‘n Groep kolonialiste van Europa het meer as 3000 van ons mense bloeddorstig vermoor soos ons ons grondgebied wou beskerm. “Dit was grusaam, ons mense het by die duisende dood in die rivier gelê, hul bloed het die rivier rooi gekleur. Ons was in ‘n konflik teen ‘n mag met veel beter wapentuig en ‘n vreemde bonatuurlike krag het die wit duiwels gehelp. Ons was magteloos. Soos ons weg gehardloop het, het hulle ons agtervolg op hul perde, ons het nêrens gehad om heen te vlug nie.”
Op 16 Desember 1838 lê ds. Cilliers ‘n gelofte af soos die Zulu magte dreigend nader kom. God gee aan die 470 Voortrekkers die wonderbaarlike oorwinning. Deur sy genade word hierdie klompie gelowiges bewaar van uitwissing. Tussen 14000 en 21000 Zoeloes storm in die veldslag op die laer af waartydens slegs 3 boere gewond is en 3000 Zoeloes sterf.
Ek stel myself 1838 se koerantberigte soos bogenoemde voor. Die een artikel in die liberale vryepers blad Die Vrye Nuusblad, die andere in iets soos die konserwatiewe Volkskoerant.
Verskoon my oordrewe voorbeeld; ware objektiewe weergawes van gebeure is uiters moeilik om te verkry omdat geen mens, geen joernalis, geen geskiedskrywer bloot die feite weergee nie. Ons kleur dit altyd ietwat in om ons bepaalde wêreldbeskouing te dien.
Dit geld ook in biografiese materiaal oor bepaalde bekende figure. Geen skrywer sal bloot net ‘n lys van historiese gebeure noem, dit word altyd aangebied met ‘n bepaalde boodskap in gedagte. Geskiedskrywing is juis ‘n tipe prosa wat ‘n bepaalde historiese gebeurtenis of persoon binne ‘n bepaalde konteks wil aanbied en verskeie faktore bepaal die “inkleur” van die feite.
Eerstens sal ek die outeur se wêreldbeskouing aanbied. As voorbeeld sal ‘n Calvinis anders oor die konflik in die Midde-Ooste berig as ‘n ortodokse Jood, albei anders as die Moslem se weergawe. So ook sal ‘n Jood anders berig oor Auschwitz as wat ‘n Duitse Nasionalis dit sal doen.
Ons vind soortgelyke voorbeelde in die Bybel ook waar daar in die boek Konings (wat meer rojalisties was) oor iemand berig word as wanneer die Kronis van Kronieke dit doen. Die Konings boeke skrywers het klem op die Dawidiese verbond geplaas en die Kronis op die Abrahamitiese. Die een groep was pro-Dawidiese-koningshuis die ander anti.
As verdere voorbeeld sal ek as Oraniër anders oor Verwoerd skryf as ‘n EFF of DA of UDF geskiedskrywer.
Ek gaan die stelling waag dat die Media die middel is waardeur propaganda teenoor volwassenes gepleeg word, en geskiedskrywing begin alreeds by die kind se opvoeding. Propaganda.
Die punt wat ek vandag, baie onsamehangend, probeer maak is dat elke storie (verhaal, weergawe, artikel) ‘n boodskap ten doel het en hierdie doel word bewustelik of onbewustelik deur die outeur bepaal, meer as die feite of inhoud.
Om hierdie rede is dit my betoog dat ons na enige skrywes eksegeties sal kyk, dat ons dit binne die konteks eksegeties sal beoordeel. Geskiedskrywing en joernalistiek ontstaan nie binne ‘n vakuum nie, maar binne die skrywer se konkrete en werklike Sitz im Leben. Ons verstaan en kennis van die outeur se leefwêreld en wêreldbeskouing openbaar veel meer as bloot net die teks, dit is as’t ware die sleutel tot die verstaan van die teks. As ons deur die koerant blaai, of die tydskrif lees is ‘n kort toer na Googleland met die skrywer se naam ‘n goeie vertrekpunt om die verstaan oop te sluit, ook die datum van publikasie.
Met my openings paragraaf in gedagte vertel ons weergawes van 16 Desember 1838 vir my iets moois van wie ons is: Diep gelowig, trots, moedig en dapper. Ek lees in geen van ons weergawes ‘n poging om ons as martlelare of geviktimiseerd aan te bied nie. Dit maak my trots en warm. Net soos wat ons weergawes van die slag van Quito Carnival in Angola my trots en warm laat. Hou tog altyd een ding in gedagte: Die geskiedskrywing is altyd meer as die blote weergee van feite. Ongeag hoe eerbaar en hoe opreg die outeur ook al was of is, hy het ‘n bepaalde boodskap wat hy wil weergee. Hierdie feit maak dit nie sodanig verkeerd nie, mens moet dit egter in rekening bring.
Tweedens wil ek graag die leser se lewens-en-wêreldbeskouing aanbied. Ons as lesers se bril beïnvloed ook ons verstaan van die boodskap van die outeur. Om te lees, kennis in te win, na te vors, nuus te kry is as’t ware ‘n dialoog. Dit is die moment wat my Sitz im Leben dié van die outeur ontmoet. Dit het gewoonlik een van drie moontlike uitwerkings op my as leser: Ek stem saam, ek is neutraal of ek stem nie saam nie.
Derdens die feite van die gebeure. Ek oordeel egter dat die feite slegs as kapstop dien waaraan die outeur sy eie boodskap kan hang. Daar is min resepte van outeur en feite en leser wat nie ‘n knippie sout aanbeveel nie.
Een van my proffessore het eenkeer gesê: Lees en lees en lees en die wêreld sal vir jou oopgaan. ‘n Ander proffessor van my het aangebied: Daar is geen groter gif as die geskrewe woord. Ek wonder vandag of hy bedoel het gif as gawe of gif as middel om te vergiftig. Soos ek vandag oor geskiedskrywing dink, reken ek albei. Die groot kuns is sekerlik om te bepaal of die teks waarmee jy besig, wat met jou besig is, vir jou ‘n gawe is, of die potensiaal het om jou te vergiftig.
Propaganda, goed en sleg, is ‘n realiteit.
Lekker lees.
Akkoord met wat jy skryf. Al is geen geskiedenisskrywing neutraal is, is daar wel skrywers wat redelik akkuraat is, en ander wat blote propaganda skryf, om van oorgelewerde legendes nie eens te praat nie. Met al die beperkinge van die geskrewe woord is dit ver beter as die mondelings oorgedrae woord, waar almal iets bylas en iets oordryf. Daarom stem ek saam met: lees, lees en lees, en die wêreld sal vir jou oopgaan. Ons moet lees en lees, en skryf en skryf, want as ons dit nie doen nie, sal ander oor ons skryf uit ‘n perspektief wat ons nie van hou nie. Ons weet daar was groot beskawings in Europa en die Midde-Ooste soos Egipte, Karthago, Griekeland en Rome want dit is gedokumenteer, in so ‘n mate dat ons Cleopatra en Caesar se privaatlewe ken. In Asië, Suid-Amerika en (dalk) Afrika was daar ook groot beskawings, maar omdat ander oor hulle geskryf het nadat hulle al grootliks tot niet was, sal hulle nooit werklik tot hulle reg kom nie en maak nou op mites staat. Daardie agterstand van ‘n afwesigheid van geskiedenisskrywing kan nooit meer uitgewis word nie. As ons nie skryf oor Orania nie, sal geslagte na ons aangewese wees op Naspers se neerhalende geskryf.