fbpx

Toe die myn op ‘n klein dorpie in die Noord-Transvaal toegemaak het, het ‘n hele aantal van die manne wat by die myn betrokke was, werk in Kathu gekry.

 

So gebeur dit dat Christo van Wyk die middag in Januarie in tipiese Noord-Kaapse versengende hitte by die vulstasie in Kathu stilhou. Die pad was lank vanuit die Noorde en hy klim uit om bene te rek.

 

Moeg en moedeloos kyk Christo van Wyk om hom rond…

 

Waar is die groen? Waar is die Bome? Waar is die Berge?

 

Die wêreld lyk morbied hier in die Noord-Kaap.

 

Terwyl Christo so na die wêreld rondom hom kyk, kom Jannas die plaaslike petroljoggie aangestap. Jannas is wel bekend aan die inwoners van Kathu vir sy tipies bekkige Kleurling wysheid.

 

Christo skrik uit sy moedelose gedagtegang wakker toe ou Jannas hier langs hom vra:

 

“Middag meneer. Jannas is die naam! Kan ek volmaak? Olie en water?”

 

“Ja, Dankie. Olie en water ook.” Die pad was lank.

 

Nou moet jy verstaan Christo was gelukkig daar waar hy in die dorpie in die Noord-Transvaal gebly het. Daarom dat hy bekommerd vra.

 

“Jannas, die Kalahari is nou my nuwe woonplek. Vertel my gou. Is Kathu darem ‘n lekker dorp om in te bly?”

 

Ou Jannas onderbreek die vrolike deuntjie wat hy fluit, en vra so sylangs… “Hoe was dit daar waar my larney vandaan kom?

 

“Ek het goeie vriende gemaak. Die huis was ruim genoeg en dit was lekker om na werk by die huis te kom. Die kerk was gesond en het vir mekaar omgegee.”

 

Jannas druk die petrolkap toe en stap vorentoe na die enjinkap. “My Larney sal sien… Dis maar dieselfde hier in Kathu.”

 

Christo glimlag in gedagte. Hy besef dat daar ‘n nuwe avontuur vir hom aangebreek het.

 

So gebeur dit dat Nico Vermeulen later die aand by Kathu se vulstasie stilhou. Net soos Christo het hy die nuwe werk in Kathu opgeneem nadat die Noord-Transvaalse myn toegemaak het.

 

Terwyl Nico in die kar bly sit, kom Jannas weer nader gestap en herhaal sy geoefende groet.

 

“Middag meneer. Jannas is die naam! Kan ek volmaak? Olie en water?”

 

Moeg gery en in gedagte antwoord Nico dat volmaak, olie en water ‘n goeie plan is.

 

Weer stap Jannas om die motor en draai die brandstoftenk se prop oop.

 

Nico kyk net soos Christo om hom rond. Droog, vaal en warm. Miskien was Kathu ook nie ‘n goeie idee nie.

 

“Jannas, vertel my van hierdie plek! Kan man darem lewe in ‘n dorp soos die.”

 

Jannas glimlag. Daar is altyd ‘Vulstasien klomp nuwe myners so in Januarie.

 

“Nee wat my Larney, hoe was dit daar waar jy vandaan kom?

 

Sonder om te dink antwoord Nico. Hy weet wat hy wil sê. Die dorpie daar in die Noorde was maar ‘n simpel plek. “Rugsteker vriende. Skynheilige kerke en paaie vol slaggate!”

 

Jannas onderbreek weereens sy vrolike deuntjie en sê. “My Larney sal sien… Dis maar dieselfde hier in Kathu.”

 

—–

 

‘n Groot struikelblok vir geluk is dikwels mense se onvermoë om binne hulself vrede te vind. Daar word dan altyd honderd en tien redes aangevoer waarom alles en almal verantwoordelik is vir die negatiewe wat jy eintlik maar met jouself saamdra.

 

Net so is Orania ‘n plek vol gelukkige en ongelukkige mense wat hulle eie werklikhede geskep het.