseerde samelewing kan hierby ingesluit word) het die elite ʼn linkse agenda en bestaan uit ʼn gedugte, informele groep van sekere politici, mediamense, kunstenaars en akteurs en ander persone wat die verhoog beset en wie se stem orals gehoor word deur die swyende meerderheid. Hulle druk hulle agenda op die samelewing af, ongeag of die swyende meerderheid dit wil hê of nie. ʼn Voorbeeld daarvan is die sterk propaganda vir die gay-huwelik, wat waarskynlik deur die swyende meerderheid afgekeur word, maar wat nie die moed het om daarteen op te staan nie en wat onder die persepsie ly dat hulle dalk ʼn klein minderheid is en daarom moet stilbly.

Dat goed georganiseerde en bedrewe minderhede ʼn samelewing volgens hulle wil kan vorm, ken ons ook uit die ou Suid-Afrika, waar die Afrikaner Broederbond sy behoudende agenda kon bevorder, al was hulle getalle hoogstens enkele duisend. Aan die ander kant van die spektrum was die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party in getalle weglaatbaar en het om goeie redes nooit aan ʼn verkiesing deelgeneem nie, selfs nadat hulle ontban is, maar het nogtans die politiek in hulle rigting gedwing omdat hulle goed georganiseerd en aktief was. Of vat die rol van Moslems in Suid-Afrika, wat minder as 5% van die bevolking is, maar vir wie agteroor gebuig word met Halal voedsel, Islam bankdienste , klerekode ens. om dat hulle ʼn minderheid is wat met selfvertroue optree en vir wie talle bang is.

Ongeag óf diegene wat die koers bepaal namens die meerderheid praat (en self net ʼn minderheid is), óf namens die minderheid of watter groep ook al praat, ongeag of hulle agenda links of regs is of was, die punt is dat politieke en kulturele en politieke veranderinge deur ʼn goed georganiseerde klein groep bepaal word, nie deur die swyende meerderheid nie.

Die belDesign-Around-Vocal-Minority-702x336angrike punt vir ons as minderheid, selfs minderheid van ʼn minderheid is dat ons nie ʼn meerderheid hoef te wees om ʼn verskil te maak nie, en dat ons min getalle ons nie moedeloos hoef te maak nie. Ook die vryheidsgesinde beweging onder Afrikaners, waarvan die Orania Beweging deel is, is ʼn minderheid, maar ons het antwoorde, ons het ʼn ideaal en toewyding en ons kan ʼn verskil maak aan ons mense se lot.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel